Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 80

Die goeie herder en die skaapkrale

Die goeie herder en die skaapkrale

JOHANNES 10:1-21

  • JESUS PRAAT OOR DIE GOEIE HERDER EN DIE SKAAPKRALE

Terwyl Jesus mense in Judea leer, praat hy van iets waarmee sy luisteraars goed bekend is – skape en skaapkrale. Maar hy is eintlik besig om ’n illustrasie te vertel. Die Jode onthou waarskynlik Dawid se woorde: “Jehovah is my Herder. Ek sal niks kortkom nie. In groen weivelde laat hy my neerlê” (Psalm 23:1, 2). In ’n ander psalm het Dawid die nasie genooi en gesê: “Laat ons kniel voor Jehovah ons Maker. Want hy is ons God, en ons is die volk van sy weiding” (Psalm 95:6, 7). Ja, die Israeliete onder die Wet word al lank vergelyk met ’n kudde skape.

Hierdie “skape” is in ’n “skaapkraal” in die sin dat hulle onder die Wetsverbond van Moses gebore is. Die Wet het as ’n heining gedien wat hulle beskerm het teen die verderflike gebruike van die volke wat nie onder hierdie reëling is nie. Party Israeliete het egter God se kudde sleg behandel. Jesus sê: “Ek verseker julle: Hy wat nie by die deur van die skaapkraal ingaan nie maar iewers anders opklim, is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is die herder van die skape.” – Johannes 10:1, 2.

Die skare dink dalk aan mense wat beweer het dat hulle die Messias, of Christus, is. Hierdie soort mense is soos diewe en rowers. Die volk moenie sulke bedrieërs volg nie. Hulle moet eerder “die herder van die skape” volg, van wie Jesus sê:

“Die deurwagter maak vir hom oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, gaan hy voor hulle uit, en die skape volg hom omdat hulle sy stem ken. Hulle sal glad nie ’n vreemdeling volg nie, maar sal van hom af wegvlug, omdat hulle nie die stem van vreemdelinge ken nie.” – Johannes 10:3-5.

Vroeër het Johannes die Doper, soos ’n deurwagter, Jesus geïdentifiseer as die een wat deur daardie simboliese skape onder die Wet gevolg moet word. En party skape, in Galilea en hier in Judea, het Jesus se stem herken. Waarheen sou hy ‘hulle lei’? En wat sou die gevolg wees as hulle hom volg? Party wat hierdie illustrasie hoor, wonder dalk hieroor, want ‘hulle verstaan nie wat hy vir hulle sê nie’. – Johannes 10:6.

Jesus verduidelik: “Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. Almal wat in my plek gekom het, is diewe en rowers, maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur. Wie deur my ingaan, sal gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.” – Johannes 10:7-9.

Dit is duidelik dat Jesus iets nuuts voorstel. Sy luisteraars weet dat hy nie die deur is wat lei tot die Wetsverbond, wat al eeue lank bestaan nie. Daarom bedoel hy sekerlik dat die skape wat hy ‘uit lei’, ’n ander skaapkraal moet binnegaan. Wat is die gevolg?

Jesus verduidelik sy rol verder en sê: “Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed kan hê. Ek is die goeie herder. Die goeie herder gee sy lewe vir die skape” (Johannes 10:10, 11). Jesus het vroeër sy dissipels vertroos deur te sê: “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die Koninkryk aan julle te gee” (Lukas 12:32). Ja, dié wat uit die “klein kuddetjie” bestaan, is persone wat Jesus na ’n nuwe skaapkraal sal lei sodat hulle “lewe kan hê, en dit in oorvloed kan hê”. Wat ’n seën is dit tog om deel van daardie kudde te wees!

Maar Jesus het nog iets om te sê. Hy merk op: “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook inbring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word” (Johannes 10:16). Hierdie “ander  skape” is nie van hierdie kraal nie. Hulle moet dus van ’n ander kraal wees en nie van die kraal van die “klein kuddetjie,” wat die Koninkryk sal erf nie. Hierdie twee krale het verskillende bestemmings, maar die skape in al twee krale sal voordeel trek uit Jesus se rol. Hy sê: “Daarom het die Vader my lief, omdat ek my lewe gee, sodat ek dit weer kan ontvang.” – Johannes 10:17.

Baie in die skare sê: “Hy het ’n demoon en is mal.” Maar ander luister aandagtig en wil graag die Goeie Herder volg. Hulle sê: “Dit is nie die woorde van ’n man wat ’n demoon het nie. ’n Demoon kan tog nie blindes se oë open nie, of hoe?” (Johannes 10:20, 21). Hulle verwys waarskynlik na die feit dat Jesus die man wat blind was, vroeër genees het.