Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 81

Een met die Vader, maar hy is nie God nie

Een met die Vader, maar hy is nie God nie

JOHANNES 10:22-42

  • “EK EN DIE VADER IS EEN”

  • JESUS WORD BESKULDIG VAN GODSLASTERING

Jesus het Jerusalem toe gekom vir die Toewydingsfees (of, Hanukka). Hierdie fees herdenk die hertoewyding van die tempel. Meer as ’n eeu tevore het die Siriese koning Antiogos IV Epifanes ’n ander altaar bo-op die groot altaar by God se tempel gebou. Later het seuns van ’n Joodse priester Jerusalem weer ingeneem en die tempel weer aan Jehovah toegewy. Sedert daardie tyd, word ’n jaarlikse viering op 25 Kislef gehou, die maand wat ooreenkom met die laaste gedeelte van November en die eerste gedeelte van Desember.

Dit is winter. Jesus loop in die tempel in die Pilaargang van Salomo. Jode omring hom en sê vir hom: “Hoe lank gaan u ons in spanning hou? As u die Christus is, sê dit dan reguit vir ons” (Johannes 10:22-24). Hoe sal Jesus antwoord? Hy sê: “Ek het vir julle gesê, en tog glo julle nie.” Jesus het nie direk vir hulle gesê dat hy die Christus is soos hy vir die Samaritaanse vrou by die put gesê het nie (Johannes 4:25, 26). Maar hy het wel sy identiteit geopenbaar deur te sê: “Voordat Abraham bestaan het, het ek al bestaan.” – Johannes 8:58.

Jesus wil hê dat mense self tot die gevolgtrekking moet kom dat hy die Christus is deur sy werke te vergelyk met wat oor die Christus voorspel is. Daarom het hy op ander tye vir sy dissipels gesê om nie vir enigiemand te sê dat hy die Messias is nie. Maar nou sê hy reguit vir hierdie vyandige Jode: “Die werke wat ek in die naam van my Vader doen, getuig oor my. Maar julle glo nie.” – Johannes 10:25, 26.

Hoekom glo hulle nie dat Jesus die Christus is nie? Hy sê: “Julle glo nie, omdat julle nie my skape is nie. My skape luister na my stem, en ek ken hulle, en hulle volg my. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal beslis nooit vernietig word nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Wat my Vader my gegee het, is groter as alle ander dinge.” Dan vertel Jesus hulle watter hegte verhouding hy en sy Vader het deur te sê: “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:26-30). Jesus is hier op die aarde en sy Vader is in die hemel, en daarom kan hy nie bedoel dat hy en sy Vader letterlik een is nie. Hulle het eerder dieselfde voorneme en is verenig.

Jesus se woorde het die Jode so kwaad gemaak dat hulle weer klippe optel om hom dood te maak. Dit maak Jesus nie bang nie. “Ek het julle heelwat goeie werke laat sien wat van die Vader af kom,” sê hy. “Oor watter van daardie werke wil julle my doodgooi?” Hulle antwoord: “Ons wil jou nie doodgooi omdat jy ’n goeie werk gedoen het nie, maar omdat jy laster, want jy maak jouself ’n god” (Johannes 10:31-33). Jesus het nooit beweer dat hy ’n god is nie. Hoekom beskuldig hulle hom dan hiervan?

Wel, Jesus sê dat hy die mag het om dinge te doen wat die Jode dink God alleen kan doen. In verband met die “skape” sê hy byvoorbeeld: “Ek gee hulle die ewige lewe,” iets wat mense nie kan doen nie (Johannes 10:28). Maar die Jode vergeet dat Jesus openlik erken het dat hy gesag van sy Vader af gekry het.

Jesus bewys dat hulle beskuldiging nie waar is nie deur te sê: “Staan daar nie in julle Wet [in Psalm 82:6] geskryf: ‘Ek het gesê: “Julle is gode”’ nie? . . . As mense teen wie die woord van God gerig is, dan ‘gode’ genoem word, hoe kan julle vir my wat deur die Vader geheilig en in die wêreld ingestuur is, sê dat ek laster omdat ek gesê het: ‘Ek is God se Seun’?” – Johannes 10:34-36.

Ja, die Skrif noem selfs onregverdige menseregters “gode”. Hoe kan hierdie Jode dan foutvind met Jesus omdat hy sê: “Ek is God se Seun”? Hy sê iets wat hulle behoort te oortuig: “As ek nie die werke van my Vader doen nie, moet my dan nie glo nie. Maar as ek dit wel doen, glo dan die  werke, al glo julle my nie, sodat julle kan leer en kan aanhou glo dat die Vader in eenheid met my is, en ek in eenheid met die Vader.” – Johannes 10:37, 38.

In reaksie hierop probeer die Jode Jesus vang, maar hy kom weer van hulle af weg. Hy verlaat Jerusalem en steek die Jordaanrivier oor en gaan na die gebied waar Johannes mense byna vier jaar vroeër begin doop het. Dit is waarskynlik nie ver van die suidelike punt van die See van Galilea nie.

Skares kom na Jesus toe en sê: “Johannes het nou wel nie ’n enkele wonderwerk gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, was waar” (Johannes 10:41). Baie Jode stel dus geloof in Jesus.