Die brief van Jakobus 5:1-20

  • Waarskuwing aan rykes (1-6)

  • God seën geduldige volharding (7-11)

  • Laat julle “ja” ja beteken (12)

  • Gebed van geloof doeltreffend (13-18)

  • Hulp aan ’n sondaar om terug te keer (19, 20)

5  Luister nou, julle rykes, huil en treur oor die swaarkry wat oor julle kom.+  Julle rykdom het verrot, en julle klere is deur motte gevreet.+  Julle goud en silwer het weggeroes, en hulle roes sal as ’n getuienis teen julle wees en sal julle* verteer. Wat julle opgegaar het, sal in die laaste dae soos ’n vuur wees.+  Kyk! Die betaling wat julle teruggehou het van die werkers wat julle landerye geoes het, hou aan om uit te roep. Die hulpgeroep van dié wat oes, het die ore van Jehovah* van die leërmagte bereik.+  Julle het in weelde op die aarde gelewe en julle begeertes bevredig. Julle het julle harte vet gevoer vir die dag waarop julle geslag sal word.+  Julle het die regverdige veroordeel, julle het hom vermoor. Staan hy julle nie teë nie?  Wees dan geduldig, broers, tot die teenwoordigheid van die Here.+ Kyk! Die boer wag vir die kosbare vrug van die aarde en is geduldig totdat die vroeë reën en die laat reën kom.+  Julle moet ook geduldig wees.+ Maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here is naby.+  Moenie oor mekaar kla* nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie.+ Kyk! Die Regter staan voor die deur. 10  Broers, neem die profete, wat in die naam van Jehovah* gepraat het,+ as ’n voorbeeld. Hulle het baie gely+ en het geduldig volhard.+ 11  Kyk! Ons noem dié wat volhard het, gelukkig.*+ Julle het gehoor van die volharding van Job+ en het gesien hoe Jehovah* dit laat afloop het,+ dat Jehovah* baie liefdevol* en genadig is.+ 12  Bo alles, my broers, hou op om te sweer, ja, of dit nou by die hemel of by die aarde of enige ander eed is. Maar laat julle “ja” ja beteken en julle “nee”, nee,+ sodat julle nie geoordeel word nie. 13  Kry iemand onder julle swaar? Laat hom aanhou bid.+ Is iemand vrolik? Laat hom psalms sing.+ 14  Is iemand onder julle siek? Laat hom die ouermanne van die gemeente na hom toe roep,+ en laat hulle oor hom bid en in die naam van Jehovah* olie aan hom smeer.+ 15  Die gebed van geloof sal die een wat siek* is, gesond maak, en Jehovah* sal hom laat opstaan. En as hy sondes gepleeg het, sal hy vergewe word. 16  Bely dus julle sondes openlik aan mekaar+ en bid vir mekaar, sodat julle genees kan word. Die smeekgebede van ’n regverdige man het ’n kragtige uitwerking.+ 17  Eliʹa was ’n mens met gevoelens soos ons s’n, maar nadat hy opreg gebid het dat dit nie moet reën nie, het dit drie jaar en ses maande lank nie in die land gereën nie.+ 18  Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die land het vrug voortgebring.+ 19  My broers, as iemand onder julle mislei word om die waarheid te verlaat en ’n ander een help hom om terug te kom, 20  weet dan dat die een wat ’n sondaar van sy verkeerde weg laat terugdraai,+ hom* van die dood sal red en baie sondes sal bedek.+

Voetnote

Lett. “julle vlees”.
Lett. “teen mekaar sug”.
Of “geseënd”.
Of “baie teer in geneentheid”.
Of moontlik “moeg”.
Of “sy siel”.