Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 57

Jesus genees ’n meisie en ’n dowe man

Jesus genees ’n meisie en ’n dowe man

MATTEUS 15:21-31 MARKUS 7:24-37

  • JESUS GENEES ’N FENISIESE VROU SE DOGTER

  • HY GENEES ’N MAN WAT DOOF EN STOM IS

Nadat Jesus die Fariseërs veroordeel het vir hulle selfsugtige tradisies, vertrek Jesus met sy dissipels. Hy gaan na die streke Tirus en Sidon in Fenisië, baie kilometers na die noordweste.

Jesus vind ’n huis waar hy kan bly, maar hy wil nie hê mense moet weet dat hy daar is nie. Tog kan hy nie hier bly sonder dat mense hom raaksien nie. ’n Vrou van Griekse herkoms wat in hierdie gebied gebore is, vind Jesus en begin hom smeek: “Betoon genade aan my, Here, Seun van Dawid. My dogter het ’n demoon in haar, en sy ly verskriklik as gevolg daarvan.” – Matteus 15:22; Markus 7:26.

’n Rukkie later sê Jesus se dissipels vir hom: “Stuur haar weg, want sy roep die hele tyd agter ons aan.” Jesus verduidelik hoekom hy haar ignoreer: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.” Maar die vrou gee nie op nie. Sy kom val voor Jesus neer en smeek hom: “Here, help my!” – Matteus 15:23-25.

Jesus toets blykbaar haar geloof deur te verwys na die Jode se negatiewe beskouing van mense van ander nasionaliteite: “Dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie” (Matteus 15:26). Deur nie “honde” te sê nie, maar “hondjies”, wys Jesus dat hy ’n sagte plekkie vir nie-Jode het. Sy vriendelike gesigsuitdrukking en stemtoon dra sekerlik ook hierdie gevoelens oor.

Die vrou is nie beledig deur Jesus se verwysing na Joodse vooroordeel nie, maar sê eerder nederig: “Ja, Here, maar die hondjies eet tog van die krummels wat van hulle eienaars se tafel afval.” Jesus sien haar goeie hartstoestand en sê: “Vrou, jou geloof is groot. Laat dit gebeur soos jy wil hê” (Matteus 15:27, 28). En dit is wat gebeur, al is haar dogter nie eens daar nie! Wanneer die vrou by die huis kom, sien sy haar dogter op die bed lê, heeltemal genees – “die demoon was weg”! – Markus 7:30.

Wanneer Jesus en sy dissipels die gebied van Fenisië verlaat, gaan hulle na die boonste deel van die Jordaanrivier. Hulle steek blykbaar die Jordaanrivier oor iewers noord van die See van Galilea en gaan die gebied van die Dekapolis binne. Daar gaan hulle by ’n berg op, maar die skare vind hulle. Die mense bring hulle kreupeles, verminktes, blindes en stommes na Jesus toe. Hulle lê hierdie siekes by Jesus se voete neer, en hy genees hulle. Die mense is verstom en verheerlik die God van Israel.

Jesus gee spesiale aandag aan ’n dowe man met ’n spraakgebrek. Jy kan jou voorstel hoe hy in ’n groot skare moet voel. Dalk sien Jesus hoe senuweeagtig hy is, en daarom neem hy hom weg van die skare af. Wanneer hulle alleen is, beduie Jesus vir hom wat hy gaan doen. Hy steek sy vingers in die man se ore, en nadat hy gespoeg het, raak hy aan die man se tong. Dan kyk Jesus op na die hemel en gebruik ’n Semitiese uitdrukking wat beteken: “Word geopen.” Skielik kan die man weer hoor en normaal praat. Jesus wil nie hê dat dit bekend gemaak moet word nie; hy wil hê dat mense in hom moet glo op grond van wat hulle self sien en hoor. – Markus 7:32-36.

Jesus se mag om sulke genesings te doen, het ’n groot uitwerking op dié wat dit sien. Hulle is “baie verbaas” en sê: “Hy het alles goed gedoen. Hy laat selfs die dowes hoor en die stommes praat.” – Markus 7:37.