Die handelinge van die apostels 17:1-34

  • Paulus en Silas in Tessalonika (1-9)

  • Paulus en Silas in Berea (10-15)

  • Paulus in Atene (16-22a)

  • Paulus se toespraak by die Areopagus (22b-34)

17  Hulle het toe deur Amfiʹpolis en Apolloʹnië gereis en by Tessaloʹnika gekom,+ waar daar ’n sinagoge van die Jode was.  Toe het Paulus soos gewoonlik+ na hulle toe ingegaan, en hy het drie sabbatte lank uit die Skrif met hulle geredeneer+  en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly+ en uit die dood moes opstaan.+ Hy het gesê: “Hierdie Jesus oor wie ek vir julle preek, is die Christus.”  As gevolg hiervan het party van hulle gelowiges geword en by Paulus en Silas+ aangesluit, asook ’n groot aantal Grieke wat God aanbid het en baie van die belangrike vrouens.  Maar die Jode het jaloers geword+ en het ’n klomp slegte manne bymekaargemaak wat op die markplein rondgehang het. Hulle het ’n groot groep gevorm en ’n oproer in die stad veroorsaak. Hulle het die huis van Jason aangeval omdat hulle wou hê dat Paulus en Silas na die groep toe uitgebring moes word.  Toe hulle hulle nie kon vind nie, het hulle Jason en party broers na die stadsleiers toe gesleep en uitgeroep: “Hierdie mense wat oral op die aarde moeilikheid gemaak het, is nou ook hier,+  en Jason het hulle as sy gaste ontvang. Al hierdie mense kom in opstand teen die bevele van die keiser deur te sê dat daar ’n ander koning is, Jesus.”+  Toe die skare en die stadsleiers hierdie dinge hoor, was hulle ontsteld,  en nadat Jason en die ander die borggeld betaal het, is hulle vrygelaat. 10  Die broers het Paulus en Silas onmiddellik in die nag na Bereʹa gestuur. Toe hulle daar aankom, het hulle in die sinagoge van die Jode ingegaan. 11  En die Jode in Bereʹa was gewilliger om te leer* as dié in Tessaloʹnika, want hulle het die woord gretig aanvaar en die Skrif elke dag deeglik ondersoek om te sien of hierdie dinge so was. 12  Baie van hulle het dus gelowiges geword, sowel as ’n groot aantal van die gerespekteerde Griekse vrouens en ook party van die mans. 13  Maar toe die Jode van Tessaloʹnika uitvind dat Paulus die woord van God ook in Bereʹa verkondig, het hulle daarheen gegaan om die mense teen hulle op te steek.+ 14  Toe het die broers Paulus onmiddellik weggestuur om na die see toe te gaan,+ maar Silas en Timoʹteus het daar agtergebly. 15  Dié wat saam met Paulus gegaan het, het hom egter tot by Atene geneem. Hulle het vertrek nadat hulle ’n opdrag gekry het dat Silas en Timoʹteus+ so gou moontlik na Paulus toe moet kom. 16  Terwyl Paulus in Atene vir hulle gewag het, het hy* geïrriteerd geraak toe hy sien dat die stad vol afgode is. 17  Toe het hy in die sinagoge begin redeneer met die Jode en die ander mense wat God aanbid het. Hy het ook elke dag geredeneer met dié wat op die markplein was. 18  Maar party van die Epikuʹriese en Stoïsynʹse filosowe het met hom begin stry, en party het gevra: “Wat wil hierdie man wat so baie praat nou eintlik sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy ’n verkondiger van vreemde gode is.” Dit was omdat hy die goeie nuus van Jesus en die opstanding bekend gemaak het.+ 19  Toe het hulle hom gegryp en hom na die Areoʹpagus gelei en gesê: “Kan jy vir ons sê wat hierdie nuwe leringe is waarvan jy praat? 20  Want jy praat van dinge wat vreemd klink in ons ore en ons wil weet wat hierdie dinge beteken.” 21  Om die waarheid te sê, al die Ateners en die uitlanders wat daar gebly het, het niks anders in hulle vrye tyd gedoen as om iets nuuts te vertel of na iets nuuts te luister nie. 22  Paulus het toe in die middel van die Areoʹpagus+ gestaan en gesê: “Manne van Atene, dit lyk asof julle in alles meer vrees vir die gode het as wat ander het.*+ 23  Terwyl ek byvoorbeeld rondgegaan en julle heilige voorwerpe goed bekyk het, het ek selfs ’n altaar gevind waarop gegraveer is: ‘Aan ’n Onbekende God.’ Die een wat julle dan aanbid sonder dat julle dit besef, dit is hy wat ek aan julle verkondig. 24  Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, die Here van hemel en aarde,+ woon nie in handgemaakte tempels nie,+ 25  en hy word ook nie deur mensehande bedien asof hy enigiets nodig het nie,+ omdat hy self aan alle mense lewe en asem+ en alles gee. 26  En hy het uit een mens+ elke nasie van die mensdom gemaak om op die hele aarde te woon,+ en hy het die vasgestelde tye bepaal en die grense gestel van waar mense sou woon.+ 27  Want God wil hê dat mense hom moet soek, dat hulle hom ernstig moet soek* en hom werklik vind,+ want hy is eintlik nie ver van elkeen van ons af nie. 28  Want deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons, net soos party van julle digters gesê het: ‘Want ons is ook sy kinders.’* 29  “Omdat ons dan die kinders* van God is,+ moet ons nie dink dat die Goddelike Wese soos goud of silwer of klip is nie, soos ’n beeld wat deur die vaardigheid en ontwerp van die mens gemaak word nie.+ 30  Dit is waar dat mense daardie dinge gedoen het sonder dat hulle geweet het wat hulle doen,+ en God het dit oorgesien, maar nou sê God vir alle mense dat hulle berou moet toon. 31  Want hy het ’n dag vasgestel waarop hy die hele aarde in regverdigheid sal oordeel+ deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg gegee deur hom uit die dood op te wek.”+ 32  En toe hulle hoor van ’n opstanding uit die dood, het party hom begin spot+ terwyl ander gesê het: “Ons sal weer wil hoor wat jy hieroor te sê het.” 33  Toe het Paulus hulle verlaat, 34  maar party ander het by hom aangesluit en gelowiges geword. Onder hulle was Dioniʹsius, wat ’n regter van die geregshof van die Areoʹpagus was, en ’n vrou met die naam Daʹmaris en nog ander saam met hulle.

Voetnote

Of “was edelmoediger”.
Lett. “sy gees”.
Of “godsdienstiger is as ander”.
Lett. “dat hulle na hom sou rondtas”.
Of “nakomelinge”.
Of “nakomelinge”.