Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 103

Die tempel word weer gereinig

Die tempel word weer gereinig

MATTEUS 21:12, 13, 18, 19 MARKUS 11:12-18 LUKAS 19:45-48 JOHANNES 12:20-27

  • JESUS VERVLOEK ’N VYEBOOM EN REINIG DIE TEMPEL

  • OM LEWE TE GEE AAN BAIE, MOET JESUS STERF

Nadat Jesus en sy dissipels Jerigo verlaat het, het hulle drie nagte in Betanië deurgebring. Dit is nou vroeg Maandagoggend 10 Nisan, en hulle is op pad na Jerusalem. Jesus is honger. Hy sien ’n vyeboom en loop dus daarheen om te sien of daar vye aan die boom is.

Dit is nou einde Maart, en die seisoen vir vye is eers in Junie. Maar die boom het alreeds blare, want dit het vroeg begin uitspruit. Daarom dink Jesus dat daar dalk vroeë vye aan die boom sal wees. Maar daar is geen vye nie. Die blare het dit laat lyk of die boom vye dra. Jesus sê dus: “Laat niemand ooit weer vrugte van jou eet nie” (Markus 11:14). Onmiddellik begin die boom verdor. Die dissipels sal eers die volgende oggend uitvind wat hulle hieruit kan leer.

Kort voor lank kom Jesus en sy dissipels in Jerusalem aan. Hy gaan na die tempel, wat hy die vorige middag aandagtig bekyk het. Maar vandag kyk hy nie net rond nie; hy doen weer wat hy drie jaar gelede by die Pasga van 30 HJ gedoen het (Johannes 2:14-16). Hierdie keer jaag Jesus almal uit “wat in die tempel koop en verkoop”. En hy gooi ook “die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers” om (Markus 11:15). Hy laat nie eers toe dat iemand wat iets na ’n ander deel van die stad wil vat, ’n kortpad deur die tempelvoorhof neem nie.

Hoekom neem Jesus drastiese stappe teen dié wat geld wissel en diere in die tempel verkoop? Hy sê: “Staan daar nie geskryf: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie? Maar julle het dit ’n skuilplek vir rowers gemaak” (Markus 11:17). Die rede waarom hy hierdie manne rowers noem, is omdat hulle belaglike pryse vra vir die diere wat mense vir offerandes nodig het. Volgens Jesus is dit afpersing, of diefstal.

Die hoofpriesters, skrifgeleerdes en die leiers van die volk hoor natuurlik wat Jesus gedoen het, en hulle soek weer na ’n manier om Jesus te laat doodmaak. Hulle het egter ’n probleem. Hulle weet nie hoe om van Jesus ontslae te raak nie, want die mense loop agter hom aan om na hom te luister.

Dit is nie net natuurlike Jode wat vir die Pasga gekom het nie, maar ook proseliete, wat hulle tot die Joodse godsdiens bekeer het. Onder hulle is daar Grieke wat gekom het om by die fees te aanbid. Hulle nader Filippus, miskien omdat hy ’n Griekse naam het, en vra of hulle met Jesus kan praat. Filippus is dalk onseker of dit gepas is dat hulle Jesus ontmoet, en daarom vertel hy Andreas daarvan. Die twee neem die saak na Jesus, wat blykbaar nog by die tempel is.

Jesus weet dat hy oor ’n paar dae doodgemaak gaan word, en daarom is dit nie nou die tyd om mense se nuuskierigheid te bevredig of gewildheid na te streef nie. Hy antwoord die twee apostels deur middel van ’n illustrasie en sê: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Ek sê vir julle: As ’n koringkorrel nie op die grond val en sterf nie, sal dit net een korrel bly, maar as dit wel sterf, sal dit baie vrug dra.” – Johannes 12:23, 24.

Dit lyk dalk of een koringkorrel min waarde het. Maar as dit in die grond gesit word en as ’n saad “sterf”, kan dit ontkiem en later ’n vrugbare stingel word wat baie graankorrels voortbring. Net so is Jesus een volmaakte man. Maar deur tot die dood aan God getrou te bly, sal hy ewige lewe aan baie gee wat ’n soortgelyke selfopofferende gees het. Daarom sê Jesus: “Enigiemand wat lief is vir sy lewe, vernietig dit, maar enigiemand wat sy lewe in hierdie wêreld haat, sal dit vir die ewige lewe veilig bewaar.” – Johannes 12:25.

Jesus dink nie net aan homself nie, want hy sê: “As iemand my wil dien, moet hy my volg, en  waar ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand my wil dien, sal die Vader hom eer” (Johannes 12:26). Wat ’n beloning is dit tog! Dié wat deur die Vader geëer word, sal saam met Christus in die Koninkryk regeer.

Jesus dink aan die verskriklike lyding en pynlike dood wat vir hom voorlê en sê: “Nou is ek diep ontsteld, en wat moet ek sê? Vader, red my uit hierdie uur.” Maar Jesus wil dit nie vermy om God se wil te doen nie. Hy sê verder: “Tog het ek juis vir hierdie uur gekom” (Johannes 12:27). Jesus ondersteun al God se voornemens, insluitende sy eie offerdood.