Genesis 28:1-22

  • Isak stuur Jakob na Paddan-Aram (1-9)

  • Jakob se droom by Bet-El (10-22)

    • God se belofte teenoor Jakob bevestig (13-15)

28  Isak het Jakob dus geroep en hom geseën en hom beveel: “Jy mag nie ’n vrou uit die dogters van Kanaän neem nie.+  Gaan na Paddan-Aram, na die huis van Beʹtuel, jou ma se pa, en neem daar vir jou ’n vrou uit die dogters van Laban,+ jou ma se broer.  God die Almagtige sal jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, en jy sal beslis ’n versameling van volke word.+  En hy sal aan jou en jou nageslag* die seën van Abraham gee,+ sodat jy die land in besit kan neem waar jy tot nou toe as ’n uitlander gewoon het, die land wat God aan Abraham gegee het.”+  Isak het Jakob toe weggestuur, en hy het na Paddan-Aram vertrek, na Laban, die seun van Beʹtuel, die Arameër,+ die broer van Rebekka,+ die ma van Jakob en Esau.  Esau het gesien dat Isak Jakob geseën het en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom ’n vrou te neem en dat hy hom hierdie bevel gegee het toe hy hom geseën het: “Moenie ’n vrou uit die dogters van Kanaän neem nie.”+  Hy het gesien dat Jakob gehoorsaam was aan sy pa en sy ma en na Paddan-Aram vertrek het.+  Esau het toe besef dat Isak, sy pa, nie van die dogters van Kanaän hou nie.+  Esau het dus na Isʹmael toe gegaan en Maʹhalat, die dogter van Abraham se seun Isʹmael, die suster van Neʹbajot, as vrou geneem, bo en behalwe die ander vrouens wat hy reeds gehad het.+ 10  Jakob het uit Berseʹba na Haran+ vertrek. 11  Later het hy by ’n plek gekom en gereedgemaak om daar te oornag, want die son het al ondergegaan. Hy het toe een van die klippe geneem om onder sy kop te sit, en hy het gaan lê.+ 12  Toe het hy gedroom, en in die droom het hy ’n stel trappe* gesien wat van die aarde af tot in die hemel gestrek het, en God se engele het daar op- en afgeklim.+ 13  En Jehovah het boaan gestaan, en hy het gesê: “Ek is Jehovah, die God van jou vader Abraham en die God van Isak.+ Die land waarop jy lê, gaan ek aan jou en aan jou nageslag* gee.+ 14  En jou nageslag* sal beslis soos die stof van die aarde word,+ en jy sal beslis uitbrei na die weste, na die ooste, na die noorde en na die suide, en deur middel van jou en jou nageslag* sal al die families van die aarde beslis geseën word.*+ 15  Ek is met jou, en ek sal jou beskerm oral waar jy gaan, en ek sal jou na hierdie land terugbring.+ Ek sal jou nie verlaat totdat ek gedoen het wat ek jou belowe het nie.”+ 16  Toe het Jakob wakker geword en gesê: “Jehovah is waarlik op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie.” 17  En hy het bang geword en gesê: “Hoe ontsagwekkend is hierdie plek tog! Dit kan net die huis van God wees,+ en dit is die poort van die hemel.”+ 18  Toe het Jakob die oggend vroeg opgestaan en die klip geneem wat onder sy kop was en dit as ’n pilaar opgerig en olie daarop uitgegooi.+ 19  Daarom het hy die plek Bet-El* genoem, maar voorheen was die stad se naam Lus.+ 20  Jakob het toe ’n gelofte gemaak en gesê: “As God met my sal wees en my gedurende my reis sal beskerm en vir my kos* sal gee om te eet en klere om te dra 21  en ek in vrede na die huis van my pa terugkeer, dan sal Jehovah beslis bewys het dat hy my God is. 22  En hierdie klip wat ek as ’n pilaar opgerig het, sal ’n huis van God word,+ en ek sal vir seker vir u ’n tiende gee van alles wat u my sal gee.”

Voetnote

Lett. “saad”.
Of “’n leer”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Of “’n seën vir hulleself verkry”.
Beteken “huis van God”.
Lett. “brood”.