Volgens Johannes 20:1-31
20 Op die eerste dag van die week het Maria Magdaleʹna vroeg na die graf toe gekom,+ terwyl dit nog donker was, en sy het gesien dat die klip reeds voor die graf weggerol is.+
2 Toe het sy gehardloop en vir Simon Petrus en die ander dissipel, vir wie Jesus lief was,+ gaan sê: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem,+ en ons weet nie waar hulle hom neergelê het nie.”
3 Toe het Petrus en die ander dissipel na die graf toe gegaan.
4 Die twee van hulle het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom.
5 Hy het vooroor gebuk en die linnedoeke daar sien lê,+ maar hy het nie ingegaan nie.
6 Toe het Simon Petrus ook agterna gekom en in die graf ingegaan, en hy het die linnedoeke daar sien lê.
7 Die doek wat op Jesus se kop was, het nie by die ander doeke gelê nie, maar was opgerol en het eenkant gelê.
8 Toe het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het gesien en geglo.
9 Want hulle het nog nie die Skrifgedeelte verstaan wat sê dat hy uit die dood moet opstaan nie.+
10 Toe het die dissipels teruggegaan huis toe.
11 Maria het egter buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy gehuil het, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk,
12 en sy het twee engele+ in wit sien sit waar Jesus se liggaam gelê het, een by die kop en een by die voete.
13 Hulle het vir haar gevra: “Vrou, hoekom huil jy?” Sy het vir hulle gesê: “Hulle het my Here weggeneem, en ek weet nie waar hulle hom neergelê het nie.”
14 Nadat sy omgedraai het, het sy Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus is nie.+
15 Jesus het vir haar gevra: “Vrou, hoekom huil jy? Na wie soek jy?” Sy het gedink dat dit die tuinier is en het vir hom gesê: “Meneer, as u hom weggedra het, sê vir my waar u hom neergelê het, en ek sal hom wegneem.”
16 Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Toe sy omdraai, het sy in Hebreeus vir hom gesê: “Rabboeʹni!” (wat “leermeester” beteken).
17 Jesus het vir haar gesê: “Hou op om aan my vas te klou, want ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe+ en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader+ en julle Vader en na my God+ en julle God.’”
18 Maria Magdaleʹna het gekom en die nuus vir die dissipels gebring: “Ek het die Here gesien!” En sy het vir hulle vertel wat hy vir haar gesê het.+
19 Dit was laat op daardie dag, die eerste dag van die week, en die deure waar die dissipels was, was gesluit omdat hulle bang was vir die Jode. Toe het Jesus gekom en tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Mag julle vrede hê.”+
20 Nadat hy dit gesê het, het hy vir hulle sy hande sowel as sy sy gewys.+ Toe was die dissipels bly dat hulle die Here gesien het.+
21 Jesus het weer vir hulle gesê: “Mag julle vrede hê.+ Net soos die Vader my gestuur het,+ stuur ek julle ook.”+
22 Nadat hy dit gesê het, het hy op hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang heilige gees.+
23 As julle enigiemand se sondes vergewe, is dit vergewe. As julle nie hulle sondes vergewe nie, is dit nie vergewe nie.”
24 Maar Tomas,+ een van die Twaalf, wat die Tweeling genoem is, was nie by hulle toe Jesus gekom het nie.
25 Toe het die ander dissipels vir hom gesê: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “Tensy ek die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merk van die spykers steek en my hand in sy sy steek,+ sal ek dit nooit glo nie.”
26 Wel, agt dae later was sy dissipels weer in die huis, en Tomas was by hulle. Al was die deure gesluit, het Jesus gekom en tussen hulle gestaan en gesê: “Mag julle vrede hê.”+
27 Toe het hy vir Tomas gesê: “Sit jou vinger hier, en kyk na my hande, en neem jou hand en steek dit in my sy, en hou op twyfel,* maar glo.”
28 Tomas het geantwoord en vir hom gesê: “My Here en my God!”
29 Jesus het vir hom gesê: “Glo jy omdat jy my gesien het? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
30 Jesus het natuurlik ook baie ander wonderwerke* voor die dissipels gedoen, wat nie in hierdie boekrol neergeskryf is nie.+
31 Maar hierdie dinge is neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle die lewe kan hê omdat julle deur middel van sy naam glo.+