Genesis 45:1-28

  • Josef sê wie hy is (1-15)

  • Josef se broers gaan haal vir Jakob (16-28)

45  Toe kon Josef nie meer sy emosies voor al sy dienaars onder beheer hou nie.+ Daarom het hy uitgeroep: “Gaan uit, almal van julle!” Niemand anders het by hom gebly terwyl Josef sy identiteit aan sy broers bekend gemaak het nie.+  Toe het hy so hard begin huil dat die Egiptenare sowel as Farao se huis dit gehoor het.  Uiteindelik het Josef vir sy broers gesê: “Ek is Josef. Lewe my pa nog?” Maar sy broers kon hom glad nie antwoord nie, want hulle was stomgeslaan.  Toe het Josef vir sy broers gesê: “Kom asseblief nader.” Hulle het toe nader gekom. Daarna het hy gesê: “Ek is Josef, julle broer, wat julle verkoop het en wat na Egipte gebring is.+  Maar moenie ontsteld wees en moenie vir mekaar kwaad wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om ons aan die lewe te hou.+  Dit is die tweede jaar van die hongersnood in die land,+ en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie.  Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel+ op die aarde* te laat oorbly en om julle op ’n wonderlike manier te red.  Dit was dus nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar die ware God, sodat hy my kon aanstel as Farao se vernaamste raadgewer* en as heer oor sy hele huis en as heerser van die hele Egipte.+  “Maak gou en gaan terug na my pa toe, en sê vir hom: ‘Dít is wat u seun Josef gesê het: “God het my as heer oor die hele Egipte aangestel.+ Kom so gou as moontlik na my toe.+ 10  U moet in die land Gosen woon,+ sodat u naby my sal wees – u, u kinders, u kleinkinders, u beeste, u kleinvee en alles wat u het. 11  Daar sal ek kos aan u voorsien, want daar is nog vyf jaar van hongersnood oor.+ Dan sal u en u huis en alles wat u het, nie in armoede verval nie.”’ 12  Julle en my broer Benjamin kan nou met julle eie oë sien dat dit werklik ek is wat met julle praat.+ 13  Julle moet my pa dus vertel van al my heerlikheid in Egipte en alles wat julle gesien het. Maak nou gou en bring my pa hierheen.” 14  Toe het hy sy broer Benjamin omhels en begin huil, en Benjamin het in Josef se arms gehuil.+ 15  En hy het al sy broers gesoen en gehuil terwyl hy hulle omhels het, en daarna het sy broers met hom gepraat. 16  Die huis van Farao het die nuus gehoor: “Josef se broers het gekom!” En Farao en sy knegte was bly toe hulle dit hoor. 17  Toe het Farao vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: ‘Doen die volgende: Laai julle pakdiere en gaan na die land Kanaän, 18  en neem julle pa en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die goeie dinge van Egipte gee, en julle sal van die beste deel van die land eet.’*+ 19  En jy moet vir hulle sê:+ ‘Doen die volgende: Neem waens+ uit Egipte vir julle kinders en julle vrouens, en julle moet julle pa op een van hulle bring en hierheen kom.+ 20  Moenie bekommerd wees oor julle besittings nie,+ want die beste van die hele Egipte is julle s’n.’” 21  En die seuns van Israel het dit gedoen, en Josef het vir hulle waens gegee soos Farao gesê het, en hy het vir hulle padkos gegee vir die reis. 22  Hy het vir elkeen van hulle ’n stel klere gegee, maar vir Benjamin het hy 300 silwerstukke en vyf stelle klere gegee.+ 23  En vir sy pa het hy die volgende gestuur: tien donkies met goeie dinge van Egipte en tien donkiemerries met graan en brood en padkos vir sy pa se reis. 24  So het hy sy broers weggestuur, en toe hulle vertrek het, het hy gesê: “Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.”+ 25  Toe het hulle uit Egipte vertrek en in die land Kanaän by hulle pa, Jakob, aangekom. 26  En hulle het vir hom gesê: “Josef lewe nog, en hy is die heerser van die hele Egipte!”+ Maar hy het nie daarop gereageer nie, want hy het hulle nie geglo nie.+ 27  Toe hulle hom vertel van alles wat Josef vir hulle gesê het en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het hulle pa, Jakob, nuwe lewe gekry. 28  Israel het uitgeroep: “Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek moet na hom toe gaan en hom sien voordat ek sterf!”+

Voetnote

Of “in die land”.
Lett. “as ’n vader vir Farao”.
Of “van die vet van die land lewe”.