Jeremia 32:1-44

  • Jeremia koop stuk grond (1-15)

  • Jeremia se gebed (16-25)

  • Jehovah se antwoord (26-44)

32  Jeremia het ’n boodskap van Jehovah ontvang in die 10de jaar van koning Sedekiʹa van Juda, dit wil sê die 18de jaar van Nebukadneʹsar.*+  In daardie tyd het die leërmagte van die koning van Babilon Jerusalem beleër, en die profeet Jeremia was opgesluit in die Voorhof van die Wagte+ in die paleis* van die koning van Juda.  Want koning Sedekiʹa van Juda het hom opgesluit+ en gesê: “Hoekom profeteer jy hierdie dinge? Jy sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Ek gaan hierdie stad in die hand van die koning van Babilon gee, en hy sal dit inneem,+  en koning Sedekiʹa van Juda sal nie van die Galdeërs wegkom nie, want hy sal vir seker in die hand van die koning van Babilon gegee word, en hy sal direk met hom praat, en hulle sal mekaar in die oë kyk.”’+  ‘Hy sal Sedekiʹa na Babilon neem, en daar sal hy bly totdat ek my aandag op hom rig,’ sê Jehovah. ‘Hoewel julle aanhou om teen die Galdeërs te veg, sal julle nie suksesvol wees nie.’”+  Jeremia het gesê: “Jehovah het met my gepraat en gesê:  ‘Hanaʹmel, die seun van jou oom* Sallum, sal na jou toe kom en sê: “Koop vir jou my stuk grond in Aʹnatot,+ want jy het die reg om dit eerste terug te koop.”’”+  Hanaʹmel, die seun van my oom, het na my toe gekom, net soos Jehovah gesê het, in die Voorhof van die Wagte, en hy het vir my gesê: “Koop asseblief my stuk grond in Aʹnatot, in die land van Benjamin, want jy het die reg om dit in besit te neem en om dit terug te koop. Koop dit vir jou.” Toe het ek geweet dat dit deur die woord van Jehovah was.  Toe het ek die stuk grond in Aʹnatot by Hanaʹmel, die seun van my oom, gekoop. Ek het die geld vir hom afgeweeg:+ sewe sikkels* en tien silwerstukke. 10  Daarna het ek dit in ’n kontrak neergeskryf,+ die seël daarop gedruk, getuies ingeroep+ en die geld op die weegskaal geweeg. 11  Ek het die koopkontrak geneem, die een wat verseël is volgens die gebod en die wetlike vereistes sowel as die een wat nie verseël is nie, 12  en ek het die koopkontrak vir Barug,+ die seun van Neriʹa,+ die seun van Magseʹja, gegee in die teenwoordigheid van Hanaʹmel, die seun van my oom, en in die teenwoordigheid van die getuies wat in die koopkontrak geskryf het en al die Jode wat in die Voorhof van die Wagte gesit het.+ 13  Ek het Barug toe in hulle teenwoordigheid beveel en gesê: 14  “Dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Neem hierdie kontrakte, die verseëlde koopkontrak en die ander kontrak wat nie verseël is nie, en sit hulle in ’n kleihouer, sodat hulle ’n lang tyd gehou kan word.’ 15  Want dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Huise en grond en wingerde sal weer in hierdie land gekoop word.’”+ 16  Toe, nadat ek die koopkontrak vir Barug, die seun van Neriʹa, gegee het, het ek tot Jehovah gebid en gesê: 17  “O Soewereine Heer Jehovah! U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot krag+ en deur u uitgestrekte arm. Niks is onmoontlik vir u nie, 18  die Een wat lojale liefde aan duisende betoon, maar wat die oortreding van die vaders aan* hulle kinders terugbetaal,+ die ware God, die Een wat groot en magtig is, wie se naam Jehovah van die leërmagte is. 19  U voorneme is groot* en u dade is magtig,+ u wie se oë al die weë van die mense sien,+ om aan elkeen te gee volgens sy weë en volgens wat hy doen.+ 20  U het tekens en wonderwerke in Egipte verrig, wat tot vandag toe bekend is, en so het u in Israel en onder die mensdom ’n naam vir u gemaak,+ soos vandag die geval is. 21  En u het u volk Israel uit Egipte uitgelei, met tekens, met wonderwerke, met ’n sterk hand, met ’n uitgestrekte arm en met skrikwekkende dade.+ 22  “Mettertyd het u hierdie land aan hulle gegee wat u met ’n eed aan hulle voorvaders belowe het,+ ’n land wat oorloop van melk en heuning.+ 23  En hulle het ingegaan en dit in besit geneem, maar hulle het nie u stem gehoorsaam of u wet gevolg nie. Hulle het niks gedoen wat u hulle beveel het om te doen nie, en daarom het u al hierdie rampspoed oor hulle laat kom.+ 24  Mense het gekom met toerusting* om die stad te beleër en in te neem,+ en weens die swaard,+ die hongersnood en die vreeslike siektes+ sal die stad beslis in die hand gegee word van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat u gesê het, het alles gebeur, soos u nou sien. 25  Maar u, o Soewereine Heer Jehovah, het vir my gesê: ‘Koop vir jou die stuk grond met geld en roep getuies in,’ hoewel die stad beslis in die hand van die Galdeërs gegee sal word.” 26  Toe het Jehovah met Jeremia gepraat en gesê: 27  “Hier is ek, Jehovah, die God van die hele mensdom.* Is enigiets onmoontlik vir my? 28  Daarom sê Jehovah: ‘Ek gee hierdie stad in die hand van die Galdeërs en in die hand van koning Nebukadneʹsar* van Babilon, en hy sal dit inneem.+ 29  En die Galdeërs wat teen hierdie stad veg, sal inkom en hierdie stad aan die brand steek en dit afbrand,+ saam met die huise waar die volk op die dakke offerandes vir Baäl gebring het en drankoffers vir ander gode uitgegooi het om my aanstoot te gee.’+ 30  “‘Want Israel en Juda het van jongs af net gedoen wat sleg is in my oë.+ Die Israeliete hou aan om my aanstoot te gee met die werk van hulle hande,’ sê Jehovah. 31  ‘Want hierdie stad was vanaf die dag dat hulle dit gebou het tot vandag toe niks anders as ’n oorsaak van groot woede vir my nie,+ en daarom moet dit voor my verwyder word+ 32  weens al die goddeloosheid wat Israel en Juda gedoen het om my aanstoot te gee – hulle, hulle konings,+ hulle leiers,+ hulle priesters, hulle profete+ en die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. 33  Hulle het aangehou om hulle rug op my te draai, en nie hulle gesig nie,+ al het ek hulle keer op keer probeer leer,* het nie een van hulle geluister om dissipline te aanvaar nie.+ 34  En hulle het hulle walglike afgode in die huis gesit wat my naam dra, om dit onrein te maak.+ 35  Verder het hulle die offerhoogtes van Baäl in die Vallei van die Seun van Hinnom*+ gebou om hulle seuns en hulle dogters vir Molog+ as offerandes in die vuur te verbrand,* iets wat ek hulle nie beveel het nie.+ Dit het nooit in my hart opgekom* om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen wat Juda sou laat sondig nie.’ 36  “Daarom is dít wat Jehovah, die God van Israel, sê oor hierdie stad wat volgens julle deur die swaard, die hongersnood en die vreeslike siektes in die hand van die koning van Babilon gegee sal word: 37  ‘Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen ek hulle in my groot woede en groot verontwaardiging+ verstrooi het, en ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle in veiligheid laat woon.+ 38  En hulle sal my volk wees, en ek sal hulle God wees.+ 39  Ek sal hulle een hart+ en een weg gee sodat hulle my altyd sal vrees, en dan sal dit goed gaan met hulle en hulle kinders.+ 40  Ek sal ’n ewige verbond met hulle maak,+ dat ek nie sal ophou om goeie dinge vir hulle te doen nie,+ en ek sal die vrees vir my in hulle hart sit, sodat hulle nie van my sal wegdraai nie.+ 41  Ek sal bly wees om goeie dinge vir hulle te doen,+ en ek sal hulle met my hele hart en met my hele siel* stewig in hierdie land plant.’”+ 42  “Want dít is wat Jehovah sê: ‘Net soos ek hierdie groot rampspoed oor hierdie volk gebring het, so sal ek al die goeie dinge wat ek hulle belowe, oor hulle bring.+ 43  Grond sal weer in hierdie land gekoop word,+ al sê julle: “Dit is ’n verlate plek, sonder mens of dier, en dit is in die hand van die Galdeërs gegee.”’ 44  “‘Grond sal met geld gekoop word, koopkontrakte sal uitgeskryf en verseël word en getuies sal geroep word in die land van Benjamin,+ in die gebiede om Jerusalem, in die stede van Juda,+ in die stede van die bergstreek, in die stede van die laagland+ en in die stede van die suide, want ek sal hulle gevangenes terugbring,’+ sê Jehovah.”

Voetnote

Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
Lett. “huis”.
D.w.s. sy oom aan sy pa se kant.
’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.
Lett. “in die boesem van”.
Lett. “U is groot in raad”.
Lett. “skanse”.
Lett. “alle vlees”.
Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
Lett. “vroeg opgestaan en [hulle] onderrig”.
Sien Woordelys, “Gehenna”.
Of “deur die vuur te laat gaan”.
Of “Ek het nooit eers daaraan gedink”.