Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 18

Jesus word meer, Johannes word minder

Jesus word meer, Johannes word minder

MATTEUS 4:12 MARKUS 6:17-20 LUKAS 3:19, 20 JOHANNES 3:22–4:3

  • JESUS SE DISSIPELS DOOP MENSE

  • JOHANNES DIE DOPER WORD IN DIE TRONK GEGOOI

Nadat Jesus en sy dissipels die Pasga in die lente van 30 HJ gevier het, verlaat hulle Jerusalem. Maar hulle gaan nie dadelik terug na hulle huise in Galilea nie. Hulle gaan na die landelike gebied van Judea, waar hulle baie mense doop. Johannes die Doper is al amper ’n jaar lank besig om dieselfde soort werk te doen, dalk in die vallei van die Jordaanrivier. Party van sy dissipels is nog by hom.

Jesus doop nie self mense nie – sy dissipels doen dit onder sy toesig. Op hierdie stadium van Jesus se bediening onderrig Jesus en Johannes Jode wat berou het oor die sondes wat hulle teen God se Wetsverbond gepleeg het. – Handelinge 19:4.

Maar Johannes se dissipels is jaloers en kla by hom oor Jesus: “Die man [Jesus] wat . . . saam met u was . . . doop mense, en almal gaan na hom toe” (Johannes 3:26). Maar Johannes is nie jaloers nie. Hy is bly oor Jesus se sukses en wil hê dat sy dissipels ook moet bly wees. Johannes herinner hulle: “Julle is getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie, maar ek is voor hom uit gestuur.’” Hy illustreer hierdie punt op ’n manier wat almal kan verstaan: “Die bruid behoort aan die bruidegom. Maar die vriend van die bruidegom is baie bly wanneer hy by die bruidegom staan en sy stem hoor. Daarom loop ek oor van vreugde.” – Johannes 3:28, 29.

Net soos die vriend van die bruidegom, was Johannes bly toe hy sy dissipels maande tevore aan Jesus voorgestel het. Party van hulle het Jesus begin volg en sal met verloop van tyd met heilige gees gesalf word. Johannes wil ook hê dat sy huidige dissipels Jesus moet volg. Om die waarheid te sê, Johannes se doel is om die weg vir Christus se bediening voor te berei. Johannes verduidelik: “Hy moet al hoe meer word, maar ek moet al hoe minder word.” – Johannes 3:30.   

’n Ander Johannes, wat vroeër ’n volgeling van Jesus geword het, skryf later oor Jesus se oorsprong en sy noodsaaklike rol in die redding van die mensdom: “Die een wat van bo kom, is oor alle mense. . . . Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Die een wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe. Die een wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die woede van God bly op hom” (Johannes 3:31, 35, 36). Dit is so ’n belangrike waarheid wat alle mense moet weet!

Kort nadat Johannes die Doper bespreek het dat sy rol en werk minder moet word, word hy deur koning Herodes in hegtenis geneem. Herodes het met Herodias, die vrou van sy halfbroer Filippus, getrou. Wanneer Johannes vir Herodes sê dat hy egbreuk pleeg, laat Herodes hom in die tronk gooi. Wanneer Jesus hoor dat Johannes in hegtenis geneem is, verlaat Jesus Judea saam met sy dissipels en gaan hulle na Galilea. – Matteus 4:12; Markus 1:14.