Volgens Lukas 17:1-37
17 Toe het hy vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke sal kom. Maar dit sal sleg gaan met die een wat dit laat kom!
2 Dit sal vir hom beter wees as ’n meulsteen om sy nek gehang word en hy in die see gegooi word as dat hy een van hierdie kleintjies laat struikel.+
3 Wees versigtig. As jou broer ’n sonde pleeg, wys hom tereg,+ en as hy berou toon, vergewe hom.+
4 Selfs as hy sewe keer per dag teen jou sondig en sewe keer na jou toe terugkom en sê: ‘Ek het berou,’ moet jy hom vergewe.”+
5 Die apostels het vir die Here gesê: “Gee ons meer geloof.”+
6 Toe het die Here gesê: “As julle geloof gehad het wat so groot soos ’n mosterdsaadjie is, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: ‘Trek jou wortels uit die grond uit en plant jouself in die see!’ en die boom sou julle gehoorsaam.+
7 “Sê nou iemand het ’n slaaf wat ploeg of die kudde oppas. Sal hy vir hom sê: ‘Kom gou hier en eet iets’ wanneer hy van die land af inkom?
8 Nee, hy sal eerder vir hom sê: ‘Maak iets vir my gereed vir aandete, en sit ’n voorskoot aan en bedien my totdat ek klaar geëet en gedrink het, en daarna kan jy eet en drink.’
9 Hy sal tog nie dankbaar wees teenoor die slaaf omdat hy al sy opdragte uitgevoer het nie, of hoe?
10 Net so moet julle, wanneer julle al julle opdragte uitgevoer het, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het.’”+
11 Terwyl hy op pad was na Jerusalem het hy deur die grensgebied van Samariʹa en Galileʹa gereis.
12 Toe hy in ’n dorpie ingaan, het tien melaatse mans hom gesien, maar hulle het op ’n afstand gestaan.+
13 Hulle het uitgeroep: “Jesus, Onderrigter, betoon genade aan ons!”
14 Toe hy hulle sien, het hy vir hulle gesê: “Gaan wys julle vir die priesters.”+ En terwyl hulle weggegaan het, is hulle genees.*+
15 Een van hulle het teruggedraai en God met ’n harde stem geloof toe hy sien dat hy genees is.
16 En hy het voor Jesus se voete neergeval met sy gesig na die grond toe en hom bedank. Wat meer is, hy was ’n Samaritaan.+
17 Jesus het vir hom gevra: “Al tien is genees,* nie waar nie? Waar is die ander nege dan?
18 Het niemand anders behalwe hierdie man van ’n ander nasie teruggedraai om God te eer nie?”
19 Hy het toe vir hom gesê: “Staan op en gaan. Jou geloof het jou gesond gemaak.”+
20 Toe die Fariseërs vir hom gevra het wanneer die Koninkryk van God kom,+ het hy hulle geantwoord: “Die Koninkryk van God kom nie op ’n opvallende manier nie.
21 En mense sal ook nie sê: ‘Kyk hier!’ of: ‘Daar!’ nie. Want die Koninkryk van God is by julle.”*+
22 Toe het hy vir die dissipels gesê: “Daar kom ’n tyd wanneer julle graag een van die dae van die Seun van die mens sal wil sien, maar julle sal dit nie sien nie.
23 En mense sal vir julle sê: ‘Kyk daar!’ of: ‘Kyk hier!’ Moenie uitgaan of agter hulle aanloop nie.+
24 Want net soos die weerlig van een deel van die hemel tot in ’n ander deel van die hemel flits, so sal die Seun van die mens+ in sy dag wees.+
25 Maar eers moet hy baie ly en deur hierdie geslag verwerp word.+
26 En net soos dit in die dae van Noag was,+ so sal dit in die dae van die Seun van die mens wees:+
27 Hulle het geëet, hulle het gedrink, mans het getrou, vrouens is in die huwelik gegee, tot op daardie dag toe Noag in die ark ingegaan het+ en die Vloed gekom het en hulle almal vernietig het.+
28 Net soos dit ook in die dae van Lot was:+ Hulle het geëet, hulle het gedrink, hulle het gekoop, hulle het verkoop, hulle het geplant, hulle het gebou.
29 Maar op die dag toe Lot uit Sodom uitgegaan het, het dit vuur en swael uit die hemel gereën en hulle almal vernietig.+
30 Dit sal net so wees op die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.+
31 “Op daardie dag moet die een wat op die dak is maar wie se besittings in die huis is, nie afkom om dit te gaan haal nie, en die een wat buite op die landery is, moet ook nie teruggaan na die dinge wat hy agtergelaat het nie.
32 Dink aan die vrou van Lot.+
33 Elkeen wat sy lewe probeer red, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit red.+
34 Ek sê vir julle: In daardie nag sal twee mense in een bed wees. Die een sal saamgeneem word, maar die ander een sal agtergelaat word.+
35 Daar sal twee vrouens wees wat by dieselfde meul maal. Die een sal saamgeneem word, maar die ander een sal agtergelaat word.”
36 *——
37 Toe het hulle vir hom gevra: “Waar sal dit gebeur, Here?” Hy het vir hulle gesê: “Waar die liggaam is, daar sal die arende ook bymekaarkom.”+