Genesis 19:1-38

  • Lot deur engele besoek (1-11)

  • Lot en sy gesin aangespoor om te vlug (12-22)

  • Sodom en Gomorra vernietig (23-29)

    • Lot se vrou word soutpilaar (26)

  • Lot en sy dogters (30-38)

    • Oorsprong van Moab en Ammon (37, 38)

19  Die twee engele het teen die aand by Sodom aangekom, en Lot het in die poort van Sodom gesit. Toe Lot hulle sien, het hy opgestaan, na hulle toe gegaan en met sy gesig na die grond toe neergebuig.+  Hy het gesê: “Asseblief tog my here, kom asseblief saam na die huis van julle kneg en bly vanaand hier oor en laat julle voete gewas word. Dan kan julle vroeg opstaan en verder reis.” Toe het hulle gesê: “Nee, ons sal op die openbare plein oornag.”  Maar hy het so aangedring dat hulle saam met hom na sy huis toe gegaan het. Toe het hy ’n feesmaal vir hulle voorberei en ongesuurde brood gebak, en hulle het geëet.  Voordat hulle gaan slaap het, het ’n oproerige skare van die stad – al die mans van Sodom, jonk sowel as oud – die huis omsingel.  En hulle het vir Lot bly skree: “Waar is die manne wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe sodat ons met hulle seks kan hê.”+  Toe het Lot uitgegaan en die deur agter hom toegemaak.  Hy het gesê: “Asseblief, my broers, moenie goddeloos optree nie.  Asseblief tog, ek het twee dogters wat nog nooit seksuele omgang met ’n man gehad het nie. Laat ek hulle na julle toe uitbring, dan kan julle met hulle doen wat julle ook al wil. Maar moenie enigiets aan hierdie manne doen nie, want hulle is gaste in my huis* en onder my beskerming.”+  Toe het hulle gesê: “Staan terug!” En hulle het bygevoeg: “Hierdie uitlander het hier kom woon, en nou wil hy ons kom oordeel! Nou gaan ons erger dinge aan jou doen as aan hulle.” En hulle het op Lot toegesak en vorentoe beweeg om die deur af te breek. 10  Toe het die manne Lot gegryp en hom in die huis ingetrek, en hulle het die deur toegemaak. 11  Hulle het toe die manne by die ingang van die huis, van die kleinste tot die grootste, met blindheid getref. En die manne het hard probeer om die deur te vind, maar hulle kon nie. 12  Toe het die manne in die huis vir Lot gesê: “Het jy enigiemand anders hier? Bring jou skoonseuns, jou seuns, jou dogters en al jou mense wat in die stad is, uit hierdie plek uit! 13  Want ons gaan hierdie plek vernietig omdat die klagte teen hulle so groot geword het voor Jehovah+ dat Jehovah ons gestuur het om die stad te vernietig.” 14  Lot het dus uitgegaan en met sy skoonseuns begin praat, wat met sy dogters sou trou, en hy het bly sê: “Maak gou! Gaan uit hierdie plek uit, want Jehovah gaan die stad vernietig!” Maar sy skoonseuns het gedink dat hy ’n grap maak.+ 15  Teen dagbreek het die engele met dringendheid vir Lot gesê: “Maak gou! Neem jou vrou en jou twee dogters uit hierdie plek, anders gaan jy vernietig word wanneer die stad gestraf word vir sy sondes!”+ 16  Toe hy bly talm, het die manne sy hand en die hand van sy vrou en sy twee dogters gegryp, want Jehovah was genadig teenoor hom.+ Hulle het hom uitgebring en hom tot buite die stad gelei.+ 17  Net toe hulle hulle tot buite die stad gebring het, het een van hulle gesê: “Vlug vir julle lewe! Moenie agter julle kyk nie+ en moet nêrens in die distrik+ stilstaan nie! Vlug na die bergstreek sodat julle nie vernietig word nie!” 18  Toe het Lot vir hulle gesê: “Asseblief tog, Jehovah, nie soontoe nie! 19  Asseblief tog, u was genadig teenoor u kneg en u was baie goed vir my* deur my lewe* te red,+ maar ek kan nie na die bergstreek vlug nie, want ek is bang dat rampspoed my sal tref en dat ek sal sterf.+ 20  Asseblief, daar is ’n dorpie hier naby, en ek kan soontoe vlug. Dit is net ’n klein plekkie. Mag ek asseblief soontoe vlug? Dit is maar net ’n klein plekkie. Dan sal ek bly lewe.”* 21  Toe het hy vir hom gesê: “Goed dan, ek sal doen wat jy vra.+ Ek sal nie die dorpie waarvan jy praat, vernietig nie.+ 22  Maak gou! Vlug soontoe, want ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie!”+ Daarom het hy die dorpie Soar*+ genoem. 23  Die son het al opgekom toe Lot by Soar aangekom het. 24  Toe het Jehovah swael en vuur op Sodom en Gomorʹra laat reën – dit het van Jehovah, uit die hemel, gekom.+ 25  En hy het hierdie stede vernietig, ja, die hele distrik, sowel as al die inwoners van die stede en die plante van die grond.+ 26  Maar Lot se vrou, wat agter hom was, het begin terugkyk, en sy het ’n soutpilaar geword.+ 27  Abraham het vroeg die oggend opgestaan en na die plek gegaan waar hy voor Jehovah gestaan het.+ 28  Toe hy oor Sodom en Gomorʹra en die hele land van die distrik uitkyk, het hy iets skrikwekkends gesien. Daar was dik rook wat van die land opgestyg het, soos die dik rook van ’n droogoond!+ 29  Toe God die stede van die distrik vernietig het, het God dus aan Abraham gedink en Lot weggestuur uit die stede wat hy vernietig het, die stede waar Lot gewoon het.+ 30  Later het Lot saam met sy twee dogters uit Soar getrek en in die bergstreek gaan woon,+ want hy was bang om in Soar+ te woon. Daarom het hy saam met sy twee dogters in ’n grot gaan woon. 31  En die oudste het vir die jongste gesê: “Ons pa is oud, en daar is nie ’n man in die land sodat ons kan trou, soos ander mense nie. 32  Kom ons gee vir ons pa wyn om te drink en dan slaap ons by hom, sodat ons ons pa se nageslag kan laat voortleef.” 33  Daardie aand het hulle aanhoudend vir hulle pa wyn gegee om te drink. Toe het die eersgeborene ingegaan en by haar pa geslaap, maar hy het nie geweet wanneer sy gaan lê het en wanneer sy opgestaan het nie. 34  Die volgende dag het die oudste vir die jongste gesê: “Kyk, ek het gisteraand by ons pa geslaap. Kom ons gee vanaand ook vir hom wyn om te drink. Gaan jy in en dan slaap jy by hom, sodat ons ons pa se nageslag kan laat voortleef.” 35  Daardie aand het hulle dus aanhoudend vir hulle pa wyn gegee om te drink. Toe het die jonger dogter gegaan en by hom geslaap, maar hy het nie geweet wanneer sy gaan lê het en wanneer sy opgestaan het nie. 36  So het Lot se dogters albei by hulle pa swanger geword. 37  Die eersgeborene het aan ’n seun geboorte gegee en hom Moab+ genoem. Hy is die vader van die Moabiete van vandag.+ 38  Die jongste het ook aan ’n seun geboorte gegee, en sy het hom Ben-Ammi genoem. Hy is die vader van die Ammoniete+ van vandag.

Voetnote

Lett. “in die skadu van my dak”.
Of “het lojale liefde aan my betoon”.
Of “siel”.
Of “my siel voortleef”.
Beteken “kleinheid”.