Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 A1

Beginsels van Bybelvertaling

Die Bybel is oorspronklik in Ou Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf. Vandag is dit in sy geheel of gedeeltelik in meer as 3 000 tale beskikbaar. Die meeste mense wat die Bybel lees, verstaan nie die oorspronklike tale nie en moet dus ’n vertaling gebruik. Watter beginsels moet gevolg word wanneer die Bybel vertaal word? Hoe is hierdie beginsels toegepas in die Nuwe Wêreld-vertaling?

Party mense dink dat ’n letterlike, woord-vir-woord-vertaling, ’n soort interlineêre vertaling, die leser in staat sal stel om so na as moontlik te kom aan wat in die oorspronklike taal gesê is. Maar dit is nie altyd die geval nie. Hier volg ’n paar redes waarom dit nie so is nie:

  • Geen twee tale het presies dieselfde grammatika, woordeskat en sinskonstruksie nie. ’n Professor in Hebreeus, S.R. Driver, het geskryf dat tale “nie net verskil in grammatika en oorsprong nie, maar ook . . . in die manier waarop idees in ’n sin saamgestel word”. Elke taal het ’n heel ander denkpatroon. “Daarom”, sê professor Driver verder, “is die sinsbou in verskillende tale nie dieselfde nie.”

  • Geen moderne taal het presies dieselfde woordeskat en grammatika as Bybelse Hebreeus, Aramees en Grieks nie, en daarom sou ’n woord-vir-woord-vertaling van die Bybel onduidelik wees of soms selfs die verkeerde betekenis oordra.

  • Die betekenis van ’n woord of ’n uitdrukking kan verskil afhangende van die konteks waarin dit gebruik word.

In party gedeeltes is dit dalk vir ’n vertaler moontlik om die oorspronklike taal letterlik te vertaal, maar hy moet baie versigtig wees wanneer hy dit doen.

Hier is ’n paar voorbeelde van hoe ’n woord-vir-woord-vertaling verkeerd verstaan kan word:

  •   Die Bybel gebruik die woord “slaap” om te verwys na letterlike slaap sowel as die dood (Matteus 28:13; Handelinge 7:60, vtn.). Wanneer die konteks na die dood verwys, kan Bybelvertalers dit vertaal as “sterf”, wat die moderne leser help om verwarring te vermy. – 1 Korintiërs 7:39; 1 Tessalonisense 4:13; 2 Petrus 3:4.

  • Die apostel Paulus het in Efesiërs 4:14 ’n uitdrukking gebruik wat letterlik vertaal kan word met “die spel van dobbelstene van mense”. Hierdie ou idioom sinspeel op die gebruik om ander te kul wanneer daar met dobbelstene gespeel word. In die meeste tale maak ’n letterlike vertaling nie veel sin nie. Die betekenis van hierdie uitdrukking is duideliker wanneer dit as “mense wat bedrieg” vertaal word.

  • In Romeine 12:11 word ’n Griekse uitdrukking gebruik wat letterlik “kokend met die gees” beteken. In Afrikaans dra hierdie bewoording nie die regte betekenis oor nie, en daarom is dit in hierdie uitgawe as “gloei van die gees” vertaal.

  • MATTEUS 5:3

    Letterlik: dié wat “arm van gees is”

    Gedagte: dié wat “besef dat hulle God nodig het”

    Gedurende Jesus se bekende Bergpredikasie het hy ’n uitdrukking gebruik wat al vertaal is as: “Salig is die wat arm van gees is” (Matteus 5:3, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Maar in baie tale is ’n letterlike vertaling van hierdie uitdrukking onduidelik. In party gevalle kan ’n streng letterlike vertaling impliseer dat dié wat “arm van gees is” nie by hulle volle verstand is nie of ’n gebrek aan geesdrif en vasberadenheid het. Maar in hierdie geval het Jesus mense geleer dat hulle gelukkig sal wees, nie as hulle hulle fisiese behoeftes bevredig nie, maar as hulle besef dat hulle God se leiding nodig het (Lukas 6:20). Vertalings soos “dié wat besef dat hulle God nodig het” dra dus die betekenis van die oorspronklike uitdrukking akkurater oor. – Matteus 5:3.

  • In baie kontekste het die Hebreeuse woord wat as “jaloesie” vertaal word, dieselfde algemene betekenis as die Afrikaanse woord, naamlik om kwaad te wees oor die skynbare ontrouheid van iemand wat na aan jou is of om jaloers te wees op ander as gevolg van hulle besittings (Spreuke 6:34; Jesaja 11:13). Maar dieselfde Hebreeuse woord kan ook iets positiefs beteken. Byvoorbeeld, dit kan verwys na die “ywer”, of sterk gevoel van beskerming, wat Jehovah  vir sy knegte het, of dit kan beteken dat hy “uitsluitlike toegewydheid vereis” (Eksodus 34:14; 2 Konings 19:31; Esegiël 5:13; Sagaria 8:2). Dit kan ook verwys na die “ywer” wat God se getroue knegte vir hom en sy aanbidding het of na die feit dat hulle “geen ontrouheid aan [hom] geduld het nie”. – Psalm 69:9; 119:139; Numeri 25:11.

  • Die Hebreeuse woord jadh word gewoonlik vertaal as “hand”, maar afhangende van die konteks kan hierdie woord vertaal word as “beheer”, “vrygewigheid”, “mag”, ensovoorts

    Die Hebreeuse uitdrukking wat gewoonlik na die mensehand verwys, kan verskeie dinge beteken. Afhangende van die konteks kan hierdie woord vertaal word as “beheer”, “vrygewigheid” of “mag” (2 Samuel 8:3; 1 Konings 10:13; Spreuke 18:21). Om die waarheid te sê, in die Nuwe Wêreld-vertaling is hierdie woord op omtrent 40 verskillende maniere vertaal.

Dit is duidelik dat Bybelvertalers nie net ’n woord in die oorspronklike taal elke keer met dieselfde woord kan vertaal nie. ’n Vertaler moet goeie oordeel gebruik en woorde kies wat die beste pas by die idees in die oorspronklike taal. Dan moet die konstruksie van die vertaalde sinne ook volgens die grammatikareëls van die taal wees sodat die teks maklik lees.

Terselfdertyd moet uiterstes vermy word wanneer die teks vertaal word. ’n Vertaler wat die Bybel vryelik volgens sy interpretasie parafraseer, kan die betekenis van die teks verdraai. Hoe so? Die vertaler kan verkeerdelik sy eie opinie inbring van wat die oorspronklike teks beteken of belangrike besonderhede in die oorspronklike teks weglaat. Parafrases van die Bybel lees dalk maklik, maar omdat dit so vryelik vertaal is, kan dit keer dat die leser die ware boodskap uit die teks kry.

Die werk van vertalers kan maklik deur hulle geloofsoortuigings beïnvloed word. Matteus 7:13 sê byvoorbeeld: “Breed is die pad wat na vernietiging lei.” Party vertalers, wat dalk deur hulle geloofsoortuigings beïnvloed is, het die woord “hel” gebruik in plaas van wat die Griekse woord werklik beteken, naamlik “vernietiging”.

’n Bybelvertaler moet ook onthou dat die Bybel geskryf is in die gewone, alledaagse taal van mense soos boere, herders en vissermanne (Nehemia 8:8, 12; Handelinge 4:13). ’n Goeie vertaling van die Bybel maak die boodskap daarin dus verstaanbaar  vir opregte mense, ongeag hulle agtergrond. Dit is beter om duidelike, algemene, maklik verstaanbare uitdrukkings te gebruik eerder as woorde wat nie dikwels gebruik word nie.

Baie Bybelvertalers het onverskoonbaar opgetree deur die vryheid te neem om God se naam, Jehovah, uit moderne vertalings weg te laat, al is hierdie naam in ou Bybelmanuskripte. (Sien Aanhangsel A4.) Baie vertalings vervang die naam met ’n titel soos “Here”, en party probeer selfs die feit wegsteek dat God ’n naam het. Byvoorbeeld, in party vertalings sê Jesus se gebed in Johannes 17:26: “Ek het u aan hulle bekend gemaak”, en in Johannes 17:6: “Ek het u bekend gemaak aan dié wat u aan my gegee het.” Maar ’n betroubare vertaling van Jesus se gebed sê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak”, en: “Ek het u naam bekend gemaak aan die mense wat u aan my . . . gegee het.”

In die voorwoord van die oorspronklike New World Translation staan daar: “Ons bied nie ’n geparafraseerde vertaling van die Skrif nie. Ons het regdeur die vertaling probeer om so letterlik as moontlik te vertaal, waar die moderne Engelse idioom dit toelaat en waar ’n letterlike vertaling nie veroorsaak dat die gedagte weens ’n lomp vertaling onverstaanbaar is nie.” Die New World Bible Translation Committee het dus probeer om woorde en frases te gebruik wat identies is aan die oorspronklike teks, maar om terselfdertyd bewoording te vermy wat lomp is of die gedagte onverstaanbaar maak. Gevolglik is die Bybel maklik om te lees en kan die leser die volle vertroue hê dat die geïnspireerde boodskap daarin getrou oorgedra is. – 1 Tessalonisense 2:13.