Voorwoord
Die Heilige Bybel is God se geskrewe boodskap aan ons almal. Ons moet dit bestudeer as ons die Outeur daarvan wil leer ken (Johannes 17:3; 2 Timoteus 3:16). In hierdie boek openbaar Jehovah God sy voorneme vir mense en vir hulle aardse tuiste. – Genesis 3:15; Openbaring 21:3, 4.
Geen ander boek het so ’n groot uitwerking op mense se lewens nie. Die Bybel leer ons om Jehovah se eienskappe te weerspieël, soos liefde, genade en medelye. Dit gee mense hoop en help hulle selfs wanneer hulle verskriklik ly. En dit wys vir ons watter elemente van hierdie wêreld nie in ooreenstemming is met die volmaakte wil van God nie. – Psalm 119:105; Hebreërs 4:12; 1 Johannes 2:15-17.
Die Bybel, wat oorspronklik in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf is, is in sy geheel of gedeeltelik in meer as 3 000 tale vertaal. Dit is verreweg die mees vertaalde en verspreide boek in die geskiedenis. Dit behoort ons glad nie te verbaas nie. ’n Bybelprofesie sê: “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk [die hooftema van die Bybel] sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom.” – Matteus 24:14.
Ons, die huidige lede van die New World Bible Translation Committee, besef hoe belangrik die Bybel se boodskap is, en daarom was dit ons doelwit om ’n vertaling voort te bring wat nie net getrou is aan die oorspronklike teks nie, maar wat ook duidelik is en maklik lees. Die artikels “Beginsels van Bybelvertaling”, “Kenmerke van hierdie vertaling” en “Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is”, wat in die Aanhangsel gevind kan word, bespreek van die vertaalbeginsels wat gevolg is, sowel as party van die kenmerke van hierdie uitgawe.
Mense wat lief is vir Jehovah God en hom aanbid, wil graag ’n akkurate, verstaanbare vertaling van God se Woord hê (1 Timoteus 2:4). Dit is ons doel dat die New World Translation in soveel tale as moontlik vertaal word, en daarom is hierdie hersiening in Afrikaans beskikbaar gestel. Liewe leser, ons hoop en bid dat hierdie vertaling van die Heilige Skrif jou sal help om ‘God te soek en hom werklik te vind’. – Handelinge 17:27.
New World Bible Translation Committee
Augustus 2013