Die handelinge van die apostels 15:1-41

  • Onenigheid in Antiogië oor besnydenis (1, 2)

  • Kwessie na Jerusalem geneem (3-5)

  • Apostels en ouermanne kom bymekaar (6-21)

  • Brief van die bestuursliggaam (22-29)

  • Gemeentes aangemoedig deur brief (30-35)

  • Paulus en Barnabas gaan uitmekaar (36-41)

15  Party manne het van Judeʹa af gekom en die broers begin leer: “As julle nie volgens die gebruik van Moses besny word nie,+ kan julle nie gered word nie.”  Maar Paulus en Barʹnabas was daarteen gekant, en dit het tot baie onenigheid en ’n groot bespreking gelei. Daarom is daar besluit dat Paulus en Barʹnabas en van die ander na die apostels en ouermanne in Jerusalem+ moet gaan in verband met hierdie saak.  Nadat die gemeente ’n ent saam met hulle gegaan het, het hierdie manne verder gegaan deur Feniʹsië sowel as Samariʹa en in besonderhede vertel hoe die mense van die nasies hulle bekeer het, wat tot groot vreugde onder al die broers gelei het.  Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle vriendelik ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouermanne, en hulle het vertel van al die dinge wat God deur middel van hulle gedoen het.  Maar party lede van die sekte van die Fariseërs wat gelowiges geword het, het opgestaan en gesê: “Hulle moet besny word en beveel word om die Wet van Moses te gehoorsaam.”+  Toe het die apostels en die ouermanne bymekaargekom om die saak te ondersoek.  Ná ’n lang, intense bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Manne, broers, julle weet goed dat God my lank gelede onder julle uitgekies het sodat mense van die nasies die woord van die goeie nuus uit my mond sou hoor en glo.+  En God, wat die hart ken,+ het bewys dat hy hulle aanvaar deur die heilige gees aan hulle te gee,+ net soos hy dit ook aan ons gegee het.  En hy het glad nie enige onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie,+ maar hy het hulle harte deur geloof gereinig.+ 10  Hoekom toets julle God dan nou deur ’n juk op die nek van die dissipels te sit+ wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie?+ 11  Nee, ons glo dat ons op dieselfde manier as hulle deur die onverdiende goedheid van die Here Jesus gered word.”+ 12  Toe het die hele groep stil geword, en hulle het begin luister hoe Barʹnabas en Paulus vertel van al die tekens en wonderwerke wat God deur middel van hulle onder die nasies gedoen het. 13  Nadat hulle klaar gepraat het, het Jakobus gesê: “Manne, broers, luister na my. 14  Siʹmeon+ het verduidelik hoe God vir die eerste keer aan die nasies gedink het sodat hy uit hulle ’n volk vir sy naam kan neem.+ 15  En die woorde van die profete stem hiermee ooreen, net soos daar geskryf is: 16  ‘Ná hierdie dinge sal ek terugkeer en die tent* van Dawid, wat ineengestort het, weer oprig, en ek sal dit* herbou en herstel, 17  sodat die oorblywende mense Jehovah* opreg kan dien* saam met mense van al die nasies, mense wat my naam dra. So sê Jehovah,* wat hierdie dinge doen+ 18  en wat dit lank gelede bekend gemaak het.’+ 19  Daarom dink* ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die mense uit die nasies wat God wil dien nie,+ 20  maar dat ons aan hulle moet skryf om hulle te weerhou van dinge wat deur afgode besoedel is,+ van seksuele onsedelikheid,*+ van wat verwurg is* en van bloed.+ 21  Want van die ou tyd af was daar in elke stad mense wat Moses verkondig het, omdat hy elke sabbat in die sinagoges voorgelees word.”+ 22  Toe het die apostels en die ouermanne saam met die hele gemeente besluit om manne onder hulle uit te kies en hulle saam met Paulus en Barʹnabas na Antioʹgië te stuur. Hulle het Judas gestuur, wat Barʹsabbas genoem is, sowel as Silas,+ manne wat die leiding onder die broers geneem het. 23  Hulle het die volgende brief geskryf en dit saam met hulle gestuur: “Die apostels en die ouermanne, julle broers, aan die broers in Antioʹgië+ en Sirië en Siliʹsië wat uit die nasies is: Groete! 24  Ons het gehoor dat party onder ons julle besoek het en vir julle moeilikheid veroorsaak het deur wat hulle gesê het.+ Hulle het julle* probeer verwar, maar ons het nie vir hulle gesê om dit te doen nie. 25  Ons het dus saam besluit om manne te kies om na julle toe te stuur saam met ons geliefde Barʹnabas en Paulus, 26  manne wat hulle lewens* vir die naam van ons Here Jesus Christus gewaag het.+ 27  Daarom stuur ons Judas en Silas, sodat hulle ook dieselfde dinge vir julle kan sê.+ 28  Want die heilige gees+ en ons het besluit om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: 29  Weerhou julle van dinge wat aan afgode geoffer is,+ van bloed,+ van wat verwurg is*+ en van seksuele onsedelikheid.*+ As julle sorg dat julle wegbly van hierdie dinge, sal julle voorspoedig wees. Mag dit goed gaan met julle!”* 30  Nadat hierdie manne vertrek het, het hulle na Antioʹgië gegaan, waar hulle die hele groep bymekaargeroep het en die brief vir hulle gegee het. 31  Nadat hulle dit gelees het, was hulle bly oor die aanmoediging. 32  En omdat Judas en Silas ook profete was, het hulle die broers met baie toesprake aangemoedig en versterk.+ 33  Nadat hulle ’n ruk lank daar gebly het, het die broers hulle voorspoed toegewens toe hulle terugreis na dié wat hulle gestuur het. 34  *—— 35  Maar Paulus en Barʹnabas het in Antioʹgië gebly, waar hulle saam met baie ander die goeie nuus van die woord van Jehovah* aan ander geleer en bekend gemaak het. 36  En ná ’n hele paar dae het Paulus vir Barʹnabas gesê: “Kom ons gaan besoek nou die broers in elke stad waar ons die woord van Jehovah* verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan.”+ 37  Barʹnabas was vasbeslote om Johannes, wat Markus+ genoem is, saam te vat. 38  Maar Paulus het nie gedink dat dit ’n goeie idee is om hom saam te vat nie, omdat hy hulle in Pamfiʹlië verlaat het en nie saam met hulle gegaan het om die werk te doen nie.+ 39  Toe het hulle vir mekaar kwaad geword en begin stry, en hulle het uitmekaargegaan. Barʹnabas+ het Markus saamgevat en na Siprus weggeseil. 40  Paulus het Silas gekies, en hulle het vertrek nadat die broers gebid het dat Jehovah* onverdiende goedheid aan Paulus betoon.+ 41  Hy het deur Sirië en Siliʹsië gegaan en die gemeentes versterk.

Voetnote

Of “skuiling; huis”.
Lett. “die ruïnes daarvan”.
Of “ernstig kan soek”.
Of “oordeel”.
Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.
Of “wat doodgemaak is sonder om gebloei te word”.
Of “julle siele”.
Of “siele”.
Of “wat doodgemaak is sonder om gebloei te word”.
Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.
Of “Vaarwel; Mag julle goeie gesondheid geniet”.