Levitikus 13:1-59

  • Voorskrifte oor melaatsheid (1-46)

  • Melaatsheid op klere (47-59)

13  Jehovah het verder met Moses en Aäron gepraat en gesê:  “As iemand ’n swelsel, ’n roof of ’n vlek op sy vel kry wat dalk melaatsheid*+ op sy vel kan word, moet hy na die priester Aäron of na een van sy seuns, die priesters,+ gebring word.  Die priester moet die infeksie op sy vel ondersoek. As die hare by die infeksie wit geword het en dit lyk of die infeksie dieper as die vel is, is dit melaatsheid. Die priester moet dit ondersoek en hom onrein verklaar.  Maar as die vlek op sy vel wit is en dit nie lyk asof dit dieper as die vel is nie en die hare nie wit geword het nie, moet die priester die persoon met die infeksie vir sewe dae onder kwarantyn plaas.+  Die priester moet hom dan op die sewende dag ondersoek, en as dit lyk asof die infeksie nie vererger en op die vel versprei het nie, moet die priester hom nog sewe dae onder kwarantyn plaas.  “Die priester moet hom op die sewende dag weer ondersoek, en as die infeksie dof geword het en nie op die vel versprei het nie, moet die priester hom rein verklaar.+ Dit was net ’n roof. Die man moet dan sy klere was en rein wees.  Maar as die roof* op die vel versprei het nadat hy voor die priester verskyn het om rein verklaar te word, moet hy weer* voor die priester verskyn.  Die priester moet dit ondersoek, en as die roof op die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid.+  “As iemand melaatsheid kry, moet hy na die priester toe gebring word, 10  en die priester moet hom ondersoek.+ As daar ’n wit swelsel op die vel is en dit die hare wit laat word het en daar ’n oop seer+ in die swelsel is, 11  is dit chroniese melaatsheid op sy vel, en die priester moet hom onrein verklaar. Hy moet hom nie onder kwarantyn plaas nie,+ want hy is onrein. 12  En as die melaatsheid oor die hele vel uitbreek en die melaatsheid die persoon van kop tot toon bedek, so ver as wat die priester kan sien, 13  en die priester hom ondersoek het en sien dat die melaatsheid sy hele vel bedek het, dan moet hy die persoon met die infeksie rein* verklaar. Die hele vel het wit geword, en hy is rein. 14  Maar as ’n oop seer op sy vel verskyn, sal hy onrein wees. 15  Wanneer die priester die oop seer sien, moet hy hom onrein verklaar.+ Die oop seer is onrein. Dit is melaatsheid.+ 16  Maar as die oop seer weer wit word, moet hy na die priester toe kom. 17  Die priester moet hom ondersoek,+ en as die infeksie wit geword het, moet die priester die persoon met die infeksie rein verklaar. Hy is rein. 18  “As iemand ’n sweer op sy vel kry en dit gesond word, 19  maar daar in die plek van die sweer ’n wit swelsel of ’n rooierige wit vlek ontstaan het, dan moet hy hom vir die priester wys. 20  Die priester moet dit ondersoek,+ en as dit lyk asof dit dieper as die vel is en die hare daarvan wit geword het, dan moet die priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid wat in die sweer uitgebreek het. 21  Maar as die priester dit ondersoek en sien dat daar geen wit hare daarop is en dat dit nie dieper as die vel is nie en dat dit dof lyk, dan moet die priester hom vir sewe dae onder kwarantyn plaas.+ 22  En as dit duidelik is dat dit oor die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar. Dit is ’n siekte. 23  Maar as die vlek op een plek bly en nie versprei het nie, is dit net die ontsteking van die sweer, en die priester moet hom rein verklaar.+ 24  “Of as iemand ’n brandwond as gevolg van vuur het en die rou vlees van die wond ’n rooierige wit of ’n wit vlek word, 25  moet die priester dit ondersoek. As die hare op die vlek wit geword het en dit lyk asof dit dieper as die vel is, is dit melaatsheid wat in die wond uitgebreek het, en die priester moet hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid. 26  Maar as die priester dit ondersoek en sien dat daar geen wit hare op die vlek is nie en dit nie dieper as die vel is nie en dat dit dof is, dan moet die priester hom vir sewe dae onder kwarantyn plaas.+ 27  Die priester moet hom op die sewende dag ondersoek, en as dit duidelik is dat dit op die vel versprei het, dan moet die priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid. 28  Maar as die vlek op een plek bly en nie op die vel versprei het nie en dit dof is, is dit net ’n swelsel van die wond, en die priester moet hom rein verklaar, want dit is ’n ontsteking van die wond. 29  “As ’n man of ’n vrou ’n infeksie op die kop of aan die ken kry, 30  moet die priester die infeksie ondersoek.+ As dit lyk asof dit dieper as die vel is en die hare daarop geel en yl is, moet die priester so iemand onrein verklaar. Dit is ’n infeksie van die kopvel of die baard. Dit is melaatsheid van die kop of van die ken. 31  Maar as dit nie vir die priester lyk asof die infeksie dieper as die vel is nie en daar geen swart hare daarop is nie, dan moet die priester die persoon met die infeksie vir sewe dae onder kwarantyn plaas.+ 32  Die priester moet die infeksie op die sewende dag ondersoek, en as dit nie versprei het nie en daar geen geel hare daarop is nie en dit nie lyk asof dit dieper as die vel is nie, 33  dan moet die persoon hom laat skeer, maar hy moenie die vel met die infeksie laat skeer nie. Dan moet die priester die persoon met die infeksie vir sewe dae onder kwarantyn plaas. 34  “Op die sewende dag moet die priester die vel met die infeksie weer ondersoek, en as die infeksie van die kopvel en baard nie op die vel versprei het nie en dit nie lyk asof dit dieper as die vel is nie, dan moet die priester hom rein verklaar, en hy moet sy klere was en rein wees. 35  Maar as dit ná sy reiniging duidelik is dat die infeksie op die vel versprei, 36  dan moet die priester hom ondersoek, en as die infeksie op die vel versprei het, hoef die priester nie na geel hare te soek nie. Daardie persoon is onrein. 37  Maar as die ondersoek toon dat die infeksie nie versprei het nie en swart hare daarop gegroei het, het die infeksie gesond geword. Hy is rein, en die priester moet hom rein verklaar.+ 38  “As ’n man of ’n vrou vlekke op die vel kry en die vlekke wit is, 39  dan moet die priester dit ondersoek.+ As die vlekke op die vel ’n dowwe wit is, is dit ’n onskadelike uitslag wat op die vel uitgeslaan het. Daardie persoon is rein. 40  “As ’n man die hare op sy kop verloor en bles word, is hy rein. 41  As hy die hare aan die voorkant van sy kop verloor en daar bles word, is hy rein. 42  Maar as ’n rooierige wit seer op die bles gedeelte van sy kopvel of sy voorkop ontstaan, is dit melaatsheid wat op sy kopvel of op sy voorkop uitbreek. 43  Die priester moet hom ondersoek, en as die swelsel van die infeksie op die bles gedeelte van sy kop of sy voorkop ’n rooierige wit is en as dit soos melaatsheid op sy vel lyk, 44  is hy ’n melaatse. Hy is onrein, en die priester moet hom onrein verklaar as gevolg van die siekte op sy kop. 45  Wat die melaatse betref wat die siekte het, sy klere moet geskeur wees en sy kop moet onversorg gelaat word en hy moet sy snor bedek en uitroep: ‘Onrein, onrein!’ 46  Hy sal onrein wees solank hy die siekte het. Omdat hy onrein is, moet hy in afsondering woon. Sy woonplek moet buite die kamp wees.+ 47  “As ’n kledingstuk deur melaatsheid besmet word, of dit nou ’n kledingstuk van wol of van linne is, 48  en of dit nou in die lengtedrade of in die dwarsdrade van die linne of van die wol is, of as dit in ’n vel is of in enigiets wat van vel gemaak is, 49  en die kledingstuk, die vel, die lengtedrade, die dwarsdrade of enige voorwerp van vel deur die geelgroen of rooierige vlek van die siekte besmet is, is dit deur melaatsheid besmet en moet dit vir die priester gewys word. 50  Die priester moet die vlek ondersoek, en hy moet die voorwerp met die siekte vir sewe dae onder kwarantyn plaas.+ 51  Wanneer hy die siekte op die sewende dag ondersoek en sien dat dit versprei het in die kledingstuk, in die lengtedrade, in die dwarsdrade of in die vel (vir watter doel die vel ook al gebruik word), is die siekte kwaadaardige melaatsheid en is dit onrein.+ 52  Hy moet die kledingstuk of die lengtedrade of die dwarsdrade (of dit nou wol of linne is) of enige voorwerp van vel waarin die siekte ontstaan het, verbrand, want dit is kwaadaardige melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word. 53  “Maar as die priester dit ondersoek en die siekte nie in die kledingstuk of in die lengtedrade of in die dwarsdrade of in enige voorwerp van vel versprei het nie, 54  dan moet die priester beveel dat hulle die besmette voorwerp was, en hy moet dit nog sewe dae onder kwarantyn plaas. 55  Die priester moet die besmette voorwerp ondersoek nadat dit deeglik gewas is. As die besmette deel nog dieselfde lyk, al het die siekte nie versprei nie, is dit onrein. Jy moet dit met vuur verbrand omdat dit aan die binnekant of buitekant weggevreet is. 56  “Maar as die priester dit ondersoek het en die besmette deel dof geword het nadat dit deeglik gewas is, dan moet hy dit uit die kledingstuk of die vel of die lengtedrade of die dwarsdrade uitskeur. 57  As dit egter nog steeds sigbaar is in ’n ander deel van die kledingstuk of in die lengtedrade of in die dwarsdrade of in enige voorwerp van vel, is dit besig om te versprei, en jy moet enige besmette voorwerp met vuur verbrand.+ 58  Maar as die vlek verdwyn nadat jy die kledingstuk of die lengtedrade of die dwarsdrade of enige voorwerp van vel gewas het, dan moet dit ’n tweede keer gewas word, en dit moet rein wees. 59  “Dit is die wet oor melaatsheid in ’n kledingstuk van wol of van linne of in die lengtedrade of in die dwarsdrade of in enige voorwerp van vel, om dit rein of onrein te verklaar.”

Voetnote

Die Hebreeuse woord wat met “melaatsheid” vertaal word, het ’n breë betekenis. Sien Woordelys.
Of “die infeksie”.
Of “’n tweede keer”.
Of “nie-aansteeklik”.