Die handelinge van die apostels 20:1-38

  • Paulus in Masedonië en Griekeland (1-6)

  • Eutigus opgewek in Troas (7-12)

  • Van Troas na Milete (13-16)

  • Paulus vergader met ouermanne in Efese (17-38)

    • Onderrigting van huis tot huis (20)

    • “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee” (35)

20  Toe die opskudding bedaar het, het Paulus die dissipels laat roep, en nadat hy hulle aangemoedig het, het hy hulle gegroet en na Masedoʹnië vertrek.  Nadat hy deur daardie gebiede gegaan het en baie aanmoediging gegee het aan dié wat daar was, het hy in Griekeland aangekom.  Hy het drie maande daar gebly, maar toe hy op die punt was om na Sirië weg te seil, het hy uitgevind dat die Jode beplan om hom dood te maak.+ Daarom het hy besluit om deur Masedoʹnië terug te gaan.  ’n Aantal mans het saam met hom gegaan: Soʹpater, die seun van Pirrus van Bereʹa, Aristarʹgus+ en Sekunʹdus van die Tessalonisense, Gajus van Derbe, Timoʹteus,+ asook Tiʹgikus+ en Troʹfimus+ uit die provinsie Asië.  Hierdie mans het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag,  maar ons het ná die dae van die Ongesuurde Brode+ uit Filipʹpi vertrek, en ons het binne vyf dae by hulle in Troas gekom, en ons het sewe dae daar gebly.  Op die eerste dag van die week, toe ons bymekaar was om te eet, het Paulus ’n toespraak vir hulle begin hou omdat hy die volgende dag sou vertrek, en sy toespraak het tot middernag aangehou.  En daar was ’n hele paar lampe in die bo-kamer waar ons bymekaar was.  ’n Jong man met die naam Euʹtigus het by die venster gesit en het vas aan die slaap geraak terwyl Paulus gepraat het. Hy het van die derde verdieping afgeval, en toe hulle hom gaan optel, was hy dood. 10  Maar Paulus het ondertoe gegaan, op hom gaan lê, sy arms om hom gesit+ en gesê: “Hou op om so te huil, want hy lewe.”*+ 11  Toe het hy boontoe gegaan en die brood gebreek* en geëet. Hy het nog ’n hele ruk gepraat, tot dagbreek toe, en toe het hy vertrek. 12  Hulle het toe die seun lewend weggeneem en was grootliks vertroos. 13  Ons het toe na die skip toe gegaan en na Assus weggeseil. Ons het beplan om Paulus daar op te laai soos hy met ons afgespreek het, want hy was van plan om daarheen te stap. 14  En toe hy ons in Assus kry, het ons hom opgelaai en na Mitileʹne gegaan. 15  En ons het die volgende dag daar weggeseil en by Chios aangekom, maar die dag daarna het ons Samos bereik en nog ’n dag later by Mileʹte aangekom. 16  Paulus het besluit om verby Efeʹse+ te seil omdat hy nie tyd in die provinsie Asië wou deurbring nie, want hy wou gou maak sodat hy, indien moontlik, op die dag van die Pinksterfees in Jerusalem+ kon wees. 17  Maar hy het ’n boodskap van Mileʹte af na Efeʹse gestuur en die ouermanne van die gemeente laat roep. 18  Toe hulle by hom kom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet goed hoe ek myself onder julle gedra het van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië+ gekom het, 19  hoe ek die Here as ’n slaaf gedien het met alle nederigheid+ en met trane en hoe ek gely het as gevolg van die Jode se planne om my dood te maak, 20  terwyl ek nie gehuiwer het om julle alles te vertel wat voordelig is en julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie.+ 21  Maar ek het deeglik vir die Jode en die Grieke getuig oor berou+ teenoor God en geloof in ons Here Jesus.+ 22  En nou word ek deur die heilige gees na Jerusalem gelei, al weet ek nie wat daar met my sal gebeur nie. 23  Ek weet net dat die heilige gees my van stad tot stad herhaaldelik waarsku dat gevangenskap en vervolging op my wag.+ 24  Tog is my eie lewe* nie vir my belangrik nie,* solank ek net my loopbaan en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi,+ naamlik om deeglik van die goeie nuus van God se onverdiende goedheid te getuig. 25  “En nou weet ek dat nie een van julle aan wie ek die Koninkryk verkondig het, my ooit weer sal sien nie. 26  Ek roep julle vandag as getuies dat ek rein is van die bloed van alle mense,+ 27  want ek het nie gehuiwer om julle van God se hele voorneme* te vertel nie.+ 28  Skenk aandag aan julleself+ en aan die hele kudde, waaroor die heilige gees julle as opsieners aangestel het,+ om herders te wees vir die gemeente van God,+ wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het.+ 29  Ek weet dat wrede wolwe onder julle sal inkom+ nadat ek weggegaan het en die kudde sal mishandel, 30  en onder julle sal manne opstaan wat die waarheid sal verdraai om die dissipels agter hulle aan weg te trek.+ 31  “Bly dus wakker, en hou in gedagte dat ek drie jaar lank,+ dag en nag, nooit opgehou het om elkeen van julle met trane raad te gee nie. 32  En nou laat ek julle oor aan die sorg van God en aan die woord van sy onverdiende goedheid, die woord wat julle kan opbou en julle die erfenis onder al die heiliges kan gee.+ 33  Ek het geen mens se silwer of goud of klere begeer nie.+ 34  Julle weet self dat hierdie hande in my behoeftes+ en in die behoeftes van dié wat saam met my was, voorsien het. 35  Ek het in alles vir julle gewys dat julle deur hard te werk+ die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, toe hy self gesê het: ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee+ as om te ontvang.’” 36  En toe hy hierdie dinge gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. 37  Toe het hulle almal baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen,* 38  want hulle was baie hartseer omdat hy vir hulle gesê het dat hulle hom nie meer sou sien nie.+ Toe het hulle saam met hom tot by die skip geloop.

Voetnote

Of “want sy siel is in hom”.
Of “die maaltyd begin”.
Of “siel”.
Of “vir my van geen waarde nie”.
Of “al die raad van God”.
Of “teer gesoen”.