Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 43

Illustrasies oor die Koninkryk

Illustrasies oor die Koninkryk

MATTEUS 13:1-53 MARKUS 4:1-34 LUKAS 8:4-18

  • JESUS VERTEL ILLUSTRASIES OOR DIE KONINKRYK

Jesus is waarskynlik in Kapernaum wanneer hy die Fariseërs teregwys. Later daardie dag verlaat hy die huis en loop hy na die See van Galilea, wat daar naby is. Skares kom daar bymekaar. Jesus klim in ’n boot, vaar ’n entjie weg van die strand af en begin die mense oor die Koninkryk van die hemel leer. Hy doen dit deur middel van ’n aantal illustrasies, of gelykenisse. Jesus se luisteraars is bekend met baie van die voorbeelde of situasies wat hy noem, wat dit vir hulle makliker maak om verskillende aspekte van die Koninkryk te verstaan.

Eerstens vertel Jesus ’n illustrasie oor ’n saaier wat saad saai. Party saad val langs die pad en word deur voëls opgeëet. Ander saad val op ’n rotsagtige plek, waar daar nie baie grond is nie. Die wortels kan nie diep groei nie, en die son skroei die nuwe plantjies, en dit droog uit. En ander saad val tussen dorings wat keer dat die jong plantjies verder groei. Laastens val van die saad op goeie grond. Hierdie saad dra vrug, “hierdie een 100 keer soveel, daardie een 60 keer soveel en die ander een 30 keer soveel”. – Matteus 13:8.

In ’n ander illustrasie vergelyk Jesus die Koninkryk met saad wat deur ’n man gesaai word. In hierdie geval, of die man nou slaap of wakker is, groei die saad. Maar “hy weet nie presies hoe dit gebeur nie” (Markus 4:27). Dit groei vanself en bring graan voort, wat hy kan oes.

Dan vertel Jesus ’n derde illustrasie oor saad wat gesaai word. ’n Man saai goeie saad, maar “terwyl die mense geslaap het,” kom ’n vyand en saai onkruid tussen die koring. Die man se slawe vra of hulle die onkruid moet uittrek. Hy sê: “Nee, want netnou trek julle die koring ook uit terwyl julle die onkruid bymekaarmaak. Laat al twee  saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat die oes insamel, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, en maak dan die koring in my voorraadskuur bymekaar.’” – Matteus 13:24-30.

Baie wat na Jesus luister, is bekend met hierdie voorbeelde van landbou. Hy noem nog iets wat almal ken – die klein mosterdsaadjie. Wanneer dit groei, word dit ’n boom wat so groot is dat voëls in sy takke kan bly. Hy sê die volgende oor die saadjie: “Die Koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat ’n man in sy landery geplant het” (Matteus 13:31). Maar Jesus is nie besig om ’n les oor plantkunde te gee nie. Hy gee ’n voorbeeld van merkwaardige groei – hoe iets wat baie klein is, kan groei of uitbrei en iets kan word wat baie groot is.

Dan praat Jesus van ’n proses waarmee baie van sy luisteraars bekend is. Hy vergelyk die Koninkryk van die hemel met “suurdeeg wat ’n vrou geneem en met drie groot mate meel gemeng het” (Matteus 13:33). Al kan ’n mens nie die suurdeeg sien nie, versprei dit deur al die deeg en laat dit die deeg rys. Dit veroorsaak merkwaardige groei en veranderinge wat nie maklik gesien kan word nie.

Nadat Jesus hierdie illustrasies vertel het, stuur hy die skares weg en gaan hy terug na die huis waar hy bly. Kort daarna kom sy dissipels na hom toe om uit te vind wat hierdie illustrasies beteken.

LESSE UIT JESUS SE ILLUSTRASIES

Die dissipels het al voorheen gehoor hoe Jesus illustrasies vertel, maar nog nooit soveel op een slag nie. Hulle vra hom: “Hoekom praat u met hulle deur middel van illustrasies?” – Matteus 13:10.

Een rede hoekom hy dit doen is om Bybelprofesieë te vervul. Matteus se verslag sê: “Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie, sodat vervul sou word wat deur middel van die profeet gesê is: ‘Ek sal my mond oopmaak met illustrasies. Ek sal dinge verkondig wat van die begin af geheim gehou is.’” – Matteus 13:34, 35; Psalm 78:2.

Maar dit is nie die enigste rede hoekom Jesus illustrasies vertel nie. Dit openbaar ook wat mense se hartstoestand is. Baie van hulle stel net in Jesus belang omdat hy sulke goeie verhale vertel en wonderwerke doen. Hulle sien hom nie as hulle Here, iemand wat hulle moet gehoorsaam en onselfsugtig moet volg nie (Lukas 6:46, 47). Hulle wil nie hulle beskouing of manier van dinge doen, verander nie. Hulle wil nie hê dat die boodskap so ’n groot uitwerking op hulle lewe moet hê nie.

Jesus antwoord sy dissipels se vraag en sê: “Daarom praat ek deur middel van illustrasies met hulle, want hulle kyk, maar hulle kyk verniet, en hulle hoor, maar hulle hoor verniet, en hulle verstaan ook nie die betekenis daarvan nie. Jesaja se profesie word in hulle geval vervul. Dit sê: ‘ . . . Die hart van hierdie volk het ongevoelig geword.’” – Matteus 13:13-15; Jesaja 6:9, 10.

Maar dit geld nie vir almal wat na Jesus luister nie. Hy verduidelik: “Gelukkig is julle oë omdat hulle sien, en julle ore omdat hulle hoor. Want ek verseker julle: Baie profete en regverdiges wou graag die dinge sien wat julle sien, maar hulle het dit nie gesien nie, en hulle wou die dinge hoor wat julle hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.” – Matteus 13:16, 17.

Ja, die 12 apostels en ander lojale dissipels het die regte hartstoestand. Daarom sê Jesus: “Julle het die voorreg ontvang om die heilige geheime van die Koninkryk van die hemel te verstaan,  maar hulle het nie daardie voorreg ontvang nie” (Matteus 13:11). Omdat die dissipels graag wil verstaan, verduidelik Jesus vir hulle wat die illustrasie van die saaier beteken.

“Die saad is die woord van God,” sê Jesus (Lukas 8:11). En die grond is die hart. Dit is ’n sleutel wat ons help om sy illustrasie te verstaan.

Oor die saad wat op die vasgetrapte grond langs die pad geval het, sê hy: “Die Duiwel [kom] en neem die woord uit hulle harte weg sodat hulle nie sal glo en gered word nie” (Lukas 8:12). Wanneer Jesus praat van die saad wat op rotsagtige grond gesaai is, verwys hy na die harte van mense wat die woord met vreugde aanvaar, maar die woord skiet nie wortel diep in hulle harte nie. “Wanneer daar weens die woord verdrukking of vervolging ontstaan,” struikel hulle. Ja, wanneer “hulle getoets word,” miskien as gevolg van teenstand van familielede of ander, val hulle weg. – Matteus 13:21; Lukas 8:13.

Wat van die saad wat tussen die dorings val? Jesus sê vir sy dissipels dat dit mense is wat die woord gehoor het. Maar hulle word oorweldig deur “die bekommernisse van hierdie wêreld en die bedrieglike krag van rykdom” (Matteus 13:22). Die woord was in hulle hart, maar nou kan dit nie verder groei nie en word dit onvrugbaar.

Die laaste soort grond waarvan Jesus praat, is die goeie grond. Dit verwys na dié wat die woord hoor, dit in hulle hart aanvaar en verstaan wat dit werklik beteken. Met watter gevolg? Hulle ‘dra vrug’. Weens hulle omstandighede, soos ouderdom en gesondheid, kan nie almal dieselfde doen nie; een doen 100 keer soveel, ’n ander een 60 keer soveel en nog ’n ander een 30 keer soveel. Ja, “die mense wat die woord met ’n opregte en goeie hart hoor en dan daaraan vashou en met volharding vrug dra”, sal seëninge in God se diens geniet. – Lukas 8:15.

Hierdie woorde maak sekerlik ’n groot indruk  op die dissipels wat spesiaal na Jesus toe gekom het vir ’n verduideliking van sy leringe! Hulle het nou meer as net ’n oppervlakkige begrip van die illustrasies. Jesus wil hê dat hulle sy illustrasies moet verstaan sodat hulle die waarheid weer met ander kan deel. “’n Lamp word tog nie gebring om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie, of hoe?” vra hy. “Word dit nie gebring om op ’n lampstaander gesit te word nie?” Daarom sê Jesus: “Laat elkeen wat ore het om te luister, luister.” – Markus 4:21-23.

GESEËN MET VERDERE ONDERRIGTING

Nadat Jesus vir sy dissipels verduidelik het wat die illustrasie van die saaier beteken, wil hulle meer weet. Hulle vra: “Verduidelik aan ons die illustrasie van die onkruid in die landery.” – Matteus 13:36.

Deur dit te vra, wys hulle dat hulle gesindheid heeltemal anders is as die res van die skare op die strand. Blykbaar hoor daardie mense die illustrasies, maar hulle stel nie daarin belang om uit te vind wat dit beteken en hoe hulle dit kan toepas nie. Hulle is tevrede om net ’n basiese oorsig van die illustrasies te hê. Jesus wys dat sy dissipels wat na hom toe gekom het om meer te leer, baie anders is as die skare langs die strand. Hy sê:

“Skenk aandag aan wat julle hoor. Met die maathouer waarmee julle uitmeet, sal daar vir julle uitgemeet word, ja, meer sal vir julle bygevoeg word” (Markus 4:24). Die dissipels skenk aandag aan die dinge wat hulle by hom hoor. Hulle meet opregte belangstelling en aandag aan Jesus uit, en hulle word geseën met meer onderrigting en begrip. Jesus beantwoord sy dissipels se vraag oor die illustrasie van die koring en die onkruid deur te sê:

“Die saaier van die goeie saad is die Seun van die mens, en die landery is die wêreld. Die goeie saad is die kinders van die Koninkryk, maar die onkruid is die kinders van die Duiwel, en die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel. Die oes verwys na die tyd van die einde, en dié wat die oes insamel, is engele.” – Matteus 13:37-39.

Nadat Jesus verduidelik het wat elke deel van sy illustrasie beteken, beskryf hy wat die uiteinde sal wees. Hy sê dat dié wat die oes insamel, of die engele, in die tyd van die einde die onkruidagtige valse Christene van die ware “kinders van die Koninkryk” sal skei. “Die regverdiges” sal bymekaargemaak word en uiteindelik helder skyn “in die Koninkryk van hulle Vader”. En wat van “die kinders van die Duiwel”? Hulle sal vernietig word, en daarom is dit nie verbasend dat “hulle huil en op hulle tande kners” nie. – Matteus 13:41-43.

Daarna seën Jesus sy dissipels met nog drie illustrasies. Eerstens sê hy: “Die Koninkryk van die  hemel is soos ’n skat wat in die veld weggesteek is, wat ’n man gevind en weggesteek het. Hy was so bly dat hy al sy besittings gaan verkoop het en daardie veld gekoop het.” – Matteus 13:44.

Hy gaan verder: “Die Koninkryk van die hemel is ook soos ’n reisende handelaar wat mooi pêrels soek. Toe hy een pêrel van groot waarde vind, het hy weggegaan en dadelik alles verkoop wat hy gehad het en dit gekoop.” – Matteus 13:45, 46.

Met albei illustrasies beklemtoon Jesus ’n persoon se bereidwilligheid om opofferings te maak vir wat werklik waardevol is. Die handelaar verkoop dadelik ‘alles wat hy gehad het’ om die een pêrel van groot waarde te koop. Jesus se dissipels kan hierdie illustrasie oor ’n kosbare pêrel verstaan. En die man wat die skat vind wat in ’n veld weggesteek is, ‘verkoop al sy besittings’ om dit te koop. In albei gevalle is iets waardevols beskikbaar, iets wat verkry en bewaar kan word. Dit kan vergelyk word met die opofferings wat iemand maak om ’n verhouding met God op te bou omdat hy besef dat hy God nodig het (Matteus 5:3). Party van dié wat gehoor het toe Jesus hierdie illustrasies vertel, het reeds gewys dat hulle bereid is om baie moeite te doen om hulle geestelike behoefte te bevredig en sy ware volgelinge te word. – Matteus 4:19, 20; 19:27.

Laastens vergelyk Jesus die Koninkryk van die hemel met ’n sleepnet wat allerhande soorte vis versamel (Matteus 13:47). Wanneer die vis gesorteer word, word die goeie vis in mandjies gehou en die vis wat nie gebruik kan word nie, weggegooi. Jesus sê dat dit ook so sal wees in die tyd van die einde – die engele sal die goddeloses van die regverdiges skei.

Jesus was self besig met ’n soort geestelike visvangwerk toe hy sy eerste dissipels genooi het om “vissers van mense” te word (Markus 1:17). Maar hy sê dat sy illustrasie oor die sleepnet met die toekoms verband hou, met “die tyd van die einde” (Matteus 13:49). Die apostels en ander dissipels wat na Jesus luister, kan dus aanvoel dat baie interessante dinge nog voorlê.

Dié wat geluister het na die illustrasies wat vanaf die boot gegee is, word nog verder bevoordeel. Jesus toon dat hy bereid is om “alles aan sy dissipels [te] verduidelik” wanneer hulle alleen is (Markus 4:34). Hy is “soos ’n man, die meester van die huis, wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer bring” (Matteus 13:52). Jesus vertel nie hierdie illustrasies om ander met sy onderrigvermoë te beïndruk nie. Hy dra eerder waarhede aan sy dissipels oor wat soos ’n kosbare skat is. Niemand anders is ’n “openbare onderrigter” soos hy nie.