Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 A4

God se naam in die Hebreeuse Geskrifte

God se naam in die Ou Hebreeuse letters wat voor die Babiloniese ballingskap gebruik is

God se naam in die Hebreeuse letters wat ná die Babiloniese ballingskap gebruik is

God se naam, wat deur die vier Hebreeuse konsonante יהוה verteenwoordig word, verskyn byna 7 000 keer in die Hebreeuse Geskrifte. In hierdie vertaling word daardie vier letters, wat as die Tetragrammaton bekend staan, as “Jehovah” weergegee. Hierdie naam kom baie meer in die Bybel voor as enige ander naam. Al gebruik die geïnspireerde skrywers baie titels en beskrywende terme soos “Almagtige”, “Allerhoogste” en “Here” om na God te verwys, is die Tetragrammaton die enigste persoonlike naam wat hulle gebruik om God te identifiseer.

Jehovah God self het Bybelskrywers gerig om sy naam te gebruik. Byvoorbeeld, hy het die profeet Joël geïnspireer om te skryf: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Joël 2:32). En God het ’n psalmis laat skryf: “Mag mense weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is” (Psalm 83:18). Om die waarheid te sê, God se naam verskyn ongeveer 700 keer in die boek Psalms alleen – ’n boek met poëtiese geskrifte wat deur God se volk gesing en opgesê moes word. Waarom is daar dan so baie Bybelvertalings wat nie God se naam bevat nie? Waarom gebruik hierdie vertaling die vorm “Jehovah”? En wat beteken die naam Jehovah?

Uittreksels uit die Psalms in ’n Dooie See-rol wat uit die eerste helfte van die eerste eeu HJ dateer. Die teks is in die styl van die Hebreeuse letters wat in algemene gebruik was ná die Babiloniese ballingskap, maar die Tetragrammaton staan duidelik uit, aangesien dit herhaaldelik verskyn in die styl van die Hebreeuse letters wat voor die Babiloniese ballingskap gebruik is

Waarom is daar so baie Bybelvertalings wat nie die naam bevat nie? Daar is verskeie redes hiervoor. Party voel dat die almagtige God nie ’n unieke naam nodig het om hom te identifiseer nie. Ander is blykbaar beïnvloed deur die Joodse tradisie om die gebruik van die naam te vermy, moontlik omdat hulle bang was dat hulle die naam sou ontheilig. En dan is daar party wat glo dat dit beter is om ’n titel, soos “Here” of “God”, te gebruik, aangesien niemand weet presies hoe om God se naam uit te spreek nie. Maar sulke besware is om die volgende redes ongegrond:

  •   Mense wat sê dat die almagtige God nie ’n unieke naam nodig het nie, ignoreer bewyse dat vroeë kopieë van sy Woord, insluitende kopieë uit die tydperk voor Christus, wel God se persoonlike naam bevat. Soos vroeër genoem is, het God sy naam ongeveer 7 000 keer in sy Woord laat insluit. Dit is duidelik dat hy wil hê dat ons sy naam moet ken en gebruik.

  • Vertalers wat die naam uit respek vir Joodse tradisie verwyder, ignoreer ’n baie belangrike feit. Al het party Joodse kopiiste geweier om die naam uit te spreek, het hulle dit nie uit hulle kopieë van die Bybel verwyder nie. In ou boekrolle wat in Qumran, naby die Dooie See, gevind is, kom die naam op baie plekke voor. Party Bybelvertalers gee te kenne dat God se naam wel in die oorspronklike teks verskyn het deur dit met die titel “HERE” in hoofletters te vervang. Maar die vraag bly staan: Waarom het hierdie vertalers gevoel dat hulle God se naam in die Bybel kan vervang of dit daaruit kan verwyder, al erken hulle dat dit duisende kere in die Bybelteks voorkom? Hoekom dink hulle dat hulle die gesag het om so ’n verandering aan te bring? Net hulle sal kan sê.

  • Party mense sê dat God se naam nie gebruik moet word nie omdat ons nie weet presies hoe om dit uit te spreek nie, maar tog gebruik hulle die naam Jesus vryelik. Maar Jesus se eerste-eeuse dissipels het sy naam baie anders uitgespreek as die manier waarop die meeste Christene dit vandag uitspreek. Joodse Christene het die naam Jesus waarskynlik as Je·sjoeʹa‛ uitgespreek. En die titel “Christus” was Ma·sjiʹach, of “Messias”. Griekssprekende Christene het hom I·e·sousʹ Chri·stosʹ genoem, en Latynsprekende Christene Ieʹsus Chriʹstus. Die Griekse vertaling van sy naam is onder inspirasie in die Bybel opgeteken, wat toon dat eerste-eeuse Christene die verstandige weg gevolg het deur die vorm van die naam te gebruik wat algemeen in hulle taal was. Net so voel die New World Bible Translation Committee dat dit redelik is om die vorm “Jehovah” te gebruik, al is dit nie presies hoe God se naam in Ou Hebreeus uitgespreek sou word nie.

Waarom gebruik die Nuwe Wêreld-vertaling die vorm “Jehovah”? In Afrikaans word die vier letters van die Tetragrammaton (יהוה) deur die konsonante JHWH verteenwoordig. Soos met alle geskrewe woorde in Ou Hebreeus, het die Tetragrammaton geen vokale bevat nie. Toe Ou Hebreeus nog in die daaglikse lewe gebruik is, kon lesers maklik die regte vokale invoeg.

Sowat ’n duisend jaar nadat die Hebreeuse Geskrifte voltooi is, het Joodse geleerdes ’n stelsel van uitspraakpunte, of -tekens,  ontwikkel om aan te dui watter vokale gebruik moes word wanneer iemand Hebreeus lees. Maar teen daardie tyd het baie Jode bygelowig gedink dat dit verkeerd is om God se persoonlike naam hardop te sê, en daarom het hulle ander uitdrukkings as plaasvervangers gebruik. Wanneer hulle dus die Tetragrammaton oorgeskryf het, het hulle blykbaar die vokale van die plaasvervangers gekombineer met die vier konsonante wat God se naam verteenwoordig. Die manuskripte wat daardie vokaalpunte bevat, help ons dus nie om vas te stel hoe die naam oorspronklik in Hebreeus uitgespreek is nie. Party dink dat die naam as “Jahweh” uitgespreek is, terwyl sommige dink dat dit op ander maniere uitgespreek is. ’n Dooie See-rol wat ’n deel van Levitikus in Grieks bevat, translitereer God se naam as Iao. Buiten hierdie vorm meen party vroeë Griekse skrywers dat dit ook as Iae, I·a·beʹ of I·a·ou·eʹ uitgespreek kan word. Maar daar is geen rede om dogmaties te wees nie. Ons weet eenvoudig nie hoe God se eertydse knegte sy naam in Hebreeus uitgespreek het nie (Genesis 13:4; Eksodus 3:15). Wat ons wel weet, is dat God sy naam herhaaldelik gebruik het wanneer hy met sy volk gekommunikeer het en dat hulle dit vryelik gebruik het wanneer hulle met hom of met ander gepraat het. – Eksodus 6:2; 1 Konings 8:23; Psalm 99:9.

Waarom gebruik hierdie vertaling dan die vorm “Jehovah”? Omdat hierdie vorm van God se naam ’n lang geskiedenis in Bybelvertaling het.

God se naam in Genesis 15:2 in William Tyndale se vertaling van die Pentateug, 1530

God se persoonlike naam het byvoorbeeld die eerste keer in 1530 in ’n Engelse Bybel verskyn toe William Tyndale die Pentateug vertaal het. Hy het die vorm “Iehouah” gebruik. Met verloop van tyd het Engels verander en is die spelling van God se naam gemoderniseer. Byvoorbeeld, in 1612 het Henry Ainsworth die vorm “Iehovah” oral in sy vertaling van die boek Psalms gebruik. Later, in  1639, toe daardie werk hersien is en saam met die Pentateug uitgegee is, is die vorm “Jehovah” gebruik. In 1901 het die vertalers van die American Standard Version die vorm “Jehovah” gebruik waar God se naam in die Hebreeuse teks verskyn het. En tussen 1889 en 1907 het die vertaler S.J. du Toit die vorm “Jehowa” gebruik toe sekere boeke van die Hebreeuse Geskrifte vir die eerste keer in Afrikaans vertaal is.

Die gerespekteerde Bybelgeleerde Joseph Bryant Rotherham het verduidelik waarom hy “Jehovah” in plaas van “Yahweh” gebruik het in sy werk Studies in the Psalms, wat in 1911 uitgegee is. Hy het gesê dat hy gebruik wou maak van ’n “vorm van die naam wat vir Bybellesers oor die algemeen bekender (en tog heeltemal aanvaarbaar)” sou wees. In 1930 het die geleerde A.F. Kirkpatrick ’n soortgelyke punt gemaak oor die gebruik van die vorm “Jehovah” teenoor “Yahveh”. Hy het gesê: “Wat werklik belangrik is, is nie die presiese uitspraak nie, maar die erkenning dat dit ’n Eienaam is, nie bloot ’n beskrywende titel soos ‘Here’ nie.”

Die Tetragrammaton, JHWH: “Hy laat word”

Die werkwoord HWH: “om te word”

Wat beteken die naam Jehovah? In Hebreeus kom die naam Jehovah van ’n werkwoord wat “om te word” beteken, en ’n aantal geleerdes voel dat hierdie Hebreeuse werkwoord in ’n vorm is wat aandui dat die onderwerp in die sin iets laat gebeur of laat ontstaan. Die New World Bible Translation Committee se beskouing is dus dat God se naam “Hy laat word” beteken. Geleerdes het verskillende opinies hieroor, en daarom kan ons nie dogmaties wees nie. Tog pas hierdie definisie goed by Jehovah se rol as die Skepper van alle dinge en die Vervuller van sy voorneme. Hy het nie net die fisiese heelal en intelligente wesens geskep nie, maar hy laat ook sy wil en voorneme voortdurend ’n werklikheid word.

Die betekenis van die naam Jehovah is dus nie beperk tot die verwante werkwoord in Eksodus 3:14, wat sê: “Ek sal word wat ek besluit om te word” of “Ek sal word wat ek sal word” nie. Streng gesproke gee hierdie woorde nie ’n volledige definisie van God se naam nie. Dit openbaar eerder ’n aspek van God se persoonlikheid en toon dat hy in elke situasie word wat nodig is om sy voorneme te vervul. Al sluit die naam Jehovah blykbaar hierdie idee in, is dit nie beperk tot wat hy besluit om te word nie. Dit sluit ook in wat hy laat gebeur in verband met sy skepping en die vervulling van sy voorneme.