Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 30

Jesus se verhouding met sy Vader

Jesus se verhouding met sy Vader

JOHANNES 5:17-47

  •   GOD IS JESUS SE VADER

  • DIE BELOFTE VAN DIE OPSTANDING

Wanneer party Jode Jesus daarvan beskuldig dat hy die Sabbat verbreek deur ’n man te genees, antwoord hy: “My Vader het tot nou toe aanhou werk, en ek hou aan werk.” – Johannes 5:17.

Wat Jesus doen, word nie verbied deur God se wet in verband met die Sabbat nie. Deur te preek en te genees, doen hy goeie dinge vir ander, en so volg hy God se voorbeeld na. Jesus hou dus aan om elke dag goeie werke te doen. Maar sy antwoord maak sy beskuldigers nog kwater as voorheen, en hulle wil Jesus doodmaak. Hoekom reageer hulle so?

Hulle het nie net die verkeerde beskouing dat Jesus die Sabbat verbreek deurdat hy mense genees nie, maar hulle neem ook erg aanstoot omdat hy sê dat hy God se Seun is. Hulle beskou dit as godslastering, asof Jesus hom hierdeur aan God gelyk maak. Maar Jesus is nie bang vir hulle nie, en hy gee hulle nog inligting oor sy spesiale verhouding met God. “Die Vader is lief vir die Seun,” sê hy, “en wys hom alles wat hy self doen.” – Johannes 5:20.

Die Vader is die Lewegewer, en hy het dit in die verlede bewys deur manne in staat te stel om persone uit die dood op te wek. Jesus sê verder: “Net soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie hy wil” (Johannes 5:21). Hierdie betekenisvolle stelling voorsien hoop vir die toekoms! Selfs nou wek die Seun die dooies in ’n geestelike sin op. Daarom sê Jesus: “Enigiemand wat my woorde hoor en die Een glo wat my gestuur het, het die ewige lewe, en hy sal nie geoordeel word nie. Hy is soos iemand wat dood was maar wat nou lewe.” – Johannes 5:24.   

Daar is geen rekord dat Jesus op hierdie stadium al iemand wat fisies dood was, weer lewend gemaak het nie, maar hy sê vir sy beskuldigers dat sulke letterlike opstandings wel sal plaasvind. “Die uur kom,” sê hy, “waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom.” – Johannes 5:28, 29.

Jesus se rol is nou wel uitsonderlik, maar hy maak dit duidelik dat hy aan God onderworpe is. Hy sê: “Ek kan niks uit my eie doen nie . . . omdat ek nie my eie wil soek nie, maar die wil van hom wat my gestuur het” (Johannes 5:30). Jesus beskryf hier die lewensbelangrike rol wat hy in God se voorneme speel, iets wat hy tot nou toe nie so openlik gedoen het nie. Maar Jesus se beskuldigers het meer as net sy getuienis hieroor. “Julle het manne na Johannes [die Doper] gestuur,” herinner Jesus hulle, “en hy het van die waarheid getuig.” – Johannes 5:33.

Jesus se beskuldigers het heel moontlik gehoor dat Johannes omtrent twee jaar tevore vir Joodse godsdiensleiers vertel het van die Een wat ná hom sou kom – die Een wat “die Profeet” en “die Christus” genoem sou word (Johannes 1:20-25). Jesus herinner sy beskuldigers aan hoeveel respek hulle voorheen gehad het vir Johannes, wat nou in die tronk is. Jesus sê: “Julle was ’n kort tydjie bereid om sy lig te geniet” (Johannes 5:35). Maar Jesus voorsien selfs ’n groter getuienis as Johannes die Doper.

“Hierdie werk wat ek doen [insluitende die wonderwerk wat hy so pas gedoen het] getuig dat die Vader my gestuur het.” Jesus sê verder: “Die Vader wat my gestuur het, het self oor my getuig” (Johannes 5:36, 37). God het byvoorbeeld by Jesus se doop oor hom getuig. – Matteus 3:17.

Ja, Jesus se beskuldigers het geen verskoning om hom te verwerp nie. Die einste Skrif wat hulle beweer om te ondersoek, getuig oor hom. “As julle Moses geglo het, sou julle my glo,” sê Jesus ten slotte, “want hy het oor my geskryf. Maar as julle nie glo wat hy geskryf het nie, hoe sal julle glo wat ek sê?” – Johannes 5:46, 47.