Daniël 8:1-27

  • Visioen van ram en bokram (1-14)

    • Klein horing tree hoogmoedig op (9-12)

    • 2 300 aande en oggende (14)

  • Gabriël sê wat visioen beteken (15-27)

    • Wat ram en bokram voorstel (20, 21)

    • Koning met wrede voorkoms staan op (23-25)

8  In die derde jaar van die koningskap van koning Belʹsasar+ het ek, Daniël, nog ’n visioen gesien, ná die een wat ek vroeër gesien het.+  In die visioen was ek in die paleis* Susan,*+ wat in die Elam-provinsie is.+ Ek het die visioen gesien, en ek was langs die Ulai-rivier.*  Toe ek opkyk, het ek ’n ram+ voor die rivier sien staan, en hy het twee horings gehad.+ Die twee horings was lank, maar die een was langer as die ander, en die langste horing het laaste uitgekom.+  Ek het gesien dat die ram na die weste en na die noorde en na die suide toe stoot. Geen wilde dier kon teen hom staande bly nie, en daar was niemand wat hulle uit sy mag* kon red nie.+ Hy het gedoen net wat hy wil, en hy het hoogmoedig geword.  Terwyl ek bly kyk het, het ’n bokram+ uit die weste* gekom wat die oppervlak van die hele aarde deurkruis het sonder om aan die grond te raak. En die bokram het ’n opvallende horing tussen sy oë gehad.+  Hy het al hoe nader gekom aan die ram met die twee horings, wat ek voor die rivier sien staan het. Hy het met groot woede na hom toe gehardloop.  Ek het gesien hoe hy al hoe nader aan die ram kom, en hy was baie kwaad. Hy het die ram gestoot en sy twee horings gebreek, en die ram het geen krag gehad om teen hom staande te bly nie. Hy het die ram teen die grond gegooi en hom vertrap, en daar was niemand wat die ram uit sy mag* kon red nie.  Toe het die bokram baie hoogmoedig geword, maar net toe hy magtig geword het, is die groot horing gebreek. Toe het vier opvallende horings in die plek van daardie horing uitgekom, en hulle het in die vier windrigtings gewys.+  Uit een van hulle het ’n ander horing voortgekom, ’n kleintjie, en hy het baie groot geword na die suide en na die ooste* en na die Pragtige Land toe.+ 10  Hy het so groot geword dat hy tot by die leërmag van die hemel gekom het, en hy het ’n deel van die leërmag en party van die sterre op die aarde laat val, en hy het hulle vertrap. 11  Hy het selfs teen die Hoof van die leërmag hoogmoedig opgetree, en die gereelde offerande* is van hom weggeneem, en die vaste plek van sy heiligdom is verwoes.+ 12  As gevolg van die oortreding is ’n leërmag, saam met die gereelde offerande,* oorgelewer. En hy het die waarheid na die grond toe bly gooi, en hy was suksesvol in wat hy gedoen het. 13  En ek het ’n heilige hoor praat, en ’n ander heilige het vir die een wat praat, gevra: “Hoe lank sal die dinge in die visioen aanhou, naamlik die gereelde offerande* en die oortreding wat verwoesting veroorsaak+ en die vertrapping van die heiligdom en die leërmag?” 14  Toe het hy vir my gesê: “Dit sal 2 300 aande en oggende aanhou, en daarna sal die heiligdom beslis tot sy regte toestand herstel word.” 15  Terwyl ek, Daniël, die visioen gesien en probeer verstaan het, het ek skielik iemand voor my sien staan wat soos ’n man gelyk het. 16  Toe het ek die stem van ’n man gehoor wat vanuit die Ulai-rivier*+ roep en sê: “Gaʹbriël,+ laat hom verstaan wat hy gesien het.”+ 17  Hy het gekom tot waar ek gestaan het, maar ek het so geskrik dat ek neergeval het met my gesig na die grond toe. Hy het vir my gesê: “Verstaan, o mensekind, dat die visioen vir die tyd van die einde is.”+ 18  Maar terwyl hy met my gepraat het, het ek vas aan die slaap geraak met my gesig na die grond toe. Hy het aan my geraak en my laat opstaan waar ek gestaan het.+ 19  En hy het gesê: “Ek sal jou vertel wat aan die einde van die veroordeling sal gebeur, want dit is vir die vasgestelde tyd van die einde.+ 20  “Die ram met die twee horings wat jy gesien het, stel die konings van Medië en Persië voor.+ 21  Die harige bokram stel die koning van Griekeland voor,+ en die groot horing wat tussen sy oë was, stel die eerste koning voor.+ 22  Die feit dat die horing gebreek is en vier ander in sy plek uitgekom het,+ beteken dat vier koninkryke uit sy nasie sal opstaan, maar nie met sy krag nie. 23  “En aan die einde van hulle koninkryk, terwyl die oortreders hulle dade voltooi, sal daar ’n koning opstaan wat ’n wrede voorkoms het en wat weet hoe om slinkse planne te beraam.* 24  Hy sal baie magtig word, maar nie deur sy eie mag nie. Hy sal verskriklike* verwoesting aanrig, en hy sal suksesvol wees in wat hy doen. Hy sal verwoesting bring oor magtiges, asook oor die heilige volk.+ 25  En weens sy slinksheid sal hy bedrieglik optree om sukses te behaal. Hy sal baie hoogmoedig word. En in ’n tyd van veiligheid,* sal hy verwoesting oor baie bring. Hy sal selfs teen die Heerser van die heersers* opstaan, maar hy sal gebreek word, en nie deur ’n mensehand nie. 26  “Wat in die visioen oor die aande en die oggende gesê is, is waar. Maar jy moet die visioen geheim hou, want dit verwys na ’n tyd in die verre toekoms.”*+ 27  Ek, Daniël, was uitgeput en ek was dae lank siek.+ Toe het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen,+ maar ek was stomgeslaan weens wat ek gesien het en wat niemand kon verstaan nie.+

Voetnote

Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “Ulai-kanaal”.
Lett. “hand”.
Of “sonsondergang”.
Lett. “hand”.
Of “sonsopkoms”.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “voortdurende kenmerk”.
Of “Ulai-kanaal”.
Of “wat dubbelsinnige gesegdes verstaan”.
Of “op ’n buitengewone manier”.
Of moontlik “En sonder waarskuwing”.
Of “Vors van die vorste”.
Of “’n tyd baie dae van nou af”.