Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 126

Petrus sê dat hy Jesus nie ken nie

Petrus sê dat hy Jesus nie ken nie

Toe Jesus in die tuin van Getsemane in hegtenis geneem is, het die apostels weggehardloop omdat hulle bang was. Maar twee van hulle het ophou hardloop. Dit is Petrus “sowel as ’n ander dissipel”, blykbaar die apostel Johannes (Johannes 18:15; 19:35; 21:24). Hulle kry dalk vir Jesus by Annas se huis. Wanneer Annas Jesus na die hoëpriester Kajafas stuur, volg Petrus en Johannes op ’n afstand. Hulle is moontlik in twee geskeur omdat hulle vrees vir hulle eie lewe, maar hulle is ook bekommerd oor wat met hulle Meester gaan gebeur.

Die hoëpriester ken vir Johannes, en daarom word hy toegelaat om in die binnehof van Kajafas se huis in te gaan. Petrus bly buite by die deur totdat Johannes terugkom en met die diensmeisie praat wat die deurwagter is. Dan word Petrus toegelaat om in te gaan.

Dit is koud, en daarom het die mense in die binnehof ’n vuur gemaak. Petrus sit by hulle om warm te bly terwyl hy wag om te sien wat met Jesus se verhoor gaan gebeur (Matteus 26:58). Noudat daar lig is as gevolg van die vuur, kan die deurwagter wat Petrus ingelaat het, hom beter sien. Sy vra: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” (Johannes 18:17). En sy is nie die enigste een wat Petrus herken en sê dat hy saam met Jesus was nie. – Matteus 26:69, 71-73; Markus 14:70.

Petrus skrik en word bang. Hy probeer om nie aandag te trek nie en loop selfs weg en gaan staan by die ingang. So Petrus ontken dat hy saam met Jesus was en sê: “Ek ken hom nie en ek weet ook nie waarvan jy praat nie” (Markus 14:67, 68). Hy begin ook “sweer dat hy die waarheid praat,” wat beteken dat hy bereid is om deur God gestraf te word as hy nie die waarheid praat nie. – Matteus 26:74.

Intussen is Jesus se verhoor aan die gang, blykbaar in ’n gedeelte van Kajafas se huis wat bokant die binnehof is. Petrus en die ander wat aan die onderkant wag, sien dalk hoe verskillende mense kom en gaan wat gevra is om teen Jesus te getuig.

Hulle kan aan Petrus se aksent hoor dat hy van Galilea is, en dit is ’n bewys dat hy nie die waarheid praat nie. En iemand in die groep is ’n familielid van Malgus, wie se oor Petrus afgekap het. So hy sê ook vir Petrus: “Het ek jou nie in die tuin saam met hom gesien nie”? Wanneer Petrus dit vir ’n derde keer ontken, kraai ’n haan soos voorspel is. – Johannes 13:38; 18:26, 27.  

Op daardie stadium staan Jesus blykbaar op ’n balkon wat oor die binnehof uitkyk. Die Here draai om en kyk reguit na Petrus. Dit moet Petrus sekerlik verskriklik seermaak. Hy dink aan wat Jesus net ’n paar uur vroeër in die bo-kamer gesê het. Dink net hoe Petrus voel terwyl hy besef wat hy gedoen het! Petrus gaan buitentoe en huil bitterlik. – Lukas 22:61, 62.

Hoe kon dit gebeur? Hoe kon Petrus – wat so seker was dat hy geestelik sterk is en getrou sal bly – sê dat hy sy Meester nie ken nie? Die waarheid word verdraai, en Jesus word as ’n slegte misdadiger uitgemaak. Toe Petrus ’n onskuldige man kon verdedig, het hy sy rug gedraai op die Een wat “woorde van die ewige lewe” het. – Johannes 6:68.

Petrus se hartseer ondervinding wys dat selfs ’n persoon wat sterk geloof het en toegewy is aan God, sy balans kan verloor as hy nie voorbereid is vir beproewinge of versoekings wat hy nie verwag het nie. Laat Petrus se ondervinding vir al God se knegte ’n waarskuwing wees!