Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 122

Jesus se laaste gebed in die bo-kamer

Jesus se laaste gebed in die bo-kamer

JOHANNES 17:1-26

  • DIE VOORDELE OM GOD EN SY SEUN TE LEER KEN

  • DIE EENHEID TUSSEN JEHOVAH, JESUS EN DIE DISSIPELS

Jesus is baie lief vir sy apostels, en daarom berei hy hulle voor vir die tyd wanneer hy weggaan. Hy kyk nou op na die hemel en praat met sy Vader in gebed: “Verheerlik u seun, sodat u seun u kan verheerlik. U het hom gesag oor alle mense gegee, sodat hy ewige lewe kan gee aan almal wat u aan hom gegee het.” – Johannes 17:1, 2.

Dit is duidelik dat Jesus erken dat niks belangriker is as om God te verheerlik nie. Maar hy noem ook iets wonderliks waarna die mensdom kan uitsien – die ewige lewe! Omdat Jesus “gesag oor alle mense gegee” is, kan hy die mensdom ewige lewe gee. Maar nie almal sal dit ontvang nie. Hoekom nie? Omdat Jesus net die ewige lewe sal gee aan dié wat doen wat Jesus volgende sê: “Om die ewige lewe te ontvang, moet hulle u leer ken, die enigste ware God, en ook die een wat u gestuur het, Jesus Christus.” – Johannes 17:3.

’n Persoon moet die Vader en die Seun goed leer ken en ’n goeie verhouding met hulle hê. Hy moet oor dinge voel, soos hulle daaroor voel. Hy moet ook probeer om hulle wonderlike eienskappe na te volg wanneer hy met ander te doen het. En hy moet besef dat om God te verheerlik belangriker is as om ewige lewe te ontvang. Nou praat Jesus weer oor hierdie onderwerp:

“Ek het u op die aarde verheerlik, omdat ek die werk voltooi het wat u my gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik my met die eer wat ek by u gehad het voordat die wêreld daar was” (Johannes 17:4, 5). Ja, Jesus vra om weer die heerlikheid te hê wat hy voorheen in die hemel gehad het deur middel van ’n opstanding.

Maar Jesus het nie vergeet wat hy in die bediening gedoen het nie. Hy bid: “Ek het u naam bekend gemaak aan die mense wat u aan my uit die wêreld gegee het. Hulle het aan u behoort, en u het hulle aan my gegee, en hulle het u woord gehoorsaam” (Johannes 17:6). Jesus het nie net God se naam, Jehovah, in sy bediening bekend gemaak nie. Hy het sy apostels gehelp om te leer wat die naam verteenwoordig – God se eienskappe en die manier waarop hy mense behandel.

Die apostels het Jehovah, die rol van sy Seun en die dinge wat Jesus ander geleer het, leer ken. Jesus sê nederig: “Ek het die woorde wat u aan my gegee het, aan hulle gegee. Hulle het dit aanvaar en weet nou beslis dat ek as u verteenwoordiger gekom het, en hulle het geglo dat u my gestuur het.” – Johannes 17:8.

Dan wys Jesus dat daar ’n verskil is tussen sy volgelinge en die mensdom oor die algemeen: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié wat u aan my gegee het, omdat hulle aan u behoort . . . Heilige Vader, waak oor hulle ter wille van u naam, die naam wat u my gegee het, sodat hulle een kan wees net soos ons een is. . . . Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle is vernietig nie, behalwe die seun van die vernietiging,” dit is Judas Iskariot, wat vir Jesus gaan verraai. – Johannes 17:9-12.

Jesus bid verder: “Die wêreld het hulle gehaat . . . Ek vra nie dat u hulle uit die wêreld neem nie, maar dat u hulle teen die Duiwel beskerm. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14-16). Die apostels en ander dissipels is in die wêreld, die mensdom waaroor Satan heers, maar hulle moet wegbly van die wêreld en sy slegtheid. Hoe?

Hulle moet heilig wees, met ander woorde hulle moet God alleenlik dien, deur die waarhede in die Hebreeuse Geskrifte en die waarhede wat Jesus hulle geleer het, toe te pas. Jesus  bid: “Maak hulle heilig deur middel van die waarheid. U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Later sal van die apostels geïnspireerde boeke skryf wat ook deel van “die waarheid” sal wees wat ’n persoon kan help om heilig te wees.

Maar later sal daar ook ander wees wat “die waarheid” sal aanvaar. Daarom bid hy “nie net vir hulle [dié wat daar is] nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde geloof in [hom] stel”. Wat vra Jesus nou vir God? “Vader, op hierdie manier kan hulle almal een wees en in eenheid met ons wees, net soos u in eenheid met my is en ek in eenheid met u” (Johannes 17:20, 21). Jesus en sy Vader is nie letterlik een persoon nie. Hulle is een omdat hulle oor alles saamstem. Jesus bid dat sy volgelinge ook hierdie selfde eenheid kan geniet.

Nie lank terug nie het Jesus vir Petrus en die ander gesê dat hy gaan om vir hulle ’n plek voor te berei, met ander woorde ’n plek in die hemel (Johannes 14:2, 3). Jesus praat nou weer hieroor in gebed: “Vader, ek wil hê dat dié wat u aan my gegee het, saam met my moet wees, sodat hulle die heerlikheid kan sien wat u my gegee het, want u het my voor die begin van die mensdom liefgehad” (Johannes 17:24). Hiermee bevestig hy dat voordat Adam en Eva kinders gehad het, het God sy eniggebore Seun liefgehad, wat Jesus Christus geword het.

Jesus sluit sy gebed af deur weer sy Vader se naam en God se liefde vir die apostels en vir ander wat nog “die waarheid” sal aanvaar, te beklemtoon. Hy sê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle.” – Johannes 17:26.