Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  A2

Kenmerke van hierdie uitgawe

Die New World Translation of the Christian Greek Scriptures is in 1950 in Engels vrygestel, en die volledige New World Translation of the Holy Scriptures is in 1961 vrygestel. Sedert daardie tyd het tienmiljoene lesers in meer as 180 tale baat gevind by hierdie akkurate en tog leesbare Bybel wat uit die oorspronklike tale vertaal is.

Oor die afgelope halfeeu het tale egter verander. Die huidige New World Bible Translation Committee het besef dat dit nodig is om op hierdie veranderinge te reageer om die harte van lesers in hierdie tyd te raak. Daarom is daar in hierdie uitgawe ’n aantal veranderinge in die styl en woordeskat aangebring, met die volgende doelwitte:

  • Moderne, verstaanbare taal. Die woord “lankmoedigheid” is byvoorbeeld nie so bekend nie en is moeilik om te verstaan. Daarom is dit vervang met die woord “geduld,” wat dieselfde gedagte duideliker oordra (Galasiërs 5:22). Woorde wat verouderd is, soos “toorn” en “gramskap,” is vervang met bekender woorde, soos “woede” (Efesiërs 4:31). Die woord “hoer” is verander na “prostituut” (Genesis 38:15). In hierdie uitgawe is “hoerery” oor die algemeen vertaal as “seksuele onsedelikheid”; “losbandigheid” as “skaamtelose gedrag”; en “swelgerye” as “wilde partytjies” (Galasiërs 5:19-21). Om die regte betekenis in elke konteks oor te dra, is die uitdrukking “onbepaalde tyd” vervang met uitdrukkings soos “vir ewig,” ‘permanent’, “ewigheid” of “lank gelede”. – Genesis 3:22; Eksodus 31:16; Psalm 90:2; Prediker 1:4; Miga 5:2.

    Die woord “saad” in Ou Hebreeus en Grieks kan na die saad van plante verwys, sowel as na die nakomelinge van mense of na sperm. Omdat die woord “saad” nie meer dikwels in Afrikaans gebruik word om na mense te verwys nie, is dit vervang met woorde wat die regte betekenis volgens die konteks oordra (Genesis 1:11; 22:17; 48:4; Matteus 22:24; Johannes 8:37). In die meeste gevalle word die woord “nageslag” nou gebruik om te verwys na die Edeniese belofte, wat in Genesis 3:15 gevind word.

  • Bybelse uitdrukkings duidelik weergegee. Party uitdrukkings in die vorige uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling moes dikwels  verduidelik word sodat dit reg verstaan kon word. Byvoorbeeld, die Hebreeuse woord “Sjeool” en die Griekse woord “Hades” word in die Bybel gebruik om na die gemeenskaplike graf van die mensdom te verwys. Baie mense ken nie daardie woorde nie, en “Hades” het nog ’n ander betekenis as gevolg van die gebruik daarvan in Griekse mitologie. Daarom is albei woorde vervang met wat die Bybelskrywers bedoel het, naamlik “die Graf”. Die woorde “Sjeool” en “Hades” verskyn nou in voetnote. – Psalm 16:10; Handelinge 2:27.

    In die vorige uitgawe is die Hebreeuse woord neʹfesj en die Griekse woord psu·cheʹ konsekwent vertaal as “siel”. Dit is gedoen omdat daar soveel verkeerde beskouings oor die betekenis van die woord “siel” is. Hierdie benadering het die leser gehelp om te sien hoe die geïnspireerde Bybelskrywers hierdie oorspronklike woorde gebruik het. Afhangende van die konteks kan hierdie woorde verwys (1) na ’n persoon, (2) na die lewe van ’n persoon, (3) na lewende wesens, (4) na ’n persoon se begeertes en eetlus of, in party gevalle, (5) selfs na dooie persone. Maar in Afrikaans word die woord “siel” nie eintlik so gebruik nie. Daarom is daar besluit om hierdie woorde uit die oorspronklike taal te vertaal volgens hulle eintlike betekenis, met ’n voetnoot op party plekke wat sê “Of ‘siel’ ”. (Sien byvoorbeeld Genesis 1:20; 2:7; Levitikus 19:28; Psalm 3:2; Spreuke 16:26; Matteus 6:25.) Maar in party poëtiese of bekende kontekste is die woord “siel” in die hoofteks behou, saam met ’n voetnoot wat verwys na die Woordelys of wat ’n ander moontlike vertaling gee. – Deuteronomium 6:5; Psalm 131:2; Spreuke 2:10; Matteus 22:37.

    Net so is die woord “nier” behou wanneer dit na die letterlike orgaan verwys. Maar wanneer dit figuurlik gebruik word in verse soos Psalm 7:9 en 26:2 en Openbaring 2:23, is die woord in die hoofteks vertaal as “diepste emosies” of “diepste gedagtes” en is die letterlike betekenis in ’n voetnoot.

    Net soos in Hebreeus en Grieks het die woord “hart” in Afrikaans ook ’n letterlike en figuurlike betekenis, en daarom is dit gewoonlik in die hoofteks behou. Maar in ’n paar kontekste waar die betekenis nie duidelik was nie, is dit meer eksplisiet vertaal. Byvoorbeeld, in die boek Spreuke is die letterlike uitdrukking “gebrek aan hart” vertaal met uitdrukkings soos “geen verstand” en “onverstandig” (Spreuke 6:32; 7:7). Ander woorde, soos “vet”, “vlees” en “horing”, is ook volgens die konteks vertaal (Genesis 45:18; Prediker 5:6; Job 16:15). Party van hierdie woorde word in die Woordelys bespreek.

  •   Beter leesbaarheid. In die vorige uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling is ekstra woorde soms gebruik om aan te dui of die Hebreeuse werkwoord in die voltooide of onvoltooide vorm is. Byvoorbeeld, wanneer onvoltooide werkwoorde ’n voortdurende handeling aangedui het, is dit met woorde soos “begin” en “verder” vertaal. Wanneer voltooide Hebreeuse werkwoorde klem oorgedra het, is dit aangedui deur ekstra woorde soos “beslis”, “moet” en “in werklikheid”. In hierdie uitgawe is ekstra woorde soos “bly” en “die gewoonte gehad” in sekere kontekste gebruik waar daar ’n geldige rede was om ’n voortdurende handeling aan te dui (Genesis 3:9; 34:1; Spreuke 2:4). Maar om die teks beter te laat lees, is ekstra woorde weggelaat wanneer hierdie woorde nie noodsaaklik was om die oorspronklike betekenis oor te dra nie.

  • Die regte gedagte wanneer dit kom by woorde wat geslag aandui. Selfstandige naamwoorde in Hebreeus en Grieks kan manlik of vroulik wees, en in Grieks kan dit ook geslagloos wees. Maar soms maak dit die betekenis onduidelik wanneer die geslag van die Hebreeuse of Griekse woord aangedui word. In Hebreeus en Grieks is die meervoudsvorm van selfstandige naamwoorde gewoonlik manlik, nie net wanneer dit na mans verwys nie, maar ook wanneer dit na mans en vrouens verwys. Byvoorbeeld, al verwys die uitdrukking “die seuns van Israel” soms na die 12 seuns van Jakob, verwys dit meestal na die hele nasie Israel, mans sowel as vrouens (Genesis 46:5; Eksodus 35:29). In dié uitgawe is hierdie frase dus dikwels as “Israeliete” vertaal om aan te dui dat dit na die hele nasie verwys. Net so is die uitdrukking “vaderlose seun” as “vaderlose kind” of “weeskind” vertaal om aan te dui dat dit na ’n seun of ’n dogter kan verwys. Maar omdat die Bybel die manlike vorm gebruik om na God en sy Seun te verwys, sowel as na verskeie engele en demone, is daar geen rede om geslaglose terme te gebruik soos daar in party moderne vertalings gedoen word nie.

    Alle aanpassings in hierdie Bybel is biddend en noukeurig gemaak, en met diep respek vir die goeie werk van die oorspronklike New World Bible Translation Committee.

Ander kenmerke van hierdie uitgawe:

Daar is ’n aantal voetnote in hierdie uitgawe van die Bybel. Die voetnote val oor die algemeen in die volgende kategorieë:

  • “Of” ’n Alternatiewe vertaling wat dieselfde gedagte van die Hebreeus, Aramees of Grieks oordra. – Genesis 1:2, voetnoot by “werkende krag”; Josua 1:8, “nadink”.

  •  “Of moontlik” ’n Alternatiewe vertaling wat ’n ander geldige gedagte oordra. – Genesis 21:6, “saam met my lag”; Sagaria 14:21, “Kanaäniet”.

  • “Lett.” ’n Woord-vir-woord-vertaling uit Hebreeus, Aramees of Grieks of die basiese betekenis van ’n uitdrukking in die oorspronklike taal. – Genesis 30:22, “om swanger te word”; Eksodus 30:8, “skemer”.

  • Betekenis en agtergrondinligting Betekenis van name (Genesis 3:17, “Adam”; Eksodus 15:23, “Mara”); besonderhede oor gewigte en mate (Genesis 6:15, “el”); die antesedent van ’n voornaamwoord (Genesis 49:25, “Hy”); nuttige inligting in die Aanhangsel en Woordelys. – Genesis 37:35, “Graf”; Matteus 5:22, “Gehenna”.

Voorin hierdie Bybel verskyn die deel “’n Inleiding tot God se Woord”, met ’n oorsig van basiese Bybelleringe. Reg ná die laaste Bybelboek is die “Tabel van Bybelboeke”, die “Indeks van Bybelwoorde” en die “Woordelys”. Die Woordelys help die leser om sekere uitdrukkings in die Bybel te verstaan. Aanhangsel A bevat die volgende dele: “Beginsels van Bybelvertaling”, “ Kenmerke van hierdie uitgawe”, “Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is”, “God se naam in die Hebreeuse Geskrifte”, “God se naam in die Christelike Griekse Geskrifte”, “Tabel: Profete en konings van Juda en van Israel” en “Belangrikste gebeurtenisse van Jesus se lewe op die aarde”. Aanhangsel B bevat kaarte, tabelle en ander inligting wat nuttig is vir ywerige Bybelstudente.

Voor elke Bybelboek is daar ’n oorsig van wat die hoofstukke en verse van daardie boek bevat. Die kolom in die middel van elke bladsy bevat die mees relevante kruisverwysings uit die vorige uitgawe.