Eksodus 28:1-43

  • Priesterlike klere (1-5)

  • Die efod (6-14)

  • Die borsstuk (15-30)

    • Urim en Tummim (30)

  • Die moulose oorkleed (31-35)

  • Die tulband met die goue plaat (36-39)

  • Ander priesterlike klere (40-43)

28  “Jy moet jou broer Aäron, sowel as sy seuns, uit die Israeliete laat roep, sodat hy my as priester kan dien+ – Aäron,+ sowel as Nadab en Abiʹhu,+ Eleaʹsar en Iʹtamar,+ die seuns van Aäron.+  Jy moet heilige klere vir jou broer Aäron maak, ’n waardige en pragtige uitrusting.+  Jy moet met almal praat wat vaardighede het,* dié wat ek met die gees van wysheid+ gevul het, en hulle moet Aäron se klere maak sodat hy geheilig kan word en my as priester kan dien.  “Dít is die klere wat hulle moet maak: ’n borsstuk,+ ’n efod,+ ’n moulose oorkleed,+ ’n kleed met ’n blokkiespatroon, ’n tulband+ en ’n lyfband.+ Hulle moet hierdie heilige klere vir jou broer Aäron en sy seuns maak, sodat hy my as priester kan dien.  Die vaardige werkers moet die goud, die blou garing, die pers wol, die helderrooi materiaal en die fyn linne gebruik.  “Hulle moet die efod maak van goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad, en daar moet op die efod geborduur word.+  Dit moet twee skouerstukke hê wat die twee bokante van die efod verbind.  Die geweefde lyfband,+ wat aan die efod vasgeheg is om dit in plek te hou, moet van dieselfde materiale gemaak word: goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad.  “Jy moet twee oniksstene+ neem en die name van die seuns van Israel daarop graveer:+ 10  ses name op die een steen en die ses oorblywende name op die ander steen, in die volgorde waarin hulle gebore is. 11  ’n Steensnyer moet die name van die seuns van Israel op die twee stene graveer, soos hy ’n seël sou graveer.+ Dan moet jy dit in goue monterings laat set. 12  Jy moet die twee stene op die skouerstukke van die efod sit as ’n herinnering aan die seuns van Israel.+ Aäron moet hulle name op sy twee skouerstukke as ’n herinnering voor Jehovah dra. 13  Jy moet goue monterings maak, 14  sowel as twee kettinkies van suiwer goud wat gedraai is soos toutjies,+ en jy moet die kettinkies aan die monterings vasheg.+ 15  “Laat ’n borduurder die borsstuk van oordeel* maak.+ Soos die efod, moet dit van goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad gemaak word.+ 16  Dit moet vierkantig wees wanneer dit dubbel gevou is, ’n span* lank en ’n span breed. 17  Jy moet vier rye stene daarin set. In die eerste ry: robyn, topaas en smarag. 18  In die tweede ry: turkoois, saffier en jaspis. 19  In die derde ry: lesjʹem-steen,* agaat en ametis. 20  In die vierde ry: chrisoliet, oniks en jade. Hulle moet in goue monterings geset word. 21  Die stene moet ooreenstem met die name van die 12 seuns van Israel. Elkeen moet soos ’n seël gegraveer word. Elke naam moet een van die 12 stamme verteenwoordig. 22  “Jy moet gedraaide kettinkies vir die borsstuk maak, soos toutjies van suiwer goud.+ 23  Jy moet twee goue ringe vir die borsstuk maak en die twee ringe aan die twee hoeke van die borsstuk vassit. 24  Jy moet die twee goue toutjies deur die twee ringe aan die hoeke van die borsstuk steek. 25  Jy moet die twee punte van die twee toutjies deur die twee monterings steek, en jy moet dit aan die skouerstukke van die efod vasheg, aan die voorkant. 26  Jy moet twee goue ringe maak en hulle aan die twee hoeke van die borsstuk vassit, aan die agterkant van die borsstuk, wat aan die efod raak.+ 27  Jy moet nog twee goue ringe maak vir die plekke waar die lyfband aan die efod vas is, dit wil sê aan die voorkant van die efod,+ onder die twee skouerstukke, net bo die geweefde lyfband. 28  Die borsstuk moet in plek gehou word met ’n blou toutjie, wat die ringe van die borsstuk verbind met die ringe van die efod. Dit sal die borsstuk in plek hou op die efod, bo die geweefde lyfband. 29  “Aäron moet die name van die seuns van Israel op die borsstuk van oordeel* op sy hart dra as ’n permanente herinnering voor Jehovah wanneer hy in die Heilige ingaan. 30  Jy moet die Urim en die Tummim*+ in die borsstuk van oordeel* sit, en hulle moet op Aäron se hart wees wanneer hy voor Jehovah ingaan, en Aäron moet hierdie voorwerpe, waarmee oordele vir die Israeliete vasgestel word, altyd voor Jehovah op sy hart dra. 31  “Die moulose oorkleed van die efod moet geheel en al van blou garing gemaak word.+ 32  Daar moet ’n opening boaan* in die middel wees. Die opening moet ’n rand rondom hê wat deur ’n wewer geweef is. Dit moet wees soos die opening van ’n pantser,* sodat dit nie sal skeur nie. 33  Jy moet reg rondom die soom granaatjies maak van blou garing, pers wol en helderrooi materiaal, met goue klokkies tussen die granaatjies. 34  Wissel die goue klokkies en die granaatjies af, ’n goue klokkie en dan ’n granaatjie, reg rondom die soom van die moulose oorkleed. 35  Aäron moet dit dra sodat hy kan dien, en die geluid daarvan moet gehoor word wanneer hy voor Jehovah in die heiligdom ingaan en wanneer hy uitkom, sodat hy nie sterf nie.+ 36  “Jy moet ’n blink plaat van suiwer goud maak, en net soos daar op ’n seël gegraveer word, moet jy daarop graveer: ‘Heiligheid behoort aan Jehovah.’+ 37  Jy moet dit met ’n blou toutjie aan die tulband+ vasmaak, en dit moet aan die voorkant van die tulband bly. 38  Dit moet op Aäron se voorkop wees, en Aäron sal verantwoordelik gehou word wanneer iemand sondig in verband met die heilige dinge,+ wat deur die Israeliete geheilig word wanneer hulle dit as heilige gawes offer. Dit moet altyd op sy voorkop bly, sodat hulle Jehovah se goedkeuring kan verkry. 39  “Die kleed moet ’n blokkiespatroon hê en moet van fyn linne geweef word, en jy moet ook ’n tulband van fyn linne en ’n geweefde lyfband+ maak. 40  “Jy moet ook ’n kleed, ’n lyfband en ’n hoofbedekking vir elkeen van Aäron se seuns+ maak, waardige en pragtige uitrustings.+ 41  Jy moet dit vir jou broer Aäron sowel as sy seuns aantrek, en jy moet hulle salf+ en hulle inhuldig*+ en hulle heilig, en hulle moet my as priesters dien. 42  Jy moet ook vir hulle kortbroeke* van linne maak om hulle kaal vlees te bedek.+ Dit moet van die heupe tot by die bobene strek. 43  Aäron en sy seuns moet dit dra wanneer hulle in die tent van samekoms ingaan en wanneer hulle by die altaar kom om in die heiligdom te dien, sodat hulle nie skuldig word en sterf nie. Dit is ’n permanente wetsbepaling vir hom en sy nageslag.*

Voetnote

Lett. “wys van hart is”.
Of “regspraak”.
D.w.s. die afstand van die punt van die duim tot by die punt van die pinkie, omtrent 22,2 cm. Sien Aanh. B14.
’n Ongeïdentifiseerde edelsteen wat moontlik na amber, hiasint, opaal of toermalyn verwys.
Of “regspraak”.
Of “regspraak”.
Of “vir die kop”.
’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.
Lett. “en hulle hand vul”.
Of “onderklere”.
Lett. “saad”.