Rigters 10:1-18

  • Rigters Tola en Jaïr (1-5)

  • Israel kom in opstand; toon berou (6-16)

  • Ammoniete bedreig Israel (17, 18)

10  Ná Abimeʹleg het Tola, die seun van Pua, die seun van Dodo, ’n man uit Isʹsaskar, opgestaan om Israel te red.+ Hy het in Samir in die bergstreek van Eʹfraim gewoon.  Hy het 23 jaar lank as rigter oor Israel gedien. Toe het hy gesterf, en hy is in Samir begrawe.  Ná hom het Jaïr, die Gileadiet, opgestaan en 22 jaar lank as rigter oor Israel gedien.  Hy het 30 seuns gehad wat op 30 donkies gery het, en hulle het 30 stede gehad, wat tot vandag toe Hawwot-Jaïr+ genoem word. Hierdie stede is in die land Giʹlead.  Daarna het Jaïr gesterf, en hy is in Kamon begrawe.  Toe het die Israeliete weer gedoen wat sleg is in Jehovah se oë,+ en hulle het die Baäls,+ die Astoʹret-beelde, die gode van Aram,* die gode van Sidon, die gode van Moab,+ die gode van die Ammoniete+ en die gode van die Filistyne+ begin dien. Hulle het Jehovah verlaat en opgehou om hom te dien.  Toe het Jehovah woedend geword vir Israel, en hy het hulle in die hand van die Filistyne en die Ammoniete oorgelewer.*+  Hulle het die Israeliete dus erg onderdruk in daardie jaar – 18 jaar lank het hulle die Israeliete onderdruk in Giʹlead, aan die kant van die Jordaanrivier wat voorheen die land van die Amoriete was.  Die Ammoniete het ook die Jordaanrivier oorgesteek om teen Juda en Benjamin en die huis van Eʹfraim te veg, en Israel het baie swaargekry. 10  Toe het die Israeliete tot Jehovah om hulp begin roep+ en gesê: “Ons het teen u gesondig, want ons het ons God verlaat en die Baäls gedien.”+ 11  Maar Jehovah het vir die Israeliete gesê: “Het ek julle nie gered van Egipte,+ die Amoriete,+ die Ammoniete, die Filistyne,+ 12  die Sidoniërs, Aʹmalek en Miʹdian toe hulle julle onderdruk het nie? Toe julle tot my geroep het, het ek julle uit hulle hand gered. 13  Maar julle het my verlaat en ander gode gedien.+ Daarom sal ek julle nie weer red nie.+ 14  Gaan na die gode wat julle gekies het, en vra hulle om julle te help.+ Laat hulle julle red noudat julle in die moeilikheid is.”+ 15  Maar die Israeliete het vir Jehovah gesê: “Ons het gesondig. Doen met ons wat u ook al wil, maar red ons net asseblief vandag.” 16  En hulle het ontslae geraak van hulle vreemde gode en het Jehovah gedien,+ en daarom kon hy nie meer verdra dat Israel so ly nie.+ 17  Ná verloop van tyd is die Ammoniete+ bymekaargeroep, en hulle het in Giʹlead kamp opgeslaan. Daarom het die Israeliete bymekaargekom en in Mispa kamp opgeslaan. 18  Die manne en die leiers van Giʹlead het vir mekaar gesê: “Wie sal die leiding neem in die geveg teen die Ammoniete?+ Laat hy die hoof oor al die inwoners van Giʹlead word.”

Voetnote

Of “Sirië”.
Lett. “verkoop”.