Die eerste brief van Johannes 4:1-21

  • Toets geïnspireerde stellings (1-6)

  • Kennis van en liefde vir God (7-21)

    • “God is liefde” (8, 16)

    • Geen vrees in liefde nie (18)

4  Geliefdes, moenie elke geïnspireerde stelling* glo nie,+ maar toets die geïnspireerde stellings* om te sien of hulle hulle oorsprong by God het,+ want baie valse profete het in die wêreld verskyn.+  Dit is hoe julle weet dat die geïnspireerde stelling van God kom: Elke geïnspireerde stelling wat erkenning gee aan die feit dat Jesus Christus as ’n mens van vlees gekom het, het sy oorsprong by God.+  Maar elke geïnspireerde stelling wat nie erkenning gee aan Jesus nie, het nie sy oorsprong by God nie.+ Wat meer is, julle het gehoor dat hierdie geïnspireerde stelling sou kom,+ en dit kom van die antichris en is nou reeds in die wêreld.+  Julle het julle oorsprong by God, kindertjies, en julle het daardie persone oorwin,+ want die een wat in eenheid met julle is,+ is groter as die een wat in eenheid met die wêreld is.+  Hulle het hulle oorsprong by die wêreld,+ en daarom sê hulle dinge wat uit die wêreld kom, en die wêreld luister na hulle.+  Ons het ons oorsprong by God. Die een wat God leer ken, luister na ons.+ Die een wat nie sy oorsprong by God het nie, luister nie na ons nie.+ Dit is hoe ons onderskei tussen die geïnspireerde stelling wat waar is en die geïnspireerde stelling wat vals is.+  Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê,+ want die liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.+  Die een wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.+  Dit is hoe die liefde van God in ons geval geopenbaar is: God het sy eniggebore Seun*+ in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry.+ 10  Hierdie liefde beteken die volgende: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad het en dat hy sy Seun gestuur het as ’n versoeningsoffer+ vir ons sondes.+ 11  Geliefdes, as dit is hoe God ons liefgehad het, dan is ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê.+ 12  Niemand het God nog ooit gesien nie.+ As ons aanhou om mekaar lief te hê, bly God in ons en word sy liefde in ons tot volmaaktheid gebring.+ 13  Ons weet dat ons in eenheid met hom is en hy in eenheid met ons, want hy het ons sy gees gegee. 14  Wat meer is, ons het self gesien en getuig dat die Vader sy Seun as redder van die wêreld gestuur het.+ 15  As iemand erken dat Jesus Christus die Seun van God is,+ bly God in eenheid met hom en hy in eenheid met God.+ 16  En ons het die liefde wat God vir ons het, leer ken, en ons glo daarin.+ God is liefde,+ en die een wat in die liefde bly, bly in eenheid met God, en God bly in eenheid met hom.+ 17  Dit is hoe die liefde in ons tot volmaaktheid gebring is, sodat ons op die oordeelsdag vrymoedigheid van spraak* kan hê,+ want net soos hy is, so is ons ook in hierdie wêreld. 18  Daar is geen vrees in die liefde nie.+ Volmaakte liefde dryf vrees uit, want vrees hou ons terug. Ja, die een wat vrees, is nie tot volmaaktheid gebring in die liefde nie.+ 19  Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het.+ 20  As iemand sê: “Ek het God lief,” maar sy broer haat, is hy ’n leuenaar.+ Want as iemand nie lief is vir sy broer,+ wat hy gesien het nie, kan hy nie lief wees vir God, wat hy nie gesien het nie.+ 21  En ons het hierdie gebod van hom, dat die een wat God liefhet, ook sy broer moet liefhê.+

Voetnote

Lett. “elke gees”.
Lett. “die geeste”.
Of “die enigste Seun wat direk deur God gemaak is”.
Of “vertroue”.