Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 109

Jesus veroordeel sy godsdiensteenstanders

Jesus veroordeel sy godsdiensteenstanders

MATTEUS 22:41–23:24 MARKUS 12:35-40 LUKAS 20:41-47

  • WIE SE SEUN IS DIE CHRISTUS?

  • JESUS WYS HOE SKYNHEILIG SY TEENSTANDERS IS

Godsdiensteenstanders kon dit nie regkry om te keer dat mense in Jesus glo of om hom vas te vra sodat hulle hom aan die Romeine kon oorgee nie (Lukas 20:20). Nou, terwyl Jesus op 11 Nisan nog steeds by die tempel is, draai hy die rolle om en maak hy bekend wie hy eintlik is. Hy begin deur hulle te vra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is hy?” (Matteus 22:42). Dit is algemeen bekend dat die Christus, of Messias, ’n nakomeling van Dawid sal wees. Dit is die antwoord wat hulle gee. – Matteus 9:27; 12:23; Johannes 7:42.

Jesus vra: “Hoekom noem Dawid hom dan deur inspirasie Here wanneer hy sê: ‘Jehovah het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande onder jou voete plaas”’? As Dawid hom dan Here noem, hoe is hy sy seun?” – Matteus 22:43-45.

Die Fariseërs bly stil, want hulle hoop dat ’n menslike nakomeling van Dawid hulle sal bevry van Romeinse oorheersing. Jesus gebruik Dawid se woorde in Psalm 110:1, 2 om dit duidelik te maak dat die Messias meer as ’n menslike heerser sal wees. Hy is Dawid se Here en nadat hy aan God se regterhand gaan sit, sal hy regeer. Jesus se antwoord veroorsaak dat hulle stilbly.

Die dissipels en baie ander het na hierdie gesprek geluister. Jesus waarsku hulle nou oor die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hierdie manne “het op die stoel van Moses gaan sit” om God se Wet aan ander te leer. Jesus sê vir sy luisteraars: “Julle moet . . . alles doen en gehoorsaam wat hulle vir julle sê, maar julle moenie soos hulle optree nie, want hulle praat, maar hulle doen nie wat hulle sê nie.” – Matteus 23:2, 3.

Dan gee Jesus voorbeelde van hulle skynheiligheid en sê: “Hulle maak die geskriftedosies breër wat hulle as beskermmiddel dra.” Party Jode het hierdie klein dosies wat gedeeltes uit die Wet bevat, op hulle voorkoppe of op hulle arm gedra. Die Fariseërs maak hulle s’n groter om die indruk te gee dat hulle ywerig is vir die Wet. Hulle maak ook “die fraiings van hulle klere langer”. Die Israeliete is veronderstel om fraiings aan hulle klere te maak, maar die Fariseërs maak seker dat hulle fraiings langer is (Numeri 15:38-40). Hulle doen al hierdie dinge “om deur mense gesien te word”. – Matteus 23:5.

Selfs Jesus se dissipels kan beïnvloed word deur hierdie begeerte om deur mense gesien te word, so hy gee hulle raad en sê: “Julle moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle Leermeester, en julle almal is broers. En moet niemand op aarde julle vader noem nie, want julle het net een Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie leiers laat noem nie, want julle het net een Leier, die Christus.” Watter beskouing moet die dissipels dan van hulleself hê en hoe moet hulle optree? Jesus sê vir hulle: “Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees. Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” – Matteus 23:8-12.

Volgende veroordeel Jesus die skynheilige skrifgeleerdes en Fariseërs deur te sê: “Dit sal sleg gaan met julle, julle skynheilige skrifgeleerdes en Fariseërs! Want julle sluit die Koninkryk van die hemel vir mense. Julle gaan self nie in nie, en julle laat die mense wat wil ingaan, ook nie toe om in te gaan nie.” – Matteus 23:13.

Jesus veroordeel die Fariseërs omdat hulle geen respek het vir wat Jehovah as belangrik beskou nie, soos gesien kan word in die reëls wat hulle self opmaak. Byvoorbeeld, hulle sê: “As iemand by die tempel sweer, is dit niks, maar as iemand by die goud van die tempel sweer, is hy onder verpligting.” Hulle wys dus dat hulle sedelik blind is deurdat hulle meer klem lê op  die goud van die tempel as op die geestelike waarde van Jehovah se plek van aanbidding. En hulle het “die belangriker sake van die Wet geïgnoreer, naamlik geregtigheid, genade en getrouheid”. – Matteus 23:16, 23; Lukas 11:42.

Jesus noem die Fariseërs “blinde gidse”. Dan sê hy vir hulle: “Julle sif die muggie uit maar julle sluk die kameel in!” (Matteus 23:24). Hulle sif ’n muggie uit hulle wyn omdat hierdie insek seremonieel onrein is. Maar die manier waarop hulle die belangriker sake van die Wet ignoreer, is soos om ’n kameel in te sluk, ’n dier wat ook seremonieel onrein is, net baie groter. – Levitikus 11:4, 21-24.