Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 79

Hoekom vernietiging voorlê

Hoekom vernietiging voorlê

LUKAS 13:1-21

  • ’N LES UIT TWEE TRAGIESE GEBEURTENISSE

  • ’N KREUPEL VROU WORD OP DIE SABBAT GENEES

Jesus het mense op verskillende maniere probeer beweeg om aan hulle verhouding met God te dink. Hy het nog so ’n geleentheid gekry ná sy bespreking met mense buite ’n Fariseër se huis.

Party van hulle praat oor ’n tragiese gebeurtenis. Hulle praat van “die Galileërs wat deur [die Romeinse goewerneur Pontius] Pilatus doodgemaak is terwyl hulle offerandes geoffer het” (Lukas 13:1). Wat bedoel hulle?

Hierdie Galileërs is dalk doodgemaak toe duisende Jode betoog het nadat Pilatus geld uit die tempelskatkis gebruik het om ’n akwaduk te bou om Jerusalem van water te voorsien. Pilatus het die geld dalk deur die samewerking van die tempelbestuur verkry. Dié wat van hierdie tragedie praat, voel dalk dat die Galileërs gesterf het omdat hulle iets goddeloos gedoen het. Jesus stem nie saam nie.

Hy vra: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat hierdie dinge met hulle gebeur het?” “Nee,” sê hy. Hy gebruik egter die voorval om die Jode te waarsku: “Tensy julle berou het, sal julle almal net so vernietig word” (Lukas 13:2, 3). Jesus verwys dan na ’n ander tragedie wat dalk onlangs gebeur het en wat dalk verband gehou het met die bou van die akwaduk. Hy vra:

“Die 18 wat dood is toe die toring in Siloam op hulle geval het – dink julle dat hulle groter skuld gehad het as al die ander mense wat in Jerusalem woon?” (Lukas 13:4). Die skare voel dalk dat daardie mense gesterf het omdat hulle op die een of ander manier sleg was. Jesus stem weer nie saam nie. Hy weet dat hierdie tragedie heel moontlik die gevolg was van “tyd en onverwagse gebeure” (Prediker 9:11). Die mense kan egter iets leer uit wat gebeur het. “As julle nie berou toon nie, sal julle almal vernietig word, net soos hulle,” sê Jesus (Lukas 13:5). Maar hoekom beklemtoon hy nou hierdie les?

Dit is omdat Jesus al ’n tyd lank besig is met sy bediening, en hy illustreer die punt só: “’n Man het ’n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het vrugte daaraan kom soek, maar niks gekry nie. Toe het hy vir die wingerdarbeider gesê: ‘Dit is nou al drie jaar dat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek, maar niks kry nie. Kap dit af! Hoekom moet ek dit in die grond los sonder dat dit vrugte dra?’ Hy het hom geantwoord: ‘Meester, los dit vir nog ’n jaar, totdat ek daarom spit en mis daarom gooi. As dit dan in die toekoms vrugte dra, is dit goed en wel, maar so nie, kan u dit laat afkap.’” – Lukas 13:6-9.

Jesus probeer al meer as drie jaar lank om die Jode te help om geloof op te bou. Tog het sy werk nie veel opgelewer nie en het redelik min Jode dissipels geword. Nou, in die vierde jaar van sy bediening, span hy hom nog meer in. Dit is asof hy om die Joodse vyeboom spit en mis gooi deur in Judea en Perea te preek en te onderrig. Wat is die gevolg? Slegs ’n klein aantal Jode reageer. As ’n geheel weier die nasie om berou te toon, en nou staan hulle op die punt om vernietig te word.

Die negatiewe gesindheid wat die meerderheid  openbaar, kan kort daarna op ’n Sabbat weer duidelik gesien word. Jesus onderrig in ’n sinagoge. Hy sien ’n vrou wat al 18 jaar lank krom getrek is omdat ’n demoon haar pla. Jesus betoon medelye teenoor haar en sê: “Vrou, jy is van jou swakheid bevry” (Lukas 13:12). Jesus sit sy hande op haar, en onmiddellik kom sy regop en begin sy God loof.

Dit maak die hoofbeampte van die sinagoge kwaad, en hy sê: “Daar is ses dae waarop werk gedoen behoort te word. Kom dan op daardie dae om genees te word, nie op die Sabbatdag nie” (Lukas 13:14). Die beampte ontken nie dat Jesus die mag het om te genees nie; hy veroordeel eerder die mense wat kom om op die Sabbat genees te word! Jesus gee ’n logiese antwoord: “Skynheiliges, maak elkeen van julle nie op die Sabbat sy bul of sy donkie uit die stal los en lei hom weg om hom iets te gee om te drink nie? Hierdie vrou is ’n dogter van Abraham, en sy was 18 jaar lank deur Satan gevange gehou. Moet sy dan nie op die Sabbatdag van hierdie boeie verlos word nie?” – Lukas 13:15, 16.

Die teenstanders voel beskaamd, maar die skare is bly oor die wonderlike dinge wat hulle Jesus sien doen. Dan herhaal Jesus hier in Judea twee profetiese illustrasies oor die Koninkryk, wat hy vroeër vanuit ’n boot op die See van Galilea vertel het. – Matteus 13:31-33; Lukas 13:18-21.