Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 15

Jesus se eerste wonderwerk

Jesus se eerste wonderwerk

JOHANNES 2:1-12

  • DIE TROUE IN KANA

  • JESUS VERANDER WATER IN WYN

Dit is nou die derde dag vandat Natanael een van Jesus se eerste dissipels geword het. Jesus en ten minste ’n paar van hierdie dissipels gaan noord na Galilea, hulle tuisgebied. Hulle is op pad na Kana, Natanael se tuisdorp. Kana is in die heuwels noord van Nasaret, waar Jesus grootgeword het. Hulle is na ’n troue in Kana genooi.

Jesus se ma is ook daar vir die troue. Maria is ’n vriendin van die familie van die paartjie wat trou, en dit lyk asof sy help om na die baie gaste om te sien. Daarom kom sy gou agter dat daar ’n probleem is, en sy sê vir Jesus: “Hulle het nie wyn nie.” – Johannes 2:3.

Wat Maria eintlik probeer sê, is dat Jesus iets hieroor moet doen. Jesus antwoord haar deur ’n uitdrukking te gebruik wat wys dat hy nie saamstem nie: “Ma, wat het dit met ons te doen?” (Johannes 2:4). As God se aangestelde Koning, moet Jesus doen wat sy hemelse Vader sê, nie wat sy vriende en familie wil hê hy moet doen nie. Maria laat die probleem aan haar seun oor en sê vir dié wat die gaste bedien: “Doen wat hy ook al vir julle sê.” – Johannes 2:5.

Daar is ses waterhouers van klip, wat elk meer as 40 liter kan hou. Jesus beveel dié wat die gaste bedien: “Maak die houers vol water.” Dan sê Jesus: “Skep nou daarvan uit en neem dit na die feesleier toe.” – Johannes 2:7, 8.

Die feesleier is beïndruk met die goeie gehalte van die wyn, maar hy weet nie dat dit deur middel van ’n wonderwerk gemaak is nie. Hy roep die bruidegom en sê: “Mense bedien eers die goeie wyn, en wanneer die gaste dronk is, bedien hulle die wyn van swakker gehalte. Jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” – Johannes 2:10.

Dit is Jesus se eerste wonderwerk. Wanneer sy nuwe dissipels hierdie wonderwerk sien, versterk dit hulle geloof in hom. Daarna gaan Jesus, sy ma en sy halfbroers na die stad Kapernaum op die noordwestelike oewer van die See van Galilea.