Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 1

Twee boodskappe van God af

Twee boodskappe van God af

LUKAS 1:5-33

  • DIE ENGEL GABRIËL VOORSPEL DIE GEBOORTE VAN JOHANNES DIE DOPER

  • GABRIËL SÊ VIR MARIA DAT JESUS GEBORE GAAN WORD

Ons kan die hele Bybel beskou as ’n boodskap van God af. Ons hemelse Vader het dit vir ons gegee sodat ons daaruit kan leer. Maar dink aan twee spesiale boodskappe wat meer as 2 000 jaar gelede gegee is. Hierdie boodskappe is oorgedra deur ’n engel met die naam Gabriël, “wat in die teenwoordigheid van God staan” (Lukas 1:19). Onder watter omstandighede het die engel hierdie belangrike boodskappe oorgedra?

Dit is om en by die jaar 3 VHJ. Waar is Gabriël wanneer hy die eerste boodskap oordra? In die heuwels van Judea, heel moontlik nie ver van Jerusalem af nie. ’n Priester van Jehovah met die naam Sagaria woon daar. Hy en sy vrou, Elisabet, is nie meer jonk nie, en hulle het nie kinders nie. Dit is Sagaria se beurt om as ’n priester by God se tempel in Jerusalem te dien. Terwyl Sagaria by die tempel is, verskyn Gabriël skielik naby die reukaltaar.

’n Mens kan verstaan dat dit Sagaria laat skrik. Maar die engel stel Sagaria gerus deur te sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het na jou smeekgebed geluister, en jou vrou Elisabet sal vir jou aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Johannes noem.” Gabriël sê ook dat Johannes “groot [sal] wees in Jehovah se oë” en “vir Jehovah ’n voorbereide volk gereed [sal] maak”. – Lukas 1:13-17.

Sagaria dink dat dit onmoontlik is. Hoekom? Want hy en Elisabet is al baie oud. Daarom sê Gabriël vir hom: “Jy sal stil wees en nie kan praat tot op die dag dat hierdie dinge gebeur nie, omdat jy nie my woorde geglo het nie.” – Lukas 1:20.

Intussen wonder die mense wat buite die tempel is, hoekom Sagaria so lank wegbly. Uiteindelik kom hy uit, maar hy kan nie praat nie. Sagaria kan net gebare met sy hande maak. Dit is duidelik dat hy iets bonatuurliks in die tempel gesien het.

Nadat Sagaria klaar by die tempel gewerk het, gaan hy terug huis toe. Kort daarna word Elisabet swanger! Terwyl Elisabet vir die geboorte van haar kind wag, bly sy vyf maande lank by die huis, weg van mense af.

Dan verskyn Gabriël ’n tweede keer. Aan wie? Aan ’n jong ongetroude vrou met die naam Maria. Sy woon in die stad Nasaret, wat noord van Jerusalem in die streek Galilea is. Wat sê die engel vir haar? Hy sê: “Jy het God se goedkeuring.” Gabriël sê verder vir Maria: “Kyk! Jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun, en jy moet hom Jesus noem.” En Gabriël sê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word, . . . en hy sal vir ewig as Koning oor die huis van Jakob regeer, en daar sal geen einde aan sy Koninkryk wees nie.” – Lukas 1:30-33.

Jy kan jou net indink watter groot voorreg dit vir Gabriël moes gewees het om hierdie twee boodskappe oor te dra. Wanneer ons meer oor Johannes en Jesus lees, sal dit duidelik wees hoekom hierdie boodskappe uit die hemel so belangrik is.