Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 19

’n Samaritaanse vrou word geleer

’n Samaritaanse vrou word geleer

JOHANNES 4:3-43

  •   JESUS LEER ’N SAMARITAANSE VROU EN ANDER

  • AANBIDDING WAT GOD SE GOEDKEURING HET

Op pad van Judea na Galilea reis Jesus en sy dissipels noord deur die streek Samaria. Hulle is moeg van die reis. Omtrent in die middel van die dag stop hulle naby die stad Sigar om te rus by ’n put wat Jakob eeue tevore waarskynlik self gegrawe het of laat grawe het. So ’n put kan vandag nog naby die hedendaagse stad Nabloes gevind word.

Terwyl Jesus naby die put rus, gaan sy dissipels na die nabygeleë stad om kos te koop. Terwyl hulle weg is, kom ’n Samaritaanse vrou om water te skep. Jesus sê vir haar: “Gee my ’n bietjie water om te drink.” – Johannes 4:7.

Oor die algemeen het Jode en Samaritane niks met mekaar te doen nie as gevolg van diepgewortelde vooroordele. Die vrou is dus verbaas en vra: “Hoe kan u, wat ’n Jood is, vir my, wat ’n Samaritaanse vrou is, ’n bietjie water vra om te drink?” Jesus antwoord: “As jy geweet het van die vrye gawe van God en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee my ’n bietjie water om te drink,’ sou jy hom gevra het, en hy sou vir jou lewende water gegee het.” “Meneer,” antwoord sy, “u het nie eers ’n emmer om water te skep nie, en die put is diep. Waar kry u dan hierdie lewende water vandaan? U is tog nie groter as ons voorvader Jakob, wat vir ons die put gegee het en wat self saam met sy seuns en sy vee daaruit gedrink het nie, of hoe?” – Johannes 4:9-12.

“Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word,” sê Jesus. “Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nooit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee” (Johannes 4:13, 14). Ja, al is Jesus moeg, is hy bereid om lewegewende woorde van waarheid met die Samaritaanse vrou te deel.

Die vrou sê dan: “Meneer, gee my hierdie water, sodat ek nie dors sal word of gedurig hierheen hoef te kom om water te skep nie.” Dit lyk nou asof Jesus die onderwerp verander wanneer hy vir haar sê: “Gaan roep jou man en kom hierheen.” Sy antwoord: “Ek het nie ’n man nie.” Maar dink net hoe geskok sy moet wees wanneer Jesus vir haar sê: “Jy is reg wanneer jy sê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ Want jy het vyf mans gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.” – Johannes 4:15-18.

Jesus se woorde laat haar besef dat hy nie net ’n gewone mens is nie, en sy sê verbaas: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is.” Sy wys dan dat sy in geestelike dinge belangstel. Hoe so? Sy sê verder: “Ons voorvaders [die Samaritane] het op hierdie berg aanbid [die nabygeleë berg Gerisim], maar julle [die Jode] sê dat Jerusalem die plek is waar mense moet aanbid.” – Johannes 4:19, 20.

Jesus verduidelik egter dat die plek van aanbidding nie belangrik is nie. Hy sê: “Die uur kom wanneer julle die Vader nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie.” Dan sê hy vir haar: “Die uur kom, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal  aanbid, want die Vader soek juis sulke mense om hom te aanbid.” – Johannes 4:21, 23, 24.

Vir die Vader is dit nie belangrik waar sy aanbidders hom aanbid nie, maar hoe hulle hom aanbid. Die vrou is beïndruk. “Ek weet dat die Messias kom, wat Christus genoem word,” sê sy. “Wanneer hy kom, sal hy alles openlik aan ons bekend maak.” – Johannes 4:25.

Jesus openbaar dan ’n belangrike waarheid: “Dit is ek, die een wat nou met jou praat” (Johannes 4:26). Dink net! Hier is ’n vrou wat in die middel van die dag kom water skep, maar dan gee Jesus haar ’n wonderlike voorreg. Hy sê reguit vir haar dat hy die Messias is – iets wat hy blykbaar nog nie aan ander bekend gemaak het nie.

BAIE SAMARITANE GLO

Jesus se dissipels kom terug met die kos wat hulle in Sigar gekoop het. Hulle kry hom by Jakob se put waar hulle hom gelos het, maar nou praat hy met ’n Samaritaanse vrou. Wanneer die dissipels daar aankom, los sy haar waterhouer daar en gaan sy stad toe.

Wanneer die vrou in Sigar is, vertel sy die mense wat Jesus vir haar gesê het. Sy sê met oortuiging: “Kom kyk, hier is ’n man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het.” Dan, miskien om hulle nuuskierig te maak, vra sy: “Is hy nie dalk die Christus nie?” (Johannes 4:29). Dit is ’n vraag oor ’n baie belangrike onderwerp – ’n onderwerp waarin mense al van Moses se dag af belangstel (Deuteronomium 18:18). Dit beweeg die mense van die stad om Jesus met hulle eie oë te kom sien.

Intussen bly die dissipels vir Jesus sê dat hy van die kos moet eet wat hulle gebring het. Maar hy antwoord: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels wonder wat hy bedoel, en hulle sê vir mekaar: “Niemand het vir hom iets gebring om te eet nie, of hoe?” Jesus gee ’n vriendelike verduideliking met woorde wat belangrik is vir al sy volgelinge: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur  het en om sy werk te voltooi.” – Johannes 4:32-34.

Die werk waarvan Jesus praat, is nie die graanoes nie, want dit sal eers oor sowat vier maande plaasvind. Jesus praat eerder van ’n geestelike oes, en hy sê verder: “Kyk na die landerye en sien dat hulle wit is vir die oes. Die een wat oes, ontvang al klaar sy loon en versamel vrugte vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees.” – Johannes 4:35, 36.

Jesus kan miskien al klaar die uitwerking van sy gesprek met die Samaritaanse vrou sien. Baie mense van Sigar stel geloof in hom as gevolg van haar getuienis, want sy sê vir almal: “Hy het vir my alles vertel wat ek gedoen het” (Johannes 4:39). Wanneer hulle dus uit Sigar na die put toe kom, vra hulle Jesus om by hulle te bly en om hulle nog meer te vertel. Jesus aanvaar die uitnodiging en bly twee dae in Samaria.

Terwyl die Samaritane na Jesus luister, begin baie meer in hom glo. Hulle sê vir die vrou: “Nou glo ons nie meer net as gevolg van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat hierdie man regtig die redder van die wêreld is” (Johannes 4:42). Die Samaritaanse vrou is beslis ’n goeie voorbeeld van hoe ons oor Christus kan getuig en mense se nuuskierigheid kan wek sodat hulle meer wil weet.

Dit is nog vier maande voordat die oes begin – blykbaar die garsoes, wat in hierdie gebied in die lente plaasvind. Dit is dus nou waarskynlik November of Desember. Dit beteken dat Jesus en sy dissipels ná die Pasga van 30 HJ sowat agt maande lank in Judea was, waar hulle mense geleer en gedoop het. Nou is hulle op pad na hulle tuisgebied, Galilea, in die noorde. Wat wag daar op hulle?