Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 13

Leer uit hoe Jesus versoekings weerstaan het

Leer uit hoe Jesus versoekings weerstaan het

Onmiddellik nadat Jesus deur Johannes gedoop is, lei God se gees Jesus in die wildernis van Judea in. Hy het baie om oor te dink. By sy doop ‘het die hemel oopgegaan’ (Matteus 3:16). Nou kan hy alles onthou wat hy in die hemel geleer en gedoen het. Hy het beslis baie om oor te dink!  

Jesus spandeer 40 dae en 40 nagte in die wildernis. Gedurende hierdie tyd eet hy niks nie. Wanneer Jesus baie honger is, kom Satan die Duiwel na hom toe om hom te versoek. Hy sê: “As jy ’n seun van God is, sê vir hierdie klippe om brode te word” (Matteus 4:3). Maar Jesus weet dat dit verkeerd is om sy wonderdadige kragte te gebruik om sy eie begeertes te bevredig. Daarom weerstaan hy hierdie versoeking.

Die Duiwel hou nie daar op nie. Hy probeer iets anders. Hy daag Jesus uit om van die tempel se dak af te spring. Maar Jesus kom nie in die versoeking om iets so indrukwekkend te doen nie. Jesus haal uit die Skrif aan en wys dat dit verkeerd is om God op so ’n manier te toets.

In ’n derde versoeking wys die Duiwel vir Jesus op die een of ander manier “al die koninkryke van die wêreld en hulle mag”. Hy sê: “Ek sal al hierdie dinge vir jou gee as jy neerval en my een keer aanbid.” Jesus weier weer en sê: “Gaan weg, Satan!” (Matteus 4:8-10). Hy het die versoeking weerstaan om iets verkeerds te doen, want hy weet dat Jehovah alleen aanbid moet word. Hy kies om aan God getrou te bly.

Ons kan leer uit hierdie versoekings en hoe Jesus daarop gereageer het. Die versoekings het regtig gebeur, en dit wys dat die Duiwel nie net iets slegs binne-in ’n mens is soos party sê nie. Hy is ’n werklike, onsigbare persoon. Dit wys ook dat die wêreld se regerings eintlik aan die Duiwel behoort en dat hy hulle beheer. Sou dit regtig ’n versoeking vir Christus gewees het as die regerings nie aan die Duiwel behoort het nie?

Die Duiwel het gesê dat hy bereid was om Jesus te beloon as hy hom net een keer aanbid, en hy wou selfs al die regerings van die wêreld vir Jesus gee. Hy sal ons dalk op dieselfde manier probeer versoek, miskien deur vir ons aanloklike geleenthede te bied om ryk of beroemd te word of baie mag te verkry. As ons Jesus se voorbeeld volg deur getrou aan God te bly, maak nie saak wat die versoeking is nie, sal ons toon dat ons verstandig is! Maar hou in gedagte dat die Duiwel van Jesus af weggegaan het “tot ’n ander geskikte tyd” (Lukas 4:13). Hy sal dit miskien met ons ook doen, en daarom moet ons versigtig wees.