Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Woordelys

A B C D E F G H I J K L M N O P R S T U V W Z

A

  • Aartsengel.

    Beteken “hoof van die engele”. Die voorvoegsel “aarts-” beteken “hoof” of “vernaamste”. Hierdie definisie en die feit dat “aartsengel” in die Bybel slegs in die enkelvoud verskyn, dui aan dat daar net een aartsengel is. Die Bybel sê dat die naam van die aartsengel Migael is. – Da 12:1; Jud 9; Op 12:7.

  • Ab.

    Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam van die 5de maand van die Joodse godsdienskalender en die 11de maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van Julie begin en in die middel van Augustus geëindig. Die Bybel noem nie die naam van hierdie maand nie, maar dit verwys eenvoudig daarna as “die vyfde maand” (Nu 33:38; Esr 7:9). – Sien Aanh. B15.

  • Abib.

    Die oorspronklike naam van die eerste maand van die Joodse godsdienskalender en die sewende maand van die sekulêre kalender. Dit beteken “groen (graan)are”. Dit het in die middel van Maart begin en in die middel van April geëindig. Nadat die Jode uit Babilon teruggekeer het, is dit Nisan genoem (De 16:1). – Sien Aanh. B15.

  • Adar.

    Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam van die 12de maand van die Joodse godsdienskalender en die 6de maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van Februarie begin en in die middel van Maart geëindig (Est 3:7). – Sien Aanh. B15.

  • Afgod; afgodediens.

    ’n Afgod is ’n afbeelding van enigiets, of dit nou werklik of denkbeeldig is, wat mense in aanbidding gebruik. Afgodediens is die verering of aanbidding van ’n afgod of liefde daarvoor. – Ps 115:4; Han 17:16; 1Kor 10:14.

  • Afgrond.

    Van die Griekse woord aʹbus·sos, wat “besonder diep” of “onpeilbaar, grensloos” beteken. Dit word in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik om te verwys na ’n plek of toestand van gevangenskap. Dit kan na die graf verwys, maar dit is nie die enigste betekenis nie. – Lu 8:31; Ro 10:7; Op 20:3.

  • Afvalligheid.

    Die Griekse woord (a·po·sta·siʹa) kom van ’n werkwoord wat letterlik “om weg te beweeg van” beteken. In die Christelike Griekse Geskrifte word “afvalligheid” hoofsaaklik gebruik vir persone wat ware aanbidding verlaat. – Spr 11:9; Han 21:21; 2Te 2:3.

  • Agaje.

    In die Christelike Griekse Geskrifte verwys dit na ’n Romeinse provinsie in die suide van Griekeland, wat die hele Peloponnesos en die sentrale deel van die Griekse vasteland ingesluit het. Korinte was die hoofstad (Han 18:12). – Sien Aanh. B13.

  • Alamot.

    ’n Musiekterm wat “meisies; jong vroue” beteken en wat waarskynlik verwys na die sopraanstemme van jong vroue. Dit is blykbaar gebruik om aan te dui dat ’n musiekstuk of begeleiding in ’n hoë register uitgevoer moes word. – 1Kr 15:20; Ps 46:Ops.

  • Albaster.

    Die naam van flessies vir lekkerruik-olie. Die houers is oorspronklik gemaak van ’n soort klip wat naby Alabastron, Egipte, gevind word. Sulke houers het gewoonlik ’n smal nek gehad wat verseël kon word om te keer dat enige van die kosbare olie uitlek. Die klip self het ook as albaster bekend gestaan. – Mr 14:3.

  • Alfa en Omega.

    Name van die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet, wat in Openbaring drie keer saam gebruik word as ’n titel vir God. In hierdie kontekste beteken dit dieselfde as “die eerste en die laaste” en “die begin en die einde”. – Op 1:8; 21:6; 22:13.

  • Allerheiligste, die.

    Die binneste vertrek van die tabernakel en die tempel, waar die ark van die verbond gehou is. Volgens die Wet van Moses was die hoëpriester die enigste een wat die Allerheiligste kon binnegaan, en hy kon dit slegs op die jaarlikse Versoendag doen. – Eks 26:33; Le 16:2, 17; 1Kn 6:16; Heb 9:3.

  • Als.

    Verskeie houtagtige plante met ’n baie bitter smaak en ’n sterk reuk. Als word figuurlik  in die Bybel gebruik om die bitter gevolge van onsedelikheid, onderdrukking, ongeregtigheid en afvalligheid te beskryf. In Openbaring 8:11 verwys “als” na ’n bitter en giftige stof. – De 29:18; Spr 5:4; Jer 9:15; Am 5:7.

  • Altaar.

    ’n Verhoogde oppervlak wat gemaak is van grond, klippe of ’n rots of van hout wat met metaal bedek is en waarop offerandes of reukwerk in aanbidding geoffer is. In die eerste vertrek van die tabernakel en die tempel was daar ’n klein “goue altaar” waarop reukwerk geoffer is. Dit was van hout gemaak wat met goud bedek is. ’n Groter koperaltaar vir brandoffers was buite in die voorhof (Eks 27:1; 39:38, 39; Ge 8:20; 1Kn 6:20; 2Kr 4:1; Lu 1:11). – Sien Aanh. B5 en B8.

  • Amen.

    “Laat dit so wees” of “beslis”. Die woord kom van die Hebreeuse grondwoord ʼa·manʹ, wat beteken “om getrou, betroubaar te wees”. Iemand het “amen” gesê as hy met ’n eed, ’n gebed of ’n stelling saamgestem het. In Openbaring word dit as ’n titel vir Jesus gebruik. – De 27:26; 1Kr 16:36; Op 3:14.

  • Antichris.

    Die Griekse woord het twee betekenisse. Dit verwys na dit wat anti, of teen, Christus is. Dit kan ook verwys na ’n valse Christus, een wat in die plek van Christus is. Alle mense, organisasies of groepe wat valslik beweer dat hulle Christus verteenwoordig, valslik beweer dat hulle die Messias is of wat Christus en sy dissipels teëstaan, kan tereg antichriste genoem word. – 1Jo 2:22.

  • Apostel.

    Die woord beteken basies “iemand wat uitgestuur is” en word gebruik vir Jesus en sekere persone wat gestuur is om ander te dien. Dit word meestal gebruik om te verwys na die dissipels wat Jesus self uitgekies het as ’n groep van 12 aangestelde verteenwoordigers. – Mr 3:14; Han 14:14.

  • Aram; Arameërs.

    Arameërs is afstammelinge van Sem se seun Aram. Die gebied waar hulle gewoon het, is in Hebreeus Aram genoem en het gestrek van die Libanon-berge tot by Mesopotamië en van die Taurus-berge in die noorde tot verby Damaskus in die suide. Die gebied het later as Sirië bekend gestaan, en die inwoners is Siriërs genoem. – Ge 25:20; De 26:5; Ho 12:12.

  • Aramees.

    ’n Semitiese taal wat nou verwant is aan Hebreeus en wat dieselfde alfabet gebruik. Dit was oorspronklik deur die Arameërs gepraat maar het later die internasionale taal vir handel en kommunikasie in die Assiriese Ryk en Babiloniese Ryk geword. Dit was ook die amptelike administratiewe taal van die Persiese Ryk (Esr 4:7). Dele van die boeke Esra, Jeremia en Daniël is in Aramees geskryf. – Esr 4:8–6:18; 7:12-26; Jer 10:11; Da 2:4b–​7:28.

  • Areopagus.

    ’n Hoë heuwel in Atene, noordwes van die Akropolis, en ook die naam van die raad (hof) wat daar vergader het. Paulus is deur Stoïsynse en Epikuriese filosowe soontoe geneem sodat hy kon verduidelik waarin hy glo. – Han 17:19.

  • Ark van die verbond.

    ’n Kis van akasiahout wat met goud oorgetrek is, wat in die Allerheiligste van die tabernakel en later in die Allerheiligste van Salomo se tempel gehou is. Dit het ’n deksel gehad wat van soliede goud gemaak is. Bo-op die deksel was twee gerubs met hulle koppe na mekaar toe. Die belangrikste items daarin was die twee kliptablette van die Tien Gebooie (De 31:26; 1Kn 6:19; Heb 9:4). – Sien Aanh. B5 en B8.

  • Armageddon.

    Van die Hebreeuse Har Meghid·dohnʹ, wat “berg van Megiddo” beteken. Die woord word gebruik in verband met “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” waarin “die konings van die hele aarde” bymekaarkom om teen Jehovah oorlog te voer (Op 16:14, 16; 19:11-21). – Sien GROOT VERDRUKKING.

  • Asasel.

    ’n Hebreeuse naam wat moontlik “bok wat verdwyn” beteken. Op die Versoendag is die bok wat vir Asasel was, in die wildernis ingestuur sodat dit in ’n simboliese sin die nasie se sondes van die afgelope jaar kon wegdra. – Le 16:8, 10.

  • Aselgeia.

    – Sien SKAAMTELOSE GEDRAG.

  • Asië.

    In die Christelike Griekse Geskrifte verwys dit na die Romeinse provinsie wat die westelike deel van die hedendaagse Turkye ingesluit het, sowel as party kuseilande, soos Samos en Patmos. Die hoofstad was Efese (Han 20:16; Op 1:4). – Sien Aanh. B13.

  • Astoret.

    ’n Kanaänitiese godin van oorlog en vrugbaarheid, die vrou van Baäl. – 1Sa 7:3.

B

  • Baäl.

    ’n Kanaänitiese god wat beskou is as die eienaar van die lug en die een wat  reën en vrugbaarheid gee. “Baäl” is ook gebruik vir plaaslike, laer gode. Die Hebreeuse woord beteken “eienaar; meester”. – 1Kn 18:21; Ro 11:4.

  • Ballingskap.

    Iemand het in ballingskap gegaan wanneer hy uit sy geboorteland of tuisgebied verban is. Dit was dikwels as gevolg van die bevel van ’n veroweraar. Die Hebreeuse woord bevat die idee van “om te vertrek”. Die Israeliete het twee keer ’n groot ballingskap deurgemaak. Die noordelike tienstammeryk is deur die Assiriërs in ballingskap weggeneem, en later is die suidelike tweestammeryk deur die Babiloniërs in ballingskap weggeneem. Oorblyfsels van albei groepe het onder die Persiese heerser Kores na hulle land teruggekeer. – 2Kn 17:6; 24:16; Esr 6:21.

  • Bat.

    Volgens argeologiese ontdekkings van fragmente waarop hierdie woord geskryf is, was ’n bat ’n vloeistofmaat wat volgens skatting ongeveer 22 l was. Die meeste ander droëmate en vloeistofmate in die Bybel word uitgewerk op grond van die bat (1Kn 7:38; Ese 45:14). – Sien Aanh. B14.

  • Bedieningskneg.

    ’n Weergawe van die Griekse woord di·aʹko·nos, wat dikwels as “dienaar” of “kneg” vertaal word. ’n Bedieningskneg is ’n assistent van die liggaam van ouermanne in die gemeente. Hy moet aan Bybelstandaarde voldoen om vir hierdie diensvoorreg te kwalifiseer. – 1Ti 3:8-10, 12.

  • Beëlsebub.

    ’n Naam vir Satan, die prins, of leier, van die demone. Dit kom moontlik van die naam Baäl-Sebub, die Baäl wat deur die Filistyne in Ekron aanbid is. – 2Kn 1:3; Mt 12:24.

  • Berou.

    In die Bybel verwys dit na ’n verandering van denke wat gepaardgaan met opregte spyt oor ’n vorige lewenswyse, oor verkeerde dade of oor iets wat ’n mens moes doen maar nie gedoen het nie. Opregte berou bring vrugte voort, naamlik ’n verandering in gedrag. – Mt 3:8; Han 3:19; 2Pe 3:9.

  • Besnydenis.

    Die verwydering van die voorhuid van die manlike geslagsorgaan. Dit was verpligtend vir Abraham en sy nakomelinge, maar dit is nie ’n vereiste vir Christene nie. Dit word in sekere kontekste ook figuurlik gebruik. – Ge 17:10; 1Kor 7:19; Flp 3:3.

  • Beweegoffer.

    ’n Offer wat die priester heen en weer beweeg het nadat hy sy hande blykbaar onder die hande van die aanbidder gesit het wat die offer vasgehou het. Soms het net die priester ’n beweegoffer heen en weer beweeg. Wanneer die offer beweeg is, het dit voorgestel dat die offer vir Jehovah aangebied word. – Le 7:30.

  • Blok.

    ’n Instrument wat gebruik is om gevangenes te straf. Soms is net die voete daarin vasgemaak, en soms is die hande en die nek ook daarin vasgemaak sodat die liggaam in ’n ongemaklike posisie gehou is. – Jer 20:2; Han 16:24.

  • Blussers.

    Gereedskap van goud of koper wat in die tabernakel en tempel gebruik is. Dit was dalk soos skêre wat gebruik is om die lamppitte mee af te knip. – 2Kn 25:14.

  • Boekrol.

    ’n Lang stuk perkament of papirus waarop daar aan die een kant geskryf is en wat gewoonlik om ’n stok opgerol is. In die tyd toe die Bybel geskryf is, is dit op boekrolle geskryf en oorgeskryf. – Jer 36:4, 18, 23; Lu 4:17-20; 2Ti 4:13.

  • Boom van die kennis van wat goed en wat sleg is.

    ’n Boom in die tuin van Eden wat God gebruik het as ’n simbool van sy reg om vir die mensdom te bepaal wat “goed” en wat “sleg” is. – Ge 2:9, 17.

  • Boom van die lewe.

    ’n Boom in die tuin van Eden. Die Bybel sê nie dat die vrugte van hierdie boom lewe kon gee nie. Die boom was eerder ’n simbool van God se waarborg om ewige lewe te gee aan dié wat hy sou toelaat om van die boom te eet. – Ge 2:9; 3:22.

  • Borsstuk.

    ’n Sak wat met kosbare stene versier is en wat die hoëpriester oor sy hart gedra het wanneer hy in die Heilige ingegaan het. Dit is “die borsstuk van oordeel” genoem omdat die Urim en Tummim daarin was, wat gebruik is om Jehovah se oordele aan te dui (Eks 28:15-30). – Sien Aanh. B5.

  • Bose, die.

    Dit is ’n benaming vir Satan die Duiwel, wat God en sy regverdige standaarde teëstaan. – Mt 6:13; 1Jo 5:19 (voetnote).

  • Brandoffer.

    ’n Diere-offer wat op die altaar verbrand is en in sy geheel aan God geoffer is. Die aanbidder kon geen deel van die dier (bul, skaapram, bokram, tortelduif of jong duif) vir homself hou nie. – Eks 29:18; Le 6:9.

  •  Buit.

    Besittings, vee of ander waardevolle voorwerpe wat afgeneem is van ’n vyand wat verslaan is. – Jos 7:21; 2Kr 15:11; Jes 10:6.

  • Bul.

    Die naam van die agtste maand van die Joodse godsdienskalender en die tweede maand van die sekulêre kalender. Die naam kom van ’n grondwoord wat “opbrengs” beteken. Dit het in die middel van Oktober begin en in die middel van November geëindig (1Kn 6:38). – Sien Aanh. B15.

  • Byvrou.

    ’n Sekondêre vrou wat dikwels ’n slavin was. – Eks 21:8; 2Sa 5:13; 1Kn 11:3.

C

  • Christen.

    ’n Naam wat God aan die volgelinge van Jesus Christus gegee het. – Han 11:26; 26:28.

  • Christus.

    Die titel van Jesus, van die Griekse woord Chri·stosʹ, gelykstaande aan die Hebreeuse woord wat as “Messias”, of “Gesalfde”, vertaal word. – Mt 1:16; Joh 1:41.

D

  • Dagon.

    ’n God van die Filistyne. Die oorsprong van die woord is onseker, maar party geleerdes assosieer dit met die Hebreeuse woord dagh (vis). – Rig 16:23; 1Sa 5:4.

  • Dagster.

    Het ’n soortgelyke betekenis as “môrester”. Dit is die laaste ster wat op die oostelike horison opkom voordat die son verskyn. Hierdie ster was dus ’n teken van ’n nuwe dag. – Op 22:16; 2Pe 1:19.

  • Dankoffer.

    ’n Vrede-offer wat gegee is om God te loof vir sy voorsienings en lojale liefde. Die vleis van die geofferde dier is saam met gesuurde en ongesuurde brood geëet. Die vleis moes op daardie selfde dag geëet word. – 2Kr 29:31.

  • Dariek.

    ’n Goue Persiese muntstuk wat 8,4 g geweeg het (1Kr 29:7). – Sien Aanh. B14.

  • Dekapolis.

    ’n Groep Griekse stede, wat oorspronklik uit tien stede bestaan het (van die Griekse woord deʹka, wat “tien” beteken, en poʹlis, wat “stad” beteken). Dit was ook die naam van die gebied oos van die See van Galilea en die Jordaanrivier, waar die meeste van hierdie stede geleë was. Hierdie stede was sentrums van die Hellenistiese kultuur en handel. Jesus het deur hierdie gebied gereis, maar daar word nêrens gesê dat hy enigeen van hierdie stede besoek het nie (Mt 4:25; Mr 5:20). – Sien Aanh. A7 en B10.

  • Demone.

    Onsigbare, slegte geesskepsele met bomenslike kragte. Hulle was nie sleg toe hulle geskep is nie, want hulle word in Genesis 6:2 “seuns van die ware God” genoem, en in Judas 6 “engele”. Hulle is eerder engele wat hulleself vyande van God gemaak het toe hulle in Noag se dag ongehoorsaam was en by Satan aangesluit het in sy opstand teen Jehovah. – De 32:17; Lu 8:30; Han 16:16; Jak 2:19.

  • Denarius.

    ’n Romeinse silwermuntstuk wat omtrent 3,85 g geweeg het en ’n beeld van die keiser aan een kant gehad het. ’n Werker het ’n denarius per dag ontvang, en dit was die muntstuk waarmee die hoofbelasting betaal is wat die Romeine van die Jode vereis het (Mt 22:17; Lu 20:24). – Sien Aanh. B14.

  • Doop.

    Die werkwoord beteken “om te onderdompel” in water. Jesus het doop as ’n vereiste vir sy volgelinge gestel. Die Skrif verwys ook onder andere na die doop van Johannes, doop met heilige gees en doop met vuur. – Mt 3:11, 16; 28:19; Joh 3:23; 1Pe 3:21.

  • Dors; dorsvloer.

    Die proses waartydens graankorrels uit die graanare losgemaak word. Die dorsvloer is die plek waar hierdie werk gedoen is. Graan is met behulp van ’n stok met die hand gedors. Groter hoeveelhede graan is met behulp van spesiale toerusting gedors, soos ’n dorsslee of rollers. Diere het dit oor die graan getrek wat uitgesprei was oor die dorsvloer. ’n Dorsvloer was ’n ronde, plat oppervlak wat gewoonlik op ’n hoër geleë plek was wat aan die wind blootgestel is. – Le 26:5; Jes 41:15; Mt 3:12.

  • Dragma.

    In die Christelike Griekse Geskrifte verwys hierdie woord na ’n Griekse silwermuntstuk, wat op daardie stadium 3,4 g geweeg het. In die Hebreeuse Geskrifte word daar verwys na ’n goue dragma uit die Persiese tydperk wat gelykgestel word aan die dariek (Ne 7:70; Mt 17:24). – Sien Aanh. B14.

  • Drankoffer.

    ’n Offerande van wyn wat op die altaar uitgegooi is en saam met die meeste ander offerandes geoffer is. Paulus het dit figuurlik gebruik om te toon dat hy bereid was om soveel as moontlik van homself te gee vir sy mede-Christene. – Nu 15:5, 7; Flp 2:17.

  •  Duiwel.

    Die beskrywende naam van Satan in die Christelike Griekse Geskrifte. Dit beteken “lasteraar”. Satan is die naam Duiwel gegee omdat hy die vernaamste lasteraar en valse beskuldiger is van Jehovah, Sy goeie woord en Sy heilige naam. – Mt 4:1; Joh 8:44; Op 12:9.

E

  • Edom.

    ’n Ander naam wat gegee is aan Esau, die seun van Isak. Die nakomelinge van Esau (Edom) het die gebied Seïr in besit geneem, die bergstreek tussen die Dooie See en die Golf van Akaba. Dit het later as Edom bekend gestaan (Ge 25:30; 36:8). – Sien Aanh. B3 en B4.

  • Eed.

    ’n Beëdigde verklaring om te bevestig dat iets waar is of ’n plegtige belofte om iets te doen of nie te doen nie. Dit is dikwels ’n gelofte aan iemand wat ’n hoër posisie het, veral aan God. Jehovah het sy verbond met Abraham deur middel van ’n eed bevestig. – Ge 14:22; Heb 6:16, 17.

  • Eersgeborene.

    Hoofsaaklik die oudste seun van ’n pa (eerder as die eersgeborene van ’n ma). In Bybeltye het die eersgebore seun ’n geëerde posisie in die familie gehad en die gesinshoof geword wanneer die pa gesterf het. Dit verwys ook na die manlike eersgeborene van ’n dier, wat soms ’n “eersteling” genoem is. – Eks 11:5; 13:12, vtn.; Ge 25:33; Kol 1:15.

  • Eersteling.

    Die eerste vrugte van ’n oes; die eerste resultate of opbrengs van enigiets. Jehovah het vereis dat die nasie hulle eerstelinge aan hom offer, of dit nou van ’n mens, dier of plant was. As ’n nasie het die Israeliete tydens die Fees van die Ongesuurde Brode en Pinkster eerstelinge aan God geoffer. Die term “eerstelinge” is ook figuurlik gebruik vir Christus en sy gesalfde volgelinge. – 1Kor 15:23; Nu 15:21; Spr 3:9; Op 14:4 (voetnote).

  • Efa.

    ’n Droëmaat sowel as die houer self, wat gebruik is om graan mee uit te meet. ’n Efa was gelyk aan ’n bat, ’n vloeistofmaat, oftewel 22 l (Eks 16:36; Ese 45:10). – Sien Aanh. B14.

  • Efod.

    ’n Priesterlike kledingstuk wat soos ’n voorskoot gelyk het. Die hoëpriester het ’n spesiale efod gedra met ’n borsstuk aan die voorkant waarop daar 12 edelstene was (Eks 28:4, 6). – Sien Aanh. B5.

  • Efraim.

    Die naam van Josef se tweede seun en later die naam van een van die stamme van Israel. Nadat Israel verdeel is, het Efraim as die vernaamste stam die hele tienstammeryk verteenwoordig. – Ge 41:52; Jer 7:15.

  • Egbreuk.

    Vrywillige seksuele omgang deur ’n getroude man of vrou met iemand anders as sy of haar huweliksmaat. – Eks 20:14; Mt 5:27; 19:9.

  • El.

    ’n Lengtemaat, ongeveer die afstand van die elmboog tot by die punt van die middelvinger. Die Israeliete het gewoonlik ’n el van omtrent 44,5 cm gebruik, maar hulle het ook ’n el gebruik wat ’n handbreedte langer was, omtrent 51,8 cm (Ge 6:15; Lu 12:25). – Sien Aanh. B14.

  • Elul.

    Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam van die 6de maand van die Joodse godsdienskalender en die 12de maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van Augustus begin en in die middel van September geëindig (Ne 6:15). – Sien Aanh. B15.

  • Engele.

    Van die Hebreeuse woord mal·ʼachʹ en die Griekse woord agʹge·los. Albei woorde beteken letterlik “boodskapper” maar word as “engel” vertaal wanneer dit na geesboodskappers verwys (Ge 16:7; 32:3; Jak 2:25; Op 22:8). Engele is magtige geesskepsele wat lank voor die mensdom deur God geskep is. In die Bybel word daar ook na hulle verwys as “tienduisende heiliges”, “seuns van die ware God” en “môresterre” (De 33:2; Job 1:6; 38:7). Hulle is nie gemaak met die vermoë om voort te plant nie, maar is afsonderlik geskep. Daar is baie meer as ’n honderdmiljoen van hulle (Da 7:10). Die Bybel toon dat hulle name en individuele persoonlikhede het, en tog weier hulle nederig om aanbid te word, en die meeste het nooit gesê wat hulle name is nie (Ge 32:29; Lu 1:26; Op 22:8, 9). Hulle het verskillende range en toegewese rolle, onder andere om voor Jehovah se troon te dien, sy boodskappe oor te dra, Jehovah se knegte op die aarde te help, God se oordele uit te voer en die verkondiging van die goeie nuus te ondersteun (2Kn 19:35; Ps 34:7; Lu 1:30, 31; Op 5:11; 14:6). In die toekoms sal hulle saam met Jesus deelneem aan die oorlog van Armageddon. – Op 19:14, 15.

  •  Epikuriese filosowe.

    Volgelinge van die Griekse filosoof Epikurus (341-270 VHJ). Hulle filosofie het gedraai om die idee dat die plesier van die individu die hoofdoel in die lewe was. – Han 17:18.

  • Etanim.

    Die naam van die sewende maand van die Joodse godsdienskalender en die eerste maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van September begin en in die middel van Oktober geëindig. Nadat die Jode uit Babilon teruggekeer het, is dit Tisjri genoem (1Kn 8:2). – Sien Aanh. B15.

  • Etiopië.

    In die ou tyd was dit ’n nasie suid van Egipte. Dit het die suidelikste deel van die hedendaagse Egipte ingesluit en die noordelike helfte van die hedendaagse Soedan. Die uitdrukking is soms gebruik vir die Hebreeuse “Kus”. – Est 1:1.

  • Eufraatrivier.

    Die langste en belangrikste rivier van suidwes-Asië, en een van die twee groot riviere in Mesopotamië. Dit word vir die eerste keer in Genesis 2:14 genoem as een van die vier riviere van Eden. Dit word dikwels “die Rivier” genoem (Ge 31:21). Dit was die noordelike grens van Israel se toegewese gebied (Ge 15:18; Op 16:12). – Sien Aanh. B2.

  • Eunug.

    In ’n letterlike sin verwys dit na ’n man wat gekastreer is. Sulke mans is dikwels in ’n koninklike hof aangestel as dienaars of versorgers van die koningin en die byvrouens. Die term verwys ook na ’n man wat nie ’n letterlike eunug was nie, maar ’n amptenaar wat na pligte in die koning se hof omgesien het. Dit word figuurlik gebruik vir ’n ‘eunug vir die Koninkryk’, iemand wat selfbeheersing beoefen om meer in God se diens te kan doen. – Mt 19:12; Est 2:15; Han 8:27.

F

  • Farao.

    ’n Titel vir die konings van Egipte. Vyf farao’s word in die Bybel genoem (Sisak, So, Tirhaka, Nego en Hofra), maar die name van ander farao’s, soos die farao’s met wie Abraham, Moses en Josef te doen gehad het, word nie genoem nie. – Eks 15:4; Ro 9:17.

  • Fariseërs.

    ’n Belangrike sekte van Judaïsme in die eerste eeu HJ. Hulle was nie van priesterlike afkoms nie, maar hulle het die Wet streng en tot in die fynste besonderhede gehou. Hulle het net soveel waarde geheg aan mondelinge tradisies as aan die Wet (Mt 23:23). Hulle het die invloed van die Griekse kultuur teëgestaan, en omdat hulle kenners van die Wet en die tradisies was, het hulle baie gesag gehad (Mt 23:2-6). Party was ook lede van die Sanhedrin. Hulle het dikwels met Jesus gestry oor die onderhouding van die Sabbat, oor tradisies en oor assosiasie met sondaars en belastinggaarders. Party van hulle, soos Saulus van Tarsus, het Christene geword. – Mt 9:11; 12:14; Mr 7:5; Lu 6:2; Han 26:5.

  • Fees van die Ongesuurde Brode.

    Die eerste fees van die drie groot jaarlikse feeste van die Israeliete. Dit het op 15 Nisan begin, die dag ná die Pasga, en was sewe dae lank. Slegs ongesuurde brood kon geëet word, ter herdenking van die uittog uit Egipte. – Eks 23:15; Mr 14:1.

  • Fees van die Oes; Fees van die Weke.

    – Sien PINKSTER.

  • Filistea; Filistyne.

    Filistea was die land aan die suidelike kus van Israel. Die immigrante van Kreta wat daar gaan woon het, is Filistyne genoem. Dawid het hulle onderwerp, maar hulle het onafhanklik gebly en was altyd vyande van Israel (Eks 13:17; 1Sa 17:4; Am 9:7). – Sien Aanh. B4.

  • Folterpaal.

    Die vertaling vir die Griekse woord stau·rosʹ, wat na ’n regop paal verwys, soos die een waarop Jesus tereggestel is. Daar is geen bewyse dat die Griekse woord na ’n kruis verwys het nie, ’n godsdienssimbool wat al eeue voor Christus deur die heidene gebruik is. “Folterpaal” dra die volle betekenis van die oorspronklike woord oor, aangesien die woord stau·rosʹ ook gebruik is om te verwys na die foltering, of marteling, lyding en skande wat Jesus se volgelinge sou verduur (Mt 16:24; Heb 12:2). – Sien PAAL.

  • Fortuinverteller.

    Iemand wat beweer dat hulle die toekoms kan voorspel. Towerpriesters, waarsêers en sterrevoorspellers is party fortuinvertellers wat in die Bybel genoem word. – Le 19:31; De 18:11; Han 16:16.

G

  • Galdea; Galdeërs.

    Oorspronklik was die Galdeërs die inwoners van die deltagebied van die Tigris- en die Eufraatrivier, wat Galdea genoem is. Later is hierdie uitdrukkings toegepas op die hele Babilonië en sy inwoners. “Galdeërs” het ook verwys na ’n opgevoede klas mense wat die wetenskap,  geskiedenis en sterrekunde bestudeer het maar wat ook toorkuns en astrologie beoefen het. – Esr 5:12; Da 4:7; Han 7:4.

  • Gedenkgraf.

    ’n Graf waar die oorskot van ’n oorlede persoon geplaas is. Hierdie woord is ’n vertaling van die Griekse woord mne·meiʹon, wat afgelei is van die werkwoord “om te herinner”, wat daarop dui dat die persoon wat gesterf het, onthou word. – Joh 5:28, 29.

  • Gees.

    Die Hebreeuse woord ruʹach en die Griekse woord pneuʹma, wat dikwels as “gees” vertaal word, het ’n hele paar betekenisse. Dit verwys altyd na iets wat vir mense onsigbaar is en wat bewys lewer van krag wat in beweging is. Die Hebreeuse en Griekse woorde verwys na (1) wind, (2) die werkende lewenskrag in aardse skepsele, (3) die dryfkrag wat uit ’n persoon se figuurlike hart kom en wat hom dinge op ’n sekere manier laat sê en doen, (4) geïnspireerde uitinge wat van ’n onsigbare bron kom, (5) geespersone en (6) God se werkende krag, of heilige gees. – Eks 35:21; Ps 104:29; Mt 12:43; Lu 11:13.

  • Gehenna.

    Die Griekse naam vir die Hinnom-vallei, suid en suidwes van die ou Jerusalem (Jer 7:31). Daar word profeties van hierdie vallei gepraat as ’n plek vol lyke (Jer 7:32; 19:6). Daar is geen bewys dat diere of mense in Gehenna gegooi is om lewend verbrand of gepynig te word nie. Dit was dus nie ’n simbool van ’n onsigbare plek waar siele van mense vir ewig in ’n letterlike vuur gepynig word nie. Gehenna is eerder deur Jesus en sy dissipels gebruik as ’n simbool vir die ewige straf van die “tweede dood”, dit wil sê ewige vernietiging. – Op 20:14; Mt 5:22; 10:28.

  • Gelofte.

    ’n Belofte wat aan God gemaak word om iets te doen, te gee of te offer, ’n vorm van diens te betree of om sekere dinge nie te doen nie, al was dit toelaatbaar onder die Wet. ’n Gelofte was net so bindend soos ’n eed. – Nu 6:2; Pr 5:4; Mt 5:33.

  • Gelofte-offer.

    ’n Vrywillige offer wat met sekere geloftes gepaardgegaan het. – Le 23:38; 1Sa 1:21.

  • Gemeenskapsoffer.

    – Sien VREDE-OFFER.

  • Gemeente.

    ’n Groep mense wat vir ’n spesifieke doel of bedrywigheid bymekaargekom het. In die Hebreeuse Geskrifte verwys dit gewoonlik na die nasie Israel. In die Christelike Griekse Geskrifte verwys dit na individuele gemeentes van Christene, maar dit verwys meestal na die Christengemeente oor die algemeen. – 1Kn 8:22; Han 9:31; Ro 16:5.

  • Genadegawes.

    Geskenke wat gegee is om die armes te help. Dit word nie direk in die Hebreeuse Geskrifte genoem nie, maar die Wet het die Israeliete spesifieke riglyne gegee oor hulle verpligtinge teenoor die armes. – Mt 6:2, vtn.

  • Gera.

    ’n Gewig gelyk aan 0,57 g. Dit was ook gelyk aan 1/20 van ’n sikkel (Le 27:25). – Sien Aanh. B14.

  • Gerubs.

    Engele met ’n hoë rang en spesiale pligte. Hulle is anders as serafs. – Ge 3:24; Eks 25:20; Jes 37:16; Heb 9:5.

  • Gésel.

    ’n Soort sweep wat bestaan het uit riempies of toue met knope in of waaraan stukkies yster of been vasgemaak was. – Joh 19:1.

  • Getuienis.

    “Die Getuienis” verwys gewoonlik na die Tien Gebooie wat op die twee kliptablette geskryf is wat Moses ontvang het. – Eks 31:18.

  • Gilead.

    Streng gesproke die vrugbare gebied oos van die Jordaanrivier wat noord en suid van die Jabbok-vallei strek. Soms gebruik vir Israel se hele gebied oos van die Jordaanrivier, waar die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse gewoon het (Nu 32:1; Jos 12:2; 2Kn 10:33). – Sien Aanh. B4.

  • Gittit.

    ’n Musiekterm waarvan die betekenis onseker is maar wat waarskynlik van die Hebreeuse woord gath afgelei is. Party dink dat Gittit ’n melodie is van liedere wat verband hou met wynmakery, aangesien gath na ’n wynpers verwys. – Ps 81:Ops.

  • God se Koninkryk.

    Die frase word veral gebruik vir God se soewereiniteit wat deur die koninklike regering van sy Seun, Christus Jesus, verteenwoordig word. – Mt 12:28; Lu 4:43; 1Kor 15:50.

  • Goeie nuus, die.

    In die Christelike Griekse Geskrifte verwys dit na die goeie nuus van die Koninkryk van God en van redding deur geloof in Jesus Christus. – Lu 4:18, 43; Han 5:42; Op 14:6.

  • Gomer.

    ’n Droëmaat wat gelyk is aan 2,2 l. Dit was ’n tiende van ’n efa (Eks 16:16, 18). – Sien Aanh. B14.

  • Gordyn.

    Die pragtig geweefde stuk materiaal waarop gerubs geborduur was en wat die  Heilige geskei het van die Allerheiligste in die tabernakel en in die tempel (Eks 26:31; 2Kr 3:14; Mt 27:51; Heb 9:3). – Sien Aanh. B5.

  • Graf.

    Met ’n kleinletter verwys dit na ’n individuele graf en met ’n hoofletter verwys dit na die gemeenskaplike graf van die mensdom (die Hebreeuse “Sjeool” en die Griekse “Hades”). Dit word in die Bybel beskryf as ’n simboliese plek of toestand waar daar geen bedrywigheid en bewustheid is nie. – Ge 47:30; Pr 9:10; Han 2:31.

  • Granaat.

    ’n Ronde vrug met ’n harde skil en ’n kroon aan die een kant. Binne-in is daar klein selletjies vol sap wat elk ’n klein pienk of rooi pitjie bevat. Granaatvormige ornamente het die soom van die hoëpriester se blou moulose oorkleed versier, sowel as die kopstukke van die pilare Jagin en Boas, wat voor die tempel was. – Eks 28:34; Nu 13:23; 1Kn 7:18.

  • Griek.

    ’n Inwoner van Griekeland of iemand wie se familie daarvandaan kom. In die Christelike Griekse Geskrifte word die woord ook gebruik vir alle nie-Jode of vir dié wat deur die Griekse taal en kultuur beïnvloed is. – Jl 3:6; Joh 12:20.

  • Groot verdrukking.

    Die Griekse woord vir “verdrukking” bevat die idee van angs of lyding as gevolg van die druk van omstandighede. Jesus het gepraat van ’n “groot verdrukking” soos daar nog nooit voorheen was nie wat oor Jerusalem sou kom en van een wat later oor die mensdom sou kom en wat verband sou hou met sy glorieryke koms (Mt 24:21, 29-31). Paulus het hierdie verdrukking beskryf as ’n regverdige daad van God teen “dié wat God nie ken nie en dié wat nie die goeie nuus oor ons Here Jesus gehoorsaam nie”. Openbaring hoofstuk 19 beeld Jesus uit as die leier van die hemelse leërmagte wat teen “die wilde dier en die konings van die aarde en hulle leërmagte” sal veg (2Te 1:6-8; Op 19:11-21). Volgens Openbaring is daar “’n groot menigte” wat hierdie verdrukking oorleef (Op 7:9, 14). – Sien ARMAGEDDON.

H

  • Hades.

    ’n Griekse woord wat ooreenkom met die Hebreeuse woord “Sjeool”. Dit word vertaal as “Graf” (met ’n hoofletter) om aan te dui dat dit die gemeenskaplike graf van die mensdom is. – Sien GRAF.

  • Hande oplê.

    ’n Persoon is die hande opgelê om hom vir ’n spesiale werk aan te stel of om hom aan te wys vir ’n seën, ’n genesing of ’n gawe van die heilige gees. Soms het mense hulle hande op diere gesit voordat die diere geoffer is. – Eks 29:15; Nu 27:18; Han 19:6; 1Ti 5:22.

  • Hebreër.

    ’n Benaming wat aanvanklik gebruik is vir Abram (Abraham), om hom van sy Amoritiese bure te onderskei. Daarna is dit gebruik om te verwys na Abraham se nakomelinge deur sy kleinseun Jakob. – Ge 14:13; Eks 5:3.

  • Hebreeus.

    Die taal van die Hebreërs. Christus en sy dissipels het ook Hebreeus gepraat, maar in hulle tyd het Hebreeus al baie Aramese uitdrukkings bevat. – Han 26:14.

  • Heilig; heiligheid.

    ’n Eienskap wat deel van Jehovah se natuur is; ’n toestand van absolute sedelike suiwerheid (Eks 28:36; 1Sa 2:2; Spr 9:10; Jes 6:3). Wanneer die oorspronklike Hebreeuse woord gebruik word in verband met mense (Eks 19:6; 2Kn 4:9), diere (Nu 18:17), dinge (Eks 28:38; 30:25; Le 27:14), plekke (Eks 3:5; Jes 27:13), tydperke (Eks 16:23; Le 25:12) en bedrywighede (Eks 36:4), dra dit die gedagte oor van afgesonderdheid, eksklusiwiteit of geheiligdheid voor die ware God; om aan Jehovah se diens gewy te wees. In die Christelike Griekse Geskrifte verwys die woorde wat as “heilig” en “heiligheid” vertaal word, ook na afgesonderdheid vir God. Die woorde word ook gebruik om te verwys na die suiwerheid van iemand se gedrag. – Mr 6:20; 2Kor 7:1; 1Pe 1:15, 16.

  • Heiligdom.

    Oor die algemeen was dit ’n plek wat vir aanbidding afgesonder is, ’n heilige plek. Maar dit verwys meestal na die tabernakel of na die tempel in Jerusalem. Die term word ook gebruik vir God se woonplek in die hemel. – Eks 25:8, 9; 2Kn 10:25; 1Kr 28:10; Op 11:19.

  • Heilige, die.

    Die eerste en grootste vertrek van die tabernakel of van die tempel. Die tweede en binneste vertrek was die Allerheiligste. In die tabernakel het die Heilige die volgende items bevat: die goue lampstaander, die goue reukwerkaltaar, die tafel vir die offerbrode en die goue voorwerpe. In die tempel het dit die volgende bevat: die goue altaar, tien goue lampstaanders  en tien tafels vir die offerbrode (Eks 26:33; Heb 9:2). – Sien Aanh. B5 en B8.

  • Heilige diens.

    Diens of werk wat heilig is omdat dit direk verband hou met ’n mens se aanbidding van God. – Ro 12:1; Op 7:15.

  • Heilige gees.

    God se onsigbare, aandrywende krag wat hy in werking stel om sy wil uit te voer. Dit is heilig omdat dit van Jehovah kom, wat in die hoogste graad rein en regverdig is, en omdat God dit gebruik om uit te voer wat heilig is. – Lu 1:35; Han 1:8.

  • Heilige geheim.

    ’n Aspek van God se voorneme wat by God ontstaan en wat geheim gehou word totdat God dit op sy vasgestelde tyd openbaar aan dié aan wie hy dit wil openbaar. – Mr 4:11; Kol 1:26.

  • Heilige paal.

    Die Hebreeuse woord (ʼasje·raʹ) verwys na (1) ’n heilige paal wat Asjera, ’n Kanaänitiese vrugbaarheidsgodin, verteenwoordig het of na (2) ’n beeld van die godin Asjera. Die pale het blykbaar regop gestaan en was, ten minste gedeeltelik, van hout gemaak. Dit was moontlik onbewerkte pale of selfs bome. – De 16:21; Rig 6:26; 1Kn 15:13.

  • Heilige pilaar.

    Dit was gewoonlik van klip gemaak en was blykbaar ’n falliese simbool van Baäl of ander valse gode. – Eks 23:24.

  • Heilige toewydingsteken.

    ’n Blink plaat van suiwer goud waarop daar in Hebreeus gegraveer is: “Heiligheid behoort aan Jehovah.” Dit was aan die voorkant van die hoëpriester se tulband gesit (Eks 39:30). – Sien Aanh. B5.

  • Here se Aandmaal.

    ’n Letterlike maaltyd van ongesuurde brood en wyn as simbole van Christus se liggaam en bloed; ’n herdenking van Jesus se dood. Volgens die Bybel moet Christene dit herdenk, en daarom word dit ook die Gedenkmaal genoem. – 1Kor 11:20, 23-26.

  • Hermes.

    ’n Griekse god, seun van Zeus. In Listra is Paulus verkeerdelik Hermes genoem omdat hierdie god beskou is as ’n boodskapper van die gode en as die god van die spreekkuns. – Han 14:12.

  • Herodes.

    Die familienaam van ’n dinastie wat deur Rome aangestel is om oor die Jode te regeer. Herodes die Grote was bekend vir sy herbouing van die tempel in Jerusalem en die kindermoord in ’n poging om Jesus dood te maak (Mt 2:16; Lu 1:5). Herodes Argelaus en Herodes Antipas, seuns van Herodes die Grote, is oor dele van hulle pa se gebied aangestel (Mt 2:22). Antipas was ’n tetrarg, ’n heerser wat oor ’n vierde deel van ’n gebied regeer het, en die volk het hom “koning” genoem. Hy het regeer gedurende Christus se bediening van drie en ’n half jaar sowel as gedurende die tydperk wat beskryf word in Handelinge 1-11 (Mr 6:14-17; Lu 3:1, 19, 20; 13:31, 32; 23:6-15; Han 4:27; 13:1). Daarna het Herodes Agrippa I, kleinseun van Herodes die Grote, ’n kort tydjie regeer voordat hy deur God se engel doodgemaak is (Han 12:1-6, 18-23). Sy seun, Herodes Agrippa II, het daarna regeer tot die tyd dat die Jode teen Rome in opstand gekom het. – Han 23:35; 25:13, 22-27; 26:1, 2, 19-32.

  • Herodes se ondersteuners.

    Ook Herodiane genoem. Hulle was ’n party van nasionaliste wat die politieke belange van die Herodes-dinastie onder die Romeine ondersteun het. Sommige Sadduseërs het waarskynlik aan hierdie party behoort. Die Herodiane het met die Fariseërs saamgespan en Jesus teëgestaan. – Mr 3:6.

  • Higgajon.

    ’n Tegniese musiekterm. In Psalm 9:16 verwys die woord dalk na ’n plegtige tussenspel op die harp in lae tone of ’n plegtige pouse vir bepeinsing.

  • Hin.

    ’n Vloeistofmaat sowel as die houer wat vir daardie maat gebruik is. Dit is gelyk aan 3,67 l, gebaseer op ’n stelling van die geskiedskrywer Josefus dat ’n hin gelyk is aan twee Ateense choës (Eks 29:40). – Sien Aanh. B14.

  • Hisop.

    ’n Plant met dun stingels en blare, wat gebruik is vir die sprinkeling van bloed of water gedurende reinigingseremonies. Dit was moontlik marjolein, of marjoram (Origanum maru; Origanum syriacum). Die hisop waarvan Johannes 19:29 praat, was dalk marjolein wat vasgemaak is aan ’n stingel of doerra, ’n soort algemene sorghum (Sorghum vulgare), aangesien ’n stingel van hierdie plant lank genoeg kon gewees het om die spons met suur wyn tot by Jesus se mond te bring. – Eks 12:22; Ps 51:7.

  • Hoeksteen.

    ’n Steen op die hoek van ’n gebou wat twee mure verbind en stewig gemaak het. Die belangrikste hoeksteen was die hoeksteen van die fondament; oor die algemeen is ’n baie sterk steen gekies vir  openbare geboue en stadsmure. Die woord word in ’n figuurlike sin gebruik in verband met die skepping van die aarde, en daar word van Jesus gepraat as “die belangrikste hoeksteen” van die Christengemeente, wat met ’n geestelike huis vergelyk word. – Ef 2:20; Job 38:6.

  • Hoëpriester.

    Onder die Wet van Moses was dit die vernaamste priester wat die volk voor God verteenwoordig het en oor die ander priesters toesig gehou het. Ook “die hoofpriester” genoem (2Kr 26:20; Esr 7:5). Slegs die hoëpriester is toegelaat om in die Allerheiligste in te gaan, wat die binneste vertrek van die tabernakel was, en later van die tempel. Hy het dit slegs op die jaarlikse Versoendag gedoen. Die term “hoëpriester” word ook op Jesus Christus toegepas. – Le 16:2, 17; 21:10; Mt 26:3; Heb 4:14.

  • Hoer.

    – Sien PROSTITUUT.

  • Hoerery.

    – Sien SEKSUELE ONSEDELIKHEID.

  • Homer.

    ’n Droëmaat wat ooreenkom met die kor. Dit was gelyk aan 220 l, gebaseer op die geskatte inhoud van die bat (Le 27:16). – Sien Aanh. B14.

  • Hoofbewerker.

    Die Griekse term beteken basies “Hoofleier”. Dit verwys na die noodsaaklike rol wat Jesus Christus speel om getroue mense van die dodelike gevolge van sonde te bevry en hulle na die ewige lewe te lei. – Han 3:15; 5:31; Heb 2:10; 12:2.

  • Hoofpriester.

    ’n Ander benaming vir “hoëpriester” in die Hebreeuse Geskrifte. In die Christelike Griekse Geskrifte het die uitdrukking “hoofpriesters” blykbaar verwys na die belangrikste manne van die priesterdom, wat moontlik voormalige hoofpriesters ingesluit het wat uit hulle amp verwyder is, sowel as die hoofde van die 24 priesterlike afdelings. – 2Kr 26:20; Esr 7:5; Mt 2:4; Mr 8:31.

  • Horeb; berg Horeb.

    Die bergstreek om die berg Sinai. ’n Ander naam vir die berg Sinai (Eks 3:1; De 5:2). – Sien Aanh. B3.

  • Horing.

    Dierehorings wat gebruik is as houers vir drank, olie, ink en kosmetiese middels, en ook as instrumente om musiek te maak of ’n sein te gee (1Sa 16:1, 13; 1Kn 1:39; Ese 9:2). “Horing” word dikwels figuurlik gebruik vir krag, verowering en oorwinning. – De 33:17; Mi 4:13; Sag 1:19.

  • Horings van die altaar.

    Horingvormige uitsteeksels aan die vier hoeke van sekere altare (Le 8:15; 1Kn 2:28). – Sien Aanh. B5 en B8.

  • Huttefees.

    Ook die Loofhuttefees en die Fees van die Insameling genoem. Dit is op 15-21 Etanim gehou. Gedurende hierdie fees het Israel die oes aan die einde van hulle landboujaar gevier, en dit was ’n tyd om bly te wees en Jehovah te dank vir sy seën op hulle opbrengs. Gedurende die dae van die fees het mense in hutte, of tydelike skuilings, gebly om hulle te herinner aan die uittog uit Egipte. Dit was een van die drie feeste wat mans moes gaan vier in Jerusalem. – Le 23:34; Esr 3:4.

I

  • Illirikum.

    ’n Romeinse provinsie noordwes van Griekeland. Paulus het in sy bediening tot in Illirikum gereis, maar daar word nie gesê of hy in die provinsie of net tot by die grens daarvan gepreek het nie (Ro 15:19). – Sien Aanh. B13.

  • Integriteit.

    Verwys na sedelike suiwerheid, volkomenheid of onberispelikheid. Dit beskryf ’n persoon met ’n volkome of onverdeelde hart wat ten volle toegewyd is aan wat reg is. Die manier waarop dit in die Bybel gebruik word, asook voorbeelde in die Bybel, beklemtoon dat rotsvaste toegewydheid aan ’n persoon, naamlik Jehovah God, en aan sy geopenbaarde wil en voorneme van die allergrootste belang is. – Jos 24:14; Job 27:5; Ps 26:1.

  • Israel.

    Die naam wat God aan Jakob gegee het. Dit het uiteindelik verwys na al sy nakomelinge op enige gegewe tyd. Die nakomelinge van Jakob se 12 seuns is dikwels die seuns van Israel, die huis van Israel, die volk Israel, die manne van Israel of die Israeliete genoem. Israel is ook gebruik as die naam van die noordelike tienstammeryk wat van die suidelike koninkryk weggebreek het, en later as ’n term vir gesalfde Christene, “die Israel van God”. – Ga 6:16; Ge 32:28; 2Sa 7:23; Ro 9:6.

J

  • Jakob.

    ’n Seun van Isak en Rebekka. God het hom later die naam Israel gegee, en hy het die aartsvader van die volk Israel geword (wat ook Israeliete en later Jode genoem is). Hy was die pa van die 12 seuns wat saam met hulle nakomelinge die 12 stamme van die nasie Israel geword het. Die  naam Jakob is ook gebruik vir die volk Israel. – Ge 32:28; Mt 22:32.

  • Jedutun.

    ’n Term waarvan die betekenis onseker is en wat in die opskrifte van Psalm 39, 62 en 77 verskyn. Dit wil voorkom asof hierdie opskrifte instruksies is oor hoe om die psalm op te voer en dat dit dalk ’n sekere soort styl of musiekinstrument identifiseer. Daar was ’n Levitiese musikant met die naam Jedutun, en daarom is die styl of instrument moontlik met hom of sy seuns geassosieer.

  • Jehovah.

    Die Afrikaanse weergawe van die Tetragrammaton (die vier Hebreeuse letters vir die persoonlike naam van God) wat meer as 7 000 keer in hierdie vertaling voorkom. – Sien Aanh. A4 en A5.

  • Jood.

    ’n Term wat ná die val van die tienstammeryk van Israel gebruik is om na ’n lid van die stam van Juda te verwys (2Kn 16:6). Ná die Babiloniese ballingskap het dit verwys na Israeliete uit verskeie stamme wat na Israel teruggekeer het (Esr 4:12). Later is dit in die hele wêreld gebruik om Israeliete van ander volke te onderskei (Est 3:6). Die apostel Paulus het ook die term figuurlik gebruik toe hy geredeneer het dat nasionaliteit niks in die Christengemeente beteken nie. – Ro 2:28, 29; Ga 3:28.

  • Jubeljaar.

    Elke 50ste jaar, bereken vanaf die jaar dat Israel in die Beloofde Land ingegaan het. Gedurende die Jubeljaar moes die land onbewerk lê en moes Hebreeuse slawe vrygelaat word. Erfdele wat verkoop is, is teruggegee. Die Jubeljaar was in ’n sekere sin ’n feesjaar, ’n jaar van vrylating waarin die nasie herstel is tot die toestand waarin dit was toe God dit aanvanklik gevorm het. – Le 25:10.

  • Juda.

    Jakob se vierde seun by sy vrou Lea. In sy sterfbedprofesie het Jakob voorspel dat ’n magtige en permanente leier uit Juda se familie sou kom. As ’n mens het Jesus van Juda afgestam. Die naam Juda verwys ook na die stam en later na die koninkryk wat daarna vernoem is. Juda, wat ook die suidelike koninkryk genoem word, het bestaan uit die Israelitiese stamme van Juda en Benjamin en het die priesters en Leviete ingesluit. Juda het in die suidelike deel van die land gewoon, waar Jerusalem en die tempel was. – Ge 29:35; 49:10; 1Kn 4:20; Heb 7:14.

  • Juk.

    ’n Staaf wat ’n persoon op sy skouers gedra het met ’n vrag aan elke ent, of ’n houtstaaf of houtraam wat op die nekke van twee trekdiere (gewoonlik beeste) geplaas is wanneer hulle ’n plaasimplement of ’n wa getrek het. Omdat ’n slaaf dikwels ’n juk gebruik het om swaar vragte te dra, was die juk ’n simbool van slawerny, onderworpenheid, onderdrukking en lyding. Die verwydering of verbreking van die juk het gedui op bevryding van slawerny, onderdrukking en uitbuiting. – Le 26:13; Mt 11:29, 30.

K

  • Kab.

    ’n Droëmaat van 1,22 l, gebaseer op die geskatte inhoud van die bat (2Kn 6:25). – Sien Aanh. B14.

  • Kaf.

    Die omhulsels wat van die eetbare deel van graan geskei word wanneer graan gedors en gewan word. In beeldspraak is kaf gebruik as ’n simbool van iets wat waardeloos en ongewens is. – Ps 1:4; Mt 3:12.

  • Kamos.

    Die hoofgod van die Moabiete. – 1Kn 11:33.

  • Kanaän.

    ’n Kleinseun van Noag, die vierde seun van Gam. Die 11 stamme wat van Kanaän afgestam het, het uiteindelik in die streek langs die oostelike deel van die Middellandse See tussen Egipte en Sirië gewoon. Die gebied is “die land Kanaän” genoem (Le 18:3; Ge 9:18; Han 13:19). – Sien Aanh. B4.

  • Kassia.

    ’n Produk van die kaneelkassieboom (Cinnamomum cassia), wat van dieselfde familie as die kaneelboom is. Kassia is gebruik as ’n parfuum en as ’n bestanddeel van die heilige salfolie. – Eks 30:24; Ps 45:8; Ese 27:19.

  • Kislef.

    Nadat die Jode uit Babilon teruggekeer het, was dit die naam van die negende maand van die Joodse godsdienskalender en die derde maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van November begin en in die middel van Desember geëindig (Ne 1:1; Sag 7:1). – Sien Aanh. B15.

  • Koningin van die Hemel.

    Die titel van ’n godin wat in die tyd van Jeremia deur afvallige Israeliete aanbid is. Party dink dat dit na die Babiloniese godin Isjtar (Astarte) verwys. Hierdie godin is vroeër ook deur die Sumeriërs aanbid en het bekend gestaan as Inanna, wat “Koningin van die Hemel” beteken. Sy is nie net met die hemel verbind nie, maar was ook ’n vrugbaarheidsgodin. In ’n  Egiptiese inskripsie word Astarte ook “Vrou van die Hemel” genoem. – Jer 44:19.

  • Kopiis.

    Iemand wat geskrewe afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte gemaak het. – Esr 7:6.

  • Kopstuk.

    Die boonste gedeelte van ’n pilaar, wat as ’n versiersel gedien het. Daar was massiewe kopstukke bo-op die twee pilare Jagin en Boas, wat voor Salomo se tempel gestaan het (1Kn 7:16). – Sien Aanh. B8.

  • Kor.

    ’n Droëmaat sowel as ’n vloeistofmaat. Dit was gelyk aan 220 l, gebaseer op die geskatte inhoud van die bat (1Kn 5:11). – Sien Aanh. B14.

  • Koraal.

    ’n Harde, klipagtige stof wat uit die karkasse van seediertjies bestaan. Dit word in die oseaan gevind in verskillende kleure, insluitende rooi, wit en swart. Koraal het veral in die Rooisee voorgekom. In Bybeltye was rooi koraal baie waardevol, en krale en ander ornamente is daarvan gemaak. – Spr 8:11.

L

  • Laaste dae.

    Hierdie en soortgelyke uitdrukkings, soos “die einde van die dae”, word in Bybelprofesieë gebruik vir ’n tyd wanneer historiese gebeurtenisse ’n finale klimaks sal bereik (Ese 38:16; Da 10:14; Han 2:17). Afhangende van die profesie kan dit ’n tydperk van net ’n paar jaar of van baie jare wees. Die Bybel gebruik hierdie term veral om te verwys na “die laaste dae” van die huidige stelsel van dinge, gedurende Jesus se onsigbare teenwoordigheid. – 2Ti 3:1; Jak 5:3; 2Pe 3:3.

  • Lepton.

    In die tyd van die Christelike Griekse Geskrifte was dit die kleinste Joodse muntstuk van koper of brons (Mr 12:42; Lu 21:2; voetnote). – Sien Aanh. B14.

  • Levi; Leviet.

    Jakob se derde seun by sy vrou Lea; ook die stam wat na Levi vernoem is. Die nakomelinge van sy drie seuns het die drie hoofafdelings van die Leviete gevorm. Soms word die woord “Leviete” op die hele stam toegepas, maar gewoonlik sluit dit nie die priesterlike familie van Aäron in nie. Die stam van Levi het nie ’n toegewese deel in die Beloofde Land ontvang nie, maar het 48 stede ontvang binne die grense van die land wat aan die ander stamme toegewys is. – De 10:8; 1Kr 6:1; Heb 7:11.

  • Leviatan.

    ’n Dier wat gewoonlik met water geassosieer word, blykbaar ’n soort waterdier. In Job 3:8 en 41:1 lyk dit asof dit verwys na die krokodil of ’n ander soort waterdier wat groot en sterk is. In Psalm 104:26 is dit dalk ’n soort walvis. Op ander plekke word dit figuurlik gebruik en kan dit nie met ’n spesifieke dier geïdentifiseer word nie. – Ps 74:14; Jes 27:1.

  • Libanon-bergreeks.

    Een van die twee bergreekse van die land Libanon. Die Libanon is in die weste en die Anti-Libanon is in die ooste. Die twee bergreekse word geskei deur ’n lang, vrugbare vallei. Die Libanon-bergreeks lê amper reg langs die kus van die Middellandse See, en die pieke is gemiddeld tussen 1 800 en 2 100 m hoog. Destyds was die Libanon-berge bedek met indrukwekkende sederbome, wat baie gewild was onder die omliggende nasies (De 1:7; Ps 29:6; 92:12). – Sien Aanh. B7.

  • Lied van die opgange.

    Die opskrif wat by Psalm 120-134 gevind word. Daar is verskillende menings oor die betekenis van hierdie uitdrukking, maar baie mense glo dat hierdie 15 psalms deur vreugdevolle Israelitiese aanbidders gesing is terwyl hulle ‘opgegaan’ het na Jerusalem, wat hoog in die berge van Juda geleë was, om die drie jaarlikse feeste daar by te woon.

  • Log.

    Die kleinste vloeistofmaat in die Bybel. In die Joodse Talmoed word dit beskryf as 1/12 van ’n hin. Op grond daarvan sou die log 0,31 l wees (Le 14:10). – Sien Aanh. B14.

  • Lojale liefde.

    Gewoonlik ’n vertaling van die Hebreeuse woord cheʹsedh, wat verwys na liefde wat deur toegewydheid, integriteit, lojaliteit en sterk gehegtheid gemotiveer word. Dit word dikwels gebruik in verband met God se liefde vir mense, maar dit kan ook verwys na liefde wat mense aan mekaar betoon. – Eks 34:6; Rut 3:10.

  • Losprys.

    ’n Prys wat betaal word om iemand te bevry van gevangenskap, straf, lyding, sonde of selfs ’n verpligting. Die prys word nie altyd in geld betaal nie (Jes 43:3). Verskillende situasies het ’n losprys vereis. Byvoorbeeld, alle eersgebore seuns of manlike diere in Israel het aan Jehovah behoort. ’n Losprys moes betaal word om hulle los te koop, want andersins sou hulle uitsluitlik in Jehovah se diens gebruik moes word (Nu 3:45, 46; 18:15, 16). As ’n gevaarlike bul vry rondgeloop het en iemand  doodgemaak het, moes die eienaar ’n losprys betaal om homself van die doodsvonnis te verlos (Eks 21:29, 30). Maar geen losprys kon aanvaar word vir iemand wat ’n persoon opsetlik doodgemaak het nie (Nu 35:31). Die offerdood van Christus is die belangrikste losprys in die Bybel. Hy het dit betaal om gehoorsame mense van sonde en die dood te bevry. – Ps 49:7, 8; Mt 20:28; Ef 1:7.

  • Lot, die.

    Klippies of stukkies hout wat gebruik is wanneer besluite geneem is. Dit is in die voue van ’n kledingstuk of in ’n houer gesit en dan geskud. Die lot wat uitgeval het of uitgetrek is, is die een wat gekies is. Daar is dikwels gebid wanneer die lot gewerp is. Die woord “lot” word letterlik en figuurlik gebruik. – Jos 14:2; Spr 16:33; Mt 27:35.

M

  • Magistrate.

    Onder die regering van Babilon was magistrate ’n sekere soort staatsbeampte in die provinsies wat die wet geken het en beperkte regterlike gesag gehad het. In Romeinse kolonies was magistrate administrateurs van die regering. Van hulle take was om orde te handhaaf, finansies te beheer, wetsoortreders te oordeel en toe te sien dat hulle gestraf word. – Da 3:2; Han 16:20.

  • Mahalat.

    Blykbaar ’n musiekterm wat in die opskrifte van Psalm 53 en 88 voorkom. Dit is moontlik verwant aan ’n Hebreeuse grondwerkwoord wat “swak word; siek word” beteken. Indien wel, sou dit moontlik ’n treurige en hartseer melodie wees wat sou pas by die sombere inhoud van die twee liedere.

  • Malkam.

    Waarskynlik dieselfde as Molog, die hoofgod van die Ammoniete (Sef 1:5). – Sien MOLOG.

  • Manna.

    Die Israeliete se stapelvoedsel gedurende hulle 40 jaar in die wildernis. Dit is deur Jehovah voorsien. Dit het elke oggend wonderbaarlik op die grond verskyn onder ’n laag dou, behalwe op die Sabbat. Toe die Israeliete dit die eerste keer gesien het, het hulle gevra: “Wat is dit?” of, in Hebreeus: “Man hoeʼ?” (Eks 16:13-15, 35). In ander kontekste word dit “graan van die hemel” (Ps 78:24), “brood uit die hemel” (Ps 105:40) en “die brood van magtiges” (Ps 78:25) genoem. Jesus het ook in ’n figuurlike sin na manna verwys. – Joh 6:49, 50.

  • Masedonië.

    ’n Gebied noord van Griekeland wat onder Aleksander die Grote bekend geword het en onafhanklik gebly het totdat dit deur die Romeine verower is. Masedonië was ’n Romeinse provinsie toe die apostel Paulus Europa vir die eerste keer besoek het. Paulus het die gebied drie keer besoek (Han 16:9). – Sien Aanh. B13.

  • Maskil.

    ’n Hebreeuse term in die opskrif van 13 psalms. Die betekenis is onseker, maar dit verwys moontlik na ’n gedig wat nadenkend geskryf is. Volgens sommige kom die betekenis dalk ooreen met ’n soortgelyke woord wat vertaal word as ‘dien met goeie oordeel’. – 2Kr 30:22; Ps 32:Ops.

  • Mede; Medië.

    ’n Volk wat van Jafet se seun Madai afgestam het. Hulle het in die bergagtige plato van Iran gaan woon, wat die land Medië geword het. Die Mede het met Babilon saamgespan en Assirië verslaan. Persië was op daardie stadium ’n provinsie onder Medië, maar Kores het in opstand gekom, en Medië en Persië het saamgesmelt om die Medo-Persiese Ryk te vorm wat die Neo-Babiloniese Ryk in 539 VHJ verslaan het. Daar was Mede in Jerusalem gedurende Pinkster in 33 HJ (Da 5:28, 31; Han 2:9). – Sien Aanh. B9.

  • Medelye.

    ’n Simpatieke bewustheid van iemand anders se lyding of teëspoed wat gepaardgaan met ’n begeerte om dit te verlig. – Mal 3:17; Ef 4:32; 1Jo 3:17.

  • Meetriet.

    ’n Meetriet was ses el lank. Op grond van die gewone el was dit 2,67 m; op grond van die lang el was dit 3,11 m (Ese 40:3, 5; Op 11:1). – Sien Aanh. B14.

  • Melaatsheid; melaatse.

    ’n Ernstige velsiekte. In die Bybel is melaatsheid nie beperk tot die siekte soos ons dit vandag ken nie, want dit het nie net mense aangetas nie, maar ook klere en huise. – Le 14:54; Lu 5:12.

  • Mensekind.

    ’n Term wat met verwysing na Esegiël en Daniël gebruik word. Dit beklemtoon die verskil tussen hulle as menslike woordvoerders en die Bron van hulle boodskap, God. – Ese 3:17; Da 8:17.

  • Merodag.

    Die hoofgod van die stad Babilon. Nadat die Babiloniese koning en wetgewer Hammoerabi Babilon die hoofstad van Babilonië gemaak het, het Merodag (Mardoek) al hoe belangriker geword. Uiteindelik het Merodag die plek van ’n aantal vroeëre  gode ingeneem en die hoofgod van al die Babiloniese gode geword. In latere tydperke is die naam Merodag (Mardoek) vervang met die titel “Beloe” (wat “eienaar” beteken), en daar is dikwels na Merodag verwys as Bel. – Jer 50:2.

  • Messias.

    ’n Woord wat afkomstig is van die Hebreeuse woord vir “gesalfde”. “Christus” is afkomstig van ’n Griekse woord wat dieselfde betekenis het. – Da 9:25; Joh 1:41.

  • Meulsteen.

    ’n Ronde steen bo-op ’n soortgelyke steen wat gebruik is om graan tot meel te maal. ’n Pen is in die middel van die onderste steen geplaas, wat ’n as vir die boonste steen was. In Bybeltye het vrouens handmeule in die meeste huise gebruik. Aangesien ’n gesin van hulle handmeul afhanklik was vir hulle daaglikse brood, het die Wet van Moses verbied dat ’n meul of ’n boonste meulsteen as ’n waarborg vir ’n lening geneem word. Groter meule is deur diere gedraai. – De 24:6; Mr 9:42.

  • Middelaar.

    Iemand wat tussen twee partye bemiddel om hulle met mekaar te versoen. In die Bybel is Moses die middelaar van die Wetsverbond en Jesus die middelaar van die nuwe verbond. – Ga 3:19; 1Ti 2:5.

  • Miktam.

    ’n Hebreeuse woord in die opskrifte van ses psalms (Ps 16, 56-60). Dit is ’n tegniese term waarvan die betekenis onseker is, maar dit hou dalk verband met die woord “inskripsie”.

  • Milkom.

    ’n God wat deur die Ammoniete aanbid is, waarskynlik dieselfde god as Molog (1Kn 11:5, 7). Na aan die einde van sy heerskappy het Salomo offerhoogtes vir hierdie valse god gebou. – Sien MOLOG.

  • Mina.

    Ook ’n mine in Esegiël genoem. ’n Gewigseenheid sowel as ’n geldeenheid. Op grond van argeologiese bewyse dat ’n mina gelyk was aan 50 sikkels en dat ’n sikkel 11,4 g geweeg het, sou ’n mina in die Hebreeuse Geskrifte 570 g geweeg het. Daar was dalk ook ’n koninklike mina, soos in die geval van die el. In die Christelike Griekse Geskrifte was ’n mina gelyk aan 100 dragmas. Dit het 340 g geweeg. Sestig minas was gelyk aan ’n talent (Esr 2:69; Lu 19:13). – Sien Aanh. B14.

  • Mirre.

    ’n Aromatiese gomhars van ’n verskeidenheid doringbosse of -boompies van die genus Commiphora. Mirre was een van die bestanddele van die heilige salfolie. Dit is gebruik om dinge soos klere of beddens te laat lekker ruik en is by masseerolies en velrome gevoeg. Mirre is ook gebruik om lyke te balsem voordat dit begrawe is. – Eks 30:23; Spr 7:17; Joh 19:39.

  • Molog.

    ’n God van die Ammoniete; moontlik dieselfde god as Malkam of Milkom. Dit is moontlik ’n titel eerder as die naam van ’n spesifieke god. Onder die Wet van Moses het iemand die doodstraf verdien as hy sy kinders aan Molog geoffer het. – Le 20:2; Jer 32:35; Han 7:43.

  • Môrester.

     Sien DAGSTER.

  • Moses, Wet van.

    Die Wet wat Jehovah deur Moses in 1513 VHJ aan Israel in die wildernis Sinai gegee het. Dit word ook die Mosaïese Wet genoem. Die eerste vyf boeke van die Bybel word dikwels die Wet genoem. – Jos 23:6; Lu 24:44.

  • Musiekleier.

    In die Psalms het die Hebreeuse term hiervoor blykbaar verwys na iemand wat liedere op die een of ander manier verwerk het, die sing daarvan gedirigeer het, die Levitiese sangers afgerig het en selfs amptelike uitvoerings gelei het. Ander vertalings vertaal hierdie term as “koorleier”. – Ps 4:Ops; 5:Ops.

  • Mut-Labben.

    ’n Term in die opskrif van Psalm 9. Volgens tradisie het dit “aangaande die dood van die seun” beteken. Volgens party was dit die naam of dalk die openingswoorde van ’n bekende liedjie waarvan die melodie vir hierdie psalm gebruik is.

  • Myl.

    ’n Afstandsmaat wat net een keer in die oorspronklike teks van die Christelike Griekse Geskrifte voorkom, in Matteus 5:41, en wat waarskynlik verwys na die Romeinse myl van 1 479,5 m. – Sien Aanh. B14.

N

  • Nardus.

    ’n Duur, ligrooi olie wat lekker ruik en afkomstig is van die nardusplant (Nardostachys jatamansi). Omdat nardus duur was, is dit dikwels met olies van minderwaardige gehalte gemeng, en dit is soms nagemaak. Dit is interessant dat Markus sowel as Johannes sê dat “egte nardus” op Jesus uitgegooi is. – Mr 14:3; Joh 12:3.

  • Nasarener.

    ’n Naam wat aan Jesus gegee is omdat hy van die dorp Nasaret was. Dit is waarskynlik verwant aan die Hebreeuse woord wat as “spruit” vertaal word in Jesaja 11:1. Later is Jesus se volgelinge ook Nasareners genoem. – Mt 2:23; Han 24:5.

  •  Nasireër.

    ’n Woord wat afgelei is van die Hebreeuse term vir “uitgekies”, “toegewy”, “afgesonder”. Daar was twee kategorieë van Nasireërs: die vrywillige Nasireërs en dié wat deur God as Nasireërs aangestel is. ’n Man of ’n vrou kon ’n spesiale gelofte aan Jehovah maak om ’n tyd lank as ’n Nasireër te lewe. Daar was drie dinge wat verbode was vir dié wat vrywillig so ’n gelofte gemaak het: Hulle mag nie enige alkohol gedrink het of enigiets geëet het wat van die wingerdstok gekom het nie, hulle mag nie hulle hare gesny het nie en hulle mag nie aan ’n dooie liggaam geraak het nie. Dié wat deur God as Nasireërs aangestel is, het hulle hele lewe lank Nasireërs gebly, en Jehovah het die vereistes vir hulle vasgestel. – Nu 6:2-7; Rig 13:5.

  • Nefilim.

    Die gewelddadige basterseuns van engele (wat menseliggame aangeneem het) en “die dogters van die mense”. Hulle het voor die Vloed gelewe. – Ge 6:4.

  • Nehilot.

    ’n Term in die opskrif van Psalm 5. Daar is nie sekerheid oor die betekenis daarvan nie. Party dink dat dit na ’n blaasinstrument verwys en verbind dit met ’n Hebreeuse woord wat verwant is aan die woord cha·lilʹ (fluit). Maar dit kan na ’n melodie verwys.

  • Netinim.

    Nie-Israelitiese tempelknegte. Die Hebreeuse term beteken letterlik “gegewenes”, wat aandui dat hulle gegee is vir diens by die tempel. Baie van hulle was waarskynlik nakomelinge van die Gibeoniete, wat Josua aangestel het as “houtkappers en waterdraers . . . vir die gemeenskap van Israel en vir Jehovah se altaar”. – Jos 9:23, 27; 1Kr 9:2; Esr 8:17.

  • Nisan.

    Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam vir die eerste maand van die Joodse godsdienskalender, wat ook die sewende maand van die sekulêre kalender was. Voorheen is dié maand “Abib” genoem. Dit het in die middel van Maart begin en in die middel van April geëindig (Ne 2:1). – Sien Aanh. B15.

  • Nuwemaan.

    Die eerste dag van elke maand van die Joodse kalender. Dit was ’n dag waarop die volk bymekaargekom het, feesgevier het en spesiale offers geoffer het. Later het die dag ’n belangrike nasionale feesdag geword waarop mense nie gewerk het nie. – Nu 10:10; 2Kr 8:13; Kol 2:16.

O

  • Offer; offerande.

    ’n Offer word vir God aangebied om dankbaarheid te toon, om skuld te erken en om weer ’n goeie verhouding met hom te verkry. Van Abel se tyd af het mense verskillende offers, insluitende diereoffers, vrywillig aangebied. Onder die Wet van Moses het offers verpligtend geword. Nadat Jesus sy lewe as ’n volmaakte offerande gegee het, was diereoffers nie meer nodig nie. Maar Christene bring nog steeds geestelike offers aan God. – Ge 4:4; Heb 13:15, 16; 1Jo 4:10.

  • Offerbrode.

    Twaalf brode wat in twee stapels van ses op die tafel in die Heilige van die tabernakel en van die tempel geplaas is. Dit word ook “stapelbrode” en “aanbiedingsbrode” genoem. Elke Sabbat is hierdie offer aan God met vars brood vervang. Die brood wat verwyder is, is gewoonlik net deur die priesters geëet (2Kr 2:4; Mt 12:4, vtn.; Eks 25:30; Le 24:5-9; Heb 9:2, vtn.). – Sien Aanh. B5.

  • Offerhoogte.

    ’n Plek van aanbidding wat gewoonlik bo-op ’n heuwel, berg of mensgemaakte hoogte was. Hoewel offerhoogtes soms in die aanbidding van God gebruik is, het dit meer dikwels met die aanbidding van valse gode verband gehou. – Nu 33:52; 1Kn 3:2; Jer 19:5.

  • Ongesuurd.

    Sonder suurdeeg gemaak. – De 16:3; Mr 14:12; 1Kor 5:8.

  • Onikssteen.

    ’n Halfedelsteen. ’n Harde soort agaat of ’n gestreepte soort kalsedoon. Onikssteen het wit lae wat met swart, bruin, rooi, grys of groen lae afwissel. Daar was oniksstene op die spesiale klere van die hoëpriester. – Eks 28:9, 12; 1Kr 29:2; Job 28:16.

  • Onkreukbaarheid.

     Sien INTEGRITEIT.

  • Onrein.

    Dit kan verwys na fisiese onreinheid of na onreinheid weens ongehoorsaamheid aan sedelike wette. In die Bybel verwys die woord dikwels na iets wat volgens die Wet van Moses nie aanvaarbaar, of rein, was nie (Le 5:2; 13:45; Mt 10:1; Han 10:14; Ef 5:5). – Sien REIN.

  • Onverdiende goedheid.

    ’n Griekse woord wat basies verwys na iets wat lieflik en aangenaam is. Dit dui dikwels op ’n geskenk wat uit goedhartigheid gegee word of op ’n liefdevolle manier van gee. Wanneer daar  van die onverdiende goedheid van God gepraat word, verwys dit na ’n vrye gawe wat God uit sy groot vrygewigheid gee sonder om te verwag dat die ontvanger iets terugbetaal. Dit is dus ’n bewys van God se vrygewigheid en groot liefde en goedheid teenoor mense. Die Griekse woord word ook vertaal as “seën” en “geskenk wat uit liefde gegee is”. Dit is iets wat die gewer uit vrygewigheid gee en nie omdat die ontvanger dit verdien nie. – 2Kor 6:1; Ef 1:7.

  • Oond.

    In Bybeltye was daar huishoudelike oonde, maar ook ander soorte oonde om kalk te brand, erts of metale te smelt en om stene en erdewerk te bak. – Ge 15:17; Da 3:17; Op 9:2.

  • Oordeelsdag.

    ’n Spesifieke dag, of tydperk, wanneer God van groepe, nasies of mense oor die algemeen rekenskap sal eis. Dit is dalk ’n tyd vir dié wat tot die dood veroordeel is, om tereggestel te word, maar dit kan ook ’n oordeel wees wat party die kans gee om gered te word en die ewige lewe te kry. Jesus Christus en sy apostels het gepraat van ’n toekomstige “Oordeelsdag” vir die lewendes, sowel as vir dié wat al gesterf het. – Mt 12:36.

  • Opsiener.

    ’n Man wie se belangrikste verantwoordelikheid is om die gemeente te beskerm en ’n herder te wees. Die Griekse woord e·piʹsko·pos verwys basies na iemand wat beskerm en toesig hou. Die terme “opsiener” en “ouerman” (pre·sbuʹte·ros) verwys na dieselfde posisie in die Christengemeente. Die term “ouerman” vestig die aandag op die geestelike volwassenheid van die persoon wat aangestel is, en die term “opsiener” vestig die aandag op sy pligte. – Han 20:28; 1Ti 3:2-7; 1Pe 5:2.

  • Opskrif.

    Verskyn aan die begin van sommige psalms. Dit sê wie die skrywer is of gee agtergrondinligting of bevat musikale instruksies of dui aan wat die gebruik of doel van die psalm is. – Sien die opskrifte van Psalm 3, 4, 5, 6, 7, 30, 38, 60, 92, 102.

  • Opstanding.

    Dit verwys na ’n opstanding uit die dood. Die Griekse woord a·naʹsta·sis beteken letterlik “om op te staan”. Nege opstandings word in die Bybel genoem, insluitende die opstanding van Jesus, wat deur Jehovah God opgewek is. Al het Elia, Elisa, Jesus, Petrus en Paulus mense opgewek, word hierdie wonderwerke aan God se krag toegeskryf. Die opstanding van “die regverdiges en die onregverdiges” op die aarde is noodsaaklik vir die vervulling van God se voorneme (Han 24:15). Die Bybel praat ook van ’n hemelse opstanding, wat “die vroeër” of “die eerste” opstanding genoem word. Jesus se geesgesalfde broers ontvang hierdie opstanding. – Flp 3:11; Op 20:5, 6; Joh 5:28, 29; 11:25.

  • Ouerman; ouderling.

    In die Bybel verwys dit hoofsaaklik na iemand wat ’n posisie van gesag en verantwoordelikheid in ’n gemeenskap of ’n nasie het. In die boek Openbaring word die woord “ouderling” gebruik om na hemelse wesens te verwys. Die Griekse woord pre·sbuʹte·ros word as “ouerman” vertaal wanneer dit verwys na dié wat die leiding in die gemeente neem. – Eks 4:29; Spr 31:23; 1Ti 5:17; Op 4:4.

P

  • Paal.

    ’n Regopstaande stuk hout wat sommige volke gebruik het om iemand tereg te stel en/of om ’n dooie liggaam in die openbaar te vertoon as ’n waarskuwing vir ander of as ’n openbare vernedering. Die Assiriërs, wat bekend was vir hulle wrede oorlogvoering, het gevangenes aan spits pale opgehang wat deur die onderlyf van die slagoffer tot in sy borskasholte gesteek is. Volgens die Joodse wet moes mense wat skuldig was aan ernstige misdade soos godslastering of afgodediens eers doodgemaak word, deur hulle byvoorbeeld met klippe te gooi, en daarna is hulle dooie liggame aan pale of bome gehang as ’n waarskuwende voorbeeld vir ander (De 21:22, 23; 2Sa 21:6, 9). Soms het die Romeine ’n slagoffer net vasgebind aan ’n paal. In so ’n geval kon dit ’n paar dae neem voordat hy van pyn, dors, honger en blootstelling aan die son sou sterf. In ander gevalle, soos die teregstelling van Jesus, het hulle die hande en voete van die beskuldigde aan ’n paal vasgespyker (Lu 24:20; Joh 19:14-16; 20:25; Han 2:23, 36). – Sien FOLTERPAAL.

  • Pand.

    ’n Persoonlike besitting wat ’n skuldenaar aan ’n skuldeiser gegee het as sekuriteit, of as ’n waarborg dat hy ’n lening sou terugbetaal. Die Wet van Moses het wetsvoorskrifte bevat in verband met pande om die belange van die armes en hulpeloses van die volk te beskerm. – Eks 22:26; Ese 18:7.

  •  Papirus.

    ’n Rietagtige waterplant wat gebruik is om onder andere mandjies, houers en bote te maak. Dit is ook gebruik om skryfmateriaal te maak wat soortgelyk is aan papier. Baie boekrolle was van papirus gemaak. – Eks 2:3.

  • Paradys.

    ’n Pragtige park of tuin. Die eerste paradys was Eden, wat Jehovah vir die eerste mensepaar gemaak het. Toe Jesus met een van die misdadigers gepraat het wat aan ’n folterpaal langs hom gehang het, het hy aangedui dat die aarde ’n paradys sal word. In 2 Korintiërs 12:4 verwys die woord blykbaar na ’n toekomstige paradys, en in Openbaring 2:7 na ’n hemelse paradys. – Hgl 4:13; Lu 23:43.

  • Pasga.

    ’n Jaarlikse fees wat op die 14de dag van Abib (later Nisan genoem) gehou is om die verlossing van die Israeliete uit Egipte te herdenk. Op hierdie dag is ’n skaaplam of ’n boklam geslag en gebraai. Dit is dan saam met bitter kruie en ongesuurde brood geëet. – Eks 12:27; Joh 6:4; 1Kor 5:7.

  • Perkament.

    Die vel van ’n skaap, bok of kalf wat bewerk is om as skryfmateriaal gebruik te word. Dit was duursamer as papirus en is gebruik vir party van die boekrolle van die Bybel. Die perkamente wat Timoteus vir Paulus moes neem, was moontlik gedeeltes van die Hebreeuse Geskrifte. Sommige van die Dooie See-rolle is op perkament geskryf. – 2Ti 4:13.

  • Persië; Perse.

    ’n Land en ’n volk wat dikwels saam met die Mede genoem is. Die Perse was blykbaar verwant aan die Mede. Die Perse het oorspronklik in die suidwestelike deel van die Irannese plato gewoon. Onder Kores die Grote het die Perse die oorhand oor die Mede gekry, maar die ryk het ’n tweedelige ryk gebly. (Volgens sommige geskiedskrywers van die ou tyd was Kores se pa ’n Pers en sy ma ’n Meder.) Kores het die Babiloniese Ryk in 539 VHJ verower, en hy het die Jode wat in ballingskap was, toegelaat om na hulle vaderland terug te keer. Die Persiese Ryk het gestrek van die Indus-rivier in die ooste tot die Egeïese See in die weste. Die Jode was onder Persiese heerskappy totdat die Perse in 331 VHJ deur Aleksander die Grote verslaan is. In ’n visioen het Daniël besonderhede oor die Persiese Ryk vooruitgesien. Daar word ook in die Bybelboeke Esra, Nehemia en Ester na die Persiese Ryk verwys (Esr 1:1; Da 5:28). – Sien Aanh. B9.

  • Pilaar.

    ’n Regop paal wat soms gebruik is om ’n gedeelte van ’n gebou te ondersteun. Pilare is byvoorbeeld gebruik in die tempel en die koninklike geboue wat deur Salomo gebou is. Pilare is ook soms opgerig om belangrike dade of gebeurtenisse van die verlede te herdenk. Heidense volke het heilige pilare opgerig as deel van hulle valse aanbidding, en soms het die Israeliete dit ook gedoen in navolging van daardie nasies (Rig 16:29; 1Kn 7:21; 14:23). – Sien KOPSTUK.

  • Pilaargang van Salomo.

    In die tempel van Jesus se dag was dit ’n oordekte gang aan die oostekant van die buitenste voorhof. Daar is oor die algemeen aangeneem dat dit ’n oorblyfsel van Salomo se tempel was. Jesus het ‘in die winter’ daar geloop, en vroeë Christene het daar bymekaargekom vir aanbidding (Joh 10:22, 23; Han 5:12). – Sien Aanh. B11.

  • Pim.

    ’n Gewig en ook die prys wat die Filistyne vasgestel het vir die skerpmaak van metaalgereedskap. Die Hebreeuse konsonante vir die woord “pim” verskyn op ’n hele paar weegstene wat in Israel opgegrawe is. Hulle gemiddelde gewig is 7,8 g, wat gelyk sou wees aan ongeveer twee derdes van ’n sikkel. – 1Sa 13:20, 21.

  • Pinkster.

    Die tweede van die drie groot feeste wat alle Joodse mans in Jerusalem moes gaan vier. Pinkster beteken “vyftigste (dag)”. Dit is die naam wat in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word vir wat in die Hebreeuse Geskrifte die Fees van die Oes of Fees van die Weke genoem word. Dit is op die 50ste dag ná 16 Nisan gevier. – Eks 23:16; 34:22; Han 2:1.

  • Plaag.

    Verwys meestal na ’n siekte of ramp wat van Jehovah af kom en as straf dien. – Nu 16:49.

  • Poel van vuur.

    ’n Simboliese plek wat “met vuur en swael brand” en ook beskryf word as “die tweede dood”. Onberouvolle sondaars, die Duiwel, en selfs die dood en die Graf (Hades) word daarin gegooi. Die feit dat dinge wat nie kan brand nie, soos ’n geesskepsel en ook die dood en Hades ingesluit word, toon dat hierdie poel van vuur nie ’n simbool van ewige pyniging is nie, maar van ewige vernietiging. – Op 19:20; 20:14, 15; 21:8.

  •  Porneia.

     Sien SEKSUELE ONSEDELIKHEID.

  • Pottebakker.

    Iemand wat potte, bakke en ander houers van klei maak. Die Hebreeuse woord wat as pottebakker vertaal word, beteken letterlik “vormer”. ’n Pottebakker se mag oor die klei is dikwels gebruik om Jehovah se absolute mag oor individue en nasies af te beeld. – Jes 64:8; Ro 9:21.

  • Prefek.

    ’n Beampte in die Babiloniese regering wat laer in rang was as ’n satrap. Volgens die Bybel het die prefekte gesag gehad oor die wyse manne van die paleis in Babilon. Daar was ook prefekte in die tyd van koning Darius die Meder. – Da 2:48; 6:7.

  • Pretoriaanse wag.

    ’n Groep Romeinse soldate wat die lyfwag van die Romeinse keiser gevorm het. Hierdie lyfwag het ’n groot politieke mag geword wat kon bepaal of ’n keiser sy posisie behou of daaruit verwyder word. – Flp 1:13.

  • Priester.

    ’n Man wat God amptelik voor die volk verteenwoordig het. Hy het hulle geleer van God en sy wette. Priesters het die volk ook voor God verteenwoordig deur offerandes te bring, as tussengangers op te tree en vir die volk te pleit. Voordat die Wet van Moses gegee is, het die familiehoof as priester vir sy familie opgetree. Onder die Wet van Moses het die priesterdom bestaan uit die manlike lede van die familie van Aäron uit die stam van Levi. Die ander manlike Leviete was hulle assistente. Toe die nuwe verbond ingestel is, het geestelike Israel ’n nasie van priesters geword, met Jesus Christus as Hoëpriester. – Eks 28:41; Heb 9:24; Op 5:10.

  • Prikkel.

    ’n Lang stok met ’n skerp metaalpunt wat deur boere gebruik is om ’n dier mee aan te dryf. Die woorde van ’n wyse persoon word met ’n prikkel vergelyk omdat dit iemand beweeg om na wyse raad te luister. ‘Om teen die prikkels te skop’ beskryf die gedrag van ’n hardkoppige bul wat homself beseer deur teen ’n prikkel te skop. – Han 26:14; Rig 3:31.

  • Profeet.

    Iemand wat God se voornemens bekend maak. Profete was woordvoerders vir God. Hulle het nie net voorspellings bekendgemaak nie, maar ook Jehovah se leringe, bevele en oordele. – Am 3:7; 2Pe 1:21.

  • Profesie.

    ’n Geïnspireerde boodskap waarin God se wil geopenbaar of aan ander oorgedra word. ’n Profesie kan ’n geïnspireerde lering oor sedelike sake wees, ’n bevel of oordeel van God of ’n voorspelling. – Ese 37:9, 10; Da 9:24; Mt 13:14; 2Pe 1:20, 21.

  • Prokonsul.

    Die goewerneur van ’n provinsie wat deur die Romeinse senaat bestuur is. Hy het regterlike en militêre mag gehad. Hoewel die senaat hom aanspreeklik kon hou vir sy dade, het hy die hoogste gesag in die provinsie gehad. – Han 13:7; 18:12.

  • Proseliet.

    ’n Bekeerde. In die Bybel verwys dit na iemand wat die Joodse geloof aangeneem het. ’n Man wat ’n proseliet geword het, moes besny word. – Mt 23:15; Han 13:43.

  • Prostituut.

    Iemand wat buite-egtelike seks het, veral teen betaling. (Die Griekse woord vir “prostituut”, porʹne, kom van ’n woord wat “om te verkoop” beteken.) Hierdie woord verwys gewoonlik na ’n vrou, maar die Bybel praat ook van manlike prostitute. Prostitusie is in die Wet van Moses veroordeel. Die betaling wat ’n prostituut ontvang het, kon nie gegee word as ’n bydrae vir Jehovah se tempel nie. In teenstelling hiermee het heidense volke tempelprostitute gebruik as ’n bron van inkomste (De 23:17, 18; 1Kn 14:24). Die Bybel verwys ook na geestelike prostitusie, wat gepleeg word deur mense, nasies of organisasies wat ’n vorm van afgodediens beoefen terwyl hulle beweer dat hulle God aanbid. Byvoorbeeld, die godsdiensentiteit wat “Babilon die Grote” genoem word, word in Openbaring as ’n prostituut beskryf omdat sy met die leiers van hierdie wêreld assosieer om mag en rykdom te verkry. – Op 17:1-5; 18:3; 1Kr 5:25, vtn.

  • Psalm.

    ’n Loflied aan God. Musiek is vir die psalms gekomponeer, en die psalms is deur aanbidders gesing. Hulle het dit byvoorbeeld gesing wanneer hulle Jehovah God by sy tempel in Jerusalem aanbid het. – Lu 20:42; Han 13:33; Jak 5:13.

  • Purim.

    Die jaarlikse fees wat op die 14de en 15de van die maand Adar gevier is om die redding van die Jode in die tyd van koningin Ester te herdenk. Die nie-Hebreeuse woord pu·rimʹ beteken “lote”. Die fees het die naam Purim of Lotefees gekry omdat Haman die pur (die lot) gewerp het om te  bepaal op watter dag hy sy plan sou uitvoer om die Jode uit te roei. – Est 3:7; 9:26.

R

  • Rahab.

    ’n Term wat simbolies gebruik word in Job, Psalms en Jesaja. In die boek Job dui die konteks aan dat Rahab ’n seemonster is. In ander kontekste word hierdie seemonster gebruik as ’n simbool vir Egipte. – Job 9:13; Ps 87:4; Jes 30:7; 51:9, 10.

  • Regterstoel.

    Gewoonlik ’n verhoogde platform met trappies, waar amptenare gesit het en met die skare kon praat en hulle uitsprake kon aankondig. Die uitdrukkings “regterstoel van God” en “regterstoel van die Christus” simboliseer Jehovah se reëling om die mensdom te oordeel. – Ro 14:10; 2Kor 5:10; Joh 19:13.

  • Regverdigheid.

    In die Bybel verwys dit na wat reg is volgens God se standaard van wat reg en verkeerd is. – Ge 15:6; De 6:25; Spr 11:4; Sef 2:3; Mt 6:33.

  • Rein.

    In die Bybel verwys hierdie woord nie net na fisiese reinheid nie, maar ook na sedelike of geestelike reinheid wat behou of herstel word – ’n vlekkelose toestand, vry van enigiets wat besoedel, vervals of verderf. Onder die Wet van Moses verwys die woord na seremoniële reinheid. – Le 10:10; Ps 51:7; Mt 8:2, vtn.; 1Kor 6:11.

  • Reukwerk.

    ’n Mengsel van aromatiese gomharse en balsems wat ’n aangename geur afgee terwyl dit stadig brand. Spesiale reukwerk is van vier bestanddele gemaak vir gebruik in die tabernakel en die tempel. Dit is in die oggend en in die aand op die reukwerkaltaar in die Heilige gebrand, en op die Versoendag is dit in die Allerheiligste gebrand. Dit was ’n simbool van die aanvaarbare gebede van God se getroue knegte. Daar is nie van Christene vereis om reukwerk te brand nie. – Eks 30:34, 35; Le 16:13; Op 5:8.

  • Riet.

    ’n Term vir verskillende plante wat meestal groei waar daar baie water is. Dit verwys dikwels na Arundo donax (Job 8:11; Jes 42:3; Mt 27:29; Op 11:1). – Sien MEETRIET.

  • Rigters.

    Manne wat Jehovah aangestel het om sy volk te red voor die tydperk van Israel se mensekonings. – Rig 2:16.

S

  • Sabbat.

    Kom van ’n Hebreeuse woord wat “om te rus; om op te hou” beteken. Dit is die sewende dag van die Joodse week (van Vrydag sononder tot Saterdag sononder). Sommige ander feesdae in die jaar en die 7de en 50ste jaar is ook sabbatte genoem. Die enigste werk wat op die Sabbatdag toelaatbaar was, was die priesterlike diens in die heiligdom. Gedurende Sabbatsjare moes die grond nie bewerk word nie en is daar nie druk op mede-Hebreërs geplaas om hulle skuld te betaal nie. In die Wet van Moses was die beperkings in verband met die Sabbat redelik, maar godsdiensleiers het geleidelik nog beperkings bygevoeg, en daarom het dit teen Jesus se dag ’n swaar las vir die volk geword. – Eks 20:8; Le 25:4; Lu 13:14-16; Kol 2:16.

  • Sadduseërs.

    ’n Belangrike sekte van die Joodse geloof wat bestaan het uit priesters en ryk manne met ’n hoë sosiale status. Hulle het groot gesag gehad oor die bedrywighede by die tempel. Hulle het al die mondelinge tradisies en ook ander leringe van die Fariseërs verwerp. Hulle het nie aan die opstanding of aan die bestaan van engele geglo nie. Hulle het Jesus teëgestaan. – Mt 16:1; Han 23:8.

  • Saklinne.

    Growwe materiaal wat gebruik is om sakke, soos graansakke, te maak. Dit is gewoonlik van donker bokhaar geweef, en mense het dit gewoonlik gedra wanneer hulle gerou het. – Ge 37:34; Lu 10:13.

  • Salf.

    Die Hebreeuse woord beteken basies “om met vloeistof te smeer”. Olie is op ’n persoon of ’n voorwerp gesmeer om aan te dui dat die persoon of voorwerp vir ’n spesiale soort diens toegewy word. In die Christelike Griekse Geskrifte word die woord ook gebruik vir die uitstorting van heilige gees op persone wat vir die hemelse hoop gekies is. – Eks 28:41; 1Sa 16:13; 2Kor 1:21.

  • Samaria.

    Die stad wat sowat 200 jaar lank die hoofstad van die noordelike tienstammeryk van Israel was. Dit het ook verwys na die hele gebied van die tienstammeryk. Die stad was gebou op ’n berg met dieselfde naam. In Jesus se tyd was Samaria die naam van ’n distrik wat tussen Galilea in die noorde en Judea in die suide was. Jesus het gewoonlik nie in hierdie gebied gepreek nie, maar wanneer hy soms daardeur gereis het, het hy wel met die inwoners gepraat. Petrus het die tweede figuurlike sleutel  van die Koninkryk gebruik toe die Samaritane die heilige gees ontvang het (1Kn 16:24; Joh 4:7; Han 8:14). – Sien Aanh. B10.

  • Samaritane.

    Die term het eers verwys na die Israeliete van die noordelike tienstammeryk, maar nadat Samaria in 740 VHJ deur die Assiriërs verower is, het dit ook verwys na die uitlanders wat deur die Assiriërs daarheen gebring is. In Jesus se tyd is die naam gewoonlik nie gebruik om te verwys na die Samaritane as ’n ras of na mense wat in Samaria gewoon het nie. Dit is eerder gebruik om te verwys na mense wat behoort het aan die sekte wat in die omgewing van eertydse Sigem en Samaria was. Hulle het leringe gehad wat heeltemal anders was as dié van die Joodse geloof. – Joh 8:48.

  • Sanhedrin.

    Die Joodse Hoë Raad, of geregshof, in Jerusalem. In Jesus se dag het dit bestaan uit 71 lede, insluitende die hoëpriester, voormalige hoëpriesters, lede van die hoëpriesterlike families, ouermanne, stamhoofde, familiehoofde en skrifgeleerdes. – Mr 15:1; Han 5:34; 23:1, 6.

  • Satan.

    ’n Hebreeuse woord wat “teenstander” beteken. Wanneer dit in die oorspronklike tale met die bepaalde lidwoord voorkom, met ander woorde met ’n “die” vooraan, verwys dit na Satan die Duiwel, God se vernaamste teenstander. – Job 1:6; Mt 4:10; Op 12:9.

  • Satrap.

    ’n Goewerneur van ’n provinsie in die Babiloniese of Persiese Ryk. ’n Satrap is deur die koning aangestel as die hoogste gesag in die provinsie. – Esr 8:36; Da 6:1.

  • Sea.

    ’n Droëmaat van 7,33 l, gebaseer op die bat, wat ’n vloeistofmaat was (2Kn 7:1). – Sien Aanh. B14.

  • Sebat.

    Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam van die 11de maand van die Joodse godsdienskalender en die 5de maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van Januarie begin en in die middel van Februarie geëindig (Sag 1:7). – Sien Aanh. B15.

  • Seël.

    Iets wat gebruik is om ’n afdruk te maak (gewoonlik op klei of was). So ’n afdruk het gedien as ’n bewys van eienaarskap, egtheid of die bevestiging van ’n ooreenkoms. Eertydse seëls is van harde materiaal (klip, ivoor of hout) gemaak, en die omgekeerde beeld van letters of figure is daarop gegraveer. Die term word ook figuurlik gebruik as ’n bewys van eienaarskap of van egtheid of om te toon dat iets ’n geheim is. – Eks 28:11; Ne 9:38; Op 5:1; 9:4.

  • Seëlring.

    ’n Ring met ’n seël op wat aan die vinger gedra is, of aan ’n toutjie, waarskynlik om die nek. Die seëlring van ’n heerser of ’n hoë amptenaar was ’n simbool van sy gesag (Ge 41:42). – Sien SEËL.

  • Seksuele onsedelikheid.

    Dit kom van die Griekse woord por·neiʹa, wat ’n term is vir elke vorm van seksuele omgang wat deur God veroordeel word. Dit sluit egbreuk, prostitusie, seksuele omgang tussen ongetroude persone, homoseksualiteit en bestialiteit in. In Openbaring word dit figuurlik gebruik om die assosiasie te beskryf wat die godsdiensprostituut, “Babilon die Grote”, met die heersers van hierdie wêreld het om mag en rykdom te verkry (Op 14:8; 17:2; 18:3; Mt 5:32; Han 15:29; Ga 5:19). – Sien PROSTITUUT.

  • Sekte.

    ’n Groep mense wat ’n leer of ’n leier aanhang en volgens hulle eie opvattings lewe. Die twee belangrike groepe van die Joodse geloof, die Fariseërs en die Sadduseërs, is sektes genoem. Nie-Christene het die Christelike godsdiens ’n “sekte” of “die sekte van die Nasareners” genoem, moontlik omdat hulle gemeen het dat die Christelike godsdiens van die Joodse geloof weggebreek het. Sektes het later in die Christengemeente ontstaan. Openbaring praat van “die sekte van Nikolaus”. – Han 5:17; 15:5; 24:5; 28:22; Op 2:6; 2Pe 2:1.

  • Sela.

    ’n Tegniese term wat in musiek of voordrag gebruik word en wat in Psalms en Habakuk gevind word. Dit kan dui op ’n pouse in die sang of in die musiek, of in albei, om die geleentheid te bied vir stille bepeinsing of om ’n gedagte te beklemtoon wat uitgedruk is. Die Griekse Septuagint vertaal die term as di·aʹpsal·ma, wat “’n musikale tussenspel” beteken. – Ps 3:4; Hab 3:3.

  • Septer.

    Die staf van ’n heerser. Dit was ’n simbool van koninklike gesag. – Ge 49:10; Heb 1:8.

  • Serafs.

    Geesskepsele wat om Jehovah se troon in die hemel is. Die Hebreeuse term sera·fimʹ beteken letterlik “brandendes”. – Jes 6:2, 6.

  •  Seun van Dawid.

    ’n Uitdrukking wat dikwels met verwysing na Jesus gebruik is. Dit vestig die aandag op die feit dat hy die Erfgenaam van die Koninkryk is wat in ’n verbond belowe is en wat een van Dawid se nakomelinge sou wees. – Mt 12:23; 21:9.

  • Seun van die mens.

    ’n Uitdrukking wat sowat 80 keer in die Evangelies voorkom. Dit is van toepassing op Jesus Christus en dui daarop dat hy as ’n mens gebore is en dat hy nie ’n geesskepsel was wat in ’n menslike liggaam verskyn het nie. Die uitdrukking dui ook daarop dat Jesus die profesie in Daniël 7:13, 14 sou vervul. – Mt 19:28; 20:28.

  • Seuns van Aäron.

    Nakomelinge van Levi se kleinseun Aäron, wat gekies is as die eerste hoëpriester onder die Wet van Moses. Die seuns van Aäron het die priesterlike pligte by die tabernakel en by die tempel uitgevoer. – 1Kr 23:28.

  • Siel.

    Die tradisionele vertaling vir die Hebreeuse woord neʹfesj en die Griekse woord psu·cheʹ. Wanneer ’n mens ondersoek hoe hierdie woorde in die Bybel gebruik word, word dit duidelik dat dit hoofsaaklik verwys na (1) mense, (2) diere of (3) die lewe van ’n mens of ’n dier (Ge 1:20; 2:7; Nu 31:28; 1Pe 3:20; ook voetnote). In teenstelling met hoe “siel” dikwels in ’n godsdienstige konteks gebruik word, toon die Bybel dat die woorde neʹfesj en psu·cheʹ, wanneer dit in verband met aardse skepsele gebruik word, verwys na iets wat stoflik, tasbaar, sigbaar en sterflik is. In hierdie vertaling word neʹfesj en psu·cheʹ meestal volgens konteks vertaal met woorde soos “lewe”, “dier”, “persoon” of “hele wese”, of soms net met ’n persoonlike voornaamwoord (byvoorbeeld, “ek” in plaas van “my siel”). Soms is daar ’n voetnoot met die alternatiewe vertaling “siel”. Wanneer die woord “siel” in die hoofteks of in voetnote gebruik word, moet dit volgens die bogenoemde verduideliking verstaan word. As daar gesê word dat iemand iets met sy hele siel moet doen, beteken dit dat hy dit met sy hele wese, of heelhartig, moet doen (De 6:5; Mt 22:37). In party kontekste verwys die woorde in die oorspronklike tale na die begeerte of eetlus van ’n lewende skepsel. Dit kan ook na ’n dooie persoon of ’n lyk verwys. – Nu 6:6; Spr 23:2; Jes 56:11; Hag 2:13.

  • Siener.

    Iemand aan wie God die vermoë gegee het om te onderskei wat Sy wil is, iemand wie se oë geopen is om dinge te sien of te verstaan wat nie vir mense oor die algemeen duidelik was nie. Die Hebreeuse term kom van ’n woord wat “om te sien” beteken, hetsy letterlik of figuurlik. ’n Siener is ’n persoon wat deur ander geraadpleeg is om wyse raad te kry wanneer hulle probleme gehad het. – 1Sa 9:9.

  • Sif.

    Die oorspronklike naam van die tweede maand van die Joodse godsdienskalender en die agtste maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van April begin en in die middel van Mei geëindig. In die Joodse Talmoed en in ander werke uit die tydperk ná die Babiloniese ballingskap word dit Ijjar genoem (1Kn 6:37). – Sien Aanh. B15.

  • Sikkel.

    Die basiese Hebreeuse gewigsmaat en geldeenheid. ’n Sikkel was 11,4 g. Die uitdrukking “standaardsikkel van die heiligdom” is moontlik gebruik om te beklemtoon dat die gewig akkuraat moes wees of dat dit moes ooreenkom met ’n standaardgewig wat by die tabernakel gehou is. Daar was moontlik ’n koninklike sikkel (wat verskil het van die gewone sikkel) of ’n standaardgewig wat by die koninklike paleis gehou is. – Eks 30:13.

  • Sinagoge.

    ’n Woord wat “bymekaarbring” of “’n byeenkoms” beteken, maar in die meeste tekste verwys dit na die gebou of plek waar die Jode bymekaargekom het vir voorlesing uit die Skrif, onderrigting en gebed. In Jesus se dag het elke groot dorp in Israel ’n sinagoge gehad, en die groot stede het meer as een gehad. – Lu 4:16; Han 13:14, 15.

  • Sion; berg Sion.

    Die naam van die Jebusiete se vestingstad Jebus, wat op die suidoostelike heuwel van Jerusalem was. Nadat Dawid die stad ingeneem het en sy paleis daar gebou het, is Sion “die Stad van Dawid” genoem (2Sa 5:7, 9). Sion het ’n besonder heilige berg vir Jehovah geword toe Dawid die Ark daarheen laat neem het. Later is die naam ook gebruik vir die tempelgebied op die berg Moria en soms vir die hele stad Jerusalem. In die Christelike Griekse Geskrifte word dit dikwels simbolies gebruik. – Ps 2:6; 1Pe 2:6; Op 14:1.

  • Sirië; Siriërs.

    – Sien ARAM; ARAMEËRS.

  •  Sirtis.

    Twee groot vlak baaie aan die kus van Libië, Noord-Afrika. In die ou tyd was seemanne bang om daar te vaar omdat daar bedrieglike sandbanke was wat heeltyd geskuif het as gevolg van die getye (Han 27:17). – Sien Aanh. B13.

  • Siwan.

    Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam van die derde maand van die Joodse godsdienskalender en die negende maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van Mei begin en in die middel van Junie geëindig (Est 8:9). – Sien Aanh. B15.

  • Sjeminit.

    ’n Musiekterm wat letterlik “die agtste” beteken en wat moontlik na ’n lae musikale register verwys. In die geval van musiekinstrumente verwys die woord waarskynlik na instrumente waarmee bastone gespeel word. In die geval van liedere verwys dit moontlik na musiekbegeleiding en sang in ’n lae register. – 1Kr 15:21; Ps 6:Ops; 12:Ops.

  • Sjeool.

    ’n Hebreeuse woord wat dieselfde beteken as die Griekse woord “Hades”. Dit word as “Graf” (met ’n hoofletter) vertaal om duidelik te maak dat dit die gemeenskaplike graf van die mensdom is en nie ’n individuele graf nie. – Ge 37:35; Ps 16:10; Han 2:31 (voetnote).

  • Skaamtelose gedrag.

    Van die Griekse woord a·selʹgei·a, wat verwys na dade wat ’n ernstige skending van God se wette is en wat ’n skaamtelose gesindheid weerspieël, ’n gesindheid wat dui op ’n gebrek aan respek of selfs minagting vir gesag, wette en standaarde. Die uitdrukking verwys nie na verkeerde gedrag van ’n geringe aard nie. – Ga 5:19; 2Pe 2:7.

  • Skatting.

    Betaling wat een land of regeerder aan ’n ander gee as ’n teken van onderworpenheid of in ruil vir vrede of beskerming (2Kn 3:4; 18:14-16; 2Kr 17:11). Die woord word ook gebruik om te verwys na ’n soort belasting wat deur individue betaal moes word. – Ne 5:4; Ro 13:7.

  • Skrif.

    Die heilige geskrifte van God se Woord. Die uitdrukking kom net in die Christelike Griekse Geskrifte voor. – Lu 24:27; 2Ti 3:16.

  • Skrifgeleerde.

    Dit verwys na ’n spesifieke groep manne wat kenners van die Wet was. Hulle het Jesus teëgestaan. – Mr 12:38, 39; 14:1.

  • Skuldoffer.

    ’n Offerande vir iemand se eie sondes. Dit was ietwat anders as ander sonde-offers, want die doel daarvan was om ’n berouvolle persoon van straf vry te stel en hom weer sekere regte te gee wat hy onder die Wetsverbond gehad het, maar as gevolg van ’n sonde verloor het. – Le 7:37; 19:22; Jes 53:10.

  • Slingervel.

    ’n Strook leer of ’n band wat van senings, riete of hare gevleg is. In die breër middelste gedeelte is ’n klip of iets anders geplaas wat weggeslinger kon word. Die een punt is aan die hand of gewrig vasgebind, en die ander punt is in die hand vasgehou en losgelaat nadat die slingervel geswaai is. In die ou tyd het nasies slingeraars in hulle leërmagte gehad. – Rig 20:16; 1Sa 17:50.

  • Snuiters.

    Gereedskap van goud, wat moontlik soortgelyk was aan ’n tang, wat in die tabernakel en die tempel gebruik is om die lampe te blus. – Eks 37:23.

  • Sonde-offer.

    ’n Offer wat gebring is vir onopsetlike sonde wat gepleeg is weens die swakheid van die onvolmaakte vlees. Verskeie diere, van ’n bul tot ’n duif, kon as offerandes gebring word, afhangende van die finansiële posisie en omstandighede van die persoon vir wie se sonde versoening gedoen is. – Le 4:27, 29; Heb 10:8.

  • Span.

    ’n Lengtemaat wat om en by so lank is soos die afstand tussen die punt van die duim en die punt van die pinkie wanneer die hand uitgesprei is. Gebaseer op die el van 44,5 cm sou ’n span 22,2 cm lank wees (Eks 28:16; 1Sa 17:4). – Sien Aanh. B14.

  • Spelt.

    ’n Minderwaardige soort koring (Triticum spelta), waarvan die korrels nie maklik van die doppe losgemaak kan word nie. – Eks 9:32.

  • Spiritisme.

    Die opvatting dat die gees van ’n dooie persoon voortleef ná die dood van die fisiese liggaam en dat dit met die lewendes kan kommunikeer, veral deur middel van ’n persoon (’n medium) wat ontvanklik is vir hulle invloed. Die Griekse woord vir “spiritisme” is far·ma·kiʹa, wat letterlik “die gebruik van medisyne of dwelms” beteken. Hierdie term is later met spiritisme verbind omdat dwelms in die ou tyd gebruik is wanneer mense die mag van die demone probeer verkry het om towery te beoefen. – Ga 5:20; Op 21:8.

  •  Spiritistiese medium.

    ’n Persoon wat beweer dat hy met die dooies praat. – Le 20:27; De 18:10-12; 2Kn 21:6 (voetnote).

  • Spreuk; spreekwoord.

    ’n Wyse gesegde of kort verhaal wat ’n les of ’n diep waarheid in ’n paar woorde oordra. ’n Bybelse spreuk is soms in die vorm van ’n raaisel. ’n Spreuk gebruik beeldspraak, dikwels ’n metafoor, om ’n waarheid oor te dra. Party spreekwoorde het algemene uitdrukkings geword wat gebruik is om te spot of om minagting uit te druk. – Pr 12:9; 2Pe 2:22.

  • Sprinkane.

    ’n Verskeidenheid sprinkane wat in groot swerms migreer. Onder die Wet van Moses was dit as rein beskou en kon dit geëet word. Groot swerms wat alles in hulle pad opgevreet het en groot skade aangerig het, is as ’n plaag beskou. – Eks 10:14; Mt 3:4.

  • Stad van Dawid.

    Die naam wat aan die stad Jebus gegee is nadat Dawid dit verower het en sy koninklike woning daar gebou het. Die stad is ook Sion genoem en was die suidoostelike deel en ook die oudste deel van Jerusalem. – 2Sa 5:7; 1Kr 11:4, 5.

  • Stelsel(s) van dinge.

    ’n Vertaling van die Griekse woord ai·onʹ wanneer dit verwys na toestande of na kenmerke wat ’n sekere tydperk of era identifiseer. “Die teenswoordige stelsel van dinge” verwys na die oorheersende toestande in die wêreld en na ’n wêreldse lewenswyse (2Ti 4:10, vtn.). Deur middel van die Wetsverbond het God ’n stelsel van dinge tot stand gebring wat die Israelitiese of Joodse tydperk genoem kan word. Deur middel van die losprysoffer is Jesus Christus deur God gebruik om ’n ander stelsel van dinge tot stand te bring, ’n stelsel wat hoofsaaklik te doen gehad het met die gemeente van gesalfde Christene. In hierdie nuwe tydperk het die dinge wat deur die Wetsverbond voorafgeskadu is, ’n werklikheid geword. Wanneer die Griekse woord in die meervoud voorkom, verwys dit na die verskillende stelsels van dinge, of oorheersende toestande, wat al bestaan het of nog sal bestaan. – Mt 24:3; Mr 4:19; Ro 12:2; 1Kor 10:11 (voetnote).

  • Sterrevoorspeller.

    ’n Sterrevoorspeller, of astroloog, is iemand wat die bewegings van die son, maan en sterre bestudeer om die toekoms te voorspel. – Da 2:27; Mt 2:1.

  • Stoïsynse filosowe.

    ’n Griekse groep filosowe wat geglo het dat ’n mens in ooreenstemming met logiese denke en die natuur moet lewe om gelukkig te wees. Volgens hulle het pyn of plesier geen invloed gehad op ’n persoon wat waarlik wys is nie. – Han 17:18.

  • Strydwa.

    ’n Voertuig met twee wiele wat deur perde getrek is en hoofsaaklik in oorlog gebruik is. – Eks 14:23; Rig 4:13; Han 8:28.

  • Suurdeeg.

    ’n Stukkie gegiste deeg wat by deeg of vloeistof gevoeg word om dit te laat gis. Word dikwels in die Bybel gebruik as ’n simbool van sonde of verdorwenheid en ook as ’n aanduiding van groei wat onsigbaar is, maar oral deurdring. – Eks 12:20; Mt 13:33; Ga 5:9.

  • Swaershuwelik.

    ’n Gebruik wat later deel van die Wet van Moses geword het. As ’n man gesterf het sonder om ’n seun agter te laat, het sy broer met die weduwee getrou om kinders voort te bring en die geslagslyn van sy broer voort te sit. – Ge 38:8; De 25:5.

  • Swamsiekte.

    Enige van ’n aantal parasitiese plantsiektes wat deur swamme veroorsaak word. Volgens party was die swamsiekte wat in die Bybel genoem word, swart stamroes (Puccinia graminis). – 1Kn 8:37.

T

  • Tabernakel.

    ’n Vervoerbare tent van aanbidding wat Israel ná die uittog uit Egipte gebruik het. Die verbondsark van Jehovah, wat God se teenwoordigheid voorgestel het, was in die tabernakel, wat gedien het as ’n plek vir offerandes en aanbidding. Dit word soms ook “die tent van samekoms” genoem. Dit het bestaan uit ’n raamwerk van houtpanele wat bedek is met linnedoeke waarop gerubs geborduur was. Die tabernakel is in twee vertrekke verdeel: die Heilige en die Allerheiligste (Jos 18:1; Eks 25:9). – Sien Aanh. B5.

  • Talent.

    Die grootste Hebreeuse gewigsmaat en geldeenheid. ’n Talent was 34,2 kg. ’n Griekse talent was kleiner, omtrent 20,4 kg (1Kr 22:14; Mt 18:24). – Sien Aanh. B14.

  • Tammus.

    (1) Die naam van ’n god oor wie afvallige Hebreeuse vroue in Jerusalem gehuil het. Volgens party was Tammus ’n koning wat ná sy dood as ’n god aanbid is. Tammus word in Sumeriese geskrifte Dumusi genoem en was die metgesel of minnaar van die vrugbaarheidsgodin  Inanna (die Babiloniese Isjtar) (Ese 8:14). (2) Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam van die vierde maanmaand van die Joodse godsdienskalender en die tiende maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van Junie begin en in die middel van Julie geëindig. – Sien Aanh. B15.

  • Tarsis-skepe.

    Dit het aanvanklik verwys na skepe wat na eertydse Tarsis (hedendaagse Spanje) gevaar het. Later het die term blykbaar verwys na groot skepe wat groot afstande kon aflê. Salomo en Josafat het sulke skepe gebruik om handel te dryf. – 1Kn 9:26; 10:22; 22:48.

  • Tartarus.

    ’n Term wat in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word en na ’n verlaagde toestand van gevangenskap verwys. Die ongehoorsame engele van Noag se dag is in Tartarus gegooi. In 2 Petrus 2:4 word die werkwoord tar·ta·roʹo (om “in Tartarus te gooi”) gebruik. Dit beteken nie dat “die engele wat gesondig het”, in die heidense mitologiese Tartarus (dit wil sê ’n ondergrondse tronk en plek van duisternis vir die mindere gode) gegooi is nie. Dit dui eerder daarop dat God hulle hemelse posisie en voorregte weggeneem het en hulle verlaag het tot ’n toestand van diep verstandelike duisternis sodat hulle God se helder voornemens nie kan verstaan nie. Volgens die Bybel wag duisternis ook in die toekoms op hulle – ewige vernietiging saam met hulle heerser, Satan die Duiwel. Tartarus verwys na die uiters lae toestand waarin hierdie opstandige engele is. Dit is nie dieselfde as “die afgrond” waarvan Openbaring 20:1-3 praat nie.

  • Tebet.

    Ná die Babiloniese ballingskap was dit die naam van die tiende maand van die Joodse godsdienskalender en die vierde maand van die sekulêre kalender. Dit het in die middel van Desember begin en in die middel van Januarie geëindig. Daar word oor die algemeen net daarna verwys as “die tiende maand” (Est 2:16). – Sien Aanh. B15.

  • Teenwoordigheid.

    In sekere kontekste in die Christelike Griekse Geskrifte verwys hierdie woord na Jesus Christus se koninklike teenwoordigheid, wat begin het toe hy as die Messiaanse Koning in die hemel gekroon is en wat gedurende die laaste dae van hierdie wêreld voortduur. Christus se teenwoordigheid verwys na ’n spesifieke tydperk. Dit verwys nie daarna dat hy kom en kort daarna vertrek nie. – Mt 24:3.

  • Teken.

    ’n Voorwerp, daad, situasie of ongewone verskynsel wat ’n aanduiding is van iets anders in die hede of die toekoms. – Ge 9:12, 13; 2Kn 20:9; Mt 24:3; Op 1:1.

  • Tempel.

    Die permanente gebou in Jerusalem wat die vervoerbare tabernakel vervang het as die Israeliete se sentrum van aanbidding. Die eerste tempel is deur Salomo gebou en is deur die Babiloniërs vernietig. Die tweede tempel is deur Serubbabel gebou nadat die Jode uit Babiloniese ballingskap teruggekeer het. Dit is later deur Herodes die Grote herbou. In die Bybel word die tempel dikwels net “die huis van Jehovah” genoem (Esr 1:3; 6:14, 15; 1Kr 29:1; 2Kr 2:4; Mt 24:1). – Sien Aanh. B8 en B11.

  • Tent van samekoms.

    ’n Uitdrukking wat gebruik word vir Moses se tent sowel as vir die heilige tabernakel wat oorspronklik in die wildernis opgerig is. – Eks 33:7; 39:32.

  • Terafim.

    Huisgode of afgodsbeelde, wat soms geraadpleeg is vir tekens (Ese 21:21). Party het die vorm en grootte van ’n mens gehad, terwyl ander baie kleiner was (Ge 31:34; 1Sa 19:13, 16). Argeologiese opgrawings in Mesopotamië dui daarop dat die besit van die terafim-beelde ’n invloed gehad het op wie die erfdeel van die familie sou kry. (Dit is moontlik waarom Ragel haar pa se terafim-beeldjies gevat het.) Dit was blykbaar nie in Israel die geval nie, maar terafim-beelde is wel in afgodediens gebruik in die dae van die rigters en die dae van die konings. Terafim-beelde was onder die dinge wat getroue koning Josia vernietig het. – Rig 17:5; 2Kn 23:24; Ho 3:4.

  • Tiende.

    ’n Tiende, of 10 persent (van landbouprodukte, diere of geld), wat bygedra is of as skatting betaal is, veral vir godsdiensdoeleindes (Mal 3:10; De 26:12; Mt 23:23). Onder die Wet van Moses is daar jaarliks ’n tiende van die opbrengs van die land en ’n tiende van die kalwers en lammers wat gedurende die jaar gebore is, aan die Leviete gegee om hulle te onderhou. Die Leviete het ’n tiende van hierdie tiende aan die Aäronitiese priesterdom gegee om hulle te onderhou. Daar was ook ander tiendes. Daar word nie van Christene vereis om tiendes te gee nie.

  • Tisjri.

     Sien ETANIM en Aanh. B15.

  •  Toegewydheid aan God.

    Ontsag vir, aanbidding van en diens aan Jehovah God, met lojaliteit aan sy universele soewereiniteit. – 1Ti 4:8; 2Ti 3:12.

  • Toewydingsfees.

    Die jaarlikse herdenking van die reiniging van die tempel nadat dit deur Antiogos Epifanes ontheilig is. Die viering het op 25 Kislef begin en was agt dae lank. – Joh 10:22.

  • Toonbrode.

    – Sien OFFERBRODE.

  • Towery; toorkuns.

    Die gebruik van krag wat van bose geeste afkomstig is. – 2Kr 33:6; Mi 5:12.

  • Treur.

    ’n Uiting van hartseer oor iemand se dood of ’n ander soort tragedie. In Bybeltye was dit gebruiklik om ’n tyd lank te treur. Mense wat getreur het, het hard gehuil, spesiale klere gedra, as op hulle kop gesit, hulle klere geskeur en op hulle bors geslaan. Mense is soms gehuur om by begrafnisse te treur. – Ge 23:2; Est 4:3; Op 21:4.

  • Treurlied.

    ’n Lied of musiekstuk waarin uiting gegee word aan diepe hartseer, byvoorbeeld as gevolg van die dood van ’n vriend of ’n geliefde. Ook ’n klaaglied genoem. – 2Sa 1:17; Ps 7:Ops.

  • Trompet.

    ’n Blaasinstrument wat van metaal gemaak is en gebruik is om seine te gee en musiek te maak. Volgens Numeri 10:2 het Jehovah beveel dat twee silwertrompette gemaak moes word waarmee spesifieke seine gegee moes word om die Israeliete bymekaar te roep, om die kampe te laat opbreek of om oorlog aan te kondig. Hierdie trompette was waarskynlik reguit trompette, in teenstelling met die geboë “horings” wat van dierehorings gemaak is. Die musiekinstrumente by die tempel het ook trompette ingesluit, maar die Bybel sê nie hoe of waarvan dit gemaak is nie. Die geluid van trompette word dikwels in simboliese sin in die Bybel gebruik wanneer Jehovah se oordele of ander belangrike gebeurtenisse bekend gemaak is. – 2Kr 29:26; Esr 3:10; 1Kor 15:52; Op 8:7–11:15.

  • Tulband.

    ’n Doek wat om die kop gedraai is as ’n hoofbedekking. Die hoëpriester het ’n tulband van fyn linne gedra. ’n Goue plaat was met ’n blou toutjie aan die voorkant daarvan vasgemaak. Die koning het ’n tulband onder sy kroon gedra. Job het sy geregtigheid met ’n tulband vergelyk. – Eks 28:36, 37; Job 29:14, vtn.; Ese 21:26.

U

  • Urim en Tummim.

    Voorwerpe wat die hoëpriester gebruik het, amper soos lootjies, om in sake van nasionale belang vas te stel wat Jehovah se wil is. Die Urim en Tummim is in die borsstuk van die hoëpriester gesit wanneer hy in die tabernakel ingegaan het. Nadat die Babiloniërs Jerusalem vernietig het, is dit blykbaar nie meer gebruik nie. – Eks 28:30; Ne 7:65.

V

  • Vaam.

    ’n Lengtemaat om te meet hoe diep water is, gelyk aan 1,8 m (Han 27:28). – Sien Aanh. B14.

  • Vas.

    Om gedurende ’n beperkte tydperk niks te eet nie. Die Israeliete het gevas op die Versoendag, wanneer hulle deur moeilike tye gegaan het en wanneer hulle God se leiding nodig gehad het. Die Jode het elke jaar vier keer gevas om rampspoedige gebeure in hulle geskiedenis te herdenk. Daar word nie van Christene vereis om te vas nie. – Esr 8:21; Jes 58:6; Lu 18:12.

  • Verbond.

    ’n Formele ooreenkoms, of kontrak, tussen God en mense of tussen twee menslike partye om iets te doen of nie te doen nie. Soms was net een party verantwoordelik om die bepalings na te kom (’n eensydige verbond, wat basies ’n belofte was). Ander kere moes albei partye bepalings nakom (’n tweesydige verbond). Behalwe verbonde wat God met mense gemaak het, noem die Bybel verbonde tussen individue, stamme, nasies of groepe mense. Van die verbonde wat ’n verreikende uitwerking gehad het, was dié wat God gemaak het met Abraham, Dawid, die nasie Israel (Wetsverbond) en die Israel van God (nuwe verbond). – Ge 9:11; 15:18; 21:27; Eks 24:7; 2Kr 21:7.

  • Versoen; versoening.

    In die Hebreeuse Geskrifte hou die konsep verband met offerandes wat gebring is sodat mense God kon nader en aanbid. Onder die Wet van Moses is offerandes veral op die jaarlikse Versoendag gebring om versoening met God moontlik te maak ten spyte van die sondes van individue en die hele nasie. Hierdie offerandes het vooruitgewys na Jesus se offerande, wat eens en vir altyd ’n algehele versoening vir die mensdom se sondes gedoen het en mense die geleentheid gee om met Jehovah versoen te word. – Le 5:10; 23:28; Kol 1:20; Heb 9:12.

  •  Versoendag.

    Die Israeliete se belangrikste heilige dag, ook Jom Kippoer genoem (van die Hebreeuse uitdrukking johm hak·kip·poe·rimʹ, “dag van die bedekkings”), wat op 10 Etanim gehou is. Dit was die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester in die Allerheiligste van die tabernakel en later van die tempel ingegaan het. Daar het hy die bloed van die offerandes vir sy sondes, die sondes van die ander Leviete en die sondes van die volk geoffer. Op hierdie dag is ’n heilige byeenkoms gehou en is daar gevas. Dit was ook ’n sabbat, ’n dag waarop geen gewone werk gedoen moes word nie. – Le 23:27, 28.

  • Versoendeksel.

    Die deksel van die verbondsark. Op die Versoendag het die hoëpriester die bloed van sonde-offers voor die deksel gesprinkel. Die Hebreeuse term kom van ’n werkwoord wat “om (sonde) te bedek” of moontlik “om (sonde) weg te vee” beteken. Dit was van soliede goud gemaak, en daar was twee gerubs op die deksel, een aan elke kant. Dit word soms net “die deksel” genoem (Eks 25:17-22; 1Kr 28:11, vtn.; Heb 9:5). – Sien Aanh. B5.

  • Vloek; vervloek.

    Om iemand kwaad toe te wens of om iets slegs oor iemand of iets uit te spreek. Dit is nie dieselfde as om vloektaal te gebruik nie. Dit was dikwels ’n formele uitspraak of voorspelling van iets slegs. Wanneer God of ’n bevoegde persoon dit gedoen het, het dit ’n profetiese betekenis en krag gehad. – Ge 12:3; Nu 22:12; Ga 3:10.

  • Voleinding van die stelsel van dinge.

    Die tydperk voor die einde van die stelsel van dinge, of wêreldstelsel, wat deur Satan oorheers word. Dit dek dieselfde tydperk as die teenwoordigheid van Christus. Onder Jesus se leiding sal engele “die goddeloses van die regverdiges skei” en hulle vernietig (Mt 13:40-42, 49). Jesus se dissipels wou weet wanneer hierdie “voleinding” sou wees (Mt 24:3, vtn.). Voordat hy na die hemel teruggekeer het, het hy sy volgelinge belowe dat hy tot daardie tyd met hulle sou wees. – Mt 28:20.

  • Voorbereidingsdag.

    Die dag voor die Sabbat waarop die Jode voorbereidings getref het vir die Sabbat. Die dag het geëindig teen sononder op die dag wat nou Vrydag genoem word. Daarna het die Sabbat begin. ’n Joodse dag het met sononder begin en het die volgende sononder geëindig. – Mr 15:42; Lu 23:54.

  • Voorhof.

    Die oop gedeelte rondom die tabernakel wat met gordyne afgeskerm is, en later een van die ommuurde, oop terreine rondom die hoofgebou van die tempel. Die brandofferaltaar het in die voorhof van die tabernakel gestaan en in die binneste voorhof van die tempel (Eks 27:9; 1Kn 7:12). – Sien Aanh. B5, B8, B11.

  • Vrede-offer.

    ’n Offer wat vir Jehovah aangebied word as ’n versoek om vrede met hom te hê. Die aanbidder en sy huisgesin, die priester wat die offer aangebied het en die priesters wat aan diens was, het daarvan geëet. Jehovah het in ’n figuurlike sin die aangename geur van die verbrande vet ontvang. Die bloed, wat die lewe verteenwoordig, is ook aan hom gegee. Dit was asof die priesters en die aanbidders saam met Jehovah aan tafel was, wat ’n vreedsame verhouding gesimboliseer het. – Le 7:29, 32; De 27:7.

  • Vryman; vrygelatene.

    Gedurende die Romeinse heerskappy was ’n “vryman” iemand wat vry gebore is en volle burgerregte geniet het. In teenstelling hiermee was ’n “vrygelatene” ’n voormalige slaaf. As ’n vrygelatene formeel vrygelaat is, het hy Romeinse burgerskap ontvang, maar hy kon nie ’n politieke amp beklee nie. As hy informeel vrygelaat is, was hy nie meer ’n slaaf nie, maar het hy nie volle burgerregte geniet nie. – 1Kor 7:22.

  • Vrystede.

    Levitiese stede waar ’n persoon wat iemand onopsetlik doodgemaak het, beskerming kon soek teen die bloedwreker. Onder Jehovah se leiding is ses sulke stede, wat regoor die Beloofde Land versprei is, deur Moses en later deur Josua aangewys. Wanneer iemand ’n vrystad bereik het, moes hy sy saak aan die ouermanne by die stadspoort verduidelik en is hy gasvry ontvang. Om te voorkom dat opsetlike moordenaars hierdie reëling misbruik, moes die persoon wat beskerming kom soek het, verhoor word in die stad waar die voorval plaasgevind het, sodat hy sy onskuld kon bewys. As die persoon onskuldig bevind is, is hy teruggestuur na die vrystad, en hy moes vir die res van sy lewe of tot die dood van die hoëpriester binne die grense van  die stad bly. – Nu 35:6, 11-15, 22-29; Jos 20:2-8.

  • Vuurbakke; vuurbakkies.

    Voorwerpe van goud, silwer of koper wat by die tabernakel en die tempel gebruik is om reukwerk te brand en om kole van die altaar en uitgebrande lamppitte van die goue lampstaander te verwyder. – Eks 37:23; 2Kr 26:19; Heb 9:4.

W

  • Wadi.

    Die vallei of bedding van ’n stroom wat gewoonlik droog is, behalwe gedurende die reënseisoen. Dit kan ook verwys na die stroom self. Party strome is deur waterbronne gevoed en het dus nooit opgedroog nie. – Ge 26:19; Nu 34:5; De 8:7; 1Kn 18:5; Job 6:15.

  • Wag.

    Iemand wat, dikwels gedurende die nag, oor mense en eiendom wag hou en waarsku as gevaar dreig. Wagte het dikwels op die stadsmure en torings gestaan sodat hulle mense van ver af kon sien aankom. Wagte is ook in die leërmag gebruik. Profete het in figuurlike sin as wagte vir die nasie Israel gedien en het gewaarsku teen naderende vernietiging. – 2Kn 9:20; Ese 3:17.

  • Wal.

    In Hebreeus, “Millo”, van ’n grondwoord wat “opvulling” beteken. Die Septuagint vertaal dit as “vesting”. Dit was waarskynlik ’n geografiese of boukundige kenmerk van die Stad van Dawid, maar daar is nie sekerheid oor presies wat dit was nie. – 2Sa 5:9; 1Kn 11:27.

  • Wapenrusting.

    Die beskermende uitrusting wat deur soldate gedra is, naamlik helm, pantser, lyfband, beenskutte en skild. – 1Sa 31:9; Ef 6:13-17.

  • Ware God.

    ’n Vertaling van die Hebreeuse uitdrukking vir “die God”. In baie gevalle dui die gebruik van die bepaalde lidwoord (“die”) in hierdie Hebreeuse uitdrukking aan dat Jehovah die enigste ware God is, in teenstelling met valse gode. In sulke gevalle dra die uitdrukking “die ware God” die volle betekenis oor van die Hebreeuse uitdrukking. – Ge 5:22, 24; 46:3; De 4:39.

  • Weg.

    ’n Uitdrukking wat figuurlik in die Bybel gebruik word om te verwys na ’n lewenswyse of handelswyse wat Jehovah goedkeur of afkeur. Daar is gesê dat Jesus Christus se volgelinge aan “Die Weg” behoort het omdat hulle ’n lewensweg gevolg het wat om geloof in Jesus Christus gedraai het en sy voorbeeld gevolg het. – Han 19:9.

  • Wet.

    Wanneer hierdie woord met ’n hoofletter geskryf word, verwys dit na die Wet van Moses of na die eerste vyf boeke van die Bybel. Wanneer dit met ’n kleinletter geskryf word, kan dit na afsonderlike wette van die Wet van Moses of ’n wetlike beginsel verwys. – Nu 15:16; De 4:8; Mt 7:12; Ga 3:24.

  • Wierook.

    Uitgedroogde sap (gomhars) van bome en bosse van sekere spesies van die genus Boswellia. Wanneer dit gebrand is, het dit ’n soet reuk afgegee. Dit was ’n bestanddeel van die heilige reukwerk wat by die tabernakel en die tempel gebruik is. Dit is ook saam met graanoffers geoffer en is op elke ry van die offerbrode in die Heilige geplaas. – Eks 30:34-36; Le 2:1; 24:7; Mt 2:11.

  • Wonderwerke.

    Dade of verskynsels wat alle kragte wat aan mense bekend is, te bowe gaan en aan ’n bonatuurlike oorsaak toegeskryf word. Uitdrukkings soos “kragtige werke” en “tekens” word soms as sinonieme in die Bybel gebruik. – Eks 4:21; Han 4:22; Heb 2:4.

  • Wynpers.

    Gewoonlik twee holtes (vate) wat in natuurlike kalksteen uitgekap is. Die een was hoër as die ander, en hulle is deur ’n kanaaltjie verbind. Wanneer die druiwe in die boonste holte gepars is, het die sap in die onderste holte ingevloei. Die woord word figuurlik gebruik in verband met God se oordeel. – Jes 5:2; Op 19:15.

  • Wynsak.

    Sak waarin wyn bewaar is en wat van die hele vel van ’n dier, soos ’n skaap of ’n bok, gemaak is. Wyn is in nuwe wynsakke gesit, want wanneer wyn gis, stel dit koolsuurgas vry wat drukking in die sak veroorsaak. Nuwe wynsakke kan uitsit, maar oues is nie meer elasties nie en bars weens die drukking. – Jos 9:4; Mt 9:17.

Z

  • Zeus.

    Die hoogste god van al die gode wat die Grieke aanbid het. In Listra het mense gedink dat Barnabas Zeus is. Eertydse inskripsies wat naby Listra gevind is, verwys na “priesters van Zeus” en “Zeus die songod”. Die skip waarop Paulus van die eiland Malta af gereis het, het beelde van die tweelingbroers Castor en Pollux, die seuns van Zeus, aan die voorkant gehad. – Han 14:12; 28:11.