Die handelinge van die apostels 22:1-30

  • Paulus se verdediging voor die skare (1-21)

  • Paulus gebruik sy Romeinse burgerskap (22-29)

  • Sanhedrin kom bymekaar (30)

22  “Manne, broers en vaders, luister nou na my verdediging.”+  Wel, toe hulle hoor dat hy in Hebreeus met hulle praat, was hulle nog stiller, en hy het gesê:  “Ek is ’n Jood,+ gebore in Tarsus van Siliʹsië,+ maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamaʹliël.+ Ek is onderrig volgens die strengheid van die Wet wat ons voorvaders gevolg het,+ en ek is ywerig vir God net soos julle almal vandag is.+  Ek het hierdie Weg tot die dood toe vervolg en mans sowel as vrouens geboei en aan tronke oorgelewer,+  soos die hoëpriester en die hele vergadering van ouermanne kan getuig. Ek het ook briewe by hulle gekry om na die broers in Damaskus te neem, en ek was op pad om dié wat daar was, te boei en na Jerusalem te bring om gestraf te word.  “Maar terwyl ek gereis het en naby Damaskus gekom het, omtrent in die middel van die dag, het daar skielik ’n groot lig uit die hemel op my geskyn,+  en ek het op die grond geval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, hoekom vervolg jy my?’  Ek het geantwoord: ‘Wie is u, Here?’ En hy het vir my gesê: ‘Ek is Jesus die Nasarener, wat jy vervolg.’  Die manne wat saam met my was, het die lig gesien, maar hulle het nie die stem gehoor van die een wat met my gepraat het nie. 10  Toe het ek gevra: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here het vir my gesê: ‘Staan op, gaan in Damaskus in, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.’+ 11  Maar omdat daardie lig so skerp was, kon ek niks sien nie, en dié wat saam met my was, het my aan die hand tot in Damaskus gelei. 12  “Ananiʹas, ’n godvresende man wat volgens die Wet gelewe het en oor wie al die Jode wat daar gebly het, goeie dinge gesê het, 13  het toe na my toe gekom. Hy het by my gestaan en vir my gesê: ‘Saul, broer, sien weer!’ En op daardie oomblik het ek opgekyk en hom gesien.+ 14  Hy het gesê: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te leer ken en die Regverdige te sien+ en sy stem te hoor, 15  want jy moet by alle mense vir hom ’n getuie wees van die dinge wat jy gesien en gehoor het.+ 16  Waarvoor wag jy nou? Staan op, laat jou doop en was jou sondes af+ deur sy naam aan te roep.’+ 17  “Maar toe ek teruggegaan het na Jerusalem+ en besig was om in die tempel te bid, het ek ’n visioen gehad 18  en die Here gesien. Hy het vir my gesê: ‘Maak gou en gaan vinnig uit Jerusalem uit, want hulle sal nie jou getuienis oor my aanvaar nie.’+ 19  Ek het gesê: ‘Here, hulle weet goed dat ek dié wat in u glo, in die tronk gegooi het en in die een sinagoge ná die ander geslaan het.+ 20  En toe hulle Stefaʹnus, u getuie, doodgemaak het, het ek daar gestaan en dit goedgekeur, en ek het die bo-klere opgepas van dié wat hom doodgemaak het.’+ 21  Tog het hy vir my gesê: ‘Gaan, want ek sal jou na nasies stuur wat ver van hier af is.’”+ 22  Die volk het tot op daardie oomblik na hom geluister. Toe het hulle begin uitroep: “So ’n mens moet doodgemaak word, want hy verdien nie om te lewe nie!” 23  Omdat hulle uitgeroep en hulle bo-klere rondgegooi en stof in die lug gegooi het,+ 24  het die militêre bevelvoerder beveel dat Paulus in die soldate se kwartiere ingebring moet word. Hy het gesê dat hulle hom met ’n gésel* moet slaan terwyl hy ondervra word, sodat hy kon uitvind presies hoekom hulle so teen Paulus skree. 25  Maar toe hulle hom uitstrek om hom te slaan, het Paulus vir die militêre offisier wat daar gestaan het, gesê: “Het julle die reg om ’n Romein* wat nog nie verhoor is nie,* met ’n gésel* te slaan?”+ 26  Wel, toe die militêre offisier dit hoor, het hy na die militêre bevelvoerder toe gegaan. Hy het hom hiervan vertel en vir hom gesê: “Wat is u van plan om te doen? Hierdie man is dan ’n Romein.” 27  Toe het die militêre bevelvoerder nader gekom en vir hom gevra: “Sê vir my, is jy ’n Romein?” Hy het gesê: “Ja.” 28  Die militêre bevelvoerder het toe gesê: “Ek het hierdie burgerskap vir ’n groot bedrag geld gekoop.” Paulus het gesê: “Maar ek is as ’n Romein gebore.”+ 29  Daarom het die manne wat op die punt gestaan het om hom te martel en hom te ondervra, hom onmiddellik uitgelos, en die militêre bevelvoerder het bang geword toe hy besef dat hy ’n Romein is en dat hy hom laat boei het.+ 30  Omdat hy met sekerheid wou weet waarvan die Jode Paulus beskuldig, het hy hom die volgende dag vrygelaat en die hoofpriesters en die hele Sanheʹdrin beveel om bymekaar te kom. Toe het hy Paulus afgebring en hom tussen hulle laat staan.+

Voetnote

Of “Romeinse burger”.
Of “wat onveroordeeld is”.