Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 73

’n Goeie Samaritaan

’n Goeie Samaritaan

LUKAS 10:25-37

  • HOE OM DIE EWIGE LEWE TE ERF

  • ’N SAMARITAAN BEWYS DAT HY ’N WARE NAASTE IS

Terwyl Jesus nog naby Jerusalem is, kom verskeie Jode na hom toe. Party wil by hom leer, en ander wil hom toets. Een van hulle, wat die Wet baie goed ken, vra ’n vraag: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” – Lukas 10:25.

Jesus kom agter dat die man nie net inligting soek nie. Hy wil dalk hê dat Jesus op ’n manier moet antwoord wat die Jode aanstoot sal gee. Jesus besef dat hierdie man reeds sy eie beskouing het. Hy reageer dus wyslik op ’n manier wat daartoe lei dat die man openbaar wat hy dink.

Jesus vra: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat het jy daarin gelees?” Hierdie man het God se Wet bestudeer, en daarom baseer hy sy antwoord daarop. Hy haal aan uit Deuteronomium 6:5 en Levitikus 19:18 en sê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand’, en ‘jou naaste soos jouself’” (Lukas 10:26, 27). Is dit die antwoord?

Jesus sê vir die man: “Jy het reg geantwoord. Hou aan om dit te doen, en jy sal die lewe ontvang.” Maar beëindig dit die gesprek? Die man wil nie ’n kort en bondige antwoord hê nie; hy wil “bewys dat hy regverdig is”. Hy wil hê dat Jesus moet bevestig dat sy beskouings en die manier waarop hy ander behandel, reg is. Daarom vra hy: “Wie is my naaste?” (Lukas 10:28, 29). Dit klink dalk na ’n eenvoudige vraag, maar dit het ernstige gevolge. Hoe so?

Die Jode glo dat die woord “naaste” net van toepassing is op dié wat die Joodse tradisies hou, en dit lyk dalk asof Levitikus 19:18 dit ondersteun. Om die waarheid te sê, ’n Jood kan selfs beweer dat “dit teen die wet is” om met ’n nie-Jood te assosieer (Handelinge 10:28). Daarom beskou hierdie man en moontlik party van Jesus se eie dissipels hulleself as regverdig as hulle mede-Jode goed behandel. Maar hulle behandel dalk ’n nie-Jood onvriendelik; hy is nie werklik ’n “naaste” nie.

Hoe kan Jesus dié beskouing regstel sonder om hierdie man en ander Jode aanstoot te gee? Hy doen dit deur ’n verhaal te vertel: “’n Man het van Jerusalem na Jerigo afgegaan en is deur rowers aangeval, wat hom uitgetrek en geslaan het en hom halfdood agtergelaat het.” Jesus gaan voort: “Toevallig het ’n priester met daardie pad afgegaan, maar toe hy hom sien, het hy aan die oorkant verbygegaan. Toe het daar ’n Leviet verbygekom. Toe hy die man sien, het hy ook aan die oorkant verbygegaan. Maar ’n sekere Samaritaan wat op die pad gereis het, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy baie jammer gevoel vir hom.” – Lukas 10:30-33.

Die man vir wie Jesus hierdie verhaal vertel, weet beslis dat baie priesters en Levitiese tempelassistente in Jerigo woon. Wanneer hulle van die tempel af huis toe gaan, moet hulle sowat 23 kilometer reis op ’n gevaarlike roete waar reisigers moontlik beroof kan word. Sê nou ’n priester en ’n Leviet loop ’n Jood raak wat hulp nodig het. Behoort hulle hom nie te help nie? In die verhaal wat Jesus vertel, het hulle dit nie gedoen nie. Die man wat hom gehelp het, was ’n Samaritaan, ’n man uit die volk waarop die Jode neersien. – Johannes 8:48.

Hoe het die Samaritaan die beseerde Jood gehelp? Jesus gaan verder: “Hy het na hom toe gegaan en sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Toe het hy hom opgetel en hom op sy eie dier gesit en hom na ’n herberg geneem en vir hom gesorg. Die volgende dag het hy twee denarii uitgehaal, dit vir die eienaar gegee en gesê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer as dit uitgee, sal ek jou terugbetaal wanneer ek terugkom.’” – Lukas 10:34, 35.

 Nadat Jesus, die Meesteronderrigter, die verhaal vertel het, vra hy die man hierdie gedagteprikkelende vraag: “Wat dink jy? Wie van hierdie drie het hom die naaste gemaak van die man wat deur die rowers aangeval is?” Miskien voel die man ongemaklik om te sê “die Samaritaan,” en daarom sê hy: “Die een wat goed was vir hom.” Dan maak Jesus die les van sy verhaal heeltemal duidelik en spoor hy hom aan: “Gaan en doen dieselfde.” – Lukas 10:36, 37.

Wat ’n doeltreffende manier van onderrig! As Jesus eenvoudig vir die man gesê het dat nie-Jode ook sy naaste is, sou die man en die ander Jode wat geluister het, dit aanvaar het? Waarskynlik nie. Maar deur ’n eenvoudige verhaal te vertel en besonderhede te gebruik waarmee sy luisteraars bekend is, word die vraag “Wie is my naaste?” duidelik beantwoord. Die persoon wat regtig jou naaste is, is die een wat die soort liefde en goedhartigheid bewys soos ons in die Bybel beveel word.