Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 84

Wat dit beteken om ’n dissipel te wees

Wat dit beteken om ’n dissipel te wees

LUKAS 14:25-35

  • DIE GEVOLGE VAN DISSIPELSKAP

Jesus het waardevolle lesse aan ander geleer terwyl hy ’n maaltyd by die huis van ’n leier van die Fariseërs gehad het. Terwyl Jesus na Jerusalem reis, reis groot skares saam met hom. Hoekom? Stel hulle regtig daarin belang om sy ware volgelinge te word, maak nie saak wat dit van hulle vereis nie?

Terwyl hulle verder reis, sê Jesus vir hulle iets wat party dalk sal skok: “As iemand na my toe kom en nie sy pa en ma en vrou en kinders en broers en susters, ja, en selfs sy eie lewe haat nie, kan hy nie my dissipel wees nie” (Lukas 14:26). Maar wat bedoel hy?

Jesus bedoel nie dat almal wat sy volgelinge word letterlik hulle familielede moet haat nie. Daar word byvoorbeeld van die Jode se voorouer Jakob gesê dat hy Lea “gehaat” het en Ragel liefgehad het. Dit beteken dat hy minder lief was vir Lea as wat hy vir haar suster Ragel was (Genesis 29:31, voetnoot). Jesus bedoel dus dat sy volgelinge hulle familielede minder lief moet hê as wat hulle hom liefhet. Hulle moenie soos die man wees in sy illustrasie van die aandete wat nie ’n belangrike uitnodiging aanvaar het omdat hy nou getroud is nie. – Lukas 14:20.

Let op dat Jesus sê dat ’n dissipel “selfs sy eie lewe”, of siel, moet haat. Dit beteken dat ’n ware dissipel liewer moet wees vir Jesus as vir sy eie lewe. Hy moet selfs bereid wees om sy lewe te verloor as dit nodig is. Dit is duidelik dat dit ’n ernstige verantwoordelikheid is om ’n dissipel van Christus te wees. Dit moenie ligtelik opgeneem word nie. ’n Persoon moet mooi daaroor nadink.

Om ’n dissipel te wees kan dalk moeilike tye en vervolging tot gevolg hê, want Jesus sê: “Elkeen wat nie sy folterpaal dra en agter my aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie” (Lukas 14:27). Ja, ’n ware dissipel van Jesus moet bereid wees om, net soos hy, vervolg te word. Jesus het selfs gesê dat sy vyande hom gaan doodmaak.

Die skare wat saam met Jesus reis, moet dus seker maak wat dit beteken om ’n dissipel van Christus te wees. Jesus beklemtoon dit met ’n illustrasie. “Byvoorbeeld,” sê hy, “wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan bereken nie eers die koste om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie? Anders lê hy miskien die fondament daarvan, maar hy kan dit nie klaarmaak nie” (Lukas 14:28, 29). Voordat die mense wat saam met Jesus na Jerusalem reis, dus dissipels van Jesus word, moet hulle vasbeslote wees om die verantwoordelikheid na te kom. Hy beklemtoon dit weer met ’n ander illustrasie:

“Voordat ’n koning gaan oorlog voer, sal hy tog eers gaan sit en met sy raadgewers bespreek of hy hom met sy 10 000 soldate teen die ander koning kan verdedig, wat hom met 20 000 soldate wil aanval. As hy dit nie kan doen nie, sal hy ’n groep ambassadeurs uitstuur terwyl die  ander een nog ver weg is en sal hy vra om vrede te maak.” Om sy punt te beklemtoon, sê Jesus: “Net so kan julle daarvan seker wees dat niemand my dissipel kan wees as hy nie al sy besittings opgee nie.” – Lukas 14:31-33.

Jesus sê dit natuurlik nie net vir die skare wat saam met hom op die pad is nie. Almal wat van Christus leer, moet bereid wees om te doen wat hy hier sê. Dit beteken dat hulle bereid moet wees om alles wat hulle het, op te offer – hulle besittings, selfs hulle lewe – as hulle sy dissipels wil wees. Dit is iets om oor na te dink en te bid.

Nou noem Jesus iets waaroor hy gepraat het in sy Bergpredikasie toe hy gesê het dat sy dissipels “die sout van die aarde” is (Matteus 5:13). Letterlike sout is ’n preserveermiddel, en daarom het hy waarskynlik bedoel dat die goeie invloed van sy dissipels mense beskerm teen geestelike en sedelike agteruitgang. Terwyl sy bediening tot ’n einde kom, sê hy: “Sout is beslis goed. Maar as die sout sy krag verloor, hoe sal dit weer sout gemaak word?” (Lukas 14:34). Sy luisteraars weet dat die sout wat destyds beskikbaar was, soms gemeng is met ander stowwe, en dit het die sout onsuiwer gemaak en mense kon dit nie gebruik nie.

Jesus wys dus dat selfs dié wat al baie lank sy dissipels is, nie moet toelaat dat hulle begeerte om hom te volg, verswak nie. As dit sou gebeur, sou hulle nutteloos word, soos sout wat sy krag verloor het. Die wêreld sal hulle dan dalk bespot. Wat meer is, hulle sal God se goedkeuring verloor en selfs oneer op sy naam bring. Jesus beklemtoon hoe belangrik dit is om daardie uiteinde te vermy deur te sê: “Laat die een wat ore het om te luister, luister.” – Lukas 14:35.