Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 35

Die beroemde Bergpredikasie

Die beroemde Bergpredikasie

Jesus is seker moeg nadat hy die hele nag gebid het en toe 12 dissipels as apostels gekies het. Dit is nou dag, maar hy het nog steeds die krag en die begeerte om mense te help. Hy doen dit op ’n berghelling in Galilea, dalk naby Kapernaum, die plek waar die meeste van sy bedrywighede plaasvind.

Skares het van ver af na hom toe gekom. Party is van die suide terwyl ander van Jerusalem en plekke in Judea is. Ander is van die kusstede Tirus en Sidon, in die noordweste. Hoekom het hulle na Jesus kom soek? “Om na hom te luister en om van hulle siektes genees te word.” En dit is presies wat gebeur – Jesus ‘maak hulle almal gesond’. Dink net! Al die siekes word genees. Jesus help ook “dié wat deur onrein geeste geteister is,” mense wat deur bose engele van Satan lastig geval word. – Lukas 6:17-19.

Dan vind Jesus ’n gelyke plek op die berghelling, en die skare kom rondom hom bymekaar. Sy dissipels, veral die 12 apostels, is waarskynlik die naaste aan hom. Almal is gretig om te luister na hierdie onderrigter wat sulke wonderwerke kan verrig. Jesus hou ’n toespraak wat groot voordele vir sy luisteraars inhou. Van daardie tyd af het baie ander ook hierby baat gevind. En ons kan ook, as gevolg van die diep geestelike inhoud wat op ’n eenvoudige en duidelike manier oorgedra is. Jesus gebruik alledaagse ondervindinge en dinge waarmee mense bekend is. Dit maak sy lesse verstaanbaar vir almal wat ’n beter lewe onder God se heerskappy wil hê. Watter belangrike aspekte bespreek Jesus wat hierdie toespraak so waardevol maak?

WIE IS WERKLIK GELUKKIG?

EAlmal wil gelukkig wees. Jesus weet dit, en daarom begin hy deur dié te beskryf wat werklik gelukkig is. Dink net hoe dit almal aandagtig laat luister. Maar daar is ook party dinge wat hulle seker laat wonder.

Hy sê: “Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het, want die Koninkryk van die hemel behoort aan hulle. Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. . . . Gelukkig is dié wat honger en dors na regverdigheid, want hulle sal versadig word. . . . Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is, want die Koninkryk van die hemel behoort aan hulle. Gelukkig is julle wanneer mense julle beledig en julle vervolg . . . omdat julle my volgelinge is. Wees bly en vreugdevol.” – Matteus 5:3-12.

Wat bedoel Jesus met die woord “gelukkig”? Hy verwys nie na iemand wat vrolik is of ’n aangename tyd geniet nie. Ware geluk gaan dieper as dit. Dit behels ware tevredenheid, ’n gevoel van bevrediging en vervulling in die lewe.

Jesus sê dat mense werklik gelukkig is as hulle besef dat hulle God nodig het, bedroef is as gevolg van hulle sondige toestand en God leer ken en hom dien. Selfs al word hulle gehaat en vervolg omdat hulle God se wil doen, is hulle gelukkig omdat hulle weet dat hulle hom bly maak en dat hy hulle met die ewige lewe sal beloon.

Maar baie mense dink dat rykdom en plesier iemand gelukkig maak. Dit is nie wat Jesus sê nie. Hy noem ’n paar teenstellings wat baie van sy luisteraars aan die dink sit. Hy sê: “Dit sal sleg gaan met julle wat ryk is, want julle ontvang  reeds julle volle vertroosting. Dit sal sleg gaan met julle wat nou vol is, want julle sal honger ly. Dit sal sleg gaan met julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Dit sal sleg gaan met julle wanneer al die mense goed van julle praat, want dit is hoe hulle voorvaders die valse profete behandel het.” – Lukas 6:24-26.

Hoekom sal dit sleg gaan met mense wat ryk is, wat lag van genot en wat deur ander geprys word? Want wanneer iemand hierdie dinge het en dit vir hom baie belangrik is, kan hy sy diens aan God verwaarloos en die kans misloop om werklik gelukkig te wees. Jesus sê natuurlik nie dat iemand gelukkig sal wees net omdat hy arm of honger is nie. Maar dit is dikwels die persoon wat minder bevoorreg is wat op Jesus se leringe reageer en wat die seëninge van ware geluk verkry.

Jesus praat van sy dissipels wanneer hy sê: “Julle is die sout van die aarde” (Matteus 5:13). Hulle is natuurlik nie letterlike sout nie. Sout is eerder ’n preserveermiddel. ’n Groot hoeveelheid sout word naby die altaar by God se tempel gehou sodat offerandes daarmee gesout kan word. Dit is ook ’n simbool van iets wat nie bederf is nie (Levitikus 2:13; Esegiël 43:23, 24). Jesus se dissipels is “die sout van die aarde” in die sin dat hulle ’n preserverende invloed op mense het omdat hulle hulle help om nie geestelik of sedelik agteruit te gaan nie. Ja, hulle boodskap kan die lewens bewaar van almal wat daarop reageer.

Jesus sê ook vir die dissipels: “Julle is die lig van die wêreld.” ’n Lamp word nie onder ’n mandjie gesit nie, maar op ’n lampstaander, waar dit lig kan uitstraal. Jesus spoor hulle dus aan: “Julle [moet] julle lig voor mense laat skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik.” – Matteus 5:14-16.

’N HOË STANDAARD VIR SY VOLGELINGE

Die Joodse godsdiensleiers beskou Jesus as ’n oortreder van God se Wet en het onlangs planne beraam om hom dood te maak. Jesus sê dus openlik: “Moenie dink dat ek gekom het om ’n einde te maak aan die Wet of die woorde van die profete nie. Ek het nie gekom om ’n einde te maak nie, maar om te vervul.” – Matteus 5:17.

 Ja, Jesus het die grootste respek vir God se Wet en spoor ander aan om dieselfde beskouing te hê. Trouens, hy sê: “Elkeen wat dan een van hierdie kleinste gebooie breek en ander leer om dit ook te doen, sal die kleinste genoem word in verband met die Koninkryk van die hemel.” Hy bedoel dat so iemand glad nie in die Koninkryk sal ingaan nie. “Maar,” sê hy verder, “elkeen wat dit gehoorsaam en dit aan ander leer, sal groot genoem word in verband met die Koninkryk van die hemel.” – Matteus 5:19.

Jesus veroordeel selfs gesindhede wat daartoe bydra dat iemand God se Wet verbreek. Nadat Jesus genoem het dat die Wet sê: “Jy mag nie moord pleeg nie,” voeg hy by: “Elkeen wat kwaad bly vir sy broer, [sal] deur die hof aanspreeklik gehou . . . word” (Matteus 5:21, 22). Dit is ’n ernstige saak om kwaad te bly vir iemand anders, iets wat selfs tot moord kan lei. Daarom verduidelik Jesus hoe ver iemand moet gaan om vrede te maak: “As jy dan jou offer na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, los jou offer daar voor die altaar en gaan weg. Maak eers vrede met jou broer en kom dan terug en bring jou offer.” – Matteus 5:23, 24.

Die Wet verbied ook egbreuk. Jesus sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk en ’n begeerte na haar ontwikkel, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matteus 5:27, 28). Jesus praat nie van ’n vlugtige onsedelike gedagte nie; hy lê eerder klem op hoe ernstig dit is as iemand ‘aanhou kyk’. As iemand aanhou kyk, laat dit dikwels ’n sterk seksuele begeerte ontstaan, wat tot egbreuk kan lei wanneer die geleentheid daar is. Hoe kan iemand keer dat dit gebeur? Drastiese stappe is dalk nodig. Jesus sê: “As jou regteroog dan vir jou ’n struikelblok is, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. . . . As jou regterhand vir jou ’n struikelblok is, kap dit af en gooi dit van jou af weg.” – Matteus 5:29, 30.

Party mense het al ’n ledemaat wat erg deur siekte aangetas is, gewillig opgeoffer om hulle lewe te red. Jesus beklemtoon hoe belangrik dit is dat ’n persoon bereid moet wees om enigiets ‘weg te gooi’, selfs iets so kosbaar soos ’n oog of ’n hand, om onsedelike denke en die dade waartoe dit lei, te vermy. “Dit is beter vir jou om een van jou liggaamsdele te verloor,” verduidelik Jesus, “as dat jou hele liggaam in Gehenna gegooi word.” Gehenna was ’n brandende vullishoop buite Jerusalem, wat permanente vernietiging voorstel.

Jesus gee ook raad oor hoe om op te tree teenoor mense wat ander seermaak en aanstoot gee. “Moenie die een wat goddeloos is, teëstaan nie,” sê hy, “maar as iemand jou op jou regterwang klap, draai die ander een ook na hom toe” (Matteus 5:39). Dit beteken nie dat iemand nie  homself of sy gesin kan verdedig as hulle aangeval word nie. Jesus praat nie van ’n klap wat gegee word om iemand te beseer of dood te maak nie; hy praat eerder van ’n klap wat as ’n belediging gegee word. Hy sê dat ’n mens nie moet terugbaklei as iemand probeer om ’n geveg of ’n argument te begin deur ’n klap met die oop hand te gee of deur beledigende woorde te gebruik nie.

Hierdie raad stem ooreen met God se wet dat jy jou naaste moet liefhê. Jesus spoor dus sy luisteraars aan: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir die mense wat julle vervolg.” Hy gee ’n kragtige rede hiervoor: “Sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemel is, want hy laat sy son opkom oor die goddeloses en die goeies.” – Matteus 5:44, 45.

Jesus som hierdie deel van sy toespraak op deur te sê: “Julle moet dus volmaak wees, soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matteus 5:48). Hy bedoel natuurlik nie dat mense heeltemal volmaak kan wees nie. Maar deur God na te volg, kan ons leer om selfs ons vyande lief te hê. Anders gestel: “Hou aan om genadig te wees, net soos julle Vader genadig is.” – Lukas 6:36.

GEBED EN VERTROUE IN GOD

Jesus gaan verder met sy toespraak en sê vir sy luisteraars: “Pasop dat julle nie goeie dade voor mense doen om deur hulle gesien te word nie.” Jesus veroordeel skynheilige mense wat voorgee dat hulle God vrees, en hy sê: “Wanneer jy geskenke aan die armes gee, moet jy nie ’n trompet voor jou blaas soos die skynheiliges . . . doen nie” (Matteus 6:1, 2). Dit is beter om geskenke vir die armes te gee sonder dat ander daarvan weet.

Dan sê Jesus: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die hoofstrate te staan en bid om deur mense gesien te word.” Hy sê eerder: “Wanneer jy bid, moet jy in jou binnekamer ingaan, en nadat jy die deur toegemaak het, moet jy bid tot jou Vader wat in die geheim toekyk” (Matteus 6:5, 6). Jesus is nie gekant teen alle openbare gebede nie, want hy het self sulke gebede gedoen. Hy veroordeel gebede wat gedoen word met die doel om luisteraars te beïndruk en komplimente te kry.

Hy gee vir die skare die volgende raad: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê soos die mense van die nasies nie” (Matteus 6:7). Jesus sê nie dat dit verkeerd is om herhaaldelik oor dieselfde onderwerp te bid nie. Wat hy afkeur, is gememoriseerde frases wat “oor en oor” in gebede opgesê word. Hy voorsien dus ’n modelgebed wat sewe versoeke insluit. Die eerste drie erken God se reg om te regeer en sy voornemens – dat sy naam geheilig moet word, dat sy Koninkryk moet kom en dat sy wil moet plaasvind. Slegs ná hierdie dinge kan ons  persoonlike versoeke doen vir ons daaglikse kos en die vergifnis van sondes, sowel as versoeke om nie getoets te word bo wat ’n mens kan verduur nie en om van die Duiwel verlos te word.

Hoe belangrik moet ons besittings vir ons wees? Jesus sê vir die skare: “Hou op om vir julle skatte op die aarde bymekaar te maak, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel.” Hoe redelik tog! Materiële besittings hou nie vir ewig nie, en ons besittings beïndruk God glad nie. Daarom sê Jesus: “Maak eerder vir julle skatte in die hemel bymekaar.” Ons kan dit doen deur God se diens eerste in ons lewe te stel. Niemand kan ons goeie reputasie by God en die beloning van ewige lewe wegneem nie. Jesus se woorde is baie waar: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” – Matteus 6:19-21.

Jesus vertel ’n illustrasie om hierdie punt te beklemtoon: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan gefokus is, sal jou hele liggaam helder wees. Maar as jou oog vol jaloesie is, sal jou hele liggaam donker wees” (Matteus 6:22, 23). Wanneer ons oog reg funksioneer, is dit soos ’n helder lamp vir ons liggaam. Maar dan moet ons oog gefokus wees op een ding; anders kan ons die verkeerde beskouing hê van wat werklik belangrik is in die lewe. As ons fokus op materiële besittings eerder as op God se diens, sal dit beteken dat ons “hele liggaam donker” is en sal ons dalk dinge begin doen wat oneerlik is.

Dan gee Jesus ’n kragtige voorbeeld: “Niemand kan twee meesters as slaaf dien nie, want hy sal die een haat en die ander een liefhê, of hy sal lojaal wees aan die een en die ander een nie kan verdra nie. Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie.” – Matteus 6:24.

Party wat na Jesus luister, is dalk bekommerd oor wat hulle beskouing van materiële behoeftes moet wees. Daarom verseker hy hulle dat hulle nie bekommerd hoef te wees as hulle God se  diens eerste stel nie. “Hou die voëls van die hemel goed dop. Hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie, maar tog sorg julle hemelse Vader dat hulle kos het.” – Matteus 6:26.

En wat van die lelies van die veld daar op die berg? Jesus sê dat “nie eers Salomo met al sy prag en rykdom soos een van hulle geklee was nie”. Wat beteken dit? “As God dan die plantegroei van die veld so klee, wat vandag hier is en môre in die oond gegooi word, sal hy julle nie veel eerder klee nie?” (Matteus 6:29, 30). Jesus sê wyslik: “Moet dan nooit bekommerd wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. . . . Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die Koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.” – Matteus 6:31-33.

HOE OM DIE LEWE TE VERKRY

Die apostels en ander opregtes wil op ’n manier lewe wat God goedkeur, maar dit is nie maklik met die omstandighede waarin hulle is nie. Baie Fariseërs is byvoorbeeld krities en oordeel ander op ’n ongevoelige manier. Daarom gee Jesus sy luisteraars die volgende waarskuwing: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie, want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word.” – Matteus 7:1, 2.

Dit is gevaarlik om die voorbeeld van die oorkritiese Fariseërs te volg, soos Jesus illustreer: “’n Blinde kan tog nie ’n blinde lei nie, of hoe? Al twee sal in ’n gat val, nie waar nie?” Hoe moet Jesus se luisteraars dan ander beskou? Nie met ’n kritiese oog nie, want dit sou ’n ernstige oortreding wees. Hy vra: “Hoe kan jy vir jou broer sê: ‘My broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal,’ terwyl jy self nie die balk sien wat in jou eie oog is nie? Jou skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik kan sien hoe om die splinter wat in jou broer se oog is, uit te haal.” – Lukas 6:39-42.

Dit beteken nie dat die dissipels glad nie opinies oor mense mag vorm nie. “Moenie wat heilig is, vir die honde gee nie, en moet ook nie julle pêrels voor die varke gooi nie,” sê Jesus (Matteus 7:6). Waarhede uit God se Woord is kosbaar, soos figuurlike pêrels. As party mense hulle soos diere gedra deurdat hulle geen waardering vir hierdie kosbare waarhede toon nie, moet die dissipels weggaan en na mense gaan soek wat graag wil luister.

Jesus begin weer oor gebed praat en beklemtoon hoe belangrik dit is om daarin te volhard. “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word.” Jesus beklemtoon dat God gebede graag wil beantwoord deur te vra: “Wie van julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy vir brood vra? . . . As julle wat goddeloos is, dan weet hoe om goeie dinge vir julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie dinge gee vir dié wat hom vra!” – Matteus 7:7-11.

Dan gee Jesus die beroemde gedragsreël: “Alles wat julle dan wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Moet ons almal nie hierdie positiewe raad aanvaar en dit  toepas in ons handelinge met ander nie? Maar dit kan ’n uitdaging wees, soos ons kan sien uit Jesus se instruksie: “Gaan in deur die nou poort, want wyd is die poort en breed is die pad wat na vernietiging lei, en daar is baie mense wat daardeur ingaan, maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en daar is min mense wat dit vind.” – Matteus 7:12-14.

Sommige mense sal probeer om die dissipels te laat wegdraai van die weg wat na die lewe lei, en daarom waarsku Jesus: “Pasop vir die valse profete wat in skaapsklere na julle toe kom maar wat in werklikheid wolwe is wat julle wil verskeur” (Matteus 7:15). Goeie bome en slegte bome kan aan hulle vrugte herken word, sê Jesus. Dit is ook so met mense. Ons kan dus valse profete herken aan hulle leringe en hulle gedrag. Jesus verduidelik dat dit nie net iemand se woorde is wat hom ’n dissipel maak nie, maar ook sy dade. En sê nou party mense beweer dat Jesus hulle Here is, maar hulle doen nie God se wil nie? Jesus sê: “Dan sal ek vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle wettelose mense!’” – Matteus 7:23.

Jesus sluit sy toespraak af deur te sê: “Daarom sal elkeen wat my woorde hoor en dit doen, soos ’n verstandige man wees wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en aan daardie huis geruk, maar dit het nie ineengestort nie, want dit was op die rots gebou” (Matteus 7:24, 25). Hoekom het die huis bly staan? Want die man het “gegrawe en diep afgegaan . . . en ’n fondament op die rots gelê” (Lukas 6:48). Dit is dus nie genoeg om Jesus se woorde net te hoor nie. Ons moet ons ook inspan om ‘dit te doen’.

Maar wat van die een wat “hierdie woorde . . . hoor en dit nie doen nie”? Hy is “soos ’n onverstandige man . . . wat sy huis op die sand gebou het” (Matteus 7:26). Reën, vloedwaters en winde sou so ’n huis laat ineenstort.

Die skare is verstom oor die manier waarop Jesus in hierdie toespraak onderrig het. Hy het met gesag gepraat en nie soos die godsdiensleiers nie. Baie van die mense wat na hom geluister het, word waarskynlik sy dissipels.