Die eerste boek van Konings 22:1-53

  • Josafat ondersteun Agab (1-12)

  • Migaja voorspel nederlaag (13-28)

    • Bedrieglike gees om Agab te mislei (21, 22)

  • Agab doodgemaak by Ramot-Gilead (29-40)

  • Josafat se bewind oor Juda (41-50)

  • Ahasia, koning van Israel (51-53)

22  Daar was drie jaar lank geen oorlog tussen Sirië en Israel nie.  In die derde jaar het koning Joʹsafat+ van Juda na die koning van Israel gegaan.+  Toe het die koning van Israel vir sy knegte gesê: “Julle weet dat Raʹmot-Giʹlead+ aan ons behoort. En tog doen ons niks om dit van die koning van Sirië terug te vat nie.”  Hy het toe vir Joʹsafat gevra: “Sal jy saam met my gaan veg by Raʹmot-Giʹlead?” Joʹsafat het die koning van Israel geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan. My volk is jou volk. My perde is jou perde.”+  Maar Joʹsafat het vir die koning van Israel gesê: “Vra Jehovah eers vir leiding, asseblief.”+  Die koning van Israel het die profete, ongeveer 400 manne, dus bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ek teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hulle het gesê: “Gaan, want Jehovah sal dit in u hand gee.”  Joʹsafat het toe gesê: “Is daar nie nog ’n profeet van Jehovah hier nie? Laat ons hom ook vra.”+  Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Daar is nog een man deur wie ons Jehovah se leiding kan vra,+ maar ek haat hom,+ want hy profeteer nooit goeie dinge oor my nie, net slegte dinge.+ Sy naam is Migaʹja, die seun van Jimla.” Maar Joʹsafat het gesê: “Die koning moenie so sê nie.”  Toe het die koning van Israel ’n hofbeampte geroep en gesê: “Gaan haal gou vir Migaʹja, die seun van Jimla.”+ 10  Die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, het elkeen in koninklike klere op sy troon gesit. Hulle het by die dorsvloer gesit wat by die ingang van die poort van Samariʹa was, en al die profete het voor hulle geprofeteer.+ 11  Toe het Sedekiʹa, die seun van Kenaʹäna, ysterhorings gemaak en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Met hierdie horings sal u die Siriërs wond* en hulle vernietig.’” 12  Al die ander profete het dieselfde geprofeteer en gesê: “Gaan na Raʹmot-Giʹlead, en u sal suksesvol wees. Jehovah sal dit in u hand gee.” 13  Die boodskapper wat Migaʹja gaan roep het, het toe vir hom gesê: “Die woorde van al die profete is ten gunste van die koning. Laat u woorde asseblief soos hulle woorde wees, en sê tog iets gunstigs.”+ 14  Maar Migaʹja het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, wat Jehovah ook al vir my sê, dít sal ek sê.” 15  Toe het hy na die koning gegaan, en die koning het vir hom gevra: “Migaʹja, moet ons teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hy het dadelik gesê: “Gaan, u sal suksesvol wees. Jehovah sal dit in u hand gee.” 16  Die koning het toe vir hom gesê: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy vir my in die naam van Jehovah net die waarheid sal vertel?” 17  Hy het gesê: “Ek sien al die Israeliete verstrooi op die berge,+ soos skape wat nie ’n herder het nie. Jehovah het gesê: ‘Hulle het nie ’n leier nie. Laat elkeen in vrede na sy huis teruggaan.’” 18  Toe het die koning van Israel vir Joʹsafat gesê: “Het ek nie vir jou gesê dat hy nie goeie dinge oor my sal profeteer nie, maar net slegte dinge?”+ 19  Migaʹja het gesê: “Hoor die woord van Jehovah: Ek het Jehovah op sy troon sien sit,+ en die hele leërmag van die hemel het by hom gestaan, aan sy regterkant en aan sy linkerkant.+ 20  Jehovah het toe gevra: ‘Wie sal Agab mislei, sodat hy na Raʹmot-Giʹlead sal gaan en daar sal sterf?’ En die een het dít gesê en die ander het dát gesê. 21  ’n Engel*+ het toe vorentoe gekom en voor Jehovah gaan staan en gesê: ‘Ek sal hom mislei.’ Jehovah het vir hom gevra: ‘Hoe sal jy dit doen?’ 22  Hy het geantwoord: ‘Ek sal gaan en ’n bedrieglike gees in die mond van al sy profete word.’+ Toe het hy gesê: ‘Jy sal hom mislei, en jy sal suksesvol wees. Gaan doen dit.’ 23  En nou het Jehovah ’n bedrieglike gees in die mond van al hierdie profete van u geplaas,+ maar in werklikheid het Jehovah rampspoed vir u voorspel.”+ 24  Sedekiʹa, die seun van Kenaʹäna, het toe na Migaʹja gegaan en hom op die wang geslaan en gesê: “Sê jy dat die gees van Jehovah van my af weggegaan het* om met jou te praat?”+ 25  Migaʹja het geantwoord: “Jy sal daarvan seker wees op die dag dat jy in die binnekamer ingaan om weg te kruip.” 26  Toe het die koning van Israel gesê: “Neem Migaʹja en gee hom oor aan Amon, die stadshoof, en Joas, die koning se seun. 27  Sê vir hulle: ‘Dít is wat die koning sê: “Sit hierdie man in die tronk+ en gee hom ’n kleiner porsie brood en water totdat ek in vrede terugkom.”’” 28  Maar Migaʹja het gesê: “As u in vrede terugkom, het Jehovah nie met my gepraat nie.”+ Hy het bygevoeg: “Laat almal wat hier is,* my woorde onthou.” 29  Daarna het die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, na Raʹmot-Giʹlead gegaan.+ 30  Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek my vermom, maar jy moet jou koninklike klere aantrek.” Toe het die koning van Israel hom vermom+ en gaan veg. 31  Die koning van Sirië het die volgende bevel aan die 32 bevelvoerders van sy strydwaens+ gegee: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie, dit maak nie saak of hulle belangrik of onbelangrik is nie.” 32  Toe die bevelvoerders van die strydwaens Joʹsafat sien, het hulle gedink: ‘Dit is vir seker die koning van Israel.’ Daarom het hulle op hom afgestorm om teen hom te veg, en Joʹsafat het om hulp begin roep. 33  Toe die bevelvoerders van die strydwaens sien dat dit nie die koning van Israel is nie, het hulle onmiddellik opgehou om hom te volg. 34  Maar ’n man het ’n pyl afgeskiet en die koning van Israel toevallig* raak geskiet tussen twee dele van sy pantser.* Die koning het toe vir sy strydwadrywer gesê: “Draai om en neem my uit die geveg,* want ek is ernstig gewond.”+ 35  Die geveg was baie intens en het die hele dag aangehou, en die koning moes regop gehou word in die strydwa met sy gesig na die Siriërs. Die bloed van die wond het in die strydwa uitgeloop, en hy het teen die aand gesterf.+ 36  Teen sononder is daar in die kamp uitgeroep: “Laat elkeen na sy stad gaan! Laat elkeen na sy land gaan!”+ 37  So het die koning gesterf, en hy is na Samariʹa geneem. Hulle het die koning in Samariʹa begrawe. 38  Toe hulle die strydwa by die dam van Samariʹa afgewas het, het die honde sy bloed opgelek, en die prostitute het daar gebad,* net soos Jehovah gesê het.+ 39  Wat die res van die geskiedenis van Agab betref, alles wat hy gedoen het en die ivoorpaleis+ wat hy gebou het en al die stede wat hy gebou het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 40  Agab het gesterf,*+ en sy seun Ahaʹsia+ het in sy plek koning geword. 41  Joʹsafat,+ die seun van Asa, het in die vierde jaar van koning Agab van Israel koning oor Juda geword. 42  Joʹsafat was 35 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuʹba, die dogter van Silhi. 43  Hy het dieselfde weg gevolg as sy pa, Asa.+ Hy het nie daarvan afgewyk nie, en hy het gedoen wat reg is in die oë van Jehovah.+ Maar die offerhoogtes is nie verwyder nie, en die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes geoffer en offerrook laat opgaan.+ 44  Joʹsafat het vreedsame betrekkinge met die koning van Israel behou.+ 45  Wat die res van die geskiedenis van Joʹsafat betref, sy magtige dade en hoe hy oorlog gevoer het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 46  Hy het ook die res van die manlike tempelprostitute+ verwyder wat uit die tyd van sy pa, Asa, oorgebly het.+ 47  Op daardie tyd was daar nie ’n koning in Edom nie.+ ’n Plaasvervanger het as koning opgetree.+ 48  Joʹsafat het ook Tarsis-skepe* gebou om na Ofir toe te gaan vir goud,+ maar die skepe het nie gegaan nie, want hulle is by Eʹseon-Geʹber+ erg beskadig. 49  Toe het Ahaʹsia, die seun van Agab, vir Joʹsafat gesê: “Laat my knegte saam met u knegte op die skepe gaan,” maar Joʹsafat het nie ingestem nie. 50  Joʹsafat het gesterf,*+ en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid, sy voorvader, begrawe. En sy seun Joram+ het in sy plek koning geword. 51  Ahaʹsia,+ die seun van Agab, het in die 17de jaar van koning Joʹsafat van Juda koning oor Israel geword in Samariʹa, en hy het twee jaar lank oor Israel regeer. 52  En hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë en het dieselfde weg gevolg as sy pa+ en sy ma+ en as Jeroʹbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het.+ 53  Hy het aangehou om Baäl te dien+ en voor hom neer te buig en om Jehovah, die God van Israel, aanstoot te gee,+ net soos sy pa gedoen het.

Voetnote

Of “stoot”.
Lett. “Gees”.
Lett. “Waar het die gees van Jehovah van my af weggegaan”.
Lett. “alle volke”.
Of “in sy onskuld”.
’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.
Lett. “kamp”.
Of moontlik “waar die prostitute gebad het, het die honde sy bloed opgelek”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.