Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 130

Jesus word oorgelewer en weggelei om doodgemaak te word

Jesus word oorgelewer en weggelei om doodgemaak te word

MATTEUS 27:31, 32 MARKUS 15:20, 21 LUKAS 23:24-31 JOHANNES 19:6-17

  • PILATUS PROBEER JESUS VRYLAAT

  • JESUS WORD VEROORDEEL EN GESTUUR OM DOODGEMAAK TE WORD

Al is Jesus gespot en wreed mishandel en al probeer Pilatus om hom vry te laat, weier die hoofpriesters en dié wat saam met hulle is om dit te doen. Hulle wil Jesus dood hê en niks sal in hulle pad staan nie. Hulle hou aan skree: “Hang hom aan die paal! Hang hom aan die paal!” Pilatus sê: “Vat julle hom en hang hom aan die paal, want ek vind niks waaraan hy skuldig is nie.” – Johannes 19:6.

Die Jode kon nie vir Pilatus oortuig dat Jesus vir ’n politieke rede doodgemaak moet word nie, maar wat van ’n godsdienstige rede? Hulle beskuldig Jesus weer van godslastering, dieselfde beskuldiging wat hulle by sy verhoor voor die Sanhedrin gemaak het. Hulle sê: “Ons het ’n wet, en volgens hierdie wet moet hy sterf omdat hy homself God se seun gemaak het” (Johannes 19:7). Pilatus het nog nie hierdie beskuldiging gehoor nie.

Pilatus gaan terug in sy paleis en probeer om hierdie man vry te laat wat wreed mishandel is en oor wie sy eie vrou ’n droom gehad het (Matteus 27:19). Maar wat van hierdie nuwe beskuldiging wat die Jode maak – dat die gevangene “God se seun” is? Pilatus weet dat Jesus van Galilea is (Lukas 23:5-7). Maar hy vra Jesus nog steeds: “Waar kom jy vandaan?” (Johannes 19:9). Wonder Pilatus dalk of Jesus voorheen in die hemel gewoon het en of hy ’n god was?

Pilatus het by Jesus self gehoor dat hy ’n koning is, maar dat sy Koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie. Jesus hoef niks verder hieroor te sê nie, en daarom bly hy stil. Pilatus word kwaad omdat Jesus hom nie antwoord nie en sê vir hom: “Weier jy om met my te praat? Weet jy nie dat ek die gesag het om jou vry te laat en die gesag het om jou te laat doodmaak nie?” – Johannes 19:10.

Jesus sê eenvoudig: “U sou hoegenaamd geen gesag oor my hê as dit nie van bo aan u gegee was nie. Daarom het die man wat my aan u oorgelewer het, groter sonde” (Johannes 19:11). Jesus het waarskynlik nie net een persoon in gedagte nie. Hy bedoel eerder dat Kajafas en dié wat saam met hom is en Judas Iskariot groter skuld as Pilatus het.

Pilatus is beïndruk met Jesus se woorde en dat hy so kalm is, en hy is ook bang dat Jesus dalk ’n god is, en daarom probeer hy weer om hom vry te laat. Maar die Jode noem iets anders wat Pilatus bang maak. Hulle dreig hom: “As u hierdie man vrylaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself ’n koning maak, praat teen die keiser.” – Johannes 19:12.

Die goewerneur bring Jesus nog een keer uit en terwyl hy op die regterstoel sit, sê hy vir die mense: “Kyk! Julle koning!” Maar die Jode het geen genade nie. Hulle skree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Hang hom aan die paal!” Pilatus probeer Jesus verdedig en sê: “Moet ek julle koning laat doodmaak?” Die Jode ly al lank onder die Romeinse regering, maar die hoofpriesters sê nog steeds: “Ons het geen ander koning as die keiser nie.” – Johannes 19:14, 15.

Pilatus is bang vir die Jode, en daarom gee hy op en gee hy Jesus oor om doodgemaak te word. Die soldate haal die helderrooi mantel van Jesus af en trek sy bo-klere aan. Terwyl Jesus weggelei word, moet hy sy eie folterpaal dra.

Dit is nou Vrydag 14 Nisan en dit is al amper middag. Jesus is al van vroeg Donderdagoggend wakker en het die een pynlike ondervinding ná die ander gehad. Teen hierdie tyd is Jesus baie swak en hy dra die paal totdat hy nie meer kan nie. So die soldate dwing iemand wat verbyloop, Simon van Sirene in Afrika, om die paal na die plek te dra waar Jesus gehang gaan word. ’n  Groot groep mense volg hom. Party slaan hulleself en huil omdat hulle baie hartseer is oor wat gebeur.

Jesus sê vir die vrouens wat huil: “Dogters van Jerusalem, hou op om oor my te huil. Huil eerder oor julleself en oor julle kinders, want daar kom dae wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vrouens en die moederskote wat nie geboorte gegee het nie en die borste wat nie gevoed het nie!’ Dan sal hulle vir die berge begin sê: ‘Val op ons!’ en vir die heuwels: ‘Bedek ons!’ As hulle hierdie dinge doen wanneer die boom groen is, wat sal gebeur wanneer dit uitgedroog is?” – Lukas 23:28-31.

Jesus praat van die Joodse nasie. Dit is soos ’n boom wat besig is om dood te gaan, maar wat nog ’n bietjie lewe in hom het, want Jesus is nog saam met hulle asook ’n hele paar Jode wat geloof in hom het. Wanneer Jesus sterf en sy dissipels nie meer deel is van die Joodse godsdiens nie, sal die nasie Israel soos ’n uitgedroogde boom word. Hulle sal baie huil wanneer God die Romeinse leërmagte gebruik om die nasie te vernietig!