Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 A5

God se naam in die Christelike Griekse Geskrifte

Bybelgeleerdes erken dat God se persoonlike naam, wat deur die Tetragrammaton (יהוה) verteenwoordig word, amper 7 000 keer in die oorspronklike teks van die Hebreeuse Geskrifte voorkom. Maar baie voel dat dit nie in die oorspronklike teks van die Christelike Griekse Geskrifte verskyn het nie. Daarom gebruik die meeste moderne Bybels nie die naam Jehovah in hulle vertaling van die sogenaamde Nuwe Testament nie. Die meeste vertalers gebruik “Here” eerder as God se persoonlike naam, selfs wanneer hulle aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte vertaal waarin die Tetragrammaton verskyn.

Die Nuwe Wêreld-vertaling volg nie hierdie algemene gebruik nie. Dit gebruik die naam Jehovah altesaam 237 keer in die Christelike Griekse Geskrifte. Die New World Bible Translation Committee het twee belangrike faktore in ag geneem toe hulle hierdie besluit geneem het: (1) Die Griekse manuskripte wat vandag beskikbaar is, is nie die oorspronklikes nie. Die meeste van die duisende kopieë wat vandag bestaan, is gemaak ten minste twee eeue nadat die oorspronklikes geskryf is. (2) Teen daardie tyd het die kopiiste die Tetragrammaton vervang met Kuʹri·os, die Griekse woord vir “Here”, of hulle het kopieë gemaak van manuskripte waarin die Tetragrammaton reeds vervang is.

Die New World Bible Translation Committee het vasgestel dat daar oortuigende bewyse is dat die Tetragrammaton wel in die oorspronklike Griekse manuskripte verskyn het. Die besluit is op die volgende bewyse gebaseer:

  • Die Tetragrammaton het oral voorgekom in kopieë van die Hebreeuse Geskrifte wat in die tyd van Jesus en sy apostels gebruik is. In die verlede het min mense hierdie gevolgtrekking bevraagteken. Noudat kopieë van die Hebreeuse Geskrifte uit die eerste eeu naby Qumran ontdek is, is daar nie meer twyfel hieroor nie.

  • In die dae van Jesus en sy apostels het die Tetragrammaton ook in Griekse vertalings van die Hebreeuse Geskrifte verskyn. Geleerdes het eeue lank gedink dat die Tetragrammaton nie in manuskripte van die Griekse Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte voorgekom het nie. Toe, in die middel  van die 20ste eeu, is baie ou fragmente van die Griekse Septuagint-weergawe wat in Jesus se dag bestaan het, onder geleerdes se aandag gebring. Hierdie fragmente bevat die persoonlike naam van God, wat in Hebreeuse karakters geskryf is. In Jesus se dag het kopieë van die Skrif in Grieks dus wel God se naam bevat. Maar teen die vierde eeu HJ het vooraanstaande manuskripte van die Griekse Septuagint, soos die Codex Vaticanus en die Codex Sinaiticus, nie God se naam in die boeke Genesis tot Maleagi bevat nie, al het dit in vroeëre manuskripte daar voorgekom. Dit is dus te verstane dat tekste uit daardie tydperk nie God se naam in die sogenaamde Nuwe Testament, of Griekse Geskrifte, van die Bybel bevat nie.

    Jesus het uitdruklik gesê: “Ek het in die naam van my Vader gekom.” Hy het ook beklemtoon dat sy werke “in die naam van [sy] Vader” gedoen is

  • Die Christelike Griekse Geskrifte sê self dat Jesus dikwels na God se naam verwys het en dit aan ander bekend gemaak het (Johannes 17:6, 11, 12, 26). Jesus het uitdruklik gesê: “Ek het in die naam van my Vader gekom.” Hy het ook beklemtoon dat sy werke “in die naam van [sy] Vader” gedoen is. – Johannes 5:43; 10:25.

  • Aangesien die Christelike Griekse Geskrifte ’n geïnspireerde byvoeging tot die heilige Hebreeuse Geskrifte is, sou die skielike verdwyning van Jehovah se naam uit die teks onlogies wees. Ongeveer die middel van die eerste eeu HJ het die dissipel Jakobus vir die ouermanne in Jerusalem gesê: “Simeon het verduidelik hoe God vir die eerste keer aan die nasies gedink het sodat hy uit hulle ’n volk vir sy naam kan neem” (Handelinge 15:14). Dit sou nie logies gewees het vir Jakobus om so iets te sê as niemand in die eerste eeu God se naam geken of gebruik het nie.

  • God se naam verskyn in sy verkorte vorm in die Christelike Griekse Geskrifte. In Openbaring 19:1, 3, 4, 6 maak God se naam deel uit van die woord “Halleluja”. Dit kom van ’n Hebreeuse uitdrukking wat letterlik “Loof Jah” beteken. “Jah” is ’n verkorte vorm van die naam Jehovah. Baie name in die Christelike Griekse Geskrifte is van God se naam afgelei. Om die waarheid te sê, naslaanwerke verduidelik dat Jesus se naam “Jehovah is redding” beteken.

  • Vroeë Joodse geskrifte toon dat Joodse Christene God se naam in hulle geskrifte gebruik het. Die Tosefta, ’n geskrewe versameling mondelinge wette wat ongeveer 300 HJ voltooi  is, sê oor Christelike geskrifte wat op die Sabbat verbrand is: “Die boeke van die Evangeliste en die boeke van die minim [vermoedelik Joodse Christene] red hulle nie uit ’n vuur nie. Maar hulle word toegelaat om te brand waar hulle is, saam met die verwysings na God se Naam wat daarin staan.” Volgens hierdie selfde bron het rabbi José die Galileër, wat aan die begin van die tweede eeu HJ gelewe het, gesê dat ’n mens op ander dae van die week “die verwysings na God se Naam uitsny wat daarin [blykbaar die Christelike geskrifte] voorkom, dit wegbêre en die res verbrand”.

  •   Party Bybelgeleerdes erken dat God se naam heel waarskynlik in die Christelike Griekse Geskrifte voorgekom het in aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte. The Anchor Bible Dictionary sê die volgende onder die opskrif “Tetragrammaton in die Nuwe Testament”: “Daar is bewyse dat die Tetragrammaton, God se Naam, Jahweh, in party of in al die N[uwe] T[estament] se aanhalings uit die O[u] T[estament] verskyn het toe die dokumente van die NT aanvanklik geskryf is.” Die geleerde George Howard sê: “Aangesien die Tetragram nog steeds verskyn het in die kopieë van die Griekse Bybel [die Septuagint]  wat die Skrif van die vroeë kerk was, is dit redelik om te glo dat die skrywers van die N[uwe] T[estament] die Tetragram in die Bybelse teks behou het wanneer hulle uit die Skrif aangehaal het.”

  • Erkende Bybelvertalers het God se naam in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik. Party van hierdie vertalers het dit gedoen lank voordat die Nuwe Wêreld-vertaling uitgegee is. Hierdie vertalers en hulle werke sluit in: A Literal Translation of the New Testament . . . From the Text of the Vatican Manuscript, deur Herman Heinfetter (1863); The Emphatic Diaglott, deur Benjamin Wilson (1864); The Epistles of Paul in Modern English, deur George Barker Stevens (1898); St. Paul’s Epistle to the Romans, deur W.G. Rutherford (1900); The New Testament Letters, deur J.W.C. Wand, biskop van Londen (1946). Die vertaler Pablo Besson het ook “Jehová” in Lukas 2:15 en Judas 14 gebruik in sy Spaanse vertaling uit die vroeë 20ste eeu, en byna 100 voetnote in sy vertaling gee te kenne dat dit aanvaarbaar sou wees om God se naam op daardie plekke te gebruik. Lank voor hierdie vertalings het Hebreeuse weergawes van die Christelike Griekse Geskrifte vanaf die 16de eeu die Tetragrammaton in baie Skrifgedeeltes  gebruik. In Duits alleen gebruik ten minste 11 weergawes “Jehovah” (of die transliterasie van die Hebreeuse “Jahweh”) in die Christelike Griekse Geskrifte, terwyl vier vertalers die naam in hakies ná “Here” invoeg. Meer as 70 Duitse vertalings gebruik God se naam in voetnote of kommentare.

    God se naam in Handelinge 2:34 in The Emphatic Diaglott, deur Benjamin Wilson (1864)

  • Bybelvertalings in meer as 100 tale bevat God se naam in die Christelike Griekse Geskrifte. Baie vertalings in tale van Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Asië, Europa en die Pasifiese eilande gebruik God se naam vryelik. (Sien die lys op bladsy 1870 en 1871.) Die vertalers van hierdie uitgawes het besluit om God se naam te gebruik om redes soortgelyk aan dié wat vroeër genoem is. Party van hierdie vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte het onlangs verskyn, soos die Rotumaanse Bybel (1999), wat die naam “Jihova” 51 keer in 48 verse gebruik, en die Batak- (Toba-) weergawe (1989) van Indonesië, wat die naam “Jahowa” 110 keer gebruik.

    God se naam in Markus 12:29, 30 in ’n Hawaise vertaling

Daar is ongetwyfeld goeie redes om God se naam, Jehovah, in die Christelike Griekse Geskrifte te herstel. Dit is presies wat die New World Bible Translation Committee gedoen het. Hulle het ’n diepe respek vir God se naam en ’n gesonde vrees om enigiets te verwyder wat in die oorspronklike teks verskyn het. – Openbaring 22:18, 19.