Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 A3

Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is

Die Bron en Outeur van die Bybel is ook die Een wat gesorg het dat dit tot in ons tyd bewaar is. Hy het hierdie woorde laat opteken:

“Die woord van ons God bly vir ewig.”Jesaja 40:8.

Hierdie woorde is waar, al is geen oorspronklike Bybelmanuskrip van die Hebreeuse en Aramese Geskrifte * of van die Christelike Griekse Geskrifte tot in ons tyd bewaar nie. Hoe kan ons dus so seker wees dat die inhoud van die Bybel wat ons nou het, ’n betroubare weergawe is van die oorspronklike geïnspireerde geskrifte?

KOPIISTE BEWAAR GOD SE WOORD

Wanneer dit kom by die Hebreeuse Geskrifte, kan ’n deel van die antwoord gevind word in ’n ou tradisie wat ingestel is deur God, wat gesê het dat die teks oorgeskryf moet word. * Jehovah het byvoorbeeld die konings van Israel beveel om hulle eie kopieë van die geskrewe Wet te maak (Deuteronomium 17:18). God het ook die Leviete die verantwoordelikheid gegee om die Wet te bewaar en dit aan die volk te leer (Deuteronomium 31:26; Nehemia 8:7). Nadat die Jode na Babilon weggevoer is, het ’n klas kopiiste, die Soferim, ontstaan (Esra 7:6). Met verloop van tyd het daardie kopiiste verskeie kopieë van die 39 boeke van die Hebreeuse Geskrifte gemaak.

Deur die eeue heen is hierdie boeke noukeurig oorgeskryf. In die Middeleeue het ’n groep Joodse skrifgeleerdes wat as die Masorete bekend gestaan het, hierdie tradisie voortgesit. Die oudste  volledige Masoretiese manuskrip is die Leningrad-kodeks, uit 1008/1009 HJ. Maar in die middel van die 20ste eeu is sowat 220 Bybelmanuskripte of -fragmente tussen die Dooie See-rolle ontdek. Hierdie Bybelmanuskripte is meer as ’n duisend jaar ouer as die Leningrad-kodeks. ’n Vergelyking tussen die Dooie See-rolle en die Leningrad-kodeks bevestig ’n belangrike punt: Al is die bewoording in die Dooie See-rolle op party plekke anders, verander nie een van daardie verskille die boodskap self nie.

Wat van die 27 boeke van die Christelike Griekse Geskrifte? Daardie boeke is oorspronklik deur party van Jesus Christus se apostels en ’n paar ander vroeë dissipels geskryf. Vroeë Christene het die tradisie van die Joodse skrifgeleerdes gevolg en kopieë van daardie boeke gemaak (Kolossense 4:16). Al het die Romeinse keiser Diokletianus en ander persone alle vroeë Christelike literatuur probeer vernietig, is duisende ou fragmente en manuskripte tot in ons tyd bewaar.

Christelike geskrifte is ook in ander tale vertaal. Daar is vroeëre vertalings van die Bybel in ou tale soos Armeens, Etiopies, Georgies, Kopties, Latyn en Siries.

WATTER HEBREEUSE EN GRIEKSE TEKS IS GEBRUIK?

Nie alle kopieë van ou Bybelmanuskripte het presies dieselfde bewoording nie. Hoe kan ons dan weet wat in die oorspronklike teks gesê is?

Die situasie kan vergelyk word met dié van ’n onderwyser wat 100 studente vra om ’n hoofstuk van ’n boek oor te skryf. Al gaan die oorspronklike hoofstuk later verlore, kan ’n mens nog steeds vasstel wat die oorspronklike teks gesê het deur die 100 kopieë te vergelyk. Elke student sal dalk ’n paar foute maak, maar dit is feitlik onmoontlik dat al die studente presies dieselfde foute sal maak. Net so kan geleerdes wat die duisende beskikbare fragmente en kopieë van ou Bybelboeke vergelyk, sien watter foute kopiiste gemaak het en vasstel wat die oorspronklike bewoording was.

“Dit is veilig om te sê dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie”

Hoe seker kan ons wees dat die gedagtes in die oorspronklike Bybelteks akkuraat aan ons oorgedra is? Die geleerde William H. Green het die volgende oor die Hebreeuse Geskrifte gesê: “Dit is veilig om te sê dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.” En die Bybelgeleerde F.F. Bruce het die volgende oor die Christelike Griekse Geskrifte, of sogenaamde  Nuwe Testament, geskryf: “Daar is soveel meer bewyse vir ons geskrifte van die Nuwe Testament as vir baie geskrifte van klassieke skrywers, en niemand sal droom om die egtheid van hierdie klassieke werke te bevraagteken nie.” Hy het ook gesê: “As die Nuwe Testament ’n versameling van sekulêre geskrifte was, sou daar oor die algemeen geen twyfel oor die egtheid daarvan bestaan het nie.”

Hoofstuk 40 van die boek Jesaja in die Dooie See-rolle (tussen 125 en 100 VHJ)

Toe dit met Hebreeuse manuskripte van sowat ’n duisend jaar later vergelyk is, is net klein verskille gevind, meestal in die spelling van woorde

Hoofstuk 40 van die boek Jesaja in die Aleppo-kodeks, ’n belangrike Hebreeuse Masoretiese manuskrip uit ongeveer 930 HJ

Hebreeuse teks: Die New World Translation of the Hebrew Scriptures (1953-1960) was gebaseer op die Biblia Hebraica, deur Rudolf Kittel. Sedert daardie tyd het bygewerkte uitgawes van die Hebreeuse teks, naamlik die Biblia Hebraica Stuttgartensia en die Biblia Hebraica Quinta, onlangse navorsing ingesluit wat gebaseer is op die Dooie See-rolle en ander ou manuskripte. Hierdie werke van geleerdes bevat die Leningrad-kodeks in die hoofteks, saam met voetnote wat bewoording uit ander bronne insluit, soos die Samaritaanse Pentateug, die Dooie See-rolle, die Griekse Septuagint, die Aramese Targoems, die Latynse Vulgaat en die Siriese Pesjitta. Die Biblia Hebraica Stuttgartensia sowel as die Biblia Hebraica Quinta is geraadpleeg toe die huidige hersiening van die New World Translation voorberei is.

Griekse teks: Laat in die 19de eeu het die geleerdes B.F. Westcott en F.J.A. Hort bestaande Bybelmanuskripte en -fragmente vergelyk om ’n Griekse grondteks voor te berei wat na hulle mening die naaste aan die oorspronklike geskrifte is. In die middel van die 20ste eeu het die New World Bible Translation Committee daardie grondteks vir hulle vertaling gebruik. Ander vroeë papirusse wat moontlik uit die tweede en derde eeu HJ is, is ook gebruik. Sedert daardie tyd het nog papirusse beskikbaar geword. Dan is daar ook grondtekste soos dié van Nestle en Aland en die United Bible Societies, wat die resultate van onlangse studies weerspieël. Van hierdie navorsing is in hierdie uitgawe gebruik.

Uit daardie grondtekste is dit duidelik dat party verse van die Christelike Griekse Geskrifte wat in ouer vertalings gevind word, soos die King James Version, eintlik deur latere kopiiste bygevoeg is en nooit deel van die geïnspireerde Skrif was nie. Maar omdat die indeling van verse wat oor die algemeen in Bybelvertalings aanvaar word, reeds in die 16de eeu vasgestel is, het die weglating van hierdie verse gapings in die versnommers van die meeste Bybels geskep. Die verse is Matteus 17:21; 18:11; 23:14; Markus 7:16; 9:44, 46; 11:26; 15:28; Lukas 17:36; 23:17; Johannes 5:4; Handelinge 8:37; 15:34; 24:7; 28:29; en Romeine 16:24.  In hierdie uitgawe is daar ’n voetnoot by elkeen van die verse wat weggelaat is.

Verder is dit duidelik dat die lang slot van Markus 16 (vers 9-20), die kort slot van Markus 16 en die bewoording in Johannes 7:53–8:11 nooit in die oorspronklike manuskripte was nie. Daarom is daardie vervalste dele nie in hierdie uitgawe ingesluit nie. *

Op party plekke is die bewoording aangepas op grond van wat geleerdes oor die algemeen as die mees egte weergawe van die oorspronklike geskrifte beskou. Byvoorbeeld, volgens party manuskripte sê Matteus 7:13: “Gaan in deur die nou poort, want wyd is die poort en breed is die pad wat na vernietiging lei.” In die vorige uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling is die frase “is die poort” nie in die teks ingesluit nie. Maar nadat die manuskripte verder bestudeer is, is die gevolgtrekking gemaak dat die frase “is die poort” wel in die oorspronklike teks was. Daarom is dit in hierdie uitgawe ingesluit. Daar is ’n aantal soortgelyke verfynings. Hierdie aanpassings is egter klein, en nie een van hulle verander die basiese boodskap van God se Woord nie.

’n Papirusmanuskrip van 2 Korintiërs 4:13–5:4 uit ongeveer 200 HJ

^ par. 5 Van hier af word dit die Hebreeuse Geskrifte genoem.

^ par. 7 Een rede waarom die manuskripte oorgeskryf moes word, was omdat die oorspronklike teks op bederfbare materiale geskryf is.

^ par. 18 Die voetnote van die New World Translation of the Holy Scriptures—With References, wat in 1984 uitgegee is, bevat verdere besonderhede oor waarom hierdie verse as vervals beskou word.