Genesis 50:1-26

  • Josef begrawe Jakob in Kanaän (1-14)

  • Josef verseker sy broers van sy vergifnis (15-21)

  • Josef se laaste dae en sy dood (22-26)

    • Josef se bevel oor sy liggaam (25)

50  Josef het toe oor sy pa gebuk+ en gehuil en hom gesoen.  Daarna het Josef sy knegte, die geneeshere, beveel om sy pa te balsem.+ Toe het die geneeshere Israel gebalsem,  en hulle het die volle 40 dae vir hom gebruik, want dit is die volle periode vir die balseming, en die Egiptenare het 70 dae lank oor hom gehuil.  Toe die routyd vir hom verby was, het Josef met Farao se hof* gepraat en gesê: “Sal julle asseblief hierdie boodskap vir Farao gee:  ‘My pa het my laat sweer+ en gesê: “Kyk, ek gaan sterf.+ Jy moet my in my graf begrawe,+ wat ek in die land Kanaän uitgegrawe het.”+ Laat my nou asseblief gaan en my pa begrawe, en daarna sal ek terugkom.’”  Farao het geantwoord: “Gaan en begrawe jou pa net soos hy jou laat sweer het.”+  Toe het Josef gegaan om sy pa te begrawe, en al Farao se knegte het saam met hom gegaan, die ouermanne+ van sy hof en al die ouermanne van Egipte  en Josef se hele huishouding en sy broers en sy pa se huishouding.+ Hulle het net hulle kindertjies en hulle kleinvee en hulle beeste in die land Gosen agtergelaat.  Strydwaens+ en perderuiters het ook saam met hom gegaan, en die kamp was baie groot. 10  Toe het hulle by die dorsvloer van Atad gekom, wat in die Jordaanstreek is, en daar het hulle bitterlik getreur, en hy het sewe dae lank oor sy pa getreur. 11  Die inwoners van die land, die Kanaäniete, het hulle by die dorsvloer van Atad sien treur, en hulle het uitgeroep: “Die Egiptenare treur bitterlik!” Daarom is daardie plek, wat in die Jordaanstreek is, Abel-Misraʹim* genoem. 12  Sy seuns het toe vir hom gedoen presies soos hy hulle beveel het.+ 13  Sy seuns het hom na die land Kanaän geneem en hom begrawe in die grot van die veld van Magpeʹla, voor Mamre, die veld wat Abraham by Efron, die Hetiet, gekoop het sodat hy sy mense daar kon begrawe.+ 14  Nadat Josef sy pa begrawe het, het hy na Egipte teruggekeer saam met sy broers en almal wat saam met hom gegaan het om sy pa te begrawe. 15  Ná hulle pa se dood het Josef se broers gesê: “Miskien het Josef nog iets teen ons en sal hy ons terugbetaal vir al die slegte dinge wat ons aan hom gedoen het.”+ 16  Daarom het hulle die volgende boodskap aan Josef gestuur: “U pa het voor sy dood hierdie bevel gegee: 17  ‘Dit is wat julle vir Josef moet sê: “Ek smeek jou, vergewe asseblief die oortreding van jou broers en die sonde wat hulle gepleeg het deur jou hierdie onreg aan te doen.”’ Vergewe nou asseblief die oortreding van die knegte van die God van u pa.” En Josef het gehuil toe hulle met hom praat. 18  Toe het sy broers ook gekom en voor hom neergebuig en gesê: “Kyk, ons is soos slawe vir u!”+ 19  Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Is ek in die plek van God? 20  Julle wou my kwaad aandoen,+ maar God wou hê dat dit ’n goeie uiteinde moet hê en wou baie mense se lewens spaar, soos hy vandag doen.+ 21  Moet dan nou nie bang wees nie. Ek sal aanhou om kos aan julle en julle kindertjies te voorsien.”+ So het hy hulle vertroos en hulle gerusgestel. 22  En Josef het in Egipte gewoon, hy en die huishouding van sy pa, en Josef het 110 jaar lank gelewe. 23  Josef het die derde geslag van Eʹfraim se kinders gesien,+ sowel as die kinders van Magir,+ Manasʹse se seun. Hulle was vir Josef soos sy eie kinders.* 24  Uiteindelik het Josef vir sy broers gesê: “Ek gaan sterf, maar God sal vir seker aan julle dink,+ en hy sal julle beslis uit hierdie land uitbring na die land wat hy aan Abraham, aan Isak en aan Jakob met ’n eed belowe het.”+ 25  Josef het die seuns van Israel dus laat sweer en gesê: “God sal vir seker aan julle dink. Julle moet my liggaam* hiervandaan wegneem.”+ 26  En Josef het gesterf toe hy 110 jaar oud was, en hulle het hom laat balsem,+ en hy is in Egipte in ’n doodskis gesit.

Voetnote

Of “huishouding”.
Beteken “getreur van die Egiptenare”.
Lett. “Hulle is op Josef se knieë gebore”.
Lett. “beendere”.