Genesis 47:1-31

  • Jakob ontmoet Farao (1-12)

  • Josef, ’n wyse bestuurder (13-26)

  • Israel woon in Gosen (27-31)

47  Toe het Josef vir Farao gaan sê:+ “My pa en my broers het met hulle kleinvee en hulle beeste en alles wat hulle besit, uit die land Kanaän gekom, en hulle is in die land Gosen.”+  Hy het vyf van sy broers geneem en hulle aan Farao voorgestel.+  Farao het vir sy broers gevra: “Watter soort werk doen julle?” Hulle het Farao geantwoord: “U knegte is skaapherders, net soos ons voorvaders.”+  Toe het hulle vir Farao gesê: “Ons het as uitlanders in die land kom woon,+ want daar is geen weiding vir ons kleinvee nie, want die hongersnood is baie erg in die land Kanaän.+ Laat u knegte dan nou asseblief in die land Gosen woon.”+  Farao het vir Josef gesê: “Jou pa en jou broers het hier na jou toe gekom.  Egipte is vir jou beskikbaar. Laat jou pa en jou broers in die heel beste deel van die land woon.+ Laat hulle in die land Gosen woon, en as jy weet van enige bekwame manne onder hulle, laat hulle my vee oppas.”  Toe het Josef sy pa, Jakob, ingebring en hom aan Farao voorgestel, en Jakob het Farao geseën.  Farao het vir Jakob gevra: “Hoe oud is jy?”  Jakob het vir Farao gesê: “Ek is 130 jaar oud, en ek swerf al my hele lewe lank rond.* Dit was moeilike jare,+ maar hulle is min in vergelyking met die aantal jare wat my voorvaders rondgeswerf het.”*+ 10  Daarna het Jakob Farao geseën en van hom af weggegaan. 11  Josef het dus sy pa en sy broers in Egipte laat woon, en hy het vir hulle ’n besitting gegee in die heel beste deel van die land, in die land Ramses,+ net soos Farao beveel het. 12  En Josef het aangehou om kos* aan sy pa en sy broers en die hele huishouding van sy pa te voorsien, volgens die getal kinders wat hulle gehad het. 13  En daar was geen kos* in die hele land nie, want die hongersnood was baie erg, en Egipte en Kanaän het baie swaargekry as gevolg van die hongersnood.+ 14  Josef het al die geld in Egipte en in Kanaän ontvang wat die mense betaal het vir die graan wat hulle gekoop het,+ en Josef het die geld in Farao se huis bly inbring. 15  Mettertyd het die geld van Egipte en Kanaän opgeraak, en al die Egiptenare het na Josef toe begin kom en gesê: “Gee vir ons kos! Gaan u ons laat sterf net omdat ons geld opgeraak het?” 16  Toe het Josef gesê: “As julle geld opgeraak het, gee dan julle vee, en ek sal vir julle kos gee in ruil vir julle vee.” 17  En hulle het hulle vee na Josef begin bring, en Josef het aangehou om vir hulle kos te gee in ruil vir hulle perde, die kleinvee en die beeste en die donkies, en hy het gedurende daardie jaar kos aan hulle voorsien in ruil vir al hulle vee. 18  Daardie jaar het tot ’n einde gekom, en hulle het die volgende jaar weer na hom toe gekom en gesê: “Ons sal dit nie vir my heer wegsteek dat die geld en die diere reeds aan my heer oorbetaal is nie. Ons het niks vir my heer oor behalwe onsself en ons grond nie. 19  Gaan u ons laat sterf en toelaat dat ons grond verwaarloos word? Koop ons en ons grond in ruil vir kos, en ons sal Farao se slawe word, en ons grond sal syne word. Gee vir ons saad sodat ons kan lewe en nie sterf nie en sodat ons grond nie ’n woesteny word nie.” 20  Josef het toe al die grond van die Egiptenare vir Farao gekoop, want elke Egiptenaar het sy stuk grond verkoop, want die hongersnood was baie erg, en die grond het Farao s’n geword. 21  Toe het hy die volk na stede verskuif, van die een end van die gebied van Egipte tot die ander end daarvan.+ 22  Die enigste grond wat hy nie gekoop het nie,+ was die grond wat aan die priesters behoort het, want die priesters het gelewe van kos wat Farao aan hulle voorsien het. Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie. 23  Toe het Josef vir die volk gesê: “Kyk, ek het julle en julle grond vandag vir Farao gekoop. Hier is vir julle saad om in die landerye te saai. 24  Julle moet ’n vyfde van die opbrengs aan Farao gee,+ maar julle kan vier dele gebruik as saad vir die land en as kos vir julle, vir julle kinders en vir die ander wat in julle huise is.” 25  Hulle het toe gesê: “U het ons lewe gered.+ As dit reg is met u, sal ons Farao se slawe word.”+ 26  Josef het toe ’n wet in Egipte gemaak, wat tot vandag toe geldig is, dat ’n vyfde aan Farao behoort. Dit was net die priesters se grond wat nie Farao s’n geword het nie.+ 27  Israel het in Egipte, in die land Gosen, bly woon,+ en hulle het hulle daarin gevestig en was vrugbaar en het baie vermeerder.+ 28  En Jakob het nog 17 jaar lank in Egipte gelewe. Jakob het dus 147 jaar oud geword.+ 29  Toe Israel se einde begin nader kom,+ het hy sy seun Josef geroep en gesê: “As jy werklik vir my omgee, sit dan asseblief jou hand onder my bobeen en betoon lojale liefde en getrouheid aan my. Moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie.+ 30  Wanneer ek sterf,* moet jy my uit Egipte neem en my in die graf van my voorvaders begrawe.”+ Toe het hy gesê: “Ek sal doen net soos u sê.” 31  En hy het gesê: “Sweer vir my.” Josef het vir hom gesweer,+ en Israel het by die koppenent van sy bed neergebuig.+

Voetnote

Of “ek woon al my hele lewe lank as ’n uitlander”.
Of “as uitlanders gewoon het”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “by my vaders gaan lê”.