Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 123

Jesus bid terwyl hy verskriklik hartseer is

Jesus bid terwyl hy verskriklik hartseer is

MATTEUS 26:30, 36-46 MARKUS 14:26, 32-42 LUKAS 22:39-46 JOHANNES 18:1

  • JESUS IN DIE TUIN VAN GETSEMANE

  • SY SWEET WORD SOOS BLOEDDRUPPELS

Nadat Jesus en sy getroue apostels klaar gebid het en ‘lofliedere gesing het, gaan hulle na die Olyfberg’ (Markus 14:26). Hulle gaan ooswaarts na ’n tuin wat Getsemane genoem word, ’n plek waar Jesus gewoonlik gaan.

Wanneer hulle by hierdie pragtige plek tussen die olyfbome aankom, sê Jesus vir agt van sy apostels om agter te bly. Dalk is hulle naby die ingang van die tuin, want Jesus sê vir hulle: “Sit hier terwyl ek daar gaan bid.” Jesus vat drie van sy apostels saam – Petrus, Jakobus en Johannes – en gaan verder in die tuin. Hy word baie angstig en sê vir hulle: “Ek is verskriklik hartseer, ja, tot die dood toe. Bly hier en bly wakker saam met my.” – Matteus 26:36-38.

Jesus gaan ’n entjie weg van hulle en ‘val neer op die grond en begin bid’. Waaroor bid hy tot God op hierdie intense oomblik? Hy bid: “Vader, alles is vir u moontlik. Neem hierdie beker van my af weg. Maar nie wat ek wil nie, maar wat u wil” (Markus 14:35, 36). Wat bedoel hy? Wil hy nie meer die een wees wat die losprys betaal nie? Glad nie!

Jesus het uit die hemel gesien hoe ander wreed deur die Romeine doodgemaak is. So hy het glad nie uitgesien om op so ’n wrede manier doodgemaak te word nie. Maar nog belangriker, Jesus is angstig omdat hy dink dat sy dood as ’n slegte misdadiger dalk oneer op sy Vader se naam sal bring. Oor ’n paar uur gaan hy aan ’n paal gehang word asof hy ’n godslasteraar is.

Nadat Jesus lank gebid het, gaan hy terug na die drie apostels en sien hy dat hulle slaap. Hy sê vir Petrus: “Kon julle nie eers een uur saam met my wakker bly nie? Hou aan waak en bid aanhoudend, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Jesus besef dat die apostels ook onder stres is en dat dit al laat is. Hy sê verder: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.” – Matteus 26:40, 41.

Dan gaan Jesus vir ’n tweede keer weg en vra dat God “hierdie beker” van hom moet wegvat. Wanneer hy teruggaan na die drie apostels sien hy dat hulle weer slaap terwyl hulle eintlik moes bid dat hulle nie in versoeking kom nie. Wanneer Jesus met hulle praat, ‘weet hulle nie wat om vir hom te sê nie’ (Markus 14:40). Jesus gaan vir ’n derde keer weg en gaan op sy knieë om te bid.  

Jesus is baie bekommerd oor die oneer wat sy dood as ’n misdadiger op sy Vader se naam sal bring. Maar Jehovah hoor sy Seun se gebed, en op die een of ander stadium stuur God ’n engel om hom te versterk. Maar Jesus hou nie op om sy Vader te smeek nie en hy ‘hou aan om nog ernstiger te bid’. Die emosionele stres is oorweldigend. Hy het ’n baie groot verantwoordelikheid wat op sy skouers rus! Sy eie ewige lewe en die ewige lewe van mense wat geloof in God stel, is op die spel. Om die waarheid te sê, ‘sy sweet word soos bloeddruppels wat op die grond val’. – Lukas 22:44.

Wanneer Jesus vir die derde keer na sy apostels teruggaan, sien hy dat hulle weer slaap. Hy sê: “Op ’n tyd soos hierdie slaap julle en rus julle! Die tyd het gekom vir die Seun van die mens om verraai te word en aan sondaars oorgelewer te word. Staan op, laat ons gaan. Kyk! My verraaier is naby.” – Matteus 26:45, 46.