Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 77

Jesus gee raad oor rykdom

Jesus gee raad oor rykdom

LUKAS 12:1-34

  • ILLUSTRASIE VAN DIE RYK MAN

  • JESUS PRAAT OOR KRAAIE EN LELIES

  • ’N “KLEIN KUDDETJIE” SAL IN DIE KONINKRYK WEES

Terwyl Jesus in die Fariseër se huis eet, kom duisende mense buite bymekaar om vir hom te wag. Hy het soortgelyke ondervindinge met die skares in Galilea gehad (Markus 1:33; 2:2; 3:9). Hier in Judea wil baie hom sien en hoor wat hy sê, en hulle gesindheid is baie anders as dié van die Fariseërs by die maaltyd.

Wat Jesus eerste sê, het spesiale betekenis vir sy dissipels: “Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs, wat skynheiligheid is.” Jesus het hierdie waarskuwing al voorheen gegee, maar wat hy by die maaltyd sien, wys hoe dringend hierdie raad is (Lukas 12:1; Markus 8:15). Die Fariseërs probeer dalk om hulle goddeloosheid weg te steek deur voor te gee dat hulle godsdienstig is, maar hulle is ’n gevaar waarteen die mense gewaarsku moet word. Jesus verduidelik: “Daar is niks wat sorgvuldig weggesteek is wat nie geopenbaar sal word nie, en geen geheim wat nie bekend sal word nie.” – Lukas 12:2.

Baie van die mense wat om Jesus bymekaarkom, is dalk Judeërs wat nie gehoor het hoe hy in Galilea onderrig nie. Hy herhaal dus belangrike gedagtes wat hy vroeër genoem het. Hy spoor al sy luisteraars aan: “Moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie” (Lukas 12:4). Soos hy voorheen gedoen het, beklemtoon hy dat sy volgelinge moet vertrou dat God vir hulle sal sorg. Hulle moet die rol van die Seun van die mens erken en besef dat God hulle kan help. – Matteus 10:19, 20, 26-33; 12:31, 32.

Dan noem ’n man in die skare iets waaroor hy bekommerd is: “Leermeester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel” (Lukas 12:13). Die Wet sê dat die eersgebore seun ’n dubbele erfdeel moet ontvang, en daarom behoort dit nie ’n kwessie te wees nie (Deuteronomium 21:17). Dit lyk egter asof hierdie man meer wil hê as wat hy volgens die Wet moet ontvang. Jesus weier wyslik om kant te kies. “Mens, wie het my as regter aangestel of as die een wat julle erfenis vir julle moet verdeel?” vra hy. – Lukas 12:14.

Jesus gee dan die volgende waarskuwing aan almal: “Pasop en vermy elke vorm van gierigheid, want selfs wanneer iemand ’n oorvloed het, hang sy lewe nie van sy besittings af nie” (Lukas 12:15). Dit maak nie saak hoeveel rykdom ’n mens het nie, hy sal op die een of ander stadium sterf en alles agterlaat, nie waar nie? Jesus beklemtoon hierdie punt met ’n onvergeetlike illustrasie wat ook wys hoe waardevol ’n goeie reputasie by God is:

“Die land van ’n ryk man het ’n goeie opbrengs gelewer. Hy het vir homself begin sê: ‘Wat moet ek doen noudat ek geen plek het om my oes te versamel nie?’ Toe het hy gesê: ‘Ek weet! Ek sal my voorraadskure afbreek en groter voorraadskure bou, en ek sal al my graan en al my goedere daar versamel. Ek sal vir myself sê: “Jy het baie goeie dinge weggesit vir die jare wat voorlê. Ontspan, eet, drink, geniet die lewe.”’ Maar God het vir hom gesê: ‘Onredelike mens, vanaand sal jy sterf. Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?’ So gaan dit met die mens wat vir homself skatte opgaar, maar nie ryk is teenoor God nie.” – Lukas 12:16-21.

Jesus se dissipels en ander wat na hom luister, kan in ’n strik trap deur rykdom na te jaag of op te gaar. Of die sorge van die lewe kan hulle aandag aflei van hulle diens aan Jehovah. Jesus herhaal dus die goeie raad wat hy sowat ’n jaar en ’n half gelede in die Bergpredikasie gegee het:

“Hou op om bekommerd te wees oor julle lewens, oor wat julle sal eet, of oor julle liggame, oor wat julle sal aantrek. . . . Dink aan die kraaie:  Hulle saai nie saad nie en hulle oes nie. Hulle het nie ’n skuur of ’n stoorkamer nie, en tog sorg God dat hulle kos het. Is julle nie baie meer werd as voëls nie? . . . Let op hoe die lelies groei: Hulle sloof hulle nie af nie en hulle spin ook nie, maar ek sê vir julle dat nie eers Salomo met al sy prag en rykdom soos een van hulle geklee was nie. . . . Hou dus op om te soek wat julle sal eet en wat julle sal drink, en hou op om angstig en gespanne te wees. . . . Julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Hou eerder aan om sy Koninkryk te soek, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” – Lukas 12:22-31; Matteus 6:25-33.

Wie sal God se Koninkryk soek? Jesus wys dat ’n betreklike klein getal getroue mense, ’n “klein kuddetjie,” dit sal doen. Later sal dit geopenbaar word dat daar slegs 144 000 van hulle sal wees. Wat lê vir hulle voor? Hulle het Jesus se versekering: “Julle Vader het dit goedgevind om die Koninkryk aan julle te gee.” Hulle sal nie daarop fokus om skatte op die aarde bymekaar te maak, wat gesteel kan word nie. Hulle harte sal eerder wees by “’n skat in die hemel wat nooit opraak nie,” waar hulle saam met Christus sal regeer. – Lukas 12:32-34.