Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 64

Dit is belangrik om te vergewe

Dit is belangrik om te vergewe

MATTEUS 18:21-35

  • VERGEWE SEWE KEER?

  • ILLUSTRASIE VAN DIE SLAAF WAT NIE GENADE BETOON NIE

Petrus het Jesus se raad gehoor oor hoe om ’n probleem tussen broers te hanteer – hulle moet dit tussen mekaar probeer oplos. Maar dit lyk asof Petrus wil weet presies hoeveel keer ’n mens hierdie moeite moet doen.

Petrus vra: “Here, hoeveel keer kan my broer teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe keer?” Party godsdiensleiers sê dat ’n mens tot drie keer moet vergewe. Daarom voel Petrus dalk dat hy baie vrygewig sal wees as hy ’n broer “tot sewe keer” vergewe. – Matteus 18:21.

Maar om ’n rekord te hou van hoeveel keer iemand teen jou sondig, is nie in ooreenstemming met wat Jesus geleer het nie. Hy help Petrus reg en sê: “Ek sê vir jou: nie tot sewe keer nie, maar tot 77 keer” (Matteus 18:22). Met ander woorde, Petrus mag geen beperking stel op die aantal kere dat hy sy broer vergewe nie.

Jesus vertel dan vir Petrus en die ander ’n illustrasie om verder te beklemtoon dat hulle verplig is om te vergewe. Dit gaan oor ’n slaaf wat nie sy meester se genade navolg nie. Die koning wil hê dat sy slawe moet teruggee wat hulle hom skuld. Die een slaaf, wat ’n reusagtige bedrag van 10 000 talente (60 000 000 denarii) skuld, word na hom toe gebring. Daar is geen manier dat hy hierdie skuld kan terugbetaal nie. Daarom beveel die koning dat die slaaf, sy vrou en sy kinders verkoop moet word en die geld aan hom betaal word. Wanneer die koning dit sê, val die slaaf by sy meester se voete neer en smeek: “Wees geduldig met my, en ek sal alles aan u terugbetaal.” – Matteus 18:26.

Die koning voel jammer vir die slaaf en betoon genade aan hom deur sy groot skuld te kanselleer. Daarna gaan die slaaf en vind hy ’n medeslaaf wat hom 100 denarii skuld. Hy gryp die ander slaaf en begin hom wurg en sê: “Betaal terug  wat jy skuld.” Maar hierdie medeslaaf val neer by die voete van die slaaf aan wie hy geld skuld en smeek hom: “Wees geduldig met my, en ek sal jou terugbetaal” (Matteus 18:28, 29). Maar die slaaf wie se skuld die koning vergewe het, volg nie sy meester na nie. Hy laat sy medeslaaf, wat hom baie minder skuld, in die tronk gooi totdat hy sy skuld kan terugbetaal.

Jesus sê dan dat ander slawe wat sien dat hierdie slaaf nie genade betoon het nie, die meester gaan vertel. Die meester word kwaad en laat roep die slaaf en sê: “Goddelose slaaf, ek het al jou skuld afgeskryf toe jy my gesmeek het. Moes jy nie ook genade aan jou medeslaaf betoon het soos ek genade aan jou betoon het nie?” Die koning lewer die slaaf wat nie genade betoon het nie, oor aan die tronkbewaarders totdat hy al sy skuld terugbetaal. Jesus sluit af: “My hemelse Vader sal julle op dieselfde manier behandel as julle nie elkeen sy broer uit die hart vergewe nie.” – Matteus 18:32-35.

Dit behoort ons baie omtrent vergifnis te leer! God het ons groot skuld afgeskryf deur ons sondes te vergewe. Enige oortreding wat ’n Christenbroer teen ons pleeg, is klein in vergelyking daarmee. En Jehovah vergewe ons nie net een keer nie, maar duisende kere. Kan ons dan nie ons broer ’n aantal kere vergewe nie, selfs al het ons rede om te kla? Soos Jesus in die Bergpredikasie gesê het, sal God “ons ons sondes [vergewe], soos ons ook die mense vergewe het wat teen ons gesondig het”. – Matteus 6:12.