Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 40

’n Les oor vergifnis

’n Les oor vergifnis

LUKAS 7:36-50

  •   ’N SONDIGE VROU GOOI OLIE OP JESUS SE VOETE

  • ’N ILLUSTRASIE OOR VERGIFNIS

Mense reageer nie almal dieselfde op wat Jesus doen en sê nie. Dit hang af van hulle hartstoestand. Dit word duidelik gesien in ’n huis in Galilea. ’n Fariseër met die naam Simon nooi Jesus vir ’n ete, dalk om meer uit te vind oor die een wat hierdie wonderwerke doen. Jesus aanvaar die uitnodiging, want hy sien dit waarskynlik as ’n geleentheid om vir dié wat daar is, te getuig. Hy het al voorheen uitnodigings aanvaar om saam met belastinggaarders en sondaars te eet.

Maar Jesus kry nie die vriendelike ontvangs wat gaste gewoonlik kry nie. Op die stowwerige paaie in Palestina word mense se voete gewoonlik warm en vuil in hulle sandale, en daarom word dit as gasvry beskou om iemand se voete met koel water te was. Maar Jesus se voete word nie gewas nie. En hy word ook nie met ’n soen gegroet, soos gewoonlik gedoen word nie. Olie is ook gewoonlik op ’n gas se hare gegooi as ’n teken van vriendelikheid en gasvryheid. Dit word ook nie vir Jesus gedoen nie. Hoe welkom is Jesus dan nou eintlik?

Die gaste gaan aan tafel, en die maaltyd begin. Terwyl hulle eet, kom ’n vrou ongenooid stilletjies by die vertrek in. Sy staan “in die stad as ’n sondaar bekend” (Lukas 7:37). Alle onvolmaakte mense is sondaars, maar hierdie vrou lei blykbaar ’n onsedelike lewe, dalk as ’n prostituut. Sy het moontlik van Jesus se leringe gehoor, insluitende sy uitnodiging aan “almal wat . . . ’n swaar las dra” om na hom toe te kom vir nuwe krag (Matteus 11:28, 29). Jesus se woorde en dade het haar waarskynlik geraak, en daarom het sy na hom kom soek.

Sy gaan na Jesus by die tafel en kniel agter hom by sy voete. Sy huil en haar trane val op sy voete, en sy droog dit af met haar hare. Sy soen sy voete saggies en gooi lekkerruik-olie daarop. Simon hou niks hiervan nie en sê vir homself: “As hierdie man regtig ’n profeet was, sou hy geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondaar is.” – Lukas 7:39.

Jesus weet wat Simon dink en sê: “Simon, ek het iets om vir jou te sê.” Hy antwoord: “Leermeester, sê dit!” Jesus sê verder: “Twee mans was in die skuld by ’n sekere man wat geld aan ander geleen het. Die een het 500 denarii geskuld, maar die ander een 50. Toe hulle hom nie kon terugbetaal nie, het hy hulle al twee vryelik vergewe. Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” Simon antwoord, dalk sonder belangstelling: “Dit is seker die een wat hom die meeste geskuld het.” – Lukas 7:40-43.

Jesus stem saam. Dan kyk hy na die vrou en sê vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Toe ek in jou huis ingekom het, het jy nie vir my water vir my voete gegee nie. Maar hierdie vrou het my voete met haar trane natgemaak en dit met haar hare afgedroog. Jy het my nie gesoen nie, maar van die uur dat ek ingekom het, het hierdie vrou nie opgehou om my voete te soen nie. Jy het nie olie op my kop gegooi nie, maar hierdie vrou het lekkerruik-olie op my voete gegooi.” Jesus kon sien dat hierdie vrou opregte berou het oor haar onsedelike lewe. Daarom sê hy laastens: “Ek sê vir jou: As gevolg hiervan is haar sondes vergewe, al is dit baie, want sy het baie liefde betoon. Maar die een wat min vergewe word, betoon min liefde.” – Lukas 7:44-47.

Jesus praat nie onsedelikheid goed nie. Hy wys eerder dat hy meegevoel het vir mense wat ernstige sondes pleeg, maar wat wys dat hulle jammer is en na Christus toe kom vir verligting. En hoe verlig is hierdie vrou tog wanneer Jesus sê: “Jou sondes is vergewe. . . . Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” – Lukas 7:48, 50.