Genesis 12:1-20

  • Abram verlaat Haran en gaan na Kanaän (1-9)

    • God se belofte aan Abram (7)

  • Abram en Sarai in Egipte (10-20)

12  En Jehovah het vir Abram gesê: “Trek weg uit jou land en van jou familielede en van die huis van jou pa af en gaan na die land wat ek jou sal wys.+  Ek sal jou ’n groot nasie maak. Ek sal jou seën en sorg dat jy geëerd is, en jy sal ’n seën vir ander word.+  Ek sal diegene seën wat jou seën, en ek sal die persoon vervloek wat jou vervloek,+ en al die families van die aarde sal deur middel van jou geseën word.”*+  Abram het dus getrek, net soos Jehovah vir hom gesê het, en Lot het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy Haran verlaat het.+  Abram het sy vrou, Sarai,+ en Lot, die seun van sy broer,+ saamgeneem, sowel as al die besittings wat hulle versamel het+ en die mense wat hulle in Haran verkry het, en hulle het na die land Kanaän vertrek.+ Toe hulle in die land Kanaän aangekom het,  het Abram verder deur die land gereis tot by Sigem,+ naby die groot bome van More.+ In daardie tyd was die Kanaäniete in die land.  Jehovah het toe aan Abram verskyn en gesê: “Aan jou nageslag*+ gaan ek hierdie land gee.”+ Hy het dus ’n altaar daar gebou vir Jehovah, wat aan hom verskyn het.  Later het hy van daar af na die bergstreek oos van Bet-El+ getrek en sy tent opgeslaan met Bet-El aan die westekant en Ai+ aan die oostekant. Daar het hy ’n altaar vir Jehovah gebou+ en die naam van Jehovah begin aanroep.+  Daarna het Abram kamp opgebreek en toe sy kamp van plek tot plek verskuif terwyl hy in die rigting van die Negeb getrek het.+ 10  ’n Hongersnood het toe in die land ontstaan, en Abram het na Egipte gegaan om ’n ruk lank daar te bly,*+ want die hongersnood in die land was baie erg.+ 11  Toe hy op die punt was om in Egipte in te gaan, het hy vir sy vrou Sarai gesê: “Luister, asseblief! Ek weet dat jy ’n pragtige vrou is.+ 12  Wanneer die Egiptenare jou sien, gaan hulle beslis sê: ‘Dit is sy vrou.’ Dan sal hulle my doodmaak, maar hulle sal jou laat lewe. 13  Sê asseblief dat jy my suster is. Dan sal ek goed behandel word as gevolg van jou, en my lewe sal gespaar word.”*+ 14  Toe Abram in Egipte ingaan, het die Egiptenare gesien dat die vrou baie mooi is. 15  En Farao se amptenare het haar ook gesien, en hulle het Farao begin vertel hoe mooi sy is, en die vrou is na die huis van Farao geneem. 16  Hy het Abram goed behandel as gevolg van haar, en Abram het skape, beeste, donkies, slawe, slavinne en kamele ontvang.+ 17  Toe het Jehovah Farao en sy huis met ernstige plae getref as gevolg van Sarai, Abram se vrou.+ 18  Farao het Abram dus geroep en gesê: “Wat het jy aan my gedoen? Hoekom het jy my nie vertel dat sy jou vrou is nie? 19  Hoekom het jy gesê: ‘Sy is my suster’?+ Ek het op die punt gestaan om haar as my vrou te neem! Hier is jou vrou. Neem haar en gaan!” 20  Farao het sy manne dus beveel om hom weg te stuur, saam met sy vrou en alles wat hy gehad het.+

Voetnote

Of “’n seën vir hulleself verkry”.
Lett. “saad”.
Of “om as ’n uitlander daar te woon”.
Of “my siel sal bly lewe”.